’n Soort van bevryde vrou. Kristel Loots
nie in die oë nie en vertel ook nie verder nie. Sy vra mý uit. Waar ek aan die oulike mansmens kom wat hulle so gul ontvang het.
“Zak was my personal trainer by die gym.” Ek is nogal skaam om dit te erken.
“Gym? Het jy gegym?”
Want ons dieet nie sommer nie en ons gym ook nie normaalweg nie. As ons wil roei, doen ons dit op ’n rivier; as ons wil fietsry, doen ons dit in die opelug op ’n fiets wat kan rondbeweeg; en ons stap nie op ’n trapmeul nie, ons stap om iewers te kom.
“Ek het afslag gekry op my lidmaatskap by die mediese fonds as ek by ’n gym aansluit,” maak ek verskoning vir die tydelike kranksinnigheid wat my oorval het. “Soms het ek daar gaan stort of net ingedraf om die toilet te gebruik sodat my kaart geswipe kon word. Maar hulle het my uitgevang.”
“Toe kry jy ’n personal trainer en ’n boyfriend op die koop toe?”
“Ja, toe bemoei Zak hom met my. Hy het meer aandag aan my as aan sy ander kliënte gegee. Ek dink hy wou my vir ’n promosie gebruik, vir ’n ‘before’ and ‘after’ wat ’n indruk sou maak. Óf dit, óf hy wou uiting gee aan sy sadistiese neigings. Want toe neem hy my omtrent onder hande en stel my bekend aan al die martelmasjiene waarvoor mense groot geld betaal om te gebruik.” Ek krimp ineen toe ek dit herroep.
“Die geoefen het nie lank gehou nie. Ek het besluit Zak moet maar die voor-en-na-foto’s met Photoshop dokter soos almal anders, want dis nie vir my die pyn en lyding werd nie. Ek betaal eerder die mediese fonds se volle premie.”
“En hy? Is hy nog by die gym?”
Ek aarsel. Dis altyd moeilik om Zak se werksituasie te verduidelik.
“Hy los net vroegaand daar af. Bedags werk hy vir ’n oorsese filmmaatskappy.”
“O, dit klink interessant.”
Ek weet. Maar dit is nie. Nie regtig nie. Vir my wil dit so al lyk asof hy nie veel meer is as ’n runner nie, ’n hansie-my-kneg wat koffie aandra en oral op stel rondgestuur word.
“Soms span hulle hom in as ’n ekstra wanneer van die oorsese ouens hier in die Kaap kom skiet en hulle ’n paar cowboys of lyke langs die pad nodig kry.” Nou klink sy werk nie meer so glamorous nie; ek sien dit op Lucy se gesig. “Maar hy droom daarvan om ontdek te word.”
“As akteur?”
Ek knik. “Of as sanger. Of danser. Die een of ander kunsvorm wat hom ’n deurbraak kan gee.”
“Het hy talent? Opleiding? Ervaring?”
“Hy neem dansklasse …”
Waarvoor hy nie regtig geld het nie. Met wat hy by International Films verdien, kan hy skaars dansskoene bekostig.
In werklikheid raak dit al meer ’n uitdaging om Zak se gebrek aan ’n meer realistiese lewensbenadering te probeer opdollie. Dis tyd dat hy sy drome on hold plaas en vir hom ’n grootmenswerk kry, ’n behoorlike day job soos ons almal.
4
Ek sal doodtevrede wees om vanaand by die huis te bly, net te chill, met of sonder Lucy se geselskap. Maar verkieslik sonder Zak s’n. Sy kosmakery en foutvindery oor die standaard van my kombuisgoedere het my taamlik uitgeput. Waar is my spiraalsnyer en wil ek vir hom sê ek het nie eens ’n spaghettimaker nie? Wat doen ek as ek pasta wil maak? Moenie vir hom sê ek koop dit by die supermark nie. En waarom is daar ’n blikkie Aromat in my koskas, weet ek nie dis gif vir die liggaam nie? Hy sit sommer die gesondheidspolisie op my, wat dit ook al mag beteken. Lyk my dit was net met my blommetjiesvoorskoot wat hy nie ’n probleem gehad het nie.
Ons het ’n break nodig, ek en my boyfriend, die opdisser van Franse cuisine. Dringend. My senuwees is gedaan, my geduld en my kwota vrede en liefde vir vandag ook. Ek moes was en skuur en sukkel en skrop om die kombuis weer in ’n aanvaarbare toestand te kry. Nie die meeste pret wat ’n vrou soos ek kan hê nie. Ek’s moeg.
Maar Lucy het ander planne in haar kop. “Zander de Waal se nuutste boek word vanaand in The Book Shop in Sandton bekendgestel,” vertel sy my geesdriftig.
“Zander de Waal? Daai sexy skrywer van die nuwe soort skiet-skop-en-donner-boeke wat deesdae so goed verkoop?”
“Net so. Hy en Billy was kamermaats in hul studentedae op Stellenbosch, maar het later kontak verloor. Billy wil graag die vriendskap hernu, maar nou moet hy vanaand die vergadering by Media Uniek se Johannesburg-kantoor bywoon. Vandat hy agter my aan Kaap toe getrek het, pendel hy nie meer so gereeld heen en weer nie. Nou probeer hy vergaderings inwerk wanneer ons Gauteng toe kom, al is dit ook vir ’n rugbywedstryd.”
“Plig en plesier saamgegooi?”
“En ek kry darem my favourite niggie te sien.”
“Maar vanaand gaan jy seker skouers skuur met die belese en berese boekmense, die akademici van die omgewing, of hoe?”
Sy knik. “Hoewel die akademici nie noodwendig Zander de Waal se boeke lees nie. Dis dalk te bourgeois vir hulle. Sy werk word bemark as goeie, gewilde prosa – boeke wat vir ontspanning gelees word. Daar is nog steeds die persepsie dat dit nie onder letterkunde geklassifiseer kan word nie.”
“En nie deur die elite gelees word nie?” Hoewel dit nie is waarom ék dit nie lees nie. Ek weet nie hoe goed die man se boeke is nie, maar ek weet dis gewild onder die Kretie en Pletie, die ouens wat lees vir hul plesier, nie om ander te beïndruk nie. Elke af en toe is daar ’n resensie in die koerant wat die man en sy werk ophemel.
“Ek wil nie alleen gaan nie,” kla Lucy. “Kom saam met my, toe, man!”
Hare kam? Lipstick aansit, skoene aantrek terwyl ek net wil omval en slaap? Om saam met haar na ’n boring boekbekendstelling te gaan? Nogal van Zander de Waal. Zander – lekker sterk naam. Al weer ’n Z-naam. Wat was ons ouers almal so behep met die letter Z? Het seker maar probeer snaaks wees. Cool. Ek hou darem baie van my eie naam, dis kort en sonder fieterjasies, soos ek. Maar te veel zette raak later afgesaag.
“Jong, ek is nie juis een vir lees nie. Ek het beter dinge om te doen. My naels is juis twee dae laas geverf.”
Lucy lag my uit. “Ek ken jou beter as dit! Jy pas nie in die rol van ’n dom poppie wie se naels vir haar prioriteit nommer een is nie.”
Sy’s reg. Ek lieg ’n bietjie. In die tyd voordat ek ’n kêrel gehad het, het ek gereeld met ’n boek in die bed geklim. Selfs oor naweke. Skaamteloos. Eerder dít as na die ewige partytjies toe gaan waar jy soveel as moontlik shooters moet down as jy in die tel wil wees. Ek moet versigtig wees – ek beskik oor die potensiaal om in ’n eenkantvrou te ontaard, een van daardie met ’n karbonkel op die neus waarmee jy klein kindertjies bang maak as hulle nie wil hoor nie.
Maar ek is regtig te oud daarvoor om my elke aand poepdronk te drink. Om met ’n boek in die bed te lê is nie die ergste wat ’n mens kan oorkom nie. Maar dan moet dit een van my keuse wees. ’n Liefdesverhaal. Een wat ek saam met my onder die kombers kan toemaak in die hoop dat ek daarvan sal droom. Dat die geluk daarin aansteeklik sal wees sodat ek ook lank en gelukkig saam met iemand in ’n huis, paleis, pondok of redelik netjiese varkhok sal woon.
Ek droom van hom, hierdie man vir wie ek plek hou in my hart. Ek het hom lief, so lief dat dit soms voel of my hart te klein is om daardie liefde te herberg. Of my hart wil oopbars soos ’n ryp granaat en sing oor daardie liefde, amper soos in ’n outydse Hollywood-musiekprent waar almal in step dans en in tune sing. Ek gaar my liefde vir hom op, wag dat dit ryp word, tot volle blom kom, om dit dan op hom uit te stort. Op hierdie man wat in my kop woon, in my hart. Die man wat heel moontlik nie bestaan nie, al wil ek hoe graag glo dat hy iewers op ys gehou word vir my. Hierdie man wat ek nie in Zak herken nie …
Ek was vir lank ’n regte ou kloosterkoek, wou nie oorhaastig van kind in vrou verander nie. Ek wou my maagdelikheid, waaroor my ma soos ’n engel met ’n swaard gewaak het, vir hierdie droomman gee – eendag wanneer die tyd reg is, eendag wanneer ek hom gevind het. Ek wou dit vir hom op ’n