Mooier as Marilyn. Anita du Preez

Mooier as Marilyn - Anita du Preez


Скачать книгу
al moet ek dit self sê: die resultaat ís verstommend! Dis nou as mens wil hê jou voorkoms moet ander verstom. Dis so ingrypend dat ou bekendes by my verbystap. En ek so pas bekommerd tot stilstand gekom het voor my weerkaatsing in ’n winkelvenster, op pad terug van ’n taamlik pynlike kosmetiese prosedure by Liz se tandarts waarvoor ek vroeg op ’n Saterdagoggend moes opstaan.

      Dié platinum blonde wat grynsend uit die glas na my tuur, soos die greinerige foto op die voorblad van die laaste boek wat ek oor Marilyn gelees het, kan voorwaar nie ek wees nie, kan dit?

      “Hei, hei, hei, kyk hoe lyk jý!” roep Christine teen topvolume in die gang toe ek my eie voordeur oop aantref.

      “En nou?” vra ek met my verdoofde tong.

      “En nou is dit ons tweede vergadering, vriendin. En jy’s laat.” Sy stap doelgerig voor my dieper die huis in. “Kom, jong, kom in, die ander wag al.” Ek volg haar soos ’n verstomde skaap terwyl ek my tong beweeg oor my seerderige tandvleise en geskropte gebit. Niemand het my iets van nog vergaderings gesê nie.

      “Laat ek sien! Smile bietjie,” vra Liz toe ek skaars oor die kombuis se drumpel is. Sy plant haar vlak voor my en ek gehoorsaam maar soos ’n vendusie-ooi. “Pragtig, nè?” Sy draai na die ander vir bevestiging, asof sy self verantwoordelik is vir my spierwit tande.

      Oor haar skouer sien ek Gloria en Caz by die kombuistafel sit en Christine wat by die ketel doenig is. Daar is koek op die toonbank. Almal stem saam, ja-nee, die ou ken sy storie.

      Ek mag weer my mond toemaak. “Gaan hier iets aan, julle? Wie verjaar?”

      “Die nuwe Desiree!” roep Gloria entoesiasties uit.

      “Hoor, hoor!” volg Christine dit op.

      “Total metamorphosis, I must say,” voeg Caz tot my verbasing by.

      Liz wys na my. “In less than a full week! Dit wil gedoen wees, julle – al moet ek dit self sê.”

      Christine kom blitsig orent by die yskas en swaai ’n bottel pienk vonkelwyn wat iemand way back vir my present gegee het ergerlik in Liz se rigting. “Excusez-moi? En jy reken jy het dit alles alleen gedoen?”

      Almal praat gelyk. My lam tong neem ’n rukkie om die woorde te vorm, maar daar’s niks fout met die intensiteit nie: “Sjarrup, julle almal!”

      Vier paar oë kyk geskok na my.

      “Hou op praat asof ek nie hier is nie. Dis presies wat Vincent alewig doen! Asof ek die een of ander dumb dolly is! Ek is moeg van rondgeshunt wees! Ek is nie julle donnerse projek nie! En vat sommer julle verdomde tea parties na ’n ander plek!”

      Eers sien net Gloria kans om te antwoord. “Maar jy lyk darem genuine nou stunning, hoor.”

      “Ja,” voeg Liz stywelip by, duidelik diep geaffronteer deur my ondankbaarheid, “en om te dink dis alles net goed bedoel.”

      “Ek verpes dit as mense alles goed bedoel,” glip dit uit. Ek het nog nooit heeltemal die moed gehad om Queen Liz oop en bloot aan te vat nie.

      “Ek stem,” kom dit onverwags van Caz.

      “Ag, kom nou, girls.” Christine hou die vonkelwynbottel op en begin dan skuimend vir almal skink in ’n bonte versameling van glase. “Life’s too short, julle! Op Desiree! What a woman! Oukei?”

      “Jaaa!” gil Gloria, al weer skoon geïnspireerd. “Al wat sy nou kort, is ’n man!”

      “Rêrig, Gloria? Rêrig?” Liz se wenkbroue kan nie hoër nie. “Is dit ál waaraan jy dink?”

      Die jonger vrou vat eers ’n fyn slukkie uit die pienk glas wat sy vir haarself gekies het – wat, as ek reg onthou, eintlik ’n blompotjie is – voor sy haar verwerdig om Liz se dom vraag te beantwoord. “Het jy miskien enige ander idee hoe sy Vincent jaloers gaan maak?”

      “Wel …” Vir ’n verandering het Liz nie ’n antwoord nie.

      “Hoor hier wat sê Chuck Palahniuk oor revenge!” Gloria hou weer haar foontjie op, verder begeester deur die moontlikheid dat sy Liz beïndruk het. “That’s the best form of revenge of all: happiness. Nothing drives people crazier than someone having a good life.”

      Christine haal die alewige boekie uit haar handsak en lek haar potloodjie. “Wie de hel Chuck Palageneuk is, weet ek nie, maar Gloria het ’n punt beet! Dis al manier. Enige voorstelle?”

      “Hallo!” skree ek. “I am standing right here, nè? Ek is nie doof, blind of onnosel nie, oukei? En daar gaan geen ander man hier ingesleep word nie!”

      “Daaroor stem ons twee saam,” sê Liz ewe dramaties.

      “Goed. Hoe dan?” vra Gloria.

      “Wel,” sê Liz, “ek was onder die indruk dat Desiree eenvoudig vir Vincent gaan verlei en dan …”

      “En dan? Dan val hulle in mekaar se arms en wandel weg teen ’n pienk horison,” praat Caz vir die eerste maal saam. “Tot die volgende keer? Puh-leeze! Hoe lame is dit?”

      Almal praat weer gelyk. Net ek staan stom. Dis asof niemand anders kon hoor hoe sinies daardie opmerking van Caz oor haar pa was nie. En die gedagte van die ander man nie.

      Christine top almal se glase op. Sy haal nog een van die rak af, maak die bottel daarin leeg en hou dit na my toe uit. Ek is nogal dors na die tandartsbesoek en bietjie Dutch courage kan nie skade doen as ek weerstand wil bied teen die belaglike “nog ’n man”-idee nie. Ek neem ’n diep sluk. Dit smaak taamlik suur na die goed waarmee ek ingespuit is, maar help tog effens.

      “Kyk, julle, ek waardeer alles. Selfs die dinge wat my aangedoen is vanweë sogenaamd goeie bedoelings. Maar hier trek ek die streep. Sorry. Baie dankie. Geen man. Case closed.”

      “So hoekom het ons dan al hierdie moeite met haar gedoen, julle?” vra Gloria.

      “Met háár?” bars ek uit, lus om haar te lyf te gaan. Met my naels. Ek besef van voor af dat sy die een is wat die hele gemors veroorsaak het. Dat ek die volste reg het om haar oë uit te grou. “Na wie verwys jy met ‘haar’, Gloria? Ek staan hier reg voor jou en my naam is Desiree! En buitendien, jy was nie juis agter in die ry toe dit by al die treatments en goeters gekom het nie! Met Vincent se beursie! Of by Vincent self toe jy die kans gehad het nie!”

      Gloria kyk my eers verstom aan. Toe bars sy luidkeels in trane uit. En almal kyk na my. Selfs die twee hondjies.

      O toggatjie.

      Christine gee vir Gloria ’n bol tissues uit haar sak. “Dalk maar beter dat ons dít uit die weg geruim het, nè?”

      “Mens kan dit seker as vordering beskou,” sê Liz Moesiemondjie. “Maar van Vincent gepraat, weet enigiemand wat van hom geword het?”

      Vreemd genoeg het ons almal redelik van Vincent vergeet.

      “Hy was gistermiddag terug by die werk,” snuif Gloria, “terug van sy seminaar in Durban.”

      “En jy sê ons niks? Wat maak jy toe?” Christine trek haar pakkie sigarette nader, kyk vies daarna en sit dit weer neer.

      Gloria snuit haar neus tydsaam. Dis nie aldag dat vier vrouens aan haar lippe hang nie. “Nee, ek het maar alle trane afgevee en –”

      “Ag, strooi, Gloria! Jy’t Maandag al ophou huil, na die eerste facial,” knor Liz.

      “Sjoesj tog, Liz! Ons wil hoor!” roep Christine uit.

      “Nee, toe sê ek hom ek dink nie ons moet ons verhouding voortsit nie.” Gloria hik ’n slag weer tranerig vir effek. “Want dit werk nie professioneel uit nie.”

      “En hy?”

      “Nee wat. No skin off his nose. Vark. Sê net dis my besluit en hy dink ook dis beter so. En toe ek hom vra hoekom hy gelieg het, want ek het navraag gedoen en daar was g’n stuk seminaar in bleddie Durban nie, toe chirp hy my hy weet en hy’s jammer hy het gejok, maar dit


Скачать книгу