Mooier as Marilyn. Anita du Preez
armsgevou oor sy John Lennon-brilletjie staan en betrag net dié kant van die deur stoep toe. Seker die eienaar.
Ek val nie vir sy verkoopstegniek nie en ek gee hom ’n vuil kyk. “You would say that.” En met ’n Jackie-eat-your-heart-out-heupstappie wat ek nie weet van waar af kom nie, is ek die trappies af tot by Christine, waar ek pruilmond pose gooi met die bril wat so effens op my neus afsak.
Dis toe dat ek hom sien.
En net daar weet ek iets wat ek eintlik lankal weet. Dat Vincent nie in Pretoria is nie. En ook heel moontlik nie voorverlede naweek in Saldanha was nie, en ook nie die week voor dít dringend Port Elizabeth toe moes gaan nie. Want daar sit hy skuins onder die trap, taamlik verskans agter die reuse-akkerboom, en handjies vashou oor die wankelrige tafeltjie.
Met Gloria.
Gloria van sy spreekkamer. Gloria wat nou die dag eers dertig geword het.
Of hulle nog heeltyd daar sit en of hulle ingekom het terwyl ek besig was om aan te pas, weet ek nie. Al wat deur my kop gaan, is: Sy mag miskien jonger wees, maar sy is dan verdomp heelwat dikker as ek?
“Wow!” roep Christine uit. “Dít, vriendin, is jou styl! Jy is ’n fifties-Hollywood-bom!”
Toe sien sy waar ek kyk en toe sien sy hom ook.
2
Toe ek sake agterna bedink, besef ek hoekom ek Gloria nie regtig kan kwalik neem nie.
Eerstens, en ek wou dit nou nie hardop sê nie, maar … Gloria is nie baie slim nie. Actually, kom ons wees eerlik, Gloria is DOM. Daar. I said it. So. Dit spreek vanself dat dit nie van iemand soos sy verwag kan word om haar Gerald se minder opsigtelike bates, soos sy superieure intelligensie en sin vir humor, na waarde te skat nie.
Tweedens, Gloria is vlak. Ek glo nie sy kan dieper as die uiterlike sien nie. En haar Gerald, bless his soul, is nie veel vir die oog nie. Hy is maar ’n valerige ou mannetjie. Eerlik en opreg, maar taamlik onbeduidend.
Laastens, Gloria hou van bling en flash. Sy het ambisie. En dinge moet nou gou gebeur, want sy is pas verby dertig en op pad na nowhere.
En Gerald? Gerald is ’n bibliotekaris.
En my Vincent is nie.
Nee. My Vincent is ’n chirurg. En selfs op een en vyftig, met sy leeukop (meestal) nog vol gryswordende hare, sy breë skouers en veral daai loop van hom, kan hy nog ’n groot vertrek met sy teenwoordigheid vul. Om nie eens te praat van ’n denim en ’n hele paar ander dinge wat enige vrou graag gevul sou wou hê nie. Soos haar bankrekening.
Die ander een wat ek seker nie kan verkwalik nie, is hy. Vark wat hy is.
Dalk sal ek anderdag ordentlik kwaad word vir hom, maar nie nou nie. Ek is nou net lam. Miskien sou ek ook jonger grassies anderkant die draad wou gaan proe indien die rolle omgeruil was en hy soos ek geword het. Ek het mos geheel en al ingegee, en wie wil nou saam met so ’n tikkende tydbom leef?
’n Man soos Vincent het ’n rustige, ronde raakvat-vroutjie nodig. Een wat met entoesiasme erfgename kan verwek. En produseer. Flegmatiese temperament. En nie te hooggeleerd nie. Soos Gloria. Een van daais wat by vriende se buffettafel lieftallig vir hom sal vra: “Kan ek vir jou inskep, skat?” Anders as ek wat sal wil weet of sy handjies dan lam is. Geen wonder die man het uitkomkans gesoek nie.
Maar daardie besef help my nou veel. Want Vincent is weg, sak en pak, en ek het self daai sak vir hom gepak.
Die tonele wat hulself die afgelope paar uur afgespeel het, sedert ek Vincent en Gloria by Beleza onder die akkerboom gewaar het, was nie mooi nie. Nee. Not my best moments. Daar’s heelwat dingetjies wat ek anders kon hanteer het. Ek moes byvoorbeeld statig verby die verdomde twee verneukers gestap het, met swier in my kar geklim en weggery het. Met styl. Maar ek het nie.
In plaas daarvan het ek toetentaal my cool verloor en my moer gestrip. Hulle net daar bestorm en op hulle geskree. Grootskaals aangevuur deur dieselle hell that hath no fury like a woman scorned wat veroorsaak het dat siklone na ’n sekere spesie vernoem word.
En natuurlik het almal daar my skeef aangekyk. Dis mos hoe dit werk. Maak nie saak watse misdaad iemand teen jou gepleeg het nie, as jy die een is wat skel en vloek, is jy die baddie in mense se oë. Kant en klaar. Laat jou man jou belieg en bedrieg en oop en bloot met sy flooze daar sit terwyl jy dink siestog, hy is in Pretoria by ’n boring werkseminaar, en waag jy dit om sy glas vonkelwyn oor sy halfgrys kop uit te smyt en aan sy metgesel se hair extensions te pluk, en onmiddellik is sy die victim. En jy? Jy, skattie, is die varksog in die verhaal. Not rocket science, nè?
Stupid, stupid, stupid. Hoe kon ek, ’n vrou wat al ’n paar keer deur die lewe gerol is en met genoeg grade agter haar naam, so stupid gewees het?
Oukei. Help nie ek sit hier en kasty myself nie. Daarvoor het Christine tot oorverdowens toe gesorg toe sy per Uber kom kyk het of ek veilig by die huis aangekom het – nadat ek met skreeuende bande die pad gevat het voor iemand die polisie kon ontbied. Gelukkig was sy bitter kwaad vir my dat ek haar net daar by Beleza gelos het, anders was sy dalk nog hier vir die hele embarrassing spektakel toe Vincent kom probeer verduidelik het.
Nee. Nie verduidelik het nie. Vincent verduidelik nie. Vincent word onmiddellik die verontregte in enige tweespalt, duld geen teëspraak nie, lieg homself uit enige ding en verontskuldig homself met soveel grasie dat hy homself glo en jy begin dink dis dalk alles jou skuld. Dis verstommend.
En dan? Dan word jy so kwaad vir die skreiende onreg dat jy dit weer heeltemal verloor en lateraan gillend goed kwytraak wat jou laat twyfel aan jou eie DNS. En dan? O, dán staan hy daar met sy hoogheilige uitdrukking, soos in: Sien? Sién? Dis waarmee ek, arme man, te make het. Kyk hoe gaan sy tekere, soos ’n regte ou …
Verstommend, sê ek jou. Ek bedoel, ek is seker mens kan iets oorkom daarvan. Soos hartversaking.
En lateraan? Lateraan word jy nie eens meer kwaad nie. En dan? Dan is jy in die moeilikheid. Wanneer alles stil geword het, met slegs ’n leegheid waar daar eers woede was.
Maar ja, iets hét vanmiddag geknak. Tot hier toe en nie verder nie. Oopgeruk deur my onverwagse woede oor my man se blatante verneukery. Of dalk het iets net binne-in my verskuif? Hoe weet ’n mens?
Daarom sit ek nou hier op die bed se rand en staar na Vincent se oop hangkasdeure, die leë hangers en rakke, en dit voel asof ’n leeftyd verbygaan. Asof die heelal moet gaan stilstaan en kennis neem van vanmiddag se gebeure. Miskien dalk net ’n minuut van stilte vir die vergane huweliksverbintenis tussen Vincent Egbert de Lange en Desiree Helena van Vuuren? Dis mos nie moontlik dat elf jaar net so – poef – weg kan wees nie?
Selfs ’n enkele trompet wat ’n taptoe blaas oor dié afsterwe sou meer gepas wees as die middagstilte van ons rykmansbuurt. Maar dis bloot nog ’n Sondagmiddag om halfvier, wanneer dinge gewoonlik mos maar ietwat bleak lyk. Ek ken dit. Suicide hour. Maar hierdie een? Nee, kyk, hiérdie een is duidelik die moeder van alle Sondagmiddae.
Ek sug diep. Hier sal ek vergaan van ellende. Hier sal ek my net weer oorgee aan wanhoop en myself op ’n bondel neertrek, maar dié keer om nooit weer my kop te lig nie.
Soos Marilyn.
Tog kry ek tot my verbasing van iewers krag. Skynbaar is daar in my bloed darem nog ’n milliliter of twee van daardie Van Vuuren-vuur wat my voormoeders skoenloos oor die Drakensberge gedryf het. Ek tree ferm bo-oor ’n eensame swart sokkie en Vincent se favourite verbleikte slaapbroekie wat soos ’n beskuldiging op die vloer bly lê het nadat ek sy tasse hygend van wrewel en adrenalien help toeknip het.
Ek vat my karsleutel raak. Waarnatoe weet ek nie, maar wat ek wel weet, is dat ek hier moet wegkom.
Om die een of ander rede ry ek reguit Beleza toe. Back to the scene of the crime? Makabere mot wat weer wil gaan kyk hoe lyk die plek waar die gloeilamp haar geskroei het? Nee, ruk ek myself tot orde. Dis nie dít nie. Ek wil mos bloot my eie klere gaan haal. Omdat ek niks van my by daardie verdomde plek wil laat agterbly soos bewysstukke van my uitgediende huwelikstatus nie. Boonop wil ek die verspotte femme fatale