Skarlakenkinders. Anzil Kulsen
ek,” reageer Abby uitdagend.
“Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ek moet Wi-Fi kry. Ek het … uhm… updates wat ek moet doen,” onderbreek Bianca se skril stem haar.
“Dit kan wag, Bianca,” antwoord Ragel skerp voor Kirabo iets kan sê. Sy kyk fronsend na die twee van hulle. Die spanning is tasbaar, veral van die ma se kant af. Asof sy besig is om haarself op te wen of iets.
“Julle kan my volg. Ons los die tasse eers by Ontvangs tot julle ingedeel is in julle chalets. Bianca,” Kirabo glimlag simpatiek vir die meisie, “ek is bevrees ons het beperkte selfoonopvangs hier. Maar glo my, jy sal skaars jou selfoon mis, so besig gaan ons wees!”
Sy begin aanstap en ignoreer die verontwaardigde uitroep en die woorde van vermaning wat agter haar rug opklink. In haar hart stuur sy ’n skietgebed op. Mag die Vader gee dat sy tot hierdie groepie deurdring. Veral tot die mooie Anlea en die onpeilbare Frankie, wat beide sedert hulle aankoms nog nie weer ’n woord gesê het nie.
Anlea
Dis asof sy heelpad hierheen in ’n dwaal was. Sy voel ontwortel. Sy vee haar hare uit haar gesig en begin dan stadig inneem wat om haar aangaan. Alles hier is so anders as in die stad. Selfs anders as die paar dorpies waar sy oorgebly het toe sy vir werk gesoek het.
Kirabo lyk oukei. Asof sy haar storie ken. En glad nie so judgemental soos sy gedink het sulke tipe mense is nie. Die soort wat ander mos moet regruk, is altyd holier than thou.
“Anlea, ek hou van jou rok,” kom Kirabo se stem vriendelik na haar toe aan terwyl hulle hulleself in die groot leefvertrek met die lekker groot sitbanke tuismaak. “Onthou net, ons gaan baie stap. Daarvoor sal almal van julle gemakliker moet aantrek,” sê Kirabo, haar blik op Ragel en Abby gerig.
“Oukei,” hoor Anlea haarself instem. Sy wonder skielik waar sy gemaklike plat skoene gaan kry. Frankie hoef haar gelukkig nie oor hierdie prekie te bekommer nie. Sy dra ’n kakie Chino met tekkies en ’n vormlose hemp.
“Ons gaan elke oggend vroeg hier bymekaarkom. Bianca, wil jy hierdie vir my help uitdeel?” Kirabo hou ’n pak notas na Bianca uit. “Dit sluit ’n kaart van die omgewing in en die tye van formele terapiesessies. Julle sal sien daar is hope tyd vir ontspan en kuier. Selfs vir dié van julle wat van Nina se dienste en die spa-geriewe gebruik wil maak.”
Anlea weet nie wie Nina is nie. Wat sy wel weet, is dat sy die rus nodig het. Sy het nie ’n idee wat die ander geriewe en dienste behels waarvan Kirabo praat nie, maar dit maak nie regtig saak nie. Eintlik wens sy alles kan net oor en verby wees. Maar sy het darem nou ’n heenkome vir die week. Wat sy hierna gaan doen, weet sy nog nie. Miskien moet sy uitvind wat van haar ouers geword het.
“Agterop die kaart is die kamers waar julle ingedeel is. As julle werklik goeie resultate wil sien, stel ek voor julle werk saam. Dit gaan emosioneel uitputtend wees, maar ons het dit juis so uitgewerk dat daar tussenin genoeg tyd is vir herstel. Berg van Hoop het heerlike wandelroetes, maar ek stel voor julle dwaal nie te ver weg nie.
“Vir dié van julle wat nie weet nie, ons het ’n hele klomp krimpvarkies op die plaas. Julle is welkom om na hulle te gaan kyk. Ek sal julle die eerste keer vat om hulle te gaan besoek, daarna kan julle self gaan. In hierdie kantoor,” sy wys na ’n toe deur waarop SLEGS PERSONEEL staan, “word julle hoegenaamd nie toegelaat nie. Dis my kollega, Ferdi, se heiligdom.
“Nou ja, julle kan gou gaan uitpak, daarna kan ons almal saam ’n laatmiddagete geniet. Tydens ete doen ons net een icebreaker. Dan kan julle ’n bietjie rus voor vanaand se ete en kenmekaarsessie. Van môreoggend af begin die pret.”
Anlea knik outomaties en glimlag net. Die ander lyk ook nie heeltemal beïndruk nie. Sy het nog nooit enige terapie ontvang nie, maar sy kan nie dink dat dit “pret” kan wees nie. Waar gaan sy ander gemaklike klere kry? In haar tas is net grimering, hakskoene en rokkies wat net die nodigste bedek. Met hierdie eina-rokkie staan sy te veel uit. Sy wil inpas. Dalk moet sy vir die week ook nie lipstiffie dra nie. Sy het darem nog ’n klein bietjie lip gloss. Dit het haar al ver gebring, dink sy wrang.
Frankie
“Ek is nou wel heavy omgekrap oor die Wi-Fi, maar ek moet sê ek’s baie bly ek en my ma hoef nie in dieselfde chalet te bly nie. Dis actually ’n miracle.”
Frankie kyk na Bianca waar sy oorkant haar op die bank sit. Foon in die een hand en koffiebeker in die ander. Sy weet nie of sy bly of spyt moet wees oor die feit dat sy vir ’n week lank ’n chalet moet deel met twee mense wat sy van g’n kant af ken nie. Een daarvan boonop nog maar eintlik ’n blote kind. Sy het ’n sterk vermoede Bianca gaan haar, wat Frankie is, se besluit om nooit kinders te hê nie net versterk.
Haar gedagtes spring terug na die feit dat sy ’n chalet moet deel. Niks gebeur tog sonder ’n rede nie. Dit weet sy. Dalk moet sy net probeer om hulle nie so hard te oordeel op grond van hoe hulle lyk nie. Anlea, met haar kort kleertjies wat eerder lyk of dit in ’n nagklub hoort, mag haar dalk nog verras. Sy praat ook nie veel nie en Frankie het haar ook nog nie weer gesien nie. Sy fokus weer op Bianca.
“Miskien is dit goed dat jy en jou ma ’n bietjie afstand kry. Jou ma lyk of sy baie dinge op haar skouers dra.”
Bianca lag. “My ma? Ag, nee wat. Sy’s net uptight, dis al. Al wat vir haar saak maak, is haar werk. Sy sou seker lankal al in haar kantoor ingetrek het as sy kon. Alles anders is ’n bysaak.”
As Bianca se gehawende voorkoms ’n maatstaf is van die ma se prioriteite, dink Frankie, is Bianca seker nie ver verkeerd nie. Die meisie is nou nie wat sy uitermatig vet sou noem nie, maar sy is vir seker ook nie goed versorg nie. Sy is effens aan die growwe kant. Met koddige klere wat nie by haar groterige lyf pas nie.
“Ek kan nou nog nie glo hier’s nie Wi-Fi of selfoonopvangs nie. Dis net rêrig belaglik,” kla sy weer.
Dit val Frankie skielik by. Joe. Sy het met al die opwinding totaal vergeet om hom te laat weet sy’t veilig aangekom!
“Ek wonder wanneer sy uit die kamer gaan kom,” fluister Bianca en beduie in die rigting van Anlea se kamer. “Het jy haar outfit gesien? Sy lyk soos iets uit ’n Hollywood-movie.” Bianca giggel. “En daai make-up?”
Frankie hou haar in. Sy moet self die begeerte onderdruk om al daai make-up met ’n waslap by te dam, maar sy weier om Anlea met Bianca te bespreek.
“Dalk is sy net baie moeg. Dis nogal ’n ent se ry hiernatoe. Onthou, jy’t lekker gelê en slaap in die kar. Sy sal seker nou-nou kom gesig wys.”
Die kamerdeur gaan oop. Anlea stap kombuis toe en skakel doodluiters die ketel aan.
Frankie wonder wat sy by Berg van Hoop maak. Dalk het sy net nodig gehad om ’n bietjie weg te kom. En hoekom het sy so ’n klein tassie by haar? Waar is al haar klere? En daai rokkie! Miskien moet sy haar een van haar jeans leen. Dis te sê as dit gaan pas. Sy’s vreeslik maer. Frankie wonder of sy gesond is.
“Weet julle dalk of hier Wi-Fi is?” praat Anlea skielik.
“Dankie tog! Nog iemand wat soos ek voel!” sê Bianca met ’n gilstem.
“Miskien moet ons maar gou stap en ’n sein gaan soek. Ek het ’n WhatsApp om te stuur,” sê Frankie en stap kamer toe om haar selfoon, sigarette en baadjie te gaan haal. Sy gryp sommer in die verbygaan nog ’n paar jeans en tekkies en ’n langmou-top.
Toe sy terugkom, is Anlea steeds in die kombuis besig om kaste oop en toe te maak.
“Sal ons loop?” sê Frankie en hou die klere na Anlea uit. “Jy kan hierdie leen as jy wil.”
Anlea kyk haar verbaas aan.
“Ek dink nie dis veilig hier rond nie. Slange, weet jy?” sê Bianca van die bank af.
Frankie haal haar skouers op voor sy by die deur uitstap. “Nes jy wil. Sien ’n bietjie later.”
“Wag … ek kom saam,” sê Anlea. “Ek moet ook ’n oproep of twee maak. Ek …