Skarlakenkinders. Anzil Kulsen
by die vertrek ingestap. Frankie wys met haar hand in die rigting waarin Ragel verdwyn het en sien hoe Kirabo weer uitstap.
Sy staar nog vir Kirabo agterna, toe sy Bianca gesmoord hoor sê: “Dis wat sy altyd doen.”
Frankie sit haar hand op Bianca se arm toe dié haar uit Anlea se greep losmaak. “Sy stap net weg. Ek moet maar net aangaan asof niks fout is nie.” Verwarring staan duidelik op haar gesig geskryf.
“Bianca, kom ons gaan solank eetsaal toe soos Kirabo vroeër gevra het. Laat jou Ma net eers –”
“Nee, Frankie. Vandag soek ek antwoorde, en ek soek hulle nou.”
Kirabo
Die atmosfeer hang soos suur ammoniak in die lug. Kirabo probeer met alles in haar om nie toe te laat dat die vroue se vyandigheid haar ontsenu nie. Sy is hier om haar werk te doen. Daar was genoeg ontwrigting. Dis tyd om voort te gaan met hulle eintlike program.
Die vroue sit almal voor haar in ’n kring. Die son se strale deur die groot houtvenster kan nie die koue uitdrukkings op sommige van hulle se gesigte versag nie. Sy kyk na Ragel.
Gisteraand het sy iets gedoen wat sy nog nooit voorheen gedoen het nie. Sy het Ragel na haar kamer gevolg. Sy moes uitvind wat aangaan. Dit het gelyk of Frankie en Anlea gereed was om Ragel te kruisig omdat sy blykbaar ’n onvanpaste uitlating oor Bianca gemaak het.
Sy het aan die deur geklop.
“Wil jy praat oor wat vanaand gebeur het?” het sy die saak versigtig probeer benader toe Ragel in die deur staan.
“Nee. Ek het net nie vir Bianca daar gesien staan nie. Sy was nie veronderstel om dit te hoor nie.”
“Miskien was dit nie jou bedoeling nie, maar dit maak nie wat jy gesê het ongedaan of selfs onwaar nie. Voel jy dalk oorweldig? Dalk is jy net gespanne?”
“Ek wil asseblief nie hieroor praat nie. Jy sal in elk geval nie verstaan nie.”
“Dalk verstaan ek beter as wat jy dink. Jy ken nie my verlede nie. Miskien het ons iets in gemeen. As jy met my praat, kan ek jou dalk help.”
“Ek het nie hulp nodig nie. Hulp sal nie dít wat met my gebeur het, ongedaan maak nie. Hulp sal ook nie Bianca ongedaan maak nie.”
“Haat jy jou kind?” het Kirabo haar reguit gevra. “Is jy kwaad vir haar omdat sy gebore is?”
“Dis belaglik. Ek haat haar nie.” Ragel se oë was wyd oopgesper. Dit het gelyk of sy haar in ’n hoek bevind. “Dit … pas my net beter wanneer ons elkeen ons eie gang gaan,” het sy geskerm.
Kirabo het haar net stip aangekyk en gewag dat sy moet voortgaan. Soms help dit, het sy geleer, om net stil te bly en te luister.
“Bianca herinner my elke keer … elke keer aan wat ek kon bereik het. Wie ek kon gewees het. Dis alles van my weggestroop. Dis baie gekompliseerd, Kirabo, en dis nie iets wat ek sommerso met jou kan deel nie. Jy sal dit nie verstaan nie.”
“Dis wat jy sê. Maar jy sal nie weet voor jy my nie in jou vertroue geneem het nie, sal jy?” het sy probeer, maar Ragel het net ferm die deur toegedruk.
Maar die aand was nog nie verby nie. Kort daarna het Anlea haar by haar kantoor kom soek. Sy kon sien die vrou stoei met iets, maar het ’n strak uitdrukking op haar gesig gesit.
“Ek …” het sy gestotter, haarself toe reggeruk. “Ek kort gemaklike klere. Ek het die meeste van myne by die … huis gelos.”
Kirabo het haar verbaas aangekyk. Toe stadig uit haar stoel opgestaan. “Ons kry gereeld kleredonasies,” het sy gesê en na ’n boks langs haar laaikas gestap. “Jy is welkom om te kyk of hier iets is waarvan jy dalk hou.”
Anlea het oor die groot boks gaan buk. ’n Broek, ’n paar T-hemde, plakkies en nog stukkies klere in haar arms gebondel en kop omhoog by die deur uitgestap. Kirabo was effe uit die veld geslaan oor die toneel wat pas voor haar afgespeel het.
Hier waar sy nou na die vroue sit en kyk, wonder Kirabo of sy nie tog iets van haar verlede met hulle moet deel nie. Maar nee, nes Ragel, kan sy haarself nie sommerso blootlê nie.
“Het jy besluit om te bly?” wend Kirabo haar na Abby. Die enigste een wat darem nog lyk of sy in staat is tot ’n glimlag vanoggend. Kirabo weet dis uit blote nuuskierigheid dat sy hier is. Die beradingsessies is immers meer opwindend as enigiets wat sy in die spa kan vind.
“Doodseker,” antwoord Abby. “Jy het mos beweer almal het maar seer iewers.” Sy kyk skepties om haar rond. Haar blik rus op Anlea. “Hoewel ek maar my bedenkinge het.”
“Jy moet jou bedenkinge vir jouself hou,” kap Anlea terug. “Jy dink seker ek het nie gesien hoe jy jou aan wyn versuip nie.”
Kirabo verstik amper. Dis een ding wat Ferdi nie op sy perseel duld nie. Sy het al gesien hoe van die spa-kliënte hulle nie aan hierdie reël steur nie.
“As jy dink daai was versuip, moet jy my sien wanneer ek kuier, girl!” Abby se laggende opmerking stol in haar keel toe Kirabo haar keel hard skoonmaak.
“As jy deel wil wees van hierdie groep, Abby, moet ek jou vra om eers afstand te doen van die alkohol. So ook enige ander susmiddels.”
“Nee, ag nee, dis belaglik. Dis nie asof ek verslaaf is nie, dis net –”
“Geen mens kan genesing vind terwyl hulle onder die invloed is nie,” sê Kirabo.
“Ek soek net vrede en veiligheid,” merk Frankie op. “Niemand het my vertel ons gaan hier sit soos … soos in ’n freaken AA meeting of iets nie.” Sy sit haar duimnael en byt.
“Ek verstaan dit, Frankie.”
Kirabo se hart gaan uit na die vrou wat dalk in ’n vorige lewe baie mooi was. Die littekens op haar arms vertel ’n ander storie. “Kom ons hou dit informeel, oukei? Ons ete gisteraand, wat veronderstel was om ’n sessie te wees waar ons mekaar leer ken, het om verskeie redes skeefgeloop, so ek stel voor ons begin vandag oor.”
Kirabo sien hoe Ragel haar stip aankyk. Bianca sit met haar selfoon in haar hand. Duidelik nog beneuk.
“Ragel, wil jy dalk begin?”
“As jy wil hê ek moet praat oor gisteraand … oor Bianca, dan –”
“Nee, vertel ons van jouself. Sommer net hoekom jy hier is en wat jou verwagtinge is,” ontlont Kirabo die oomblik.
Bianca druk die selfoon in haar denim se sak. Sit dan en vroetel met haar duime in haar skoot.
“Ek werk hard. Te hard. En my skoonma reken ek en Bianca sou kon baat by so ’n retreat. Sy voel ons dryf uitmekaar.”
“En wat dink jy?”
“Ag, please!” Bianca spring op. “My ma is hier omdat Ouma betaal het en omdat Ouma opdragte gegee het. Lyk dit vir jou of my ma hier wil wees? Of sy enigsins ’n veer voel oor my en oor ons wat kastig uitmekaardryf?”
“Bianca …” begin Ragel.
“Hoekom stop jy my nie net in die koshuis nie? Waar ek tussen my vriende kan wees en kan wegkom van jou en Pa se ewige gekerm oor geld? O wag. Dis die geld. Julle het nie geld vir die koshuis nie. Ag, ek … ek … verkoop sommer my lyf of iets!”
Anlea kyk verskrik op en Frankie sit kiertsregop. Ragel bly egter net stip voor haar kyk. Op die oog af lyk sy ongestoord deur Bianca se woede-uitbarsting.
“Ek sê julle mos sy hou van drama,” sug Ragel.
“Wil een van julle dalk deelneem? Frankie?” Dit kos inspanning om nie dadelik te reageer op wat Ragel gesê het nie.
“Wel?”
“Ek –” begin Frankie en Anlea gelyk.
“Jy eerste,” beduie Anlea.
“Ek is hier om, soos ek genoem het, net vrede en kalmte te