’n Soort van bevryde vrou. Kristel Loots
Of vir minder skuinserige aanmerkings oor my figuur, my hare, my klere, my woonstel, my leesstof, my handsak en my skoene. Eintlik behoort Zak en my ma goed klaar te kom, heerlik te kan saamspan met klagtes oor alles wat ek verkeerd doen. Alles goed bedoel, alles vir my eie beswil. Omdat hulle my liefhet. Van my ’n beter mens wil maak.
Gelukkig vir my het Zak ook sy mond vol toe hy saam met my opdaag vir Sondagmiddagete. Daar is te veel suiker in my ma se patats en weet sy wat die gesondheidsgevare van rooi vleis is, veral die snitte met sigbare vet wat so swaar dra aan cholesterol?
Fout. Groot fout. My ma bly vriendelik, katvriendelik, versigtig om Zak nie af te skrik nie. Maar sy trek moesiemondjie.
“Dis hoe mans is,” verduidelik sy toe ons twee die skottelgoed staan en was. “Nooit tevrede met wat jy vir hulle gee of doen nie. Maak vrede daarmee. Dit help nie jy verwag wyn wanneer jy by ’n waterkraan gaan tap nie.”
Die implikasie is duidelik. Beggars can’t be choosers. Suffer in silence is nou eenmaal ons vroue se lot hier op aarde.
Die meeste mans is meer padda as prins, ek weet. Maar ek wil dit nie graag van Zak glo nie. Al wat hy kortkom, is ’n bietjie afrigting van my kant af.
“Ek sal hom nog mak maak,” belowe ek my ma.
“Famous last words.”
So leer ek Zak toe deur die maande ken, maar ek kry hom nie makgemaak nie. Ek leer dat die streng reëls wat hy vir ander mense stel, nie noodwendig vir hom geld nie.
Ek leer ook dat Zak nie vir ’n kombuis skrik nie – hy kook graag. Op ’n rare Vrydagmiddag laat ek hom selfs in my kombuis toe. Gewoonlik stuur ek hom daar verby voordat hy dalk die kaste oopruk en die chaos daarin waarneem, waaroor hy met hernude ywer sou kon kla.
“Daar was ’n tyd toe jy nie sommer ’n man met ’n blommetjiesvoorskoot om die lyf sou betrap nie,” spot ek liggies. “Nog minder een wat die kombuis uit vrye wil betree.”
“Daardie tyd is lankal verby.” Zak is so selfversekerd soos altyd. “Van die wêreld se beste kokke, indien nie die heel bestes nie, is mans.”
Dis natuurlik waar. Dis hoekom daar vandag ’n man in my kombuis doenig is. Dit maak my baie senuweeagtig. Verál vandag.
Behalwe vir my deurmekaar kombuis, is my slaapkamer eintlik ook verbode terrein vir Zak. Ek wil hom nie regtig tussen my spierwit Egiptiese katoenlakens hê nie. Of sy kop op die kussing langs myne nie. As daar sonder skoene en klere te kuier is, kuier ons in sý woonstel. Daar is nie romantiese kerslig nie en daar word nie wierook gebrand of sagte musiek gespeel nie en ek gaan altyd na die gekuier huis toe om te slaap. Dis nie reg nie en dis nie goed nie, maar dis die beste wat ek op die oomblik kan doen.
“Jy is soos ’n vadoek wat in ’n laai opgevou lê en eers uitgehaal word wanneer daar gaste opdaag,” verwyt Zak my graag. “As jy die dag dood is, gaan jy nog lank nie opgebruik wees nie.”
Ek is verras dat hy dit as ’n vermorsing sien en my blykbaar as goeie, bruikbare vadoekmateriaal beskou. Want sy liefkosings is soms so flou soos tee wat met ’n reeds gebruikte sakkie gemaak is.
Ek is nie ’n onskuldige ou affie-plaas-af-meisietjie nie. Ek weet van en verstaan hierdie dinge, hoe dit behoort te wees … maar my slaapkamer met die seegroen gordyne is my heiligdom en ek wil dit graag so hou.
Daar kruip ek weg as die wêreld my nie wil hê nie. Of wanneer die wêreld en sy mense mý nie aanstaan nie. My koperbed met die sagte matras en die laslapkombers is myne en net myne. Ja, ek weet ek leef in ’n droomwêreld, want dis nie hoe dit werk nie.
As ek my pa en ma gelukkig wil maak – en dalk vir Swietie-pie op die koop toe – en getroud wil wees met ’n kind of twee, drie voordat die eindfluitjie blaas, sal dit nie so kan bly nie. Maar ek is nie oorhaastig om Zak daar toe te laat nie, al is hy ook die beste ding wat met my gebeur het vandat ek nie meer puisies op die gesig kry of draadjies op my tande het nie.
Dis nogal ’n aanpassing om sy bevlieging van vandag te hanteer, genoeg van ’n sosiale skok vir ’n meisie soos ek wat van haar privaatheid hou. Ek is nie regtig asosiaal nie, maar ek trek graag deure toe wanneer iemand hier aanklop vir ’n verrassingsbesoek voordat ek kaste kon toemaak en dinge onder die mat kon vee.
Ek het juis voorbereidings getref voordat die gaste opdaag, vroegtydig alles wat weggesteek moet word diep, diep in die donkerste hoekies van my kombuiskaste gedruk. Die rasper wat nie meer wil rasper nie, die elektriese menger wat lankal nie meer wil meng nie, alles wat oud en geroes is, of gebuig, skeef, stukkend of waarvan die bodems pikgitswart gebrand is. Wat die oog nie sien nie …
Ek sidder oor alles wat Zak miskien nou nodig kry en uitgekrap word.
Om Zak met sy sexy agterstewe in ’n paar stywe jeans gegiet hier te sien rondtrippel, laat my hart inderdaad vinniger klop. Ook omdat my blommetjiesvoorskoot sy skraal lendene so liefderyk omvou. Dis maar goed die ou is so mal oor rugby, anders sou die een of ander aap wat nie van beter weet nie heel moontlik ongemaklike vrae gevra het. Iemand soos my pa, wat sy hare die afgelope drie dekades met ’n kantpaadjie en ’n koeilek-kuif kam en nog steeds Old Spice roekeloos op sy wange spat. Ook net vir baie spesiale geleenthede omdat my ma dit so wil hê.
“Jy moet ten minste ruik soos iemand wat by die voordeur mag inkom,” waarsku sy gereeld. “Swietie-pie sê so.”
Ek wonder wat Swietie-pie te sê sou hê oor die gewoel vandag hier in my kombuis waar daar gewoonlik nie veel gewerk word nie, maar gereeld geëet word. Takeaways is ’n uitweg vir menige mens wat nie van kosmaak hou nie – of glo daar is beter dinge om met jou tyd te doen as tot by jou elmboë in seperige skottelgoedwaswater staan. Lui by die vak, maar fluks by die bak. Dis nou ek daai. Of altans, dis wat Swietie-pie sê. Sê Ma.
Zak kerf en kap uie soos daardie ouens wat kookprogramme op televisie aanbied. Asof sy vingers van rubber gemaak is, nie van vlees en bloed wat onder die lem kan beland nie. Dit freak my heeltemal uit, ’n ongeluk wat wag om te gebeur. En ’n man met nege vingers is nie so goed soos ’n man met tien vingers nie. Vra maar vir Harvey. Hy weet.
“Zak? Wat op aarde maak jy vir aandete?”
“’n Cassoulet met ’n bekoorlike Franse flair.” Hy soen sy vingerpunte, vreeslik teatraal. Alles is mos ’n drama, so asof daar permanent kameras op hom gerig is. Aap die bekende sjefs se maniertjies na, ouens soos Nataniël wat hul man agter die kospotte kan staan en groot geld daarmee verdien. Agge ja, if only …
“Ek probeer so na as moontlik aan die oorspronklike resep bly. Net jammer jy het my nie vroeër gesê van jou niggie en haar man se kuier nie. ’n Cassoulet is ’n eenskottelgereg met die wonderlikste bestanddele, maar dit behoort stadig gekook te word. Dis koesterkos op sy beste, trooskos vir koue winterdae.”
Ja-nee, los jy vir Zak lank genoeg, raak hy digterlik oor enigiets. Eenskottelgereg, my voet! Die hele wêreld staan vol bakke en borde en implemente wat ek nie eens geweet het hier iewers in my kombuis skuilhou nie.
“Agréable au goût,” verseker Zak my. “Par excellence.”
Ek weet nie wat dit beteken nie, maar ek kan raai. Is darem nie kliponnosel nie. Verbeel hom seker wat hy hier aanmekaarslaan, sal liplek-lekker wees. Foei tog, ja.
“Izzit?” Ek hou my stem lig. Ek vermoed hy het ’n Franse woordeboek saam met brekfis genuttig. Dalk nog Google Translate geraadpleeg en lank aan sy uitspraak geoefen om my te beïndruk. Ek rol my oë, maar hy sien dit nie. Zak is so ’n ou show-off. So ken ons hom en so love ons hom. Altyd vol verrassings, altyd hoopvol, seker daarvan dat hy nog ontdek gaan word en groot hoogtes gaan bereik. As Charlize Theron van Benoni dit kon doen, kan Zak Voster van net anderkant Brakpan ook.
“Presies wat is hierdie Franse cassoulet van jou as dit in ’n mens se bord beland? Sal jy dit darem kan eet as jy genoeg tamatiesous oorgooi?” ’n Mens moet Zak soms help om sy voete stewig op moederaarde te hou, anders vlieg hy waar Ikarus aan die smelt gegaan sodat hy hom des dinges geval het. Zak se kop kuier gereeld in die wolke, van waar hy voortydig sy naam in groot letters geskryf sien staan. As dit dan nie