Droomberig. Luné Olivier

Droomberig - Luné Olivier


Скачать книгу
wou bly. Ek sal sommer terug ateljee toe uber.”

      “OK.”

      By die bussie sien sy hom af en sluit weer by die skougangers aan. Dis vir haar lekker om tussen die stalletjies rond te stap, hier te kyk en daar te vat.

      Kort na middagete is sy terug by die ateljee. Intussen het daar ’n nare wind opgesteek waarteen sy moes baklei voor sy veilig in die beskutting van die ateljee kon kom.

      Sy pyl reg op Bernice af om die volgende dag se skedule te bespreek.

      “Wow, jy lyk mooi vandag, Anelia,” groet Bernice.

      “Dankie. Jy weet as ons vroue iets doen wat lekker is, is ons sommer lus om mooi aan te trek. Die ekspo was ’n wonderlike ondervinding. Daar is soveel mooi goed.”

      “Het jy die plek leeg gekoop?”

      “Oe, nee. Ek is bang om iets te koop, want as ek eers begin …” lag Anelia. “Jy moet regtig die naweek probeer gaan.”

      “Dalk moet ek my kredietkaart ’n bietjie stretch,” reken Bernice. “Maar hoor hier, die baas by Nuus-Direk het ons vanoggend laat weet die nasionale weerburo verwag dat die wind môremiddag stormsterkte gaan bereik,” lig Bernice haar in.

      Hulle kyk albei by die gebou se groot glasdeure uit. Anelia is verlig dat sy nou veilig hier tussen die vier mure is.

      “Die wind sal glo teen môre laatmiddag op sy sterkste wees, en jy moet asseblief die storie dek. Ek het die inligting reeds per e-pos na jou gestuur. Jy gaan ook môreoggend ’n onderhoud voer met ’n bekende professor in die veld van die meteorologie. Hy ontmoet jou hier by die ateljee. Lewis sal die middag weer jou kameraman wees.”

      “Ons skiet seker binnenshuis?” vra Anelia bekommerd en kyk na die voorportaal waar die wind die deur met ’n slag toewaai.

      “Ja, by ’n gesellige koffiewinkel naby die Kasteel.”

      “Dis alles in orde. Dankie, Bernice.”

      “Wees asseblief net versigtig, Anelia. Jy weet hoe erg die suidooster kan waai.”

      “Ek sal wees, baie dankie,” groet Anelia.

      Skielik word sy benoud oor die berig. Sy het al ’n soortgelyke berig op die televisie gesien. Die wind het so kwaai gewaai dat die kameraman die joernalis moes help staande bly, en in die proses is die kamera afgeskryf toe hy dit laat val het. En as dit weer die geval is, het sy nie baie vertroue in Lewis se spierkrag nie. Hy is die maer, seningrige tipe. Sy twyfel of hy tot haar redding sal kan kom as so iets met hulle moet gebeur.

      Sy lees Bernice se e-pos toe sy by haar werkstasie in hulle oopplankantoor gaan sit. Daar gaan ook ’n nuusberig wees wat die publiek oor die miserabele weerstoestande waarsku. Haar storie moet die agtergrond dek.

      Ai, die wisselvalligheid van die weerpatrone, met die fokus natuurlik op aardverwarming. Gaandeweg begin idees in haar kop vorm aanneem. Sy hou van die klem wat hulle op die beskerming van die omgewing wil lê. Sy leef haar so in die storie in dat een van haar kollegas haar moet herinner dat dit huis-toe-gaantyd is.

      Die volgende middag staan Anelia en Lewis kort voor ete in die koffiewinkel waarvandaan hulle die suidooster gaan verfilm. Daar is net enkele mense in die winkel.

      Anelia haas haar eers na die kleedkamer om haar windverwaaide hare vir die kamera te kam. Sy klad haar lipstiffie en trek haar ligblou sjiffonbloes reg. Hulle het reeds rowwe seetonele op kamera vasgelê, terwyl Lewis ook ’n straatskoot geneem het van die enkele bome in Strandstraat wat verwoed in die wind waai.

      “Is jy reg dat ons kan begin?” vra Lewis.

      “Ja, waar moet ek staan?”

      “Staan daar voor daardie groot vensters,” en Lewis begelei haar na die beste plek.

      “Reg.” Lewis skakel die kamera aan en beduie met sy vingers: drie, twee, een …

      “Vanmiddag berig ons vanuit die winderige Kaapse middestad. Net ’n ware Kapenaar kan van die suidooster se reputasie getuig. Die nasionale weerburo het waarskuwings uitgestuur dat sterk winde aan die Skiereiland verwag kan word. Die voorspellings dui op winde van tagtig kilometer per uur, ofte wel drie-en-veertig knope.” Anelia glimlag vir die kamera. “Die sterkste wind wat die Wes-Kaap tot op datum ondervind het, was op 16 Mei 1984 op Beaufort-Wes toe die wind teen ’n spoed van honderd-ses-en-tagtig kilometer per uur gewaai het. Wat veroorsaak hierdie sterk winde en wat is die moontlikheid dat dit in die toekoms kan vererger?”

      Anelia brei uit oor verskeie aspekte met spesifieke klem op aardverwarming en wat mense kan doen om te help. Sy en die navorsingspan het gister heelwat inligting bymekaar gekry en tydens vanoggend se onderhoud het sy ook brokkies inligting bekom.

      Lewis wys die sny-teken en skakel die kamera af.

      “Moet ons dit oorskiet?” vra Anelia versigtig. “Was dit OK?”

      “Ja, kom ons probeer weer. Staan net so ’n bietjie anderkant toe. Ek wil die lig uit ’n ander hoek probeer kry.”

      Anelia lewer dieselfde toesprakie weer.

      Dié keer is Lewis gelukkig tevrede: “Reg, ek pak solank op. Sal jy solank vir ons wegneemkoffie bestel, asseblief? Swart met drie suiker vir my, dankie. Ek gaan net eers gou die toerusting in die bussie bêre.”

      Terwyl Anelia bestel, loei die wind woedend om die gebou, en kan sy nie anders as om benoud deur die vensters na buite te kyk nie.

      ’n Man met donker hare stap in die straat af. Wat sou hom besiel om die wind te trotseer?

      Lewis stoot die glasdeur met moeite van buite oop voordat dit met ’n harde slag agter hom toeklap. Dis sowaar nog heel.

      “Hel, die wind word net sterker. Ons moet so gou moontlik hier uitkom.” Hy neem ’n sluk van sy koffie.

      “Ja, kyk net hoe waai daardie baniere. Dit maak my sommer benoud. Ek het juis gisteraand weer video’s op die internet gesien waarin mense aan lamppale en bome vasklou.” stem Anelia saam.

      “Ek sal eerste gaan en die bussie omdraai sodat jy net by die passasierskant kan inspring.”

      “Dankie, Lewis. Dis bedagsaam van jou.”

      Nou trek hy die koffiewinkel se glasdeur weer met groot moeite oop en toe. Dieselfde man van netnou stap weer by die venster verby. Sou hy mal wees?

      Lewis toet buite.

      Vervaard groet Anelia die koffiewinkeleienaar. Sy het skaars haar hand op die deurhandvatsel gesit toe dit na buite oopswaai en haar tot op die sypaadjie pluk. Sy gryp verwoed na haar handsak wat amper deur die wind weggeraap word.

      Sy sal aan iets moet vashou, anders waai sy weg. Onseker van voet trippel sy agteruit teen ’n paal vas en laat val haar stomende koffie op die plaveisel. Die volgende oomblik oorrompel ’n rukwind haar sodat haar blou hoëhakskoen onder haar meegee.

      Sy gil en staal haar vir die val.

      ’n Hand gryp haar aan die arm en die vreemdeling van netnou trek haar in ’n stywe greep vas.

      Op ’n vreemde manier laat die spontane omhelsing haar onmiddellik veiliger voel terwyl haar arms na sy skouers … sy nek tas en sy haar balans probeer herwin. Die barmhartige samaritaan beweeg so vinnig moontlik met haar na ’n veilige hawe, want skielik is dit windstil om hulle.

      Anelia waag dit om haar oë weer oop te maak.

      Sentimeters van haar gesig af, is ’n wit-en-mosgroen strepieshemp met ’n grys das. Sy word intens bewus van ’n manlike reuk. Nou kry sy skaam en ontstrengel haar vingers om sy nek.

      Hy verslap nie sy greep nie, maar vryf die gekoekte hare uit haar gesig.

      Haar oë volg die netjies geknoopte das tot by breë skouers en ’n bruingebrande nek. ’n Aartjie spring in sy nek. Sy sien vierkantig gevormde kake, skerp gepunte neus, donkerbruin hare en smaraggroen oë.

      Haar asem slaan weg toe hy glimlag.


Скачать книгу