Ena Murray Keur 19. Ena Murray
sy aangehad het, word sorgvuldig in ’n plastieksak gesteek om aan die polisie te oorhandig vir forensiese toetse. Dan stap sy weer deur na die voorste vertrek waar die res van die gesin swygsaam om die tafel sit asof almal stom geword het. Klaas kyk nie op toe sy binnekom nie.
“Klaas, Martha, ek neem Maria saam met my dorp toe sodat sy by die dokter kan kom. Dan dink ek sy moet liewer eers by haar ouma en oupa op die dorp bly.”
Martha is dadelik ontevrede. “Daar waar die kwajongens is?”
“Sy sal veilig wees by ouma Ragel en oupa Jafta. Ek sal daar ook beter ’n ogie oor haar kan hou. Sy kan intussen daar leer terwyl die skool gesluit is. Ek het haar boeke gekry. Ons moet nou die beste vir Maria doen, Martha. Is dit dan reg so? Kan ons maar gaan?”
Martha sug, bedek haar oë met een hand. “Suster moet maar maak soos suster goeddink.”
Miempie se oë flits vraend na Klaas en dié gee haar net so ’n skuins kyk en knik.
Miempie klim saam met Maria agter in die motor en Emile sê: “My ma het kos vir julle albei gereed. Wil julle nie eers kom eet nie?”
“Liewer nie, Emile. Sê vir jou ma baie dankie, maar daar is dinge wat nou eers dringend afgehandel moet word.”
Hy laai hulle by die polisiekantoor af en dokter Geertsema word daarheen ontbied. Miempie laat Maria vir geen oomblik alleen nie, ook nie toe die dokter haar ondersoek nie. Sy hou haar hand die hele tyd vas, wetende dat hierdie ondersoek ’n ewe groot beproewing is. Daarna word sy toegelaat om Maria terug te bring na die woonstel.
Miempie besluit dat sy Maria eers môreoggend na haar ouma-hulle sal neem. Dit sal vir die twee ou mense ’n te groot skok wees as hulle hierdie tyd van die aand opgeklop moet word om te hoor wat met hul kleindogter gebeur het. Sy wil Maria self eers bystaan deur hierdie traumatiese tyd en seker maak dat sy kalmer is voordat sy haar in iemand anders se sorg plaas.
“Nou gaan ek vir jou lekker warm badwater intap, lekkerruikgoedjies ingooi en jy kan so lank as wat jy wil daarin lê en ontspan, terwyl ek vir jou ’n bed opmaak en vir ons kos maak.”
Maria sug swaar. “Hoe … hoe kan ek suster ooit bedank vir alles?”
“Probeer jy maar net ontspan en rustig raak. Dis ’n groot tragedie – dit wat nou oor jou pad geval het. Maar saam sal ons hieroor kom en sorg dat jy aangaan met jou lewe, Maria.”
“Ek weet nie of ek kans sien nie, suster …”
“Nou toe, kom bad maar eers net. Moenie verder dink nie. Ek het vir jou ’n nagrok ook. Hier is vir jou ’n handdoek.”
Maria lyk steeds onseker toe Miempie by die badkamerdeur uitstap. Miempie se hart vul met deernis. Arme ding. Het sy al ooit in ’n bad gebad? Haar gedagtes bly maal terwyl sy die slaapbank begin opmaak. So neem ons so baie dinge in die lewe as vanselfsprekend aan … Soos ’n lekker warm bad, ’n gerieflike matras en mooi beddegoed, ’n kussing onder die kop, veiligheid, geleerdheid, werk … Ek het so baie voorregte, besef sy met ’n dankbare hart.
Sy loer by die badkamerdeur in, glimlag toe sy sien hoe Maria agteroor in die bad lê. Sy knik haar bemoedigend toe. “Dis reg. Geniet dit. Ek maak solank vir ons iets om te eet.”
Sy stap aan kombuis toe. O, sy glo daar sal mense soos die Vissers wees wat die stuipe sal kry as hulle moet weet dat Maria op hierdie oomblik in haar bad lê, vanaand onder haar dak gaan slaap, saam met haar aan tafel gaan eet. Maar dit kan haar min skeel.
Die kos is al klaar en Maria het nog nie haar opwagting gemaak nie. Miempie stoot die badkamerdeur oop. “Waar bly jy so lank? Wat doen jy, Maria?”
“Dit … dit voel asof ek my nooit skoon genoeg sal kan was nie, suster,” sê sy sag.
Met ’n steekpyn in haar hart gee Miempie vir haar die handdoek aan. “Jy is nou skoon genoeg. Die kos word koud.
Maria neem onseker plaas toe Miempie teenoor haar gaan sit. Sy het nog nooit sulke mooi borde gesien nie.
Miempie moedig haar aan: “Jy moet alles opeet, Maria. Ek is seker jy het nog nie vandag geëet nie.”
“Nee, suster.” Hulle het haar toebroodjies weggeklap toe hulle haar gegryp het.
Miempie sien die verdonkering van die oë en sê sag: “Eet nou eers en dan kan ons gesels. Toe, anders dink ek my kos is sleg.”
Miempie keer haar gou toe sy ná die ete wil begin skottelgoed was: “Ons pak dit net in die wasbak. Dit kan wag tot môre. Dit sal niks oorkom nie. Kom sit nou hier by my op die bank.” Sy neem Maria se hand in hare. “Vertel nou eers vir my hoekom jy dit gewaag het om skool toe te gaan. Jy weet tog daar was moeilikheid en hulle hét jou gewaarsku.”
“Ek weet, suster, maar ek het gedink ek sal maar gaan kyk. Miskien is die skool tog oop. Die kleintjies het saamgestap. Ek het gedink dis veilig.”
“En toe stap julle terug …”
Die kop sak. “Ja. Halfpad terug huis toe spring hulle skielik agter ’n bos uit en skreeu: Jy wil mos nie hoor nie, nou sal jy voel. Die ander kinders het weggehardloop. En toe … toe …”
“Maria, ek het met jou ma-hulle gereël dat jy van môre af by jou ouma-hulle gaan bly. Hierdie heen-en-weer-lopery het te gevaarlik geword. As jou oupa-hulle nie kans sien om jou tot die end van die jaar te huisves nie, gaan ek met meneer Koopman praat en hoor of hy nie weet waar jy vir die res van die jaar kan loseer nie. Maar intussen …” Sy staan op en gaan haal Maria se skoolboeke uit die kas. “Hier is jou boeke. Die feit dat daar nie op die oomblik skool is nie, beteken nie dat jy moet ophou leer nie. Eintlik is dit nou vir jou ’n goeie geleentheid om in te haal waarvoor jy voorheen nie tyd gekry het nie. Jy gaan baie makliker by jou oupa-hulle leer. Daar is nie ander kinders wat jou sal pla nie en hulle het elektrisiteit. Jy kan tot laat saans leer as jy wil. Jy gaan ook nie weer skool toe voordat ek jou kom sê dis veilig genoeg om terug te gaan nie, verstaan jy?” Maria knik en Miempie se oë is sag. “Maria, ek weet dis ’n baie swaar ding wat jou vandag getref het. Maar as jy gaan toelaat dat hierdie ding maak dat jy nie meer wil leer nie, gaan jy presies doen wat daardie kwaaddoeners wil hê jy moet doen. Moenie hulle hulle sin gee nie. Jy moet nou éérs leer, Maria! Asseblief! Moenie dat hierdie ding jou onderkry nie!”
Die donker oë is troebel. “Maar ons sal seker nie eens eksamen skryf nie.”
“Julle sal. Jý sal, al moet ek hemel en aarde beweeg,” belowe sy sommer blindelings. “Dit kan gereël word, maar ek is seker dinge sal weer rustig wees wanneer die eksamen aanbreek. Hulle sal teen daardie tyd al die belhamels gevang het. Maar jy moet dan gereed wees vir die eksamen. Ek wil hê jy moet ’n A-gemiddelde kry.”
Maria se oë rek. “’n A-gemiddelde, suster?”
“Ja. Veral ’n A in wiskunde en wetenskap. Jy het nou tyd om te leer.”
“Maar hoekom?”
“Vra jy vir mý, Maria? Het jy my dan nie van jou droom vertel nie?” Miempie sluk. Durf sy doen wat sy nou doen? “Of … of wil jy nie meer ’n dokter word nie?”
Maria se blik sak voor hare. “Dis net ’n droom, suster,” sê sy gedemp. “Dit kan tog nooit waar word nie.”
Miempie swyg eers, aarsel: “Drome word soms waar, Maria. ’n Mens moet nooit ophou glo nie. En jy moet hard werk.”
“Nee, suster. Drome word nie waar vir ons nie. Nie vir ons … lemoenmense nie.”
Miempie kyk haar vraend aan. “Wat bedoel jy … lemoenmense?” Dis stil. “Wat is ’n lemoenmens? Wat beteken dit?”
“Ken suster dan nie die grappie nie?”
“Grappie?”
“Ja. Die lemoengrap?”
“Nee. Waaroor gaan die grap?” vra sy.
“Oor die lemoen.”
“Vertel dit vir my.”
Die