’n Soort van bevryde vrou. Kristel Loots
Ek wag darem nie die prentjie-pragtige paartjie stoksielsaligalleen in nie. Is nie vasgevang in my gewone rol van een-van-die-dik-niggies-wat-nie-man-kan-kry nie. Want in my kombuis is daar ’n mansmens met ’n voorskoot aan wat bakke en borde rondgooi en groot chaos veroorsaak. ’n Kêrel is nog lank nie ’n man wat in die eg aan jou verbind is nie. Julle is nie gekerk, gestempel en wettiglik vasgeketting aan mekaar nie. Maar om ’n kêrel te hê is goed genoeg.
Dan is hy boonop aantreklik. En so goed versorg, ’n regte metroman. Met sy hare wat deesdae in ’n hipermoderne styl gesny is, sy ontwerpersbaard professioneel getrim, sy naels gemanikuur en selfs sy nommer nege-voete in sy blinkleerskoene van groottoon tot kleintoontjie gepedikuur. Vra my, ek weet. Ek sien daardie kaal voete met tye en steek myne dan eerder onder die kombers weg. Zak is ’n man van hierdie millennium. ’n Vrou moet uithaal en wys om by te hou by iemand wat hoog trap en die wêreld pronkerig bewandel.
Heimlik pla dit my ’n bietjie dat Zak skynbaar heel gelukkig is om sy lendene te omgord met die voorskoot wat ek self nooit dra nie. Dis so kleingeestig om só te redeneer. So bekrompe. Alles te wyte aan my tipiese voorstedelike vooroordeel, my verstokte denke en die feit dat ek nog nooit regtig lus was om hom behoorlik te bespring nie.
Ek worstel met die kortsluitings in my kop. Dat ek dit nie regkry om buite die boks te dink nie. Ek skaam my vir my innerlike oude doos. Ek is ’n stiff-upper-lip-meisiemens wat my alte veel aan my ma herinner, en dit is die grootste ramp wat ’n vrou kan tref – om soos jou ma te wees. Veral as jou ma ’n ma soos mý ma is.
“Dis so vervelig om vyandig teenoor jou ma te wees.” Dis hoe Zak my onlangs na ’n besoek aan my ouers berispe het.
“Jy kan maklik praat,” was ek gou om hom tereg te wys. “Jy is Mamma-se-seuntjie. In jou ma se oë kan jy niks verkeerd doen nie.”
“Daar is ’n mooi verhouding tussen my en my ma, dis waar.”
“Ek weet. Joined at the hip, julle twee.”
Is so. Zak dra sy ma, haar stewige gewiggie en sterk persoonlikheid ten spyt, op die hande. En hy noem haar Moeksie. Moeksie! Bid jou aan!
“’n Ewige gestry en baklei met ’n mens se ma is studentikoos.”
Dis Zak daai – hy gebruik graag woorde soos studentikoos om my op my plek te sit. En eintlik, verskoon my, is hy veronderstel om my te ondersteun.
Soos ek vandag vir hom. Ek staan bont wanneer hy vir iets vra wat nie in my koskaste is nie en ek verduur dit wanneer hy my dan verwytend aankyk. Want ek weet ek is nie ’n domestic goddess se watsenaam nie.
“Hierdie kombuis van jou is ’n nagmerrie,” kla hy. “Die broodrooster spoeg verbrande krummels uit en nie een van die kastrolle blink behoorlik nie.”
“Wil jy kosmaak of wil jy ’n outopsie doen?”
Die kyk wat hy my gee, is genoeg om my stil te kry.
As ek geweet het hy wou sy cordon bleu-streke uithaal en hom oor ’n warm stoof afsloof, sou ek my skandalige potte en panne beter weggesteek het. Moenie my vlak kyk nie, my kastrolle is nie vuil nie. Maar om ’n kastrol blink genoeg te skuur om jouself daarin te spieël, is vir mense wat tyd het to stuff a mushroom. Dis nie ek daai nie.
“Ek sal nie verbaas wees as hier op ’n dag nog ’n kakkerlak onder een van die kaste uitkruip nie,” laat Zak hoor.
Ek ook nie. Ek sal, om die waarheid te sê, nog minder verbaas wees as hy. Want ek weet van minstens een wat snags ewe kordaat sy plat gesig hier kom wys en vermakerig wegskarrel as ek hom in ’n hoek probeer keer.
“Koeksoda,” het my ma raad gegee toe ek vir haar van die onwelkome inwoner in my kombuis vertel, moontlik nog met ’n vrou en ’n gesin in tou. “Met ’n bietjie versiersuiker in vir soete wraak. Hulle vreet die koeksoda wat dan binne-in hulle magies begin gis.”
“En dan, Ma?” Ek moes nie gevra het nie.
“Dan bars hulle oop, jy sien net derms spat en dis die einde van kakkerlak se kind.”
Ek huiwer nog om vir kakkerlak en sy kind koeksoda te voer, want ek sien ook nie kans daarvoor om so ’n gesig vroegoggend op my nugter maag aan te tref nie. Een ding weet ek – as hier vandag ’n voortvarende kakkerlak uitloer, gaan Zak dit moontlik nie maak nie. Sy gestel is nie so sterk soos myne nie.
Ek staan rond asof ek nie arms en hande het om te help nie, terwyl Zak klop en klits en meng met ’n knippie van dié en ’n proeseltjie van daai. “Eintlik moes ek ’n paar lourierblare gehad het, maar ek kon dit nêrens kry nie. As ek net betyds hiervan geweet het …”
Ek sal duidelik nie binnekort daarvoor vergewe word nie.
“Die varkworsies en die uie moet in eendvet gebraai word,” mymer Zak.
Ek gaan nie eens probeer om alles te onthou wat hy aframmel nie. Hy laat dit klink asof hierdie effens vreemde, anderlandse gereg vreeslik eksoties is, iets met ’n pikante smaak wat lank na die eetslag nog op jou tong huiwer, soos die kookboeke jou soms belowe. Of … dalk is dit bloot ’n stew met ’n naam wat moeiliker is om te spel as die res.
“Ek het die resep by my ma gekry.”
O gits, ja-nee, dan het hy heel moontlik ’n heksebrousel aanmekaargeslaan. Ek weet al hoe Saartjie Voster in haar hoedanighede van chief cook and bottle washer ’n resep kan verfomfaai en dan die smaak met rooipeper doodgooi. Sy het haar seun dalk na haar hand geleer.
Maar tog, toe hy begin tafel dek, ruik die kombuis na ’n restaurant waar die kok weet wat hy doen.
“Jy het baie talente, Zak,” gee ek toe.
Hy haal sy skouers op. “Wat kan ek sê? Ek het voor in die ry gestaan.”
“Maar jy was nog nooit bekend vir jou nederigheid nie.”
Hy glimlag trots. “Dit was nog nooit vir my nodig om nederig te wees nie.”
Daar is sowaar nie eens ’n sweetlagie op sy voorkop nie. Zak is so koel soos ’n komkommer.
“Lucy het laat weet Billy het vir ons kaartjies gekry in die voorste ry op die hoofpawiljoen, soos jy gevra het,” lig ek hom in.
“Dis die beste plek om te sit. Naby genoeg aan die veld om die wedstryd te volg en tog nog tussen die toeskouers sodat jy kan gees vang.”
“Lucy sê Billy het belowe om volgende keer vroegtydig vir ons almal plek in die losie te bespreek. Sy het weer om verskoning gevra omdat Oubaas Bruwer hierdie keer ’n horde besoekende oorsese sakemanne saam met Media Uniek se mense daar onthaal. Plek is gehou vir Billy en Lucy, maar daar is nie ekstra sitplek vir ons twee nie.”
Ek is glad nie gemaklik daarmee nie dat Zak vir Billy oor die telefoon gevra het om die luukse gemak van die losie te verruil om saam met ons op die peanut gallery te sit. Die arme Billy was vanselfsprekend in ’n hoek gedryf en kon nie weier sonder om ’n aks snobisties te klink nie.
“Dis jammer my ma kan nie môre daar wees nie,” merk Zak op toe hy vier servette nader trek en dit in vreemde vorms vou.
“Hoekom? Jy vat haar nooit saam rugby toe nie, gewoonlik ook nie vir my nie.”
“Maar hierdie keer is spesiaal, hierdie keer moet jy saam.” Hy lyk afgehaal. “En eintlik moes my ma ook daar gewees het.”
The plot thickens. Zak se ma by ’n rugbywedstryd? Sy met haar chroniese rugpyn, silwer hare en bloupers spatare? I don’t think so. Hoe sou hy haar teen die pawiljoen opgesleep kry? En wat op aarde sou sy daar maak? Skielik wil Zak my én sy ma by die rugby hê. Ek het nie ’n cooking clue waaroor dit gaan nie, iets jel nie lekker nie. Maar ek kla nie. Rugby is koning genoeg om Lucy en haar wederhelfte al die pad van die Kaap af Johannesburg toe te laat kom om hopelik te kan sien hoe die Bokke die All Blacks verslaan. Dit maak dié wedstryd wel baie spesiaal.
“In die voorste ry kan almal ons sien.” Zak het vir ’n wonder ’n tevrede uitdrukking op sy gesig – hy wat so vol klagtes kan