Kom sit aan. Rudi Swanepoel

Kom sit aan - Rudi Swanepoel


Скачать книгу
is.

      Hulle kan (wetend of onwetend) bepaal of ’n tienermeisie maer of vet voel, of sy ’n realistiese selfbeeld het en of sy voel dat sy nie die paal haal nie.

      Die interessante van die celebrity-kultuur is dat dit ons meer gereeld as wat ons dalk sou wou erken van onsself verwyder, van ander vervreem en ons van nadenkendheid beroof.

      Die celebrity-kultuur skep voortdurend ’n soort onaantasbare, onbekombare hiperkultuur waar amper alles OTT (over the top) is; waar jy nie moet dink nie, maar net moet doen; waar jy nie wysheid aan die dag hoef te lê of self hoef te besluit nie; waar jy soms aangemoedig word om jouself te wees, maar dit eintlik nie durf waag nie. Dis ’n bestaan waar jy maar net moet begeer wat ander het en nooit jou eie lewe leef en besit en waardeer nie. Dis ’n sisteem, ’n masjien, ’n wêreldbeskouing, dikwels “materialisme” genoem. Dit meet die meetbare, tel die telbare en beoordeel die sigbare.

      Dit vergeet die onsigbare, minag die onaantasbare en maak ’n bespotting van die geringe.

      Maar ’n wending is moontlik – ’n lewegewende alternatief vir die geweldige verbruikerskultuur waarin die meeste Westerlinge hulle tans bevind, is binne ons bereik.

      Dié alternatief word moontlik gemaak deur Christelike spiritualiteit en die ingesteldheid om bewustelik en aandagtig te lewe.

      Talle verhale in die Bybel vertel hoe mense deur God wakker gemaak word. In Noag se verhaal het die wekroep te make met die mens wat “slegte dinge bedink” het.2 Dit was nie goed nie. Dit moes reggestel word, geheilig word. Die mensdom moes wakker word en besef dat die pad waarop slegte dinge bedink word nie na die lewe lei nie, maar juis na die dood.

      Toe maak die sondvloed mense wakker. En ’n nuwe begin raak moontlik.

      Die agent van die nuwe begin was nie ’n individu met een groot missie en een uitvoerbare plan nie. Die plan was nie duidelik beskryf en dig omlyn nie; dit was eintlik skrikwekkend eenvoudig.

      Daar was pare diere, ’n nuwe aarde (skoongewas deur al die water) en ’n familie.

      Die pare, die vars, vrugbare grond en die mense-in-verhouding was die plan, ’n plan geanker in die verbond wat God met Noag sou sluit.

      Verbond.

      Verbondenheid.

      Netwerk.

      Interafhanklikheid.

      En bewustelikheid.

      Saam.

      Dis asof God die mens telkens moes herinner (en dit nog steeds moet doen) om wakker te wees, om dinge nie maar net te laat gaan nie, om nie oor te gee aan chaos en toe te laat dat gedagtes deur slegte dinge gevul word nie.

      Om wakker te word is ’n saak van identiteit, van wie ons werklik is. Die proses vat ons verby wat ons kan doen (of reeds gedoen het) na hoe ons in dié wêreld leef; dit stel ons in staat om te besin, te besluit en vryer te raak as wat ons gister en eergister was.

      Iemand wat wakker is, sien die “meer” raak, kyk dieper, vra meer vrae en oorweeg alternatiewe opsies.

      Iemand wat wakker is, het die vermoë om verby die ooglopende te kyk en om ook ander moontlikhede raak te sien en die skynbaar onmoontlike te verwag.

      Spiritualiteit is ook die geboorteplek van kreatiwiteit. Van droom, die droom van mý drome, in pas met my gesitueerdheid, die plek waar ek is, die gawes wat ek het, die moontlikhede wat ek in werklikhede kan omskep.

      Dis hier – in my wakker staat – waar bewustelik eet moontlik word: eet nie as verbruik nie, maar as bewustelike daad, as alledaagse daad met dieper betekenis.

      Dan word jou tafel gedek vir meer as net eet en verbruik.

      Dan word jou tafel ’n wordplek, ’n aambeeld waar jy en jou tafelgenote gevorm word, waar julle potensiaal aangevuur word, waar jy en jou betekenisvolle mense bevestig word, waar julle uniekheid beklemtoon word en waar jy ander se uniekheid kan beklemtoon.

      Hier – by jou tafel – kan jy aan ’n sinlose, bedwelmde bestaan ontkom, kan jy sien en hoor wat jy nooit sou gesien en gehoor en bedink het as jy bloot ’n verbruiker gebly het nie.

      Jy kan mens word.

      Dit moet een van die voor die hand liggende maniere wees om jou lewe radikaal te verander: om bewustelik te begin eet.

      Die vraag is hóé.

      God het ons genadiglik met sintuie geseën. Om kos voor te berei, te besluit hoe om dit voor te sit en dit uiteindelik te geniet is ten diepste ’n sintuiglike ervaring, vanaf die oomblik dat jy by die winkel inloop tot wanneer jy die eerste happie in jou mond sit – en daarna.

      Om jou sintuie te gebruik moet jy wakker wees. Jy moet oplet. Jy moet die vermoë hê om in die oomblik te wees. Jou kop en hart werk saam met jou sintuie; dus help dit nie jy tel iets met jou vingers op, maar dink aan die frustrerende vergadering wat jy die afgelope oggend bygewoon het nie. Om in die oomblik teenwoordig te wees, beteken dat jou gedagtes en jou sintuie belyn moet wees, saam moet werk.

      Wanneer jy in die oomblik is, teenwoordig is in die nou, kan jou gedagtes tekstuur en diepte begin gee aan die proses van kosmaak en eet. Jou ervaring kan nou ryk word, ryker word, gebou word, lyf gegee word.

      Eet jy alleen, of gaan iemand saam met jou eet? Indien jy nie alleen gaan wees nie, weet jy hoe dit met die mense aan jou tafel gaan? Wat gaan julle eet? Wil jy graag hê dat dit vir hulle ’n lekker ervaring sal wees? Hoe wil jy hê moet jou gaste voel, selfs op ’n weeksaand? Met watter geure is jy besig? Aan wie of wat herinner jou bestanddele jou? Is jy besig om iemand se gunsteling voor te berei?

      Wat gaan met die bestanddele gebeur waarmee jy besig is? Gaan die uie ’n bietjie bruiner en soeter word, en hoe gaan die verskillende geure waaruit jou gereg bestaan mekaar aanvul?

      Wat gebeur wanneer jy varsgekapte knoffel by braaiende uie voeg? Hoe ruik dit?

      Watter kleure is op jou bord? Is daar een, of meer as een kleur? Hoeveel kleure is daar? Twee, of drie?

      Raak jy ’n oomblik stil voor jy eet? Skep jy ’n moment van nadenke, ’n dankbare gedagte, ’n gebed (onuitgesproke of verwoord), ’n gedagtenis aan diegene wat nie so gelukkig soos jy is nie?

      Is die klein dingetjie – dié bordjie kos – nie dalk ’n baie groter ding as wat jy dink nie? Is die klein dingetjies nie die groot goed nie?

      Jy sal weet wanneer jy bewustelik eet. En dit mag dalk net jou lewe verander.

      Die proses van kos voorberei is wat die mens onderskei van ander skepsels. Denkers soos James Boswell en Claude Lévi-Strauss definieer die mens in terme van ons vermoë om te kook.

      Dink daaroor: Alle diere eet, onthou, plant voort, maak keuses, maar net die mens kook. Net die mens neem bestanddele (blare, bessies, vrugte, blomme, vlees) en besit die vermoë om oneindige konkoksies deur kombinasies en verhoudings te skep. Net die mens kan sy of haar voedsel op skeppende wyse verwerk.3

      Die spektrum van moontlikhede tot ’n mens se beskikking is verbysterend: ’n Oranje wortel kan uit die grond getrek, met vingers skoongevryf en net daar geëet word.

      Dieselfde wortel kan geskil, gegeur, gekook, verpulp, versap, gestol, verkoel en met iets anders gemeng word.

      Een kossoort, eindelose moontlikhede. Omdat die mens dit hanteer.

      Kokende mens. Skeppende mens.

      Onbeperkte moontlikhede.

      Oneindige kombinasies.

      Vele verhoudings.

      Jou


Скачать книгу