Skarlakenkinders. Anzil Kulsen
storm.
“Wil jy kom sit, Bianca? Ek weet hoe dit vir jou moet lyk, hoe deurmekaar dit jou moet laat voel. Alles sal nog duidelik word,” paai Kirabo.
“Ek is hier omdat ek hier wil wees,” verras Anlea almal. Die manier waarop sy na Bianca kyk is byna magies, dink Kirabo. Bianca beweeg dadelik na haar stoel en gaan sit. Dikbek, maar nogtans.
“Wil jy ons meer vertel, Anlea?”
“Nee. Maar nes Frankie, het ek ook kom soek na vrede en liefde en –” Dan klap Anlea weer toe. Kirabo kan aanvoel Anlea is versigtig om meer te sê.
“Dankie, Anlea. Ons bou almal dik mure om ons. Soms is dit goed en nodig. Maar glo dit of nie, julle gaan mekaar nog help as julle mekaar eers beter ken. Dis juis hoekom ons vanoggend hier is. Om mekaar beter te leer ken.” Kirabo se breë glimlag sprei uit oor haar gesig. Sy wil die vroue gerusstel.
“Ek kort ’n glas wyn,” sê Abby en staan op. Sy gaan sit maar weer toe almal na haar staar. Die horlosie teen die muur by die ingang wys dis halftien.
“Wil jy daaroor praat?” vra Kirabo.
“Daar’s niks om oor te praat nie. Dit was eintlik net ’n grap, maar ja. Ek het baie dae kwaai stres in my besigheid. Ek besit my eie gastehuis en die ure is rof. Sommige dae is dit wel stil, dan raak ek verveeld. Ander dae kan ek net nie met die kids en die rondryery en alles cope nie. Myprodols help nie eens om my kop te laat ophou klop nie. Al wat dan help is ’n glas wyn. Dit vat die edge af.”
“So jy’s verslaaf,” begin Bianca, maar Kirabo hou haar hand op.
“Ons gaan niemand hier judge nie, Bianca. Dankie dat jy dit met ons gedeel het, Abby.”
Dan val Ragel in.
“As jy dink dis baie om te juggle, probeer deal met ’n werklose man wat heeldag depressief voor die TV sit en games speel. Gooi in ’n tiener wat ’n behoorlike drama queen is en glo die wêreld draai om haar en haar sosiale lewe. En probeer dan ’n bietjie in mý beroep staan. Waar jy ’n volle dag lank op kantoor moet wees, na-ure kliënte moet onthaal en soms tot laat in die nag nog moet werk om net die pot aan die kook te hou.”
“Goed,” Kirabo staan op. Sy sweer haar hande bewe nou soos Frankie s’n soms. Maar geen sigaret sal die onmag wat sy nou ervaar kan verdryf nie. “Ek kan sien ons vorder nie eintlik nie. Die doel van die sessie is om mekaar te leer ken. Waarvan hou jy en wat haat jy. Dis nie om mekaar –”
Nou het Kirabo Bianca se aandag sonder dat sy dit eens besef.
“Ek hou die meeste van Marshmello en Martin Garrix se songs!” roep Bianca uit.
Kirabo merk hoe Ragel ongemaklik begin rondskuif in haar stoel, haar hande gespanne inmekaargeklem.
“Dankie, Bianca. Ragel, is daar iets waarvan jy hou of glad nie hou nie? Voel jy lus om te deel?”
“My kind se entitlement. Die feit dat sy voel die lewe skuld haar alles en sy kan maar net ontvang met geen worries nie.” Ragel se woorde is sag, maar vol bitterheid.
“Nee, nie dit nie,” hap Bianca terug. “Ek’s g’n entitled of iets nie. Ek haat dit as my ma dink ek is stupid, en altyd vir my jok as sy en my pa fight.”
Kirabo hou asem op toe Ragel opvlieg. Dis asof alles in stadige aksie gebeur.
“Jy hoef nie nou op Bianca se stelling te reageer nie, Ragel,” probeer Kirabo keer, maar Ragel is op haar eie stasie. Sy stoom behoorlik voort.
“Ek doen dit om jou te beskerm. Jy weet niks. Jy weet nie waartoe jou pa alles in staat is nie, wat hy aan my doen nie.”
Aan Bianca is ook geen keer nie.
“Wat doen hy aan jou, Ma? Toe, wees ’n bietjie eerlik. Praat hy lelik met jou? Maak hy nie soos jy vir hom sê nie? Wat doen hy nou eintlik wat so verskriklik erg is?”
“Hy verkrag my.” Dis skaars ’n fluistering, maar almal het haar gehoor. Ragel se hele lyf ruk.
Dis Frankie wat eerste opspring en haar arms om Ragel vou terwyl rou snikke deur haar lyf skeur. Anlea staan ook op en druk haar hand in Bianca s’n waar sy verslae staan. Op Abby se gesig lees Kirabo net afgryse. Of dalk is dit verwarring.
Waar sal haar hulp vandaan kom, flits dit deur haar gedagtes, voordat sy in haar stoel neersak.
Anlea
“Dis ’n leuen. Sy lieg! My pa sal nooit so iets doen nie!” Bianca se oë is rooi gehuil waar sy op die bank in hulle chalet sit. Haar woorde klink hard, maar dis duidelik dat die kind verslae is. Haar skouers hang en haar maskara streep oor haar wange.
Anlea voel hulpeloos. Kirabo het haar gevra om na Bianca te kyk terwyl sy besig is met ’n privaat sessie met Ragel. Sy het geen idee hoe gemaak met ’n tiener nie. Plaas vra Kirabo vir Frankie. Maar dié het ook heeltemal uitgefreak ná die hele gedoente tydens hulle oggendsessie.
Bianca blaas haar neus so hard dat Anlea skrik. Sy moet dalk iets sê om haar te troos.
“Ek dink jou ma het maar net in ’n oomblik van woede gepraat, Bianca. Elkeen van ons kry maar soms ’n dag wat ons –”
“Jy kom op vir haar, verdedig haar. Hoekom doen jy dit, Anlea? Het sy jou nou ook teen my gedraai?”
Anlea bedink haarself. Sy voel vir Bianca, maar sy verstaan ook Ragel se situasie. Soveel keer in haar eie lewe moes sy baklei. Vir haarself veg. Heeltemal alleen.
“Nee Bianca, dis glad nie so nie. Ek sê maar net, want ek weet die lewe kan ’n mens maar partykeer wild rondklap. Ek dink jou ma het ’n paar rowwe houe agter die blad. Maar die dinge wat sy vir jou gesê het en hoe sy dit vir jou gesê het, is nie reg nie. Ek verstaan jou woede.”
Bianca vee onder haar oë met die tissue wat reeds vol maskara is. “Ek dink regtig sy haat my. Dis of sy kwaad is vir my. Dis alles my skuld. Asof ek haar lewe kom steel het of iets.” Bianca se lip begin weer bewe.
Anlea wens sy het geweet hoe om die situasie beter te maak, maar sy weet nie. Miskien sal ’n koppie soet tee werk. Dit help altyd vir haar. “Kan ek vir jou ’n bietjie tee maak?” Eers dink sy dit was ’n simpel voorstel, maar Bianca reageer onmiddellik.
“’Seblief.” Sy vee weer trane af. “Dankie dat jy aanbied, Anlea. Dis gaaf van jou.”
Anlea is verras oor die meisie se reaksie. Sy staan op en stap ketel toe.
“Vat jy suiker?” vra Anlea.
“Jip, twee asseblief,” antwoord Bianca afgetrokke.
Sy voel Bianca se oë op haar waar sy in die kombuis besig is.
“Jy het baie mooi hare, Anlea. Ek wens my hare was al so lank. Maar ek gee elke keer moed op wanneer dit my begin irriteer. Ek is ook bly jy dra nou ’n bietjie ander klere. Dit pas jou. Anyway. Jy lyk vir my sommer heeltemal … normaal.”
Anlea talm. Sy’s versigtig om mense te na aan haar toe te laat. Sy’t ’n baie duur prys betaal toe sy dit wel gedoen het. Sy is bly Bianca weet nie die waarheid nie.
“Dankie,” is al wat sy uitkry.
Anlea sit die beker tee voor Bianca op die koffietafel neer en roer dit.
Bianca haal haar selfoon uit haar sak. “Ek mis vir Jono so baie. As hy nou hier was, sou niks van hierdie goed gebeur het nie. Hy sê altyd my ma-hulle waardeer my nie.”
“Wie’s Jono?” vra Anlea.
“Hy’s my ou. Wil jy sien?” Bianca sit haar selfoon aan en tik haar pin in.
“Ja, laat ek sien hoe hy lyk.” Anlea is dankbaar daar’s iets wat Bianca se aandag van haar ma aflei. Sy gaan sit langs Bianca op die bank om na die foto’s op haar selfoon te kyk.
“Sjoe, hy’s handsome!”
’n Glimlag breek oor Bianca se gesig.