Op liefde se drumpel. Elza Rademeyer
gedagtes keer terug na die verlede. Sy was pas klaar met matriek en op die punt om drama op universiteit te studeer, toe haar pa in ’n motorongeluk omgekom, en haar ma ’n parapleeg geword het. Haar drome van die verhoog moes sy net so laat vaar. Sy was dom met haar ma se versorging, en die plaas het ook baie aandag geverg.
Drie maande nadat haar ma uit die hospitaal ontslaan is, het Gertruida vir die dag by hulle kom kuier.
Twee dae later het sy weer opgedaag en, net so ongevraag soos vandag, sak en pak by hulle ingetrek. Dadelik het sy Suzanne se ma se versorging op haar skouers geneem, drie jaar lank, tot haar dood toe. Boonop het sy ook ’n ogie oor die plaaswerkers gehou nadat sy, Suzanne, die werk by die prokureursfirma bekom het. Nee, sy sal dit nooit regkry om onbeskof teenoor Gertruida te raak nie.
Wat Phil te sê gaan hê, is natuurlik ’n ander saak. Hoe op aarde gaan sy dit aan hom verduidelik? Gelukkig kom hy nie vanaand kuier nie, maar wat van môreaand? Hy sal net niks daarvan hou dat sy haar woonstel met iemand deel nie.
Hy hou van privaatheid. Daarom neem hy haar selde uit. Boonop vereis sy werksomstandighede dat hy net so twee keer in ’n week kan kom kuier. Gewoonlik op ’n Maandag- en ’n Vrydagaand. Dan hou hy daarvan om hier by haar in die woonstel te ontspan. “Om sy batterye te laai”, soos hy dit stel, want naweke werk hy op die omliggende dorpe. Dan is daar nie vir hom kuiertyd nie.
Intuïsie waarsku haar hy en Gertruida gaan nie om een vuur sit nie. Phil sal gans te byderwets wees na Gertruida se sin, en hy gaan op sý beurt niks hou van die ouer vrou se nougesette uitkyk op die lewe nie.
Sy het haar tannie ook nog nie van Phil vertel nie, want haar nuuskierigheid het nie perke nie. Phil se lewensgeskiedenis sal sy eenvoudig van A tot Z uit hom trek. Boonop is sy lief om lastige vrae te vra …
Hoewel sy en Phil mekaar slegs drie maande ken, weet sy hy is die man vir haar. Hy is iemand wat seker is van wat hy wil hê en nie skroom om te wys wat hy vir haar voel nie.
Sommer uit die staanspoor uit was sy smoorverlief.
Wanneer Suzanne aan hul verhouding dink, voel sy wel ’n bietjie skuldig omdat sy toegelaat het dat haar emosies sommer binne ’n maand na hul ontmoeting handuit geruk het. Sy is streng grootgemaak. Haar ouers het geglo voorhuwelikse seks is taboe. Al het die lewe en tye verander, besef sy dat haar keuse nie hul goedkeuring sou weggedra het nie.
Gertruida saag lankal balke in die kamer langsaan, toe rol Suzanne nog van die een sy op die ander. Twee lang balke, twee kortetjies, en so tussendeur snakgeluide wat dit laat klink asof daar iets by haar keel ingevlieg het.
Dit voel ook asof sy pas ingesluimer het, toe sy Gertruida se stem hoor: “Nou toe, moet jy nie gaan werk nie? Weet jy hoe laat is dit al?”
Onthuts vlieg sy orent. “Hoe laat is dit?”
“Dis al halfsewe. Hier is vir jou koffie, maar jy sal vinnig moet drink. ’n Baas dink nie veel van ’n werker wat op ’n Maandagmôre laat by die werk opdaag nie.”
“Halfsewe? Ek moet eers halfnege op kantoor wees. Gewoonlik staan ek eers halfagt op. Dis net vyftien minute se ry tot by my werk.”
“O. Hoe kom julle dan met alles deur die dag as julle so min ure op ’n dag werk?”
“Ons kom deur, moenie bekommerd wees nie.”
“Wel, ten minste gaan jy darem nou tyd hê vir ontbyt voor jy ry. Ek het klaar pap gemaak. Vat jy toebroodjies saam?”
“Nee, ek koop sommer vir my iets te ete by die restaurant regoor my werkplek. Ek eet ook nie ontbyt nie. Net ’n koppie koffie is genoeg.”
“Geen wonder jy is net vel en been nie. Die pap is nou klaar, so jy kan dit net so wel eet. Ek gaan vir jou ’n paar toebroodjies ook insit. Genoeg om jou deur te sien tot vanaand. Jy kan baie geld so spaar. Restaurantkos is duur.”
“Ek dink tannie moenie vir my moeite vir aandete doen nie. My vriend kom kuier, en miskien sal hy wil hê ons moet gaan uiteet.”
“O, jy het ’n vriend. Nou wie is hy?”
“Phil Peach.”
“Hoesenaam?”
“Sy naam is Phil en sy van is Peach.”
“Peach! Praat hy darem Afrikaans?”
“Ja, tannie. Jy sal hom vanaand ontmoet.”
“Ek sal genoeg kos vir hom ook kook. Uiteet is ’n duur storie, so dis onnodig.”
Suzanne draai met opset tot feitlik op die laaste minuut in haar kamer voor sy moet ry. Dis die enigste manier waaraan sy kan dink om Gertruida se nuuskierigheid oor Phil te ontduik.
Haar vrae sal waarskynlik begin met: “Wie is sy ouers? Waar is hy gebore? Hoe oud is hy?” Sy gaan nie antwoorde op al die vrae hê nie. Familiegeskiedenis is net mooi die laaste ding waaroor sy en Phil gesels wanneer hulle by mekaar is.
Heeldag sukkel sy om haar aandag by die werk te bepaal. Gertruida se koms het nie net haar woonstel onderstebo gekeer nie, dit is klaar besig om haar daaglikse roetine ook omver te werp. Nie net moes sy plek vir ’n toebroodjieblik in een van die laaie in haar lessenaar maak nie, in haar handsak is ook ’n inkopielys van goed wat sy vanmiddag na werk moet gaan koop. Items waarvan daar glo baie min, of glad niks in die koskas is nie.
Wat sy darem moet toegee, dink sy die aand toe sy die woonstel binnegaan, is dat Gertruida kán kosmaak. Die heerlike geure is genoeg om enige mens se aptyt te wek. Dit herinner haar weer aan die jare op die plaas toe sy soms saans, pootuit gesukkel met moedswillige diere, die kombuis binnegestap het.
Eintlik het sy lanklaas ’n goeie bord kos geëet. Kitskos is net soveel minder moeite.
Sy kyk op haar horlosie. Phil daag gewoonlik so teen agtuur se kant op. Vir die eerste keer vandat sy hom ken, wens sy die tyd wil stadiger verbygaan.
“Wat draai jy so daar by die venster rond?” vra Gertruida naderhand.
“Ek kyk sommer of ek nog nie vir Phil … Daar kom hy nou net in die straat af.” Met dié haas sy haar uit die woonstel sodat daar nie vir Gertruida kans is om enigiets te sê nie.
Phil se motor het kwalik tot stilstand gekom, toe klim sy langs hom in.
“Aitsa, dit lyk asof jy na my verlang het,” sê hy laggend toe sy die deur toeklap.
“Iets verskrikliks het my getref, jong.”
“Wat?”
Sy kan die verbasing in sy stem hoor nadat sy hom van haar groottannie se ongenooide intrekkery vertel het. “Jy bedoel, sy het nie net kom kuier nie?”
“Nee. Toe ek my oë uitvee, trek sy sak en pak by my in, om te bly.”
“Hoe oud is sy?”
“Naby die tagtig, en glad nie so ’n maklike mens om oor die weg mee te kom nie.”
“Wat bedoel jy daarmee?”
“Hoe sal ek dit stel? Eksentriek, preuts, en sy meng haar met almal en alles in. Niks gaan soos vroeër wees nie. Sy sal nie toelaat dat ons in die woonstel maak soos ons wil nie. Ag, jy weet wat ek bedoel.”
“Hoekom sê jy nie net vir haar sy is onwelkom en moet vir haar ander blyplek kry nie?”
“Dis nie heeltemal só maklik nie. Ek het jou mos vertel dat my ma ’n parapleeg was. Dit was hierdie einste tannie wat haar versorg het. Ek sal nie met my gewete kan saamleef as ek haar vra om uit te trek nie.”
“Ek kan my eintlik nie voorstel hoe dit gaan wees om in die teenwoordigheid van ’n preutse tannie op te sit nie, maar ons kyk maar hoe gaan dit.”
“Sy het kos gekook en sê jy moet saam met ons kom eet.”
“Ek kan seker maar so maak. Gaan ons dan na ete ’n entjie ry, of wat stel jy voor?”
“Dis reg met my. Enigiets om onder haar oë uit