Ena Murray Keur 19. Ena Murray
hulle gewerk het. Op ’n dag gaan hulle weer stad toe en hulle besluit om vir ou Mieta saam te vat, want sy het nog nooit ’n groot stad gesien nie. Natuurlik het Mieta haar doodverwonder aan alles en toe hulle terugry plaas toe, toe vra die vrou vir Mieta: ‘En wat het nou die diepste indruk op jou gemaak, ou Mieta?’” Maria bly ongemaklik stil.
Miempie kyk haar vraend aan. “Ja?” moedig sy aan.
Weer die aarseling, ontwyking: “Ag, dis sommer net ’n grap, suster.”
“Wat antwoord Mieta toe?” dring Miempie egter aan.
“Sy sê toe dat die bruin en swart vroue so mooi aantrek. Waar sou hulle die geld vandaan kry vir al die mooi klere?”
“Ja?”
“En toe … toe sê die vrou hulle kry dit by die wit mans wat so by hulle slaap.” Die oë lig uitdagend. “En ou Mieta sê: ‘Ai! En al die jare kry ek net elke keer ’n lemoen!’”
Die laaste sin tref Miempie soos ’n koeëlskoot. Sy soek na woorde, kyk ontredderd in Maria se donker oë.
Maria gaan sag voort: “My ma het ook net ’n lemoen gekry, suster … en ek is die klein lemoentjie.”
“Maria! O, Maria …” Daar is ’n snik in Miempie se stem en skielik is daar trane in haar oë. “Mariatjie …”
“Ek weet Klaas Benjamin is nie my pa nie. Ek het ’n wit pa. Ma is te bitter om daaroor te praat. Ek weet net dis ’n wit man wat haar hierdie lemoen gegee het,” en sy druk teen haar bors.
Miempie laat sak haar oë skuldig, want sy weet sy kan Maria se skokkende stelling nie weerlê nie. Sy is self so te sê oortuig Martha Benjamin het destyds ook maar net ’n lemoen van die wit man gekry.
“Maria …” Wat kan sy sê? Sy kyk weer op. “Maria, luister. ’n Klein lemoentjie kan tot ’n groot lemoen groei … tot keurgraad … tot ’n uitvoerproduk waarop almal baie trots kan wees. Dit hang alles net van jouself af. Moenie bly vasstaar teen die verlede nie, Maria. Daar is ander dinge wat die Vader jou ook gegee het, behalwe ’n naamlose pa. Hy het jou verstand en ruggraat, ’n sterk karakter gegee. Jy het dit in jou om uit te styg bo al hierdie dinge. Om as mens, as mens uit eie reg, vir jou ’n plek in die lewe oop te skop en vir jou jou eie spesiale plekkie in die son te vind. Hy het jou ’n droom gegee. Hou daaraan vas!”
Die lippe bewe weer. “Dink suster ek wil nie? Dink suster ek wil nie ook uitstyg bo al hierdie … ellende om my nie? Ek wil ook eendag ordentlik lewe, soos suster. Ek wil ook eendag my kop oplig en daar moenie ’n deur wees wat ek nie kan oopsluit nie. Ek is moeg en sat vir die lewe waarin ek en my mense vasgevang is, suster! Ons is ook mense! Ons wil ook trots wees op onsself! Maar ons het nog nooit iets gehád om op trots te wees nie! Ons het nog nooit iets van ons eie besit nie! Hoe … hóé trek ek myself uit hierdie moeras uit? Hoe kan ek my broers en susters uit die modder van armoede en minderwaardigheid kry?”
“Deur te leer, Maria. Deur iets te bereik. Deur jouself in ’n posisie te kry waar jy ’n opheffende hand na jou mense kan uitsteek. Deur van jouself ’n voorbeeld te maak, iemand wat hulle sal inspireer om ook na bo te reik. Bring jouself dáár waar jy kan uitroep: ‘Kyk na my! Ek kon dit regkry, julle kan ook!’ Maar daar is net een pad wat jou daar kan bring, Maria: geleerdheid. Jy kan langs geen ander weg daar kom nie.”
“Ek weet dit, suster, maar ek kan nie daardie pad stap nie. Dit kos baie geld om ’n dokter te word. Ek het dit nie; ek sal dit nooit hê nie.”
“Kom ons leef een dag op ’n slag, Maria … en ons leef in die geloof. Al waaraan jy nou moet dink, is dat jy ’n A-gemiddelde in hierdie eksamen moet behaal. Want dis die vereiste om toegelaat te word tot ’n mediese kursus. Ons sal die hekke oopmaak soos ons by hulle kom. Hierdie een is die eerste hek voor jou. Kyk eers dat jy hom oopkry, want dit help niks om die geldhek daar vér oop te kry en jy het die hek reg voor jou nog nie oop nie. Verstaan jy?”
“Ek verstaan, suster. Maar …”
“Daar is geen maars nie, Maria. Ons het vir eers klaar gepraat. Ek gaan jou nou ’n slaappil gee en jy gaan nou rus. Dis eers genoeg vir een dag. Kom.”
Maria lyk weer half verskrik. Sy kyk na die opgemaakte slaapbank, dan ongelowig terug na Miempie. “Baie, baie dankie, suster. Ek sal jou nooit kan vergoed vir alles nie …!”
’n Brandpyn skiet deur Miempie se hart toe sy vorentoe stap, die beddegoed oopmaak en met die kop wink. “Klim in, Maria. Ek gaan solank die water en die slaappil haal.”
Woordeloos gehoorsaam Maria en met Miempie se sagte druk teen haar skouer sak sy terug teen die kussing. Haar liggaam is nog seer … maar sy voel dit skaars. Daar is iets besig om oop te kelk in haar … ’n dankbaarheid só groot dat dit vir haar voel asof dit uit haar borskas gaan bars; te groot vir die woorde om gestalte op haar lippe aan te neem, maar dit vorm in haar hart, styg omhoog: God seën jou, suster!
In Miempie se hart is ook ’n smeekgebed: Ek weet nie of ek reg of verkeerd gedoen het om haar vanaand te bemoedig nie, Here. Ek weet nie altyd hoe en wat ek moet bid wat regverdig teenoor haar sal wees nie. Tog, liewe Heer … as dit in u raadsbesluit lê, bid ek U vanaand … seën hierdie lemoentjie, maak dit vir haar moontlik om nie net ter wille van haarself nie, maar ook ter wille van haar mense haar droom waar te maak!
Toe daar ’n klop aan haar voordeur kom, is Miempie jammer dat al die ligte nie al afgeskakel is nie. Sy voel tot in haar siel toe moeg, uitgemergel deur skok en wanhoop en drome wat al verder wegskuif ten spyte van haar selfversekerde houding voor Maria. En dis al laat …
Maar sy maak die deur oop en dis Emile wat voor haar staan. Onmiddellik is die kommer terug in haar oë.
Hy hou ’n gerusstellende hand omhoog. “Nee, daar het niks gebeur nie. Ek het net kom kyk of alles reg is, of jy veilig is.”
Sy kyk hom verbaas aan, nooi hom binne. “Hoekom sal ek nie veilig wees nie?”
“Omdat jy Maria na haar ouma-hulle toe sou neem. Dit kan gevaarlik wees om hierdie tyd van die aand daar in te gaan. Ons lewe in ’n deurmekaar wêreld.”
“Nee, ek het haar toe nie geneem nie. Ek hou haar eers vannag by my. Ek sal haar môre na hulle toe neem.”
Hy kyk om hom rond. “Maar waar slaap sy?”
Haar oë is uitdagend. “Sy slaap by my in die kamer. Ek het ’n ekstra slaapbank.” Hy sê niks daarop nie en sy vervolg, steeds op uitdagende toon: “Skok dit jou?”
Hy skud sy kop. “Nee, natuurlik nie. Ek is bly jy help haar.”
“En?”
“En as jy anders opgetree het, sou jy nie Miempie gewees het nie.” Hy glimlag. “Niks wat jy doen, verbaas my meer nie. Ek sal nie eens verbaas wees as jy dit nog gaan regkry om van Maria ’n dokter te maak nie. Vir jou is alles blykbaar moontlik.”
Die moegheid laat dit voel asof haar kop swem. “Is jy nou besig om met my te spot, Emile de Jongh? Of is jy net sarkasties? Want dan wil ek vir jou sê …”
“Nie een van die twee nie. Soos jy eenmaal gesê het, ek stel net ’n feit.” Sy hande lê skielik op haar skouers en sy oë kyk bestuderend af op die moeë gesiggie. Dan word sy teen hom vasgetrek, haar kop ’n oomblik teen sy skouer vasgedruk … en vind sy lippe hare in ’n lang, teer soen.
“Jy is doodmoeg. Gaan slaap nou.” By die deur kyk hy om. “Ek gaan vir ’n week weg na ’n landboukongres toe. Kyk mooi na jouself en onthou om die voordeur te sluit. Nag, Miempie.”
Vroeg die volgende oggend lui die telefoon. Dis Laura de Jongh.
“Ek is jammer om jou so vroeg te pla, Miempie, maar ek was bang ek kry jou nie voordat jy werk toe gaan nie. Hoe gaan dit met Maria? Emile sê my jy het haar verlede nag eers onder jou sorg geneem.”
“Ja. Dit gaan in die omstandighede goed. Natuurlik sal dit lank duur, veral sielkundig, om oor hierdie ding te kom. Maar ek het vertroue in Maria dat sy dit sal