’n Soort van bevryde vrou. Kristel Loots

’n Soort van bevryde vrou - Kristel Loots


Скачать книгу
my onskuld en my naïwiteit verloor as ek wou inpas by die ander universiteitstudente. “Waar daar gehoer en gerumoer word,” het my ma gereeld gesug. En sy was nie heeltemal verkeerd nie.

      Soms, wanneer die wind buite wanhopig huil, verlang ek nog. Hoop ek nog. Op eendag … die dag wanneer hierdie gesiglose man vanuit die niet voor my sal verskyn. En ek sal wéét dis hy – onomwonde weet dis hy op wie ek my lewe lank al wag. Ek weet ek is al te oud vir sulke bakvissie-fantasieë, maar ek wil nog nie daarvan afsien nie, al het ek nou ’n boyfriend wat om my draai.

      Nogal een wat kan gym en spring lank nadat baie ander mans al uitgesak het. ’n Boyfriend wat gaande is oor sport. Ek nogal! Ek wat sweet nog voordat ek opwarmingsoefeninge gedoen het. Ek wat heeltemal verbouereerd raak en nooit ’n bal kan vang as dit op my afgepyl kom nie. Ek die bloukous, die agteros, die een wat van laerskooldae af altyd laaste gekies is omdat niemand my in hul span wou hê nie. Want ek sou die Jona wees wat die skip laat sink, die een wat struikel en die boontjiesak laat val of na die verkeerde kant toe hardloop en my span laat verloor. Ek slaan vir my ’n kêrel los wat ’n fiksheidsfanatikus is.

      Jy sou dink ek moet tevrede wees met Zak aan my sy, dankbaar ook. En ek is, ek is. Om ’n man van ferm vlees en bruisende bloed te vergelyk met een wat net in my kop bestaan, is lawwigheid. Maar ek soek hom steeds, veral in die liefdesverhale wat ek lees. En wanneer ek hom daar aantref, soek ek hom daar buite in die werklike lewe ook – tevergeefs, want my droomman bestaan net tussen die blaaie van ’n boek.

      Miskien moet ek eerder Zander de Waal se boeke begin lees, want ’n bloeddorstige reeksmoordenaar is glo gewoonlik die hoofkarakter. Nie juis die stuff waarin drome bewaarheid word nie. Dan sal my fantasieë met ’n wrede knal in die slag bly en sal ek die wêreld sien soos dit is: dat ek ’n veel groter kans staan om ’n reeksmoordenaar raak te loop as my storieboekheld.

      Sowaar, as ek nie gou genoeg regkom nie, gaan ek my gat sien.

      “Spanningsverhale besaai met bloed en derms is nie my soort leesstof nie,” probeer ek nogtans keer dat ek saam met Lucy ’n aand in ’n boekwinkel moet deurbring waar ek nie werklik wil wees nie. “Ek lees nie Zander de Waal se boeke nie. Hoekom dan saamgaan? Om wát te doen?”

      “Om mans te ontmoet. Mans wat lees. Hulle is skaars genoeg en dis ook net by iemand soos Zander de Waal se bekendstellings wat hulle hul gesigte wys. Die meeste is verleë om met ’n boek in die hand betrap te word, maar Zander de Waal s’n is heeltemal ’n ander saak. Die ou is so macho en sy stories so macho dat almal dit lees, van takhaar tot teoloog.”

      “Ek het nie mans wat lees nodig nie, of enige ander man nie, ek hét mos nou ’n significant other.”

      “Hy kan saamkom as hy wil.”

      Ek skud my kop. “Zak het Vrydagaande dansklas.” Ek twyfel of hy in elk geval sou gaan. Zak is meer ingestel op Billy Bruwer se vriendskap as om Lucy te beïndruk. As jy die peperduur trouring van haar vinger afhaal, bly daar op die oog af nie veel oor van mevrou doktor Bruwer se status en statuur nie. In haar murg en gebeentes is sy eintlik maar nog een van die Lombaard-niggies, al het sy dan ook gewig verloor. Sy lyk hoeka ’n bietjie verbleik sedert die meeste van haar grimering in die slag gebly het.

      Maar toe kry Lucy my tog omgepraat, want sy het the gift of the gab en ons is bloedniggies, en bloedniggies moet soms vir mekaar opofferings maak.

      Ek raai dis die gewone gros social butterflies wat daar opdaag. Die vroue wat met sag, gemoduleerde Sondagstemme praat en egte juwele dra. Niks wat waardevol is, word in die brandkluis versteek nie; dit word om die nek gehang en skitter genoeg om enige voornemende dief te laat kop verloor. Dis die bebrilde literati en glans-glitterati van Johannesburg wat hier saamgegooi is. En Lucy, oftewel die befaamde Funky Feetjie wat vir Media Uniek rubrieke skryf.

      Daar is ’n beroering toe die eregas opdaag. Zander de Waal, geklee in ’n jas wat ’n high-class flasher met baie geld en min verstand ook sou kon dra, sy hare agteroor gekam en met sy oë broeiend agter die brillense, lyk self na ’n karakter in ’n boek. Nie ’n bloed-en-derms-storie nie, eerder ’n stomende liefdesverhaal, die soort wat ek en vroue soos ek graag verslind. Ek vererg my in ’n mate. Mans behoort nie so dodelik aantreklik te wees nie. Dit maak swape van vroue en monsters van mans.

      Moenie ’n fout maak nie – ek ken ’n playboy as ek hom sien én ek weet genoeg van Zander de Waal se lewensverhaal om ’n wye draai om hom te loop. Hy gee bad boys ’n nog slegter naam met die streke wat hy uithaal. As jy so gereeld soos ek in Huisgenoot lees oor die celebs en semi-celebs se manewales, weet jy later amper al watter kleur hul lakens is. En bedbedrywighede is blykbaar hoog op hierdie ou se prioriteitslys. Ook nie skaam nie, hy spog graag met sy dollas op plekke waar die kameras flits. Dan die een, dan die ander. James Bond in ’n Afrikaanse baadjie. Pierewaaier met meer houding as wat vir enige man goed kan wees.

      “Hoe gaan dit deesdae met meneer De Waal se liefdeslewe?” wil ek in ’n fluisterstem by Lucy weet. “Was daar verwikkelinge waarvan ek nog nie gelees het nie?”

      “Jong, die sensasionele tydskrifstories ten spyt, bly Zander de Waal ’n mate van ’n enigma. Hy hou sy bewonderaars aan die raai as dit by sy liefdesake kom. Hy trek nou by sy derde vrou, ás hy in die stilligheid met sy nuutste sleepsel getroud is sonder dat die pers dit kon uitsnuffel. Die man hou van trou, geen mens kan by hom en sy string vroue byhou nie.”

      “En die een is so mooi soos die ander.”

      “Regte poppies om na te kyk, die vroue in sy lewe. Maar nie almal so onnosel soos jy sou dink nie.”

      “Onnosel genoeg om vir hom te val.”

      “Te val en te bly lê, ja.”

      Dis hoe ek van Lucy hou, nie so holier-than-thou dat sy skrik vir sappige skinderpraatjies nie.

      Maar daar is nie kans om verder uit te vra nie, want Zander de Waal se uitgewer heet almal welkom en stel die skrywer met die goue gedagtes wat glo die lekkerste stories skryf aan die gehoor bekend. Dis nou wat ek ’n understatement noem. Jy kan Zander de Waal se verhale baie dinge noem, maar jy kan nie daarna bloot as lekker stories verwys nie. Selfs ek weet dit.

      Dit help duidelik vir die bemarking van sy boeke dat hy so strelend op die oog is. Seker al flink op pad veertig toe, as ek my nie misgis nie. Nogal met ’n baard, een van daardie wat met presisie geskeer word. Mans se baarde is deesdae kunswerke in die kleine. Ydele goed, mansmense – gee voor dat hulle vreeslik macho is en nie traak oor hoe hulle lyk nie, want hulle is mos ware mans. Meanwhile is al hulle two-tone hemde saam met oupa se safaripak lankal vir die Salvation Army gegee om aan haweloses uit te deel, mits dié nie modebewus is nie. Mans gebruik vogmiddel op hul tere wangetjies en staan tou by skoonheidsdeskundiges om hul neushare te laat pluk. Ek sal die helfte van my salaristjek wed dat meneer die beroemde skrywer ook iewers ’n draai gemaak het om genoeg gegroom te word dat hy die oog vang. En hou.

      Sy stem is ook mooi genoeg om die haartjies op my voorarms te laat orent staan. Maar nóg die man nóg sy stem is genoeg om die aand te red. Ek hou die horlosie teen die muur dop en luister skaars na sy praatjie. Donker dae, donkerder nagte beloof glo om sy lesers hewig te laat ril en gril. Hulle sal waarde vir hul geld kry. Ja, ja, bla, bla …

      Ek hou regtig nie van boekbekendstellings nie. Skrywers wat praat en praat oor hul skryfwerk en smeek dat lesers asseblief tog hul boeke moet koop sodat hulle met hul skamele tantième brood op die tafel kan sit. Ek voel elke keer jammer vir hulle en so skuldig oor die gratis glasie wyn dat ek maar die boek koop, al gebruik ek dit later vir ’n deurstopper. Of stuur dit vir die ouetehuis, waar ou tannies met dik brille liefdesverhale met ’n vreeslike gehyg en ’n gehort in kan lees. Of moordstories wat hulle bloeddruk gevaarlik hoog laat styg.

      Oukei, Zander de Waal se boeke word in ek weet nie hoeveel tale vertaal nie en ek skat hy lag al die pad bank toe; hy staan nie bakhand en bedel nie en ek hoef hom nie te ondersteun nie. Lucy kan maar sy boek koop as sy daarvoor kans sien, dit was haar idee om te kom.

      Zander verseker die bloeddorstigstes onder ons dat daar genoeg lyke sal wees om hulle te behaag, morsdood dooie lyke in systraatjies met dolke wat in hul harte gesteek en daar gelos word, sonder dat die vingerafdrukke


Скачать книгу