100 dae van dankbaarheid. Francine Prins
vas te staan in die geloof. Om nie deur mense se geestelike gedagtes of inspirerende preke meegevoer te word nie, maar om in Christus se waarheid vas te staan.
Dít alles, sê hy, moet ons doen terwyl die danksegging in ons oorvloedig is (vgl. Kol 2:7).
Die grond waarin ’n plant staan, bepaal hoe groot en sterk daardie plant sal word. Die fondament waarop ’n huis gebou is, bepaal hoe hoog daardie huis kan wees. Dít waarin jy gewortel is, verklap hoe jou geestelike groei sal verloop. Dit vertel ook watter soort vrugte jy sal dra.
Jesus self is die grond waarin ons geplant is. Geloof laat ons wortelstelsel, wat in Hom geanker is, dieper en sterker groei. Hy help ons om die winde van dwaalleer en misleiding te weerstaan. Omdat ons aan Hom verbind is, help Hy ons om volledig aan Hom deel te hê, Hy wat die volle wese van God beliggaam (vgl. Kol 2:9).
Wanneer ons in Jesus gewortel is en vanuit Hom opgebou word, laat groei Hy ons om uiteindelik oorvloedig in ons dankbaarheid te wees.
Daarom is dankbaarheid nooit ’n doel op sigself nie. Christus is ons enigste doel. Wanneer ons in Hom geplant is, bring dit dankbaarheidsvrugte in ons voort.
Here, help my om te groei in my geloof in U. Moenie dat ek ooit los raak van U nie.
Dankbaarheid maak deure oop
Jesus leer ons soms dinge wat aanvanklik klink asof dit op ’n groot teenstrydigheid berus. Sterf om te kan lewe; min wees om belangrik te word; om jou vyande lief te hê …
En op minstens twee plekke in die Evangelies lees ons hoe Hy in sy desperaatheid nie smeek nie, ook nie om hulp roep nie. Hoe Hy eerder dankie sê.
Ons lees in Lukas 11 oor Lasarus, die broer van Marta en Maria; mense vir wie Jesus baie lief was. Lasarus het baie siek geword, en gesterf. Jesus het nie dadelik na hom en sy mense toe gegaan nie, en die twee susters het Hom daaroor verwyt.
Toe Jesus uiteindelik in Betanië by Lasarus se graf kom, het Hy saam met hulle gehuil oor die man wat al vier dae lank dood was. Ons lees hoe Jesus beveel dat die klip voor Lasarus se graf weggerol word.
Dan sê Hy: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het” (Luk 11:41). So konfronteer Jesus hierdie hartseer, hopelose situasie met ’n hart vol dankbaarheid.
Lasarus staan toe uit die dood op, en die omstanders kry die geleentheid om die openbaring van God se mag te sien en tot geloof te kom.
In Lukas 22 lees ons oor Jesus se laaste oomblikke op aarde. Dit was ’n angsvolle tyd, ook omdat Hy geweet het wat vir Hom voorlê.
Vir oulaas eet Hy en sy dissipels saam. Hy deel brood en wyn uit, en dank God.
Voordat Hy gekruisig is en die hele wêreld sodoende in die reddende, verlossende, liefdevolle teenwoordigheid van God ingetrek is, het Jesus ’n dankgebed gedoen.
Laat ons dus vashou aan hierdie teenstrydigheid wat Jesus se optrede ons leer: om in desperate, hoop-lose oomblikke nie net te smeek en om hulp te roep nie. Maar ook dankie te sê.
Jesus, dankie dat U ons oor dankbaarheid in swaar tye leer. En oor hoe dit dikwels op ’n wonderwerk uitloop.
Geliefdes
Dankbaarheid het ’n groot invloed op ons verhoudings, juis ook daardie naby-verhoudings soos dié tussen geliefdes in ’n huwelik of ’n gesin.
Dr Robert Emmons, ’n Amerikaanse sielkundige en navorser, het ’n studie gedoen oor hoe dankbaarheid verhoudings beïnvloed. Hy het ’n aantal mense gevra om daagliks oor dinge te skryf waarvoor hulle dankbaar is. Een groep moes bloot ’n lysie maak van die dinge waaroor hulle dankbaar is, en ’n tweede groep moes hulle dankbaarheid vollediger beskryf. Hulle moes dus ’n soort “dankbaarheidsjoernaal” hou.
Emmons het bevind dat laasgenoemde groep met groter waardering teenoor ander opgetree het as dié wat slegs ’n lysie gemaak het. Hulle het boonop verder uitgereik deur onder meer emosionele ondersteuning aan ander mense te bied. Daar is dus ’n begeerte in hulle gewek om ander te help.
In die verloop van die navorsingsprojek het vriende en familie van diegene wat ’n dankbaarheidsjoernaal gehou het opvallende veranderings opgemerk. Onder meer het die joernaalskrywers se onderskeie huweliksmaats ervaar dat hul wederhelf gelukkiger is, positiewer oor die lewe voel.
In ’n ander, onverwante waarneming is vasgestel dat ’n huwelik kan floreer wanneer daar minstens vyf positiewe gebare vir elke negatiewe een voorkom. Voorbeelde van eersgenoemde sluit ’n glimlag, ’n kompliment, lag, waarderende gebare of woorde in. Negatiewe gebare is dinge soos kla, ’n frons, woede en ’n afjak.
Dankbaarheid help jou dus om ’n positiewe ingesteldheid teenoor jou geliefdes te hê, en dít maak jou verhoudings gelukkiger.
Here, dankie vir die geliefdes wat U in my lewe geplaas het.
Om vriendelik te wees
Dis nie so maklik om in vrede met almal te leef nie. Dit het ons almal al op die een of ander stadium uitgevind.
Paulus beveel die gemeente in Kolosse om in vrede te leef. Dan vra hy dit boonop van álle gelowiges as hy skryf: “God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe” (Kol 3:15).
Hy noem voorts dat Jesus se vrede ’n deurslaggewende rol in ons lewe moet speel. Dit beteken dat ons die uitnodiging aanvaar om ons met Christus te versoen. En dat die harmonie en vrede wat ons in ons eenheid met Christus ervaar, die deurslag in al ons verhoudings sal gee.
Paulus doen darem ’n baie praktiese voorstel aan die hand, eintlik net een klein sinnetjie om die veeleisende leef-in-vrede-opdrag meer haalbaar te maak. “Wees altyd dankbaar,” skryf hy. Dít blyk dan die sleutel te wees om die vrede waaroor hy skryf uit te leef.
Oor hierdie vredesopdrag het Johannes Calvyn inspirerende kommentaar gelewer. Hy skryf onder meer: “As dankbaarheid en erkentlikheid van ons gedagtes besit neem, sal ons sonder twyfel daarop ingestel wees om wedersydse omgee vir mekaar te koester” (vgl. Calvin’s Complete Commentaries, bl 448).
Die ou kerkvader help ons ook verder: “As Paulus ons beveel om dankbaar te wees, glo ek nie hy bedoel dat ons ander se gunste aan ons in herinnering moet roep nie. Maar dat dankbaarheid in hierdie geval beteken om vriendelik teenoor mekaar te wees.”
Dit is dié soort dankbare vriendelikheid, saam met ons eenheid met Christus, wat ons help om in vrede met ander te leef.
Here, help my om my eenheid met U te versterk, en om ander met liefdevolle vriendelikheid te behandel.
Woorde en die Woord
Ons wêreld word deur woorde gevorm, en ingekleur deur die betekenis wat ons daaraan heg. Soms is dit ’n doodeenvoudige woord en sal niemand stry oor presies wat dit beteken nie. Tafel. Motor. Boom. Geen ruimte vir misverstand nie.
Dan is daar woorde wat jy met honderd ander kan omskryf en steeds nie die volle omvang daarvan kan raakvat nie. Veral as so ’n woord ’n gevoel beskryf, iets wat in ’n mens se hart gebeur. Liefde. Vreugde. Dankbaarheid. Hier is hande vol moontlikhede!
En dink nou maar aan “dankbaarheid”. Dis ’n emosie. Dis ook ’n deug, ’n vaardigheid, die motivering vir wat ons doen. Dis ’n gemoedstoestand, ’n houding.
“Dis ál hierdie dinge – en soveel meer!” sê dr Robert Emmons, ’n voorste navorser op dié gebied.
Dankbaarheid is ook ’n reaksie op iets wat jy ontvang; dis ’n soort waardering. En dan nie omdat jy dit gekoop of daarvoor gevra het nie, maar omdat dit aan jou gegee is en streng gesproke nie aan jou verskuldig was nie.
Ja, ons wêreld word deur woorde gevorm. En dit word ryker, inniger en kleurryker gemaak deur die ervaring van daardie woord. Jy moet dit voel en leef. En dít kry jy slegs reg as jy daaroor nadink en doelbewus daarna soek. Net op dié manier kan jy die omvattende betekenis daarvan verstaan, en net só kan