Op liefde se drumpel. Elza Rademeyer
En toe hulle by Herman aansluit, vra sy ewe vrypostig vir hom of hy ook dink Suzanne lyk pragtig.
“Sy lyk soos ’n prentjie!” Hy kyk goedkeurend na haar. “Die koppe van die manne by die kerk gaan draai.”
“Ek hoop dis nie ’n jong dominee wat die kluts kwytraak as hy haar daar van die preekstoel af sien nie,” sê Gertruida tergend. “Netnoumaar verloor hy sy teks.”
“Wag maar tot julle my in ’n trourok sien,” spot Suzanne saam. Waar die kop van vol is, loop die mond van oor, beskuldig sy haarself onmiddellik.
By die motor aangekom, maak sy asof sy nie sien Herman hou die voorste deur vir haar oop nie, en glip gou agter in. As Joan in nommer vyf deur die venster kyk en haar voor sien inklim, dra sy dalk stories by Phil aan. Sy kan mos nie ophou om vir Suzanne te vertel hoe gelukkig sy is om so ’n aantreklike kêrel soos Phil te hê nie. Sy het haar weer onlangs voorgekeer: “Ek kon vinnig bietjie met jou kêrel gesels. Hy is darem so volwasse. Dit lyk asof hy welaf ook is, daarvan getuig sy klere en die motor waarin hy ry.” Nie dat dit ’n verskil sou gemaak het as hy arm was nie. Suzanne sou hom niks minder liefgehad het as hy ’n kerkmuis was nie.
Sy word nie verniet ’n skinderbek genoem nie.
Die leraar is nie meer so jonk nie, en sy preek raak Suzanne. Laat haar skuldig voel, want dit handel oor losbandigheid en die voorbeeld wat jy vir ander stel. Watter voorbeeld stel sy vir die jong meisies van vandag? Gaan sy nie ook maar saam met die stroom van almal wat dink voorhuwelikse seks met iemand wat jy liefhet, is geregverdig nie?
Op pad terug woonstel toe, praat Gertruida en Herman gelukkig so baie dat hulle nie agterkom sy is stil nie.
Gertruida nooi Herman weer om saam met hulle te eet, maar hy wys die aanbod van die hand. “Baie dankie, maar ek het ’n belangrike afspraak vanmiddag en is genooi om sommer ook daar te eet.”
Suzanne kan nie anders as om te wonder hoekom daar so ’n uitdrukking van tevredenheid op sy gesig is, en hoekom hy nie die naam noem van die mense wat hom genooi het nie. Waarom die geheimsinnigheid oor die belangrike afspraak? Is dit Patricia wat hom genooi het, of dalk die meisie van wie hy hou wat hom uiteindelik raakgesien het?
“Sal ons twee nie ’n entjie gaan ry nadat ons gerus het nie?” vra Gertruida vir Suzanne nadat hulle geëet en die skottelgoed gewas het.
“Waarheen?”
“Sommer George se kant toe. Ek was lanklaas in daardie rigting. Ons kan met die ou pad langs ry, dis so mooi daar met die berge langs. Jy hoef nie bang te wees om saam met my te ry nie. Ek sien nou baie goed en ek is ’n versigtige bestuurder.”
“Ons kan so maak, dan gaan drink ons sommer daar iewers koffie.”
Toe hulle George binnery, vra Gertruida: “Hoekom gaan drink ons nie sommer by Flip koffie nie?”
“Phil werk mos op Wildernis vandag.”
“Miskien is hy al terug by die huis. Dis al ná drie. Hy sal tog seker nie die hele dag daar besig wees nie.”
“Ek weet nie waar hy woon nie.”
“Jy kan hom mos vra waar hy bly wanneer jy bel. Sê vir hom ons sal hom nie lank uit sy werk hou nie. Niks langer as ’n halfuur nie. ’n Rukkie se rus kan hom net goed doen.”
Opwinding vat in Suzanne pos. Hoekom sal sy hom nie bel nie? As hy by die huis is, sal hy mos bly wees om haar te sien.
Dit duur so lank voor hy die oproep beantwoord dat sy al begin dink het hy is nie naby sy foon nie, toe sy stem eindelik in haar oor opklink: “Hallo, my lief.”
“Hallo, Phil. Luister, ek en tannie Gertruida is hier op George. As jy my beduie waar jy woon, of sommer net die adres gee, dan gebruik ek die GPS en kom ons jou gou groet. Dalk ’n koppie koffie by jou drink?”
“Ek is op Knysna, my liefie.”
“O, ek dag jy het Vrydagaand gesê jy werk vandag op Wildernis. Toe dink ek jy is miskien al klaar en tuis.”
“Gister kon ek nie al my draaie op Knysna kry nie, toe moes ek vandag weer hierheen kom. Hoe lank gaan julle op George vertoef?”
“Seker nie lank nie. Ons sal nou maar net iewers in ’n restaurant gaan koffie drink voordat ons teruggaan.”
“Wel, ja, ek sal seker nie voor donker terug by die huis wees nie.”
“Dan is dit maar tot daarnatoe. Sien ek jou môreaand?”
“Gaan daardie preutse ou vrou nog daar by jou wees?”
Suzanne loer gou na Gertruida se kant toe, en voel hoe sy vuurwarm bloos van skaamte. Sy kan nie met sekerheid sê die ouer vrou het gehoor wat hy kwytgeraak het nie, maar dis moontlik.
“Ja.” En van skone senuweeagtigheid: “Ons was vanoggend kerk toe. Dit was ’n ouerige dominee, maar hy het mooi gepreek.”
“Lyk my jy doen deesdae vreemde dinge. In elk geval, ek kan nie lank gesels nie, my kliënt wag. Ek bel jou môre.”
Bang hy raak nog meer dinge kwyt wat haar in die verleentheid stel, kan sy nie gou genoeg totsiens sê nie.
“Wat sê hy?”
Gertruida se vraag klink so doodgewoon dat Suzanne aanneem sy het Phil se neerhalende opmerking nie gehoor nie. “Hy is nog op Knysna en sal eers vanaand laat terug wees.”
“Jy het toe seker nie sy adres gevra dat ons kan gaan kyk hoe sy huis lyk nie?”
“Nee, wat sal ons by sy huis gaan maak as hy nie daar is nie?”
“Ook weer waar, ja. Ons sal ons nuuskierigheid maar moet hou tot ’n ander dag.”
Die volgende dag by die werk wag Suzanne die hele dag dat Phil moet bel om te sê of hy kom kuier, maar toe hy teen sluitingstyd nog niks van hom laat hoor het nie, vererg sy haar.
Miskien moet sy vanaand sommer haar motor vat en iewers heen ry sodat hy voor dooiemansdeur te staan kom wanneer hy opdaag. Hy moet hom nie verbeel hy kan met haar gevoelens woerwoer speel, en dat sy net altyd daar sal wees wanneer dit hóm pas nie! Daar is baie vriendinne wat sy die afgelope maande afgeskeep het vandat sy hom ontmoet het. Sy sal sommer vir Santjie gaan kuier.
Dit sal vir hom ’n les wees.
Nadat sy dié besluit geneem het, sit sy op hete kole dat hy dalk sal opdaag voor sy weg is. So vinnig sluk sy haar kos weg dat Gertruida haar maan om stadiger te eet. “Vir wat jaag jy so? Jy sal ’n maagseer kry.”
“Ek wil vir Santjie gaan kuier. Sy is ’n goeie vriendin van my en ons het mekaar lanklaas gesien.”
“Nou wie klop daar aan die deur?”
Suzanne se maag gee nou regtig ’n draai. Sy is nie seker of dit van blydskap is dat Phil tog opgedaag het, en of dit van teleurstelling is dat sy nog nie weg is na Santjie toe nie.
Maar toe sy die deur oopmaak, is dit Herman wat voor haar staan, ’n yslike bos blomme in die hand.
“En dit? Is die blomme vir tannie Gertruida?”
“Nee. Dis vir jou.”
“Hoe so? O, jy het dit seker gekoop vir die meisie wat jou nie wil raaksien nie, en toe wys sy jou die deur. As ek jy is, vergeet ek van haar.”
“Gaan jy dit in die water sit, of wat?”
“Kom in. Ek sal seker iewers ’n blompot hê. Tannie Gertruida, sal jy soek vir ’n pot of ’n ding en die blomme in water sit, asseblief? As ek nie nou ry nie, gaan dit laat word.”
“Waarheen is jy op pad?” wil Herman weet.
“Ek gaan vir ’n vriendin kuier. Jy kan saam met tannie Gertruida koffie drink. Geniet julle aand, ek is op pad uit.”
Toe sy inderhaas daar wegry, hoop sy Phil gaan by die woonstel na haar kom soek, maar hoe later dit in die aand word, hoe