’n Soort van bevryde vrou. Kristel Loots
ion>
Tafelberg
Roses are dead, love is fake, weddings are basically
funerals with cake.
– Rick and Morty
1
My naam is Zoe en ek is ’n bevryde vrou. Soort van …
Ek wíl hê ’n man moet ’n ordentlike paar Italiaanse ontwerperskoene, verkieslik iets van Salvatore Ferragamo, onder my bed instoot, maar ek wag nie vir hom om dit te doen nie. Ek sit nie handjies gevou met my beentjies kuis en oorkruis op die rak en probeer elke man pootjie wat verbykom nie. Ek het my eie dinge om te doen.
Want die lewe is kort. En ek is ’n late bloomer.
Maar dan is daar … my ma. En pa. En Swietie-pie. Sug.
Moderne ma’s probeer nie meer hul dogters aan mans afsmeer nie. Hulle weet vroue kan self besluit of hulle die bra-streppie wil stywer stel of die bra summier wil verbrand. Mens mag nou maar single wees sonder om van die aarde af verban te word.
Maar mý ma is nie ’n moderne ma nie. My ma is old school. Sy tel onder die laaste paar oorlewendes van ’n feitlik uitgestorwe spesie. Hulle bly in die geheim voortbestaan op agter-die-klip-dorpies en in suburbia agter die boereworsgordyn. Sommige idees is so vasgemessel in die psiges van hierdie undercover-ma’s dat dit nog ’n moerse Groot Knal gaan vat, wat die aarde andersom kan laat draai, voordat dinge in daardie psiges ook sal verander.
“As jy net eers getroud kan kom, sal ek my kop met ’n geruste hart neerlê,” sug my ma soms soos een uit ’n heel ander era oor ’n stomende koppie tee. Behoede my! Dit lyk asof daar nog baie tee geskink en gedrink gaan word voordat Ma gewillig sal wees om haar kop neer te lê, maar intussen is ek deeglik bewus van haar frustrasie met haar dikkerige dogter wat nie voor die voet wil man vat en klaarkry nie.
As sy nie haar moederlike plig kan nakom deur my van ’n vlees-en-bloed-man te voorsien nie en aangesien hubare wesens uit die buitenste ruimte nog nie beskikbaar is nie, maak sy eenvoudig ’n ander plan. “Geen ma wat dié benaming werd is, sal stilsit as sy van hulp kan wees om haar dogter gelukkig getroud te kry nie,” verduidelik sy graag haar inmengery in my privaat sake. “Swietie-pie sê so.”
En wat Swietie-pie sê, is wet.
Asof my ma kan raad gee. Of Swietie-pie. My ma dra rokke wat nog nooit in die mode was nie en Swietie-pie is ’n pavement special met ’n blaasprobleem.
Swietie-pie! Simpel naam vir ’n simpel hond. Bedorwe brak-brok wat my tot in die murg irriteer. Daar is net mooi niks wat “sweet” is aan Swietie-pie nie. Mislike gevreet soos ’n mop wat te veel gebruik is, en dit klink soos ’n deurklokkie met pap batterye as die affêre aan die kef gaan. Regte ou skinderbek wat kef-kef by Ma die nuus gaan aandra wanneer Pa ’n skelm rokie op die stoep vang. Watter ander geheime die brak met die nat snoet en Ma nog alles deel, weet ek nie.
Ek hoor wel jare lank al by Ma wat Swietie-pie alles oor my doen en late te sê het. Dis nooit my ma self nie, let wel. Daarvoor is sy glo te sag van hart. Nee, dis haar skoothondjie wat my so kritiseer. Ek verstaan nie hondetaal so goed soos Ma nie, maar vermoed Swietie-pie wens ek wil onder ’n bus beland. Glo my, die wens is wederkerig, maar ek sê eerder niks, ek soek nie karma op my kop nie.
Dis tog vreemd. Dié ding dat my familie sulke freaks is. Veral die vroue. Ek ook. En dis nie omdat die meeste van ons aan die plomp kant is nie, die andersheid lê dieper, in die gene. Dit kan nie toeval wees dat álmal ’n klap van die windmeul weg het nie, party erg, party erger. Dit hang net af hoe na aan die windmeul jy gestaan het.
Die ergste malligheid begin by ons ma’s wat daarvoor leef om my en my dik niggies so gou moontlik getroud te kry. So asof hulle bang is die Lombaard-nageslag sterf uit as ons nie dadelik kinders by dosyne begin baar nie.
“’n Dokter,” laat hoor my ma soms droomverlore. “Dit sal wonderlik wees as jy met ’n dokter kan trou. Dan kan hy sommer oor naweke na Pa se hart luister.”
Nog ’n gunsteling by die meeste van ons ma’s is iemand in die regsberoep, verkieslik ’n gladdebek-prokureur.
“Of nog beter – ’n advokaat,” is Ma dan gou om reg te help. “Hulle is meer geleerd. Verdien meer geld ook.”
Is so. Manne met indrukwekkende togas wat die wilde lote onder ons – en ons pa’s – uit die moeilikheid kan hou. O, o, o! Of natuurlik ’n predikant! Of ’n praatlustige politikus van die regte party, ’n geoktrooieerde rekenmeester met ’n pen in die bosak; eintlik enigiemand wat elke dag ’n pak klere en ’n das dra.
So baie mans, so min tyd.
Maar … met die jare verlaag die meeste mammas wel hul standaarde totdat ’n doodgewone diaken, ’n bankklerk met ’n BCom-graad (nie eens cum laude nie), ’n slagter of ’n bakker ook sal doen. Nog later kwalifiseer enigiemand wat werk en kerk en nie sy vrou te gereeld sal slaan nie. Nie trailer trash nie, net ’n doodgewone man met ’n medium-size adamsappel wat toebroodjies saamvat werk toe.
Dis waar sake met my en my ouers nou staan. Hulle wag dat ek by die huis moet opdaag om ’n doodgewone man wat in my vangnet beland het, aan hulle voor te stel. En elke keer wag hulle verniet. Ek wou al ’n ou met whisky omkoop om vir ’n dag saam te kom hierheen, maar die mans wat ek ken drink net bier en dis goedkoop genoeg om self voor te betaal.
Kyk, om elke Sondag vir middagete so op my eie vir Pa en Ma – en Swietie-pie – te kom kuier, ís ietwat van ’n beproewing. Maar ek moet. Want hulle is (glo) lief vir my. Nie Swietie-pie nie, maar Pa en Ma. En bekommerd oor my. En dit wys.
“Ons het vir jou ’n verrassing,” sê Ma uit die bloute nog voordat sy opskep uit die skottels kos wat sy vir vandag voorberei het, genoeg om ’n gesin van ses honger wolwe ’n week lank te voed. “Ek en Pappa het vir jou ’n geskenkie gekoop.”
Wat vreemd is. Want ek verjaar nie en Ma is nogal suinig. Haar Kersgeskenke is gewoonlik nie besonder uitspattig nie. Goedkoop parfuum wat enige mens hooikoors sowel as migraine sal gee en gehekelde toiletroloortreksels in ’n kleur wat nie by jou badkamerteëls pas nie. Alles geskenke wat sý deur die loop van die jaar present gekry het en nie wou hê nie. In ons familie hersirkuleer geskenke maklik totdat dit weer by jou beland.
“Ons het nou só gedink – dis gevaarlik vir jou om saans alleen in die donker te ry, met dié dat jy nie ’n man in jou lewe het wat jou kan vergesel nie.”
Ek weet nie of dit ’n verwyt of jammerhartigheid is wat ek in haar stem hoor nie.
“Toe besluit ons om Harvey vir jou aan te skaf.”
Ek sidder. Sulke pogings van my ma is so vernederend. Wat het sy tog nou weer staan en aanvang? ’n Man iewers uitgekrap en hom omgekoop of gedreig om my uit te neem? Ek is amper te bang om te vra.
“Harvey, Ma? So ’n uitheemse naam?” probeer ek ’n grappie maak.
“Ek sê ook dis ’n simpel naam vir ’n man,” brom Pa.
“Ja, ek weet ook nie so mooi van sy naam nie, maar dis hoe hy geregistreer is. Miskien omdat hy … wel, hy is ’n bietjie effentjies gebou, nie soos ’n Afrikaner-boerseun nie. Maar hy lyk darem gaaf, so op die oog af.”
“Vir my lyk hy hopeloos té gaaf,” kom dit van Pa. “Hy behoort bedonnerd te lyk, asof hy ’n ou met een hou kan vloer toe stuur.” Hy trek sy mond smalend. “Iets wat ou Harvey en ’n hele army soos hy nie sal regkry nie.”
“Lyk of hy goeie maniere kan hê, al is hy Engels.” Ma klink skielik nie meer so seker van haarself nie. Nie een van ons praat besonder goed Engels nie.
Ek wil nie, maar ek moet vra: “Ek hoop nie Ma het hom vir ete genooi nie?”
“Moenie vir jou snaaks hou nie, Zoe, ons bedoel goed.” Ma kyk my kwaai aan. Toe draai sy na Pa. “Jakobus, gaan haal vir Harvey dat ons vir Zoe kan wys hoe hy werk. Hy’s in die kas in ons kamer.”
“Wát? Waddedonner?”
“Moenie