Skarlakenkinders. Anzil Kulsen
haar lyf kort sy net ’n kleintjie. Solank dit net hare is.
Mense is eintlik baie soos lappieskomberse, dink sy. Almal word aanmekaargeweef deur donker storms en helder sonskyn. Seisoene vol tekstuur. Sy het al goed geleer: Hoe meer pyn, hoe mooier die hart.
Dan hoor sy weer sy stem. Die persoon wat sy met haar lewe vertrou het omdat sy geglo het hy is werklik lief vir haar. Die man wat haar die een oomblik nog vasgehou en belowe het hy sal haar altyd beskerm, en haar die volgende oomblik verkoop aan honderde mans. Soms tot twintig keer per dag. Sy ril.
Deon Wasserfal.
’n Saamgeflanste lappieskombers, Frankie. ’n Stuk lap wat niemand wou hê nie. Dis wat jy is. En die heel beste deel hiervan is dat niemand jou sal kom soek nie, Frankie. Want niemand gee genoeg om nie.
Dit was elke keer die hardste hou. Vir lank was daardie woorde haar werklikheid. Sy het altyd geglo sy is maar net ’n weggooilap.
Maar toe kom Sylvie. Die vrou met die silwer hare wat haar ’n druk kom gee het in die straat. Frankie het haar ’n hele paar keer daarna gesien. Soms het sy sommer uit die bloute opgedaag. Dan het sy Frankie weer vir ’n hele ruk lank kom vashou.
Mettertyd het Frankie haar begin vertrou.
“Die Here gaan jou nog gebruik in mense se lewe, Frankie,” was haar woorde altyd.
Frankie het aanvanklik gedink die vrou rook seker iets voor sy strate toe kom om met hulle te praat. Hoe op aarde sou sy ooit, met al haar stukkend, mense se lewe kan verander? Later eers het sy besef daar is Iemand groter in die vrou se lewe aan die werk.
Die vrou het gepraat van God en sy planne vir haar. Later het sy vir Frankie die vers geleer wat sê: “Ek weet wat my planne vir jou is, planne van voorspoed en nie teëspoed nie, en hoop vir ’n beter toekoms.”
Daardie vers sal Frankie nooit vergeet nie. Dit was die een sin wat haar lewe verander het. Sy sien weer hoe die lappiesland voor haar oopvou.
Dalk moet ek ’n lappieskombers maak, van al die goeters wat nog in my vassit, dink sy. ’n Lappie vir elke stuk seer, maar ook vir elke oorwinning. Die helderste lappie sal sy hou vir die wegkom. Die vrykom.
Vryheid. Dis wat sy haar kombers sal noem.
Frankie hoor haar selfoon lui.
“Hey, Joe,” antwoord sy saggies om nie die ander twee agterin die bakkie te steur nie. Joe se stem kom en gaan.
“Frankie? Kan jy my hoor? Hallo?”
“Ek hoor jou, ja. Praat maar.” Dié keer praat sy harder, so asof dit sal help met die swak selfoonopvangs.
“Hoe vorder julle? Alles nog oukei?”
Jy kan probeer weghardloop, Frankie. Ons sal jou altyd weer kry. Ons het oral oë.
Vrees klem om haar keel.
“Frankie? Hallo? Is jy nog daar?”
Sy kom tot haar sinne. “’Skies, man, jammer. Ja, alles is een honderd persent dié kant. My twee passasiers slaap rustig. Hierdie Hilux ry omtrent soos ’n droom.” Sy hoop nie haar stem verraai hoe angstig sy voel nie.
“Oukei, cool,” sê hy dan. “Onthou, my foon is aan. Moenie vergeet om my te laat weet wanneer julle veilig daar aangekom het nie, asseblief.”
“Dis reg so, ek sal onthou. Dankie dat jy ingecheck het, Joe. Ek waardeer dit.”
Joe bly eers stil, maar dan sê hy: “Frankie, jy is nou deel van die Bergsig-familie. Ons sal altyd incheck.”
Vir ’n oomblik bring die onverwagse besorgdheid Frankie van stryk. Sy sluk aan die knop in haar keel en vee nog vinnig die lastige klammigheid van haar oë af, toe die vrou op die agtersitplek traag regop sit.
“Ek is ’n groot meisie, ek kan mooi na myself kyk,” sê sy maar flou.
Joe se lag weerklink aan die ander kant.
“Ja, ja, laat weet ons maar nogtans wanneer jy veilig is. En hou jou oë op die pad. Daai grondpad is nie speletjies nie. Ons praat weer later.”
Hy druk die foon dood.
Frankie gee ’n diep sug. Familie. Mense wat opcheck op haar, seker maak sy is veilig. Sommer net omdat hulle omgee. Dis iets wat sy nog haar hele lewe lank begeer. Sy wil liefgehê word. Onvoorwaardelik lief. Deur mense op wie sy kan vertrou.
Vertroue is nou die een ding waarmee sy die meeste sukkel. Hoe leer sy om weer ander te vertrou? Sy loer na die vrou agterin die motor wat nou by die venster uitkyk.
Jy kan mans nie vertrou nie, Frankie, dink sy by haarself. Leer jy dan nooit? Mans vat wat hulle wil hê, hoe hulle dit wil hê, wanneer hulle dit wil hê.
Sy trek haar hand deur haar hare. Hierdie twee vroue moet nou maar sterk staan. Sy smag na ’n sigaret.
Sy lig haar voet effens van die petrolpedaal en ry stadiger.
Net duskant Clanwilliam bring sy die Hilux tot stilstand. Sy hoor hoe kreun die tienermeisie op die agtersitplek. Die ouer vrou lê weer met haar oë gesluit.
Hulle het deur die meeste van haar gesprek met Joe geslaap. Hulle sal seker nie eens agterkom as sy vir ’n rukkie stop nie, dink sy en trek die motor onder een van die groot skadubome langs die pad in.
“Ek wil net gou gaan rook. Slaap maar verder,” sê sy vir ingeval.
Toe sy haar rugsakkie op die sitplek vat, val ’n bruin beertjie uit. Sy druk dit vinnig terug in die sakkie en klim uit.
Flippen coping mechanisms oral om haar! Frankie sit haar rugsak op die Hilux se kap neer en krap daarin. Tussen ’n pak pille, die beertjie en deodorant, vat haar hand die pakkie sigarette raak. Sy gaan staan met haar rug teen die deur by die kantspieëltjie en steek ’n sigaret aan. Trek die nikotien diep in haar longe en wag vir die kalm gevoel om oor haar te spoel. Sy kyk oor haar skouer deur die venster en sien die ma en dogter is steeds lights out. Dankie tog. No small talk needed. Sy kyk weer voor haar uit.
Tevrede dat daar niemand is wat haar kan dophou of veroordeel nie, haal sy haar bruin beertjie uit en sit dit op die motor se bak neer. Die terapeut het dié sagte beertjie vir haar gegee om haar tydens hulle eerste traumaterapiesessie te troos. Bella Beertjie, is haar naam.
“Ons gaan oukei wees, Bellatjie. Ons gaan oukei wees.”
Kirabo
“Ek weet alles van hospitality af en as dit is wat julle ’n spa noem –”
Die woorde wat soos koeëls spat, pas nie by die mooi mond waaruit dit kom nie. Die stomme Nina, die skoonheidsterapeut wat Ferdi onlangs by die spa aangestel het, trap verbouereerd rond. Selfs ou Amos gaap die vrou aan.
Hierdie is ongetwyfeld Abby, dink Kirabo en glimlag by haarself. Haar mensekennis het haar vir seker nie in die steek gelaat nie. Die opsomming wat sy van Abby gemaak het, was heeltemal in die kol. Mooi, slank, goed versorg … en verveeld. Skoonheid en geld kan beslis nie geluk koop nie.
“Kan ek Mevrou dalk help?” vra Kirabo beleefd.
“Ek twyfel of jy kan. Julle advertensie beweer hierdie Berg van Hoop is die plek waar ’n mens jou siel kan terugvind en –” Sy kyk om haar rond.
Kirabo probeer sien wat sy sien. Sy het die vrou, Nina en Amos buite die spa se deure gevind. Die vrou moet reeds na die spa gaan kyk het, en nou trek sy haar neus op daarvoor. Nes alles hier, is die spa eenvoudig, maar goed ingerig. Hulle gebruik net die beste rooibos- en olyfolieprodukte.
“Miskien lyk die plek ’n bietjie anders as wat u verwag het. Gee kans, miskien verras ons u nog,” nooi Kirabo haar.
Abby het steeds ’n meerwaardige kyk in haar oë. Sy troon bo almal uit op haar hoë sandale en wit broekpak. Haar ligte voorkoms en netjiese kort kapsel sien klaarblyklik gereeld die binnekant van die allerbeste skoonheidsalon.
Die boorde en geboue is netjies.