Satyn Omnibus 8. Ettie Bierman
“Daarso, nog spiekeries skoongewas ook,” paai Thys en swaai die grootste wortel voor Ouperd se neus.
Nikka se oë rek. Ewe gretig, met gulsige lippe en klappende tande, verorber Ouperd die aas, terwyl Thys die tuigharnas oor sy skimmel rug gooi en die buikgord vasgespe.
Nikka lag, omhels Thys en gee hom ’n druk. “Dankie, dankie duisend maal!”
“Altyd ’n plesier. Sal ons ’n draai ry, om te kyk of die ou hom gedra?”
“Ja, graag!”
Nikka wil nog vastrapplek soek, maar Thys kies kortpad. Hy plaas sy twee groot hande om haar middel, ’n fris knie onder haar sitvlak en hys haar onseremonieel boontoe.
“Oppas, jy gaan my laat val!” keer sy.
“Ek sal nie, ek het al baie geoefen: sakke ertappels agterop ’n vragmotor gelaai.”
Veilig bo, met haar agterstewe op die houtbankie, kan Nikka dit bekostig om parmantig te wees. “O, en ek en ’n sak ertappels is dieselfde?”
Thys wip langs haar op, verbasend lig op sy voete vir so ’n groot ou. Hy vryf nadenkend oor sy ken. “Daar is nogal heelwat ooreenkomste, maar jy het een of twee ekstra rondings.”
“Dankie, vir niks!”
Hy lag en tel die leisels op. “Dalk so drie of vier ekstra,” erken hy. “Rondings, bedoel ek. En kurwes …”
Sy het nie gedink hy weet van sulke dinge nie, net van vergassers en verkoelers en uitlaatpype. Nikka gee hom ’n skuins kyk. ’n Knie onder haar sitvlak, tot wie weet waar … Nie eens Ruan het nog ooit so rof met haar gewerk nie. G’n wonder Thys Vorster het nog nooit ’n nooi gehad nie, as hy hulle almal soos ertappelsakke hanteer.
Thys klap die sweep. “Hié-há!” beveel hy soos ’n cowboy in ’n fliek, omring deur ’n swetterjoel opgewonde honde.
Ouperd loer vir hom en beur gewillig vorentoe.
“Hy weet van die ander wortels in my sak,” gesels Thys. “Hy kan tel, soos bobbejane tel: een, twee, baie … Dit beteken daar’s nog báie van daardie sappige soetgoed oor. Hy is gewoond aan karretjies trek, weet wat ons wil hê hy moet doen, en as hy dit doen, gaan hy weer van daardie soetgoed kry. So maklik, perdelogika.”
Nikka knik. “Die arme ou was dalk mishandel. Te swaar vragte moes trek. Dié dat hy so steeks was om ingespan te word.”
“Dit kan wees. Ek wil hom nie dryf nie, laat hy liewer teen sy eie pas stap.” Thys kyk na Nikka. “Of is jy haastig?”
Sy skud haar kop. “Nee, glad nie. Ek het baie tyd. Tyd wat verbysleep …”
Thys hoor die skielike weemoed in haar stem. Hy weet wat die oorsaak is, maar dring hom nie op nie. ’n Meisie en ’n perd is eenders – dis beter om hulle te los dat hulle self die pas aangee. Meis sal praat wanneer sy reg is …
Hy skreef sy oë teen die lig en hou ’n suikerbekkie dop wat blinkvlerk tussen die aalwyne rondflits, met sy krom snawel op soek na nektar. Die grondpad is plek-plek lelik verspoel, sien hy. Die karretjie het gelukkig rubberwiele, maar die pad sal geskraap moet word. Ruan het hom die telefoonnommer van ’n konstruksiebouer gegee, een wat ’n stootskraper het en hom ’n guns skuld. Glo ’n buurman, hier naby. Gevra hy moet die man bel en reël.
By die uitkykplek beskou Thys die lapa met ’n kennersoog. Niks met die stellasie verkeerd nie, dit kort net ’n laag carbolineum. Die vinke en ape het egter die dekgras verniel. Ruan het ’n kwotasie gekry van ’n firma wat gazebo’s oprig, gevra Thys moet daarna kyk en dit met Nikka uitklaar. Sy wil glo sitplek vir sowat dertig gaste inrig. Daar’s genoeg onderdakruimte, maar die vloer is te ongelyk vir soveel tafels en stoele. Die stootskraper sal hier ook werk hê.
Meis het ’n goeie idee beet, dink Thys. Piekepiekniek kan werk. Ruan weet dit, maar hy is te vol draadwerk om dit teenoor Nikka te erken.
Sy vriend het ’n skroef los, meen Thys. Hy besef nie wat hy aan ’n mooie vroumens soos Meis het nie. Fyntjies soos ’n ballerina … Hy kan met sy twee hande haar middel omsirkel. Hare die kleur van ebbehout en oë ’n rokerige blougrys … Klassiek-mooi, met ’n tipe broosheid wat sterk manne se knieë jellie maak.
Hy weet sy aanbid die grond waarop Ruan van der Hoven loop. Pleks dat hy haar op die hande dra en bederf soos sy verdien om bederf te word, stoot hy haar eenkant. Ruan moet sy kop laat lees. Maar albei is sy vriende en hy mag nie kant kies nie. Hulle twee moet die draadwerk self uitpluis. Hy sal maar net bystaan en agterna die stukkies optel.
Nikka sit langbeen op ’n klip oor die dam en uitstaar. Sy kyk waar Thys is voor sy vinnig met haar kaal hand die trane afvee. Dit was makliker toe sy besig was, maar noudat sy ’n rukkie tot stilstand gekom het, spoel die skok opnuut oor haar, soos ’n tsunami wat haar verswelg. Al haar entoesiasme en dryfkrag is weg. Sonder Ruan wil sy net hier op ’n mistroostige hopie bly sit, haar oorgee aan die huil en nooit weer ophou nie.
Dalk is hy sommer net dwars, soos hy soms op die rugbyveld kon raak as ’n spanmaat hom ’n swak aangee gegee het wanneer hy op pad was doellyn toe. Maar net so vinnig soos hy ontplof het, so gou het hy weer afgekoel. En aan die einde van die wedstryd was hy en die oortreder weer groot maats.
Sy moet net geduldig wag. Ruan sal weer afkoel en vir haar iets moois uit Aussieland bring om te sê hy’s jammer, hy het nie bedoel wat hy gesê het nie. Dis wat hy in die verlede altyd gedoen het: elke keer as hy oortree het haar met ’n present verras. ’n Bos geel rose – dié met die fyn rooi spikkeltjies, die Peace-roos. En die volgende dag dit opgevolg met die rooiste rooi rose wat hy kon kry, en ’n kaartjie daarby: Om te sê hoe lief ek jou het. Jy is my alles. My liefde, my lewe.
Die afgelope jaar, vandat hulle die hoewe het, het die aard van die presente verander. Daarvan getuig hulle “dieretuin”. Die ganse was eerste: ’n dosyn donsige kuikentjies in ’n boks met ’n pienk strik om, nadat Ruan laat was die aand vir haar verjaarsdagete. Daarna was dit die Siamese babakat, opgekrul in ’n snoesige bolletjie onderin ’n piekniekmandjie. So skattig, haar nuwe ma het haar Skattebol gedoop, wat weldra Kattebol geword het.
Die bulterriër het saamgekom uit Bloemfontein omdat Ruan haar drie dae alleen gelos het met die Curriebeker-eindstryd tussen die Cheetahs en die Leeus. Die eerste ding wat die bulterriër gedoen het nadat Ruan hom gekoop het, was om sy been teen die motor se wiel te lig. Vandaar sy naam: Wieldop. Daarna het gevolg nóg honde, ’n skilpad, ’n hoenderhaan, kurpers en skaars waterlelies vir die sementdam.
Die lelies was die laaste … Ruan koop nie meer geskenke vir sy vrou nie. Hy wil ’n egskeiding hê.
Nikka vee die nuwe stroom trane weg en skrik toe ’n skaduwee oor haar val. Sy het van Thys vergeet en nie opgelet toe hy langs haar kom sit het nie. Sy draai verleë haar gesig weg en probeer ’n grappie maak. “Hooikoors …”
“Ja, die stuifmeel pla hierdie tyd van die jaar,” stem hy ewe saam.
Nikka kyk voor haar, maar sien nie die boot wat met bollende seile oor die water skeer nie, of die vakansiegangers wat vrolik wuif nie. Sy is lank stil, haar keel rou van ingehoue emosie. Dan soek sy ’n sakdoek en blaas haar neus. “Dis nie die stuifmeel se skuld nie.”
Thys knik. “Ek weet.”
“Dis … dis …” Sy kry nie die res van die sin uit nie.
Hy leun oor en vee met sy duim ’n traan weg voor dit op haar skoot drup. “Ek weet, ja.”
“Van … dat Ruan …?”
“Ja.” Thys sug. “Ek is jammer, meis. As ek kon, sou ek jou so graag die hartseer wou spaar.”
“Dat hy praat van … van skei? Het hy jou vertel?”
“Hy wou eers nie, net iets gemompel van onvoorsiene omstandighede. Maar ek kon sien daar’s groot fout en het die storie so stuk-stuk uit hom getrek. Ek kon dit nie glo nie! Ek wens ek kon raad gee, maar dis julle privaat sake. ’n Derde persoon