Papierblomme. Helena Hugo

Papierblomme - Helena Hugo


Скачать книгу
section>

      

      Papierblomme

      HELENA HUGO

      Lux Verbi

      Opgedra aan Irene Cornelissen: skrywer, redakteur en vertaler, boekliefhebber en leesvriendin.

      As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

      – Matteus 6:30

      1

      Alles, elke ding het sy tyd, dis wat die Bybel sê. Elke lewende wese, elke plant, dier en mens wat asemhaal, het ’n begin, ’n middel en ’n einde; tyd om gebore te word, te lewe en te sterf, om te onthou en te vergeet. Maar wanneer Janine aan haar lewe terugdink, is daar dae en tye wat sy nie kan vergeet nie. Toe sy sewe jaar oud was, het daar ’n deur tussen haar en Jesus die Here toegeklap. Om dit oor te vertel, besef sy, moet sy teruggaan na die winter van 1990. Selfs nou, ná al die jare, onthou sy dit asof dit gister gebeur het, en word sy weer klein. Dit was koud daardie oggend …

      Janine is nie lus om op te staan nie, maar sy moet badkamer toe en die son loer al deur die spleet tussen die gordyne en sny haar balletprent middeldeur: Die een helfte is vaal, die ander helfte pienk. Sy tel tot drie, stoot die komberse van haar af en sit regop.

      Watter dag is dit vandag? Haar skoolrokkie hang nie oor die stoel nie. O ja, Sondag. Sy gaan na die klein kerkie, Mamma en Pappa na die groot kerk. Snaaks dat Mamma nie kom kyk of sy wakker is nie.

      Die telefoon lui.

      Sy soek haar pantoffels onder die bed, en kry hulle aan hul haasore beet. Haar kamerjas lê op die bed se voetenent. Sy trek dit aan en gaan staan voor die venster. Die gordyne het pienk rosies, sy het dit self gekies. Saans trek Mamma hulle toe, soggens maak sy hulle oop. Vandag doen sy dit self. Sy moet wegkyk, want die son skyn in haar oë. Miskien is Mamma en Pappa moeg. Hulle was gister Pretoria toe, dis hoekom tannie Jessie by haar kom bly het. Sy en tannie Jessie het Little Mermaid gekyk, twee keer agtermekaar.

      Daar lui die telefoon weer. Iemand is wakker, want iemand antwoord. Wie bel tog so aanhoudend?

      Toe sy die deur oopmaak, staan daar ’n vreemde tannie in die gang. “My arme kind.” Sy steek haar arms uit asof sy haar wil gryp. “Jessie!” roep sy na die sitkamer se kant. “Sy’s wakker!”

      Die volgende oomblik staan tannie Jessie by hulle en huil. “Ninatjie …” Tannie Jessie kyk na haar met rooi oë. “Hoe sê ek dit vir jou?”

      Janine word bang. “Mamma!” skree sy. “Ma!”

      Tannie Jessie se arms hang. “Sy’s weg.”

      “Is nie!”

      Die ander tannie kniel voor haar, sit haar hande op haar skouers. Hulle voel swaar. “Janine, luister vir juffrou, kyk vir my.” O, sien sy nou, dis die juffrou van haar kleinkerkie, juffrou Dina. “Mamma en Pappa was in ’n lelike ongeluk, hulle het baie seergekry. Toe kom haal liewe Jesus hulle en vat hulle hemel toe. Hulle sal nie weer terugkom nie.”

      Janine wil nie meer hoor nie. Sy hardloop in die gang af. “Mamma! Pappa! Kyk vir juffrou Dina, sy jok.”

      Die sitkamer sit en staan vol tannies en ooms met lang gesigte, hulle kyk vir haar. Daar is ’n swart ding in die lug, ’n gedreun en ’n gefluister. Janine kan dit nie meer hou nie. Sy piepie in haar broekie; haar bene, haar haasoorpantoffels, die mat onder haar voete, alles is papsopnat.

      Janine is in graad twee. Sy hou van juffrou Kotie, maar sy wil nie meer skool toe gaan nie. Want netnou besluit Mamma en Pappa om in skooltyd huis toe te kom. Dit sê sy nie, sy gaan net nie skool toe nie. Tannie Jessie neem vakansie by die werk. Sy kom bly by haar.

      Janine wag en wag, maar haar mamma en pappa bly weg.

      Sy huil nie meer nie. Sy is groot, sy het die sestiende Junie verjaar, toe word sy sewe. Hulle het partytjie gehou. Sy het die balletprent gekry wat Pappa teen haar kamermuur opgehang het, en ’n grootmens-Bybel wat sy volgende jaar self sal kan lees. Daar was ’n koek wat soos ’n sewe lyk met sewe kersies en sewe balletpoppies. Dit was ’n groot partytjie. Haar beste klasmaats was daar, meisies en seuns. Pappa en die ooms het met die seuns gespeel, Mamma en die tannies met die meisies.

      Later het almal met mekaar gespeel. Dit was die laaste keer dat hulle gespeel het.

      Vandag hou hulle begrafnis. Sy het ’n wit rokkie aan. Dis nuut. Sy staan langs ouma Leen. Hulle groet die mense by die kerkdeur. Almal wil aan haar vat. Dit maak haar so benoud sy kruip agter ouma Leen weg. Hulle sit reg voor in die kerk, sy sit tussen ouma Leen en oupa Koen. Die orrel speel stadig.

      Dominee Kobus kyk af, hy ken haar naam en hy praat met haar. Hy jok nie, want dominees mag nie jok nie. Haar mamma en pappa, weet sy nou, sal nie weer terugkom nie.

      Nadat dominee klaar gepreek en tannie Jessie vorentoe gegaan en gepraat het, en oupa Koen nie sy woorde kon uitkry nie omdat hy te veel huil, loop almal na die saal langs die kerk. Hulle eet en drink en lag en gesels. Die kerk se mense, tannie Jessie, haar juffrou, haar maats se mammas en pappas, almal – net nie die kindertjies nie.

      Tannie Magda bring vir haar ’n bord koekies. “Miatjie is nog te klein vir ’n begrafnis,” sê sy, “sy sal Saterdag by jou kom speel.”

      Oupa Koen gaan terug Kaap toe om te werk. Tannie Jessie en ouma Leen bly by haar. Hulle maak die huis skoon en pak alles uit die kaste in bokse. Vreemde mense loop deur die huis.

      Sy en Sokkies die kat sit voor die TV en kyk Spiderman.

      “Ons hou haar uit die skool tot dit beter gaan,” sê ouma Leen. “Dis maar die beste.”

      Tannie Magda en Mia kom Saterdag kuier. Tannie Magda help vir Ouma-hulle, sy en Mia speel met hulle Barbies.

      “My ma sê,” begin Mia, “jou pa ry te vinnig. Dis hoekom hy die kar omgegooi het.”

      “Is nie! Tannie Jessie sê dit was ’n kop-aan-kop botsing.”

      Mia kap haar Barbies se koppe teen mekaar. “So en so?”

      Ken se kop val af en rol oor die vloer.

      Janine word naar, sy spring op en gaan kruip in die pakkamer weg. Hulle roep haar, maar sy antwoord nie.

      “Mia is nie meer my maat nie,” sê sy toe hulle weg is en tannie Jessie haar tussen die spinnedrade uithaal.

      “Goed so,” sê tannie Jessie, “van nou af is ek en jy beste maatjies.”

      “Ons trek oormôre,” sê ouma Leen. “Pak jou speelgoed en jou skoolboeke.”

      “En my skoolklere?”

      “Dis nie nodig nie. Oupa het jou by ons dorp se kerkskool ingeskryf. Hulle dra nie skooldrag nie.”

      “Lekker, nè?” sê tannie Jessie. “En hulle hou nog vakansie, amper die hele winter deur.”

      “Gaan Sokkies ook saam?”

      Ouma Leen en tannie Jessie kyk vir mekaar en sê niks.

      Die nag droom Janine Sokkies sit op die dak en kyk hoe hulle inpak. Hy miaau en miaau, maar niemand hoor hom nie.

      Die volgende oggend vroeg kom oupa Koen in sy bakkie. Hy en die bure se tuinman laai die bokse en van die meubels agterop. Haar bed gaan saam, haar balletprent en klere, skoene, speelgoed en boeke, die rosiesgordyne ook. Niemand vra haar of sy wil gaan nie, maar sy gee nie om nie. Sonder Mamma en Pappa wil sy nie in die groot huis agterbly nie.

      Tannie Jessie kom groet, sy belowe om Sokkies op te pas. Toe hulle wegry, sit hy op die dak en miaau.

      Janine sit tussen ouma Leen en oupa Koen. Sy huil tot sy nie meer trane oorhet nie.

      2

      Die pad Kaap toe is lank. Hulle ry na die dorp waar Pappa klein was en skoolgegaan het. Oupa het visgevang, deesdae maak hy alles reg wat stukkend


Скачать книгу