Mooier as Marilyn. Anita du Preez
en sê iets wat ek skynbaar nie moet hoor nie, voor sy groet: “Oukei, baai, Ma. Sien jou nou-nou.”
Ek lig my op. Ek is regtig nie opgewonde oor die gedagte dat Liz my só moet sien nie. Of, for that matter, ooit weer nie.
“Moet ek jou gou vat?”
“Huh-uh! Sy’s die hel in. Sy kom haal my.”
“Hier?”
“Ja. Waar anders? Dis after all my pa se huis?”
Ek sluk nog aan ’n benoudheid omdat die kind my kaalvuis aan daardie feit herinner het, toe die deurklokkie so ongewoon skel deur die huis weerklink dat daar iewers honde begin kef.
“As dit my flippen pa is! Ek sweer!” dreig Caz en gee lang treë in die gang af.
Ek trek myself platter teen die bedstyl.
“Hallo, tannie Ina. En hallo, Oom Piet en Antie Soes,” hoor ek vaagweg. Ek moes geweet het. Net Christine met ’n hond onder elke arm kan ’n deurklokkie so laat weergalm.
“Caz, liefie! Noem my tog asseblief Christine. Ina is so …?”
“So boerewors?”
“Exactly, skat!” hoor ek my vriendin oorskakel na die ek-is-die-cool-tannie-mode wat sy spesiaal vir Caz uithou, sonder die minste besef hoe dit die meisie irriteer. “Jy weet mos,” haar stemtoon sak sameswerend, “’n goeie begrip het jy nog altyd gehad, hmm? Dis hoekom jy my favourite is …” Daar is ’n vinnige speed wobble in Christine se stem toe iemand anders klaarblyklik ook by my voordeur opdaag: “O … o … hallo, Liz.”
Ek wag nie om te hoor hoe Liz klink nie en lig my alie uit die bed. Hopelik sal die drie mekaar lank genoeg irriteer dat ek iets aan my voorkoms kan doen.
Toe ek uit die badkamer kom, sit Christine met albei haar Yorkies snoesig op my bed. Sy tik die as van een van haar lang, dun afshow-sigaretjies af op een van my ouma Bettie se bone china-pierings.
“Hope you don’t mind,” sê sy met haar hees rokerstem en rol haar oë kombuis se kant toe, van waar daar ergerlike stemme opklink. “Queen Liz is not amused.” Christine tuit haar lippe vir ’n diep, veelseggende trek sonder om haar lipstiffie te versteur. “Klink my Caz wil uitdrop. Die fotografiekursus los. Pity,” asem sy tussen rookbolle deur. “Briljant as jy my vra, maar niemand vra my mos ooit nie.”
“Moet wees.” Ek vou die handdoek koulik om my lyf. Dit ook nog. Maar nou ja, hoekom anders sal Caz in die middel van die semester hier opdaag?
“Hmm … hoe sal ons nou weet?” Christine moes seker my gesigsuitdrukking gelees het, want sy verander die onderwerp: “Ja, en jy lyk ook nog maar oes, nè.”
“So hoor ek, dankie.”
“Well,” sê sy en druk die sigaret dood op Ouma se piering, “I suppose it’s to be expected.”
Ek is nie seker wie of wat verwag word nie, maar ek swyg liewer.
“So ek los my makeup-sakkie hier vir jou en dan gaan stall ek daai twee in die kombuis met tee of iets,” voeg sy by. “Sy moet jou nie so sien nie.”
“Wie? Caz? Sy het my al …”
“Nee, Desiree – Liz. Jou amper-eksman se eksvrou. Sy hoef nie te sien hoe hy jou ook laat suffer nie. Sal haar net laat lekkerkry. Ons weet tog almal watter regte ou t–”
“Oukei, oukei. Tee sal help. Maak. Ek kom,” keer ek. Asof ek nog nie genoeg op my flippen vurk het nie. “Ek dink daar is Eet-Sum-Mors in die koskas.”
Christine steek in haar spore vas. “Good grief, Desiree. Boksie-koekies? Ek bedoel, almal weet jy bak nie meer nie, maar jeez! Since when doen jy boksie-koekies? Onthou jy al daai yummy confectioneries wat jy sommerso opgewhip het vir elke bakatel? O, ek mis dit. En nou staan al daai blink mixers en magafters in jou kombuis en stof vergader. Vir jare al. Vandat … e … Kry jy nooit meer lus nie?”
“Nie vir koekies bak nie, nee. Dis boksie-koekies. Oukei?”
“Nog ’n flippen waste van talent,” grom sy op pad kombuis toe, “nes Caz. Seker maar oor ’n verdomde man, dis mos …” Ek kan nie die res hoor nie en begin grawe in my kas vir die een of ander iets om my bo en onder toe te maak. Oom Piet en Antie Soes lê my deur hulle verspotte wimpers en beloer vanuit voue in my duvet.
Ek het skaars ’n bewerige potloodstrepie bokant elke oog, toe die drie my kamer binnestoom, Christine heel voor met ’n skinkbord wat sy sonder seremonie langs die honde neerplak.
“Wil julle nie liewer in die sitkamer …”
“Nee. Dis fine hier,” antwoord al drie feitlik gelyk, gevolg deur ’n ongemaklike stilte.
“Koekie?” vra ek min of meer in Liz se rigting, want iemand moet iets sê in hierdie absurde situasie. Soos ’n Chekhov-toneelstuk met die dogter, die ma, die stiefma, die eks, al die verloëndes saam in hul onderskeie dubbele rolle in een vertrek. ’n Flippen tea party met Vincent as enigste gemene deler.
“Hallo, Desiree.” Liz skud haar kop: “Nie vir my nie, dankie.”
What was I thinking? Net ordinêre mense eet. Ek sien hoe Liz haar tee vat en met koninklike grasie op die enigste stoel in my kamer gaan sit. Nee … plaasneem. Dis after all ’n Queen Anne.
Caz sak op die kant van my bed neer met haar tee en pluk haar foon uit. Net die tiek-tiek van haar vingers op die skerm en die geklingel van teelepels teen porselein val in die stilte. Liz neem fyn slukkies en ondersoek die dekor onderlangs met haar oë. Die trekkie om haar mond verraai hoe sy voel oor die feit dat haar dogter so tuis is op my bed. Plus, dis die eerste maal dat sy tot in my en Vincent se slaapkamer kom, besef ek, en dit trek nogal aan my hartsnare. Kan seker nie vir haar maklik wees nie. Hoe sou ek byvoorbeeld voel om te sien hoe die lakens lyk waar Vincent en Gloria … nee, o hel. TMI.
“Hoekom antwoord jy nooit jou bleddie foon nie, Desiree?” breek Christine die stilte. “Ek het hoeveel keer al probeer bel!” Oom Piet en Antie Soes lig hulle koppe en gluur my ook beskuldigend aan.
Ek onthou van my foon, buk af en soek effens duiselig op die mat. Dit lê in twee stukke onder die bed. Caz kyk op, vat die foon en sit dit aanmekaar.
Dit lui toe sy dit na my toe uithou. Dis nie Vincent nie. Dis Gloria.
En sy soek vir Vincent. Huilend. “Jammer dat ek jóú nou pla, van alle mense, Desiree, genuine,” pleit sy snuiwend, “maar is Vincent daar by jou?”
Liz, Caz en Christine sit vorentoe, met hulle tee halfpad monde toe, gevries soos toe ek kleintyd “K-I-N-G spells KING” gespeel het. Al drie ademloos. Op pause.
“Ek het hom gister laas gesien … en … jy?” snuif Gloria snotterig voort in my verstomde oor. Ek skud my kop asof sy my kan sien, want daar kom geen woord oor my lippe nie.
“Waar is jy?” kry ek uiteindelik my stem.
“Hier buite. In my kar.”
“Voor my húis?”
“Ja,” snuit Gloria haar neus hard. “Weet iemand dalk waar hy is?”
Ek laat sak die foon op my skoot sonder om haar vraag te beantwoord. “Dis Gloria,” kondig ek onnodig aan vir my vasgenaelde gehoor van drie.
“Laat haar inkom,” besluit Christine namens my. “Bly!” sê sy vir die honde en storm voordeur toe. Kyk nie eens om sodat sy kan sien hoe ek arms swaai om haar te keer nie. Sy is mos mal oor drama. Sy is boonop gewoond aan oorvat en ons ander sit dan verlam, en dié petalje is seker beter as Days of our Lives. Behalwe dat dit my donnerse lewe is. Hoe de hel kan enigeen verwag ek moet die flippen merrie hier …?
“Hulle is almal hier binne,” hoor ek Christine by die voordeur. En toe ’n dikgehuilde, taamlik verfomfaaide Gloria in die slaapkamerdeur verskyn, verander die atmosfeer in die vertrek onmiddellik. Net daar is ek, Liz en Caz, wat helse issues ondermekaar het, in dieselfde span. Verenig oor Vincent.