Papierblomme. Helena Hugo
sê hy vir ouma Leen.
“Dankie, Bakkies.” Sy wys na Janine. “Hy was haar pappa.”
Bakkies bloos so, sy puisies slaan aan die brand. “Ek weet.”
“My ma is ook dood,” sê Janine.
“Sjoe, ja.” Hy kyk vir ouma Leen. “Ek is genuine jammer, antie Lenie.”
“Kyk mooi na jou ma,” sê Ouma. “Mens weet nooit hoe lank julle mekaar nog het nie.”
“Hy doen dit, Lenie.” Antie Agnes vat Bakkies se hand. “Kom, seun, ons stap.”
Ouma Leen kyk hulle agterna. “Hy is ’n goeie kind, help haar in die bakkery.”
Hy is lelik en vet, dink Janine. Sy wil aanstap, maar ouma Leen keer haar. “Wag vir meneer en mevrou Olwage. Sy hou skool by die kerkskool.”
Mevrou Olwage het swart hare en ’n geel serp om haar nek, sy loop so vinnig, sy hardloop. Meneer Olwage, met sy kort treetjies, raak agter.
“Is ek in haar klas?”
“Nee, juffrou Schoonraad hou skool vir graad een tot graad drie.”
Mevrou Olwage kom sit haar arms om ouma Leen. “Lenie, hoe gaan dit?”
“Beter dankie.”
“En is dit die ou dogtertjie?”
“Janine, ja. Dis sy, Koenraad se dogter.”
“Definitief haar pa se kind. Hallo, Janine. Kom jy volgende kwartaal kerkskool toe?”
“Ons gaan haar beslis inskryf,” belowe Ouma. “Sy is slim vir haar ouderdom.”
“Dit kan ek sien. Kyk hoe blink die ogies.”
Dis omdat die son in my oë skyn, wil Janine sê, maar die kerkklok lui te hard. Oupa staan nie meer voor die deur nie en meneer Olwage het eindelik bygekom. Sy asem jaag.
“Welkom tuis, Lenie! Dag, Janine? Het ek reg gehoor? Dit is Janine?”
“Sy is Johanna Magdalena gedoop.”
“Haar ouma, uitgeknip. Dieselfde groen oë en rooi hare.”
“Manlief, ons hou die mense op. Verskoon ons.” Mevrou Olwage sleep haar man agter haar aan.
Ouma Leen skud haar kop. “Waarom sy hom so moet rondruk … Wag tot hulle in is, dan loop ons rustig. Ons sit op die koster se bank, maak nie saak as ons laaste instap nie.”
Orrelmusiek borrel by die oop deur uit. Op ’n tafeltjie in die portaal lê hopies briewe. Ouma Leen kies een. Hulle gaan sit heel agter op ’n kort bankie met plek vir vier mense. Vorentoe sit daar net hier en daar iemand. Die tannie wat die orrel speel, het geel hare en rooi lippe. Terwyl sy speel, wieg sy heen en weer. Toe hulle sing, gooi sy haar kop agteroor en sing harder as al die ander mense.
“Sy was ’n operaster in Europa,” fluister Ouma. “Toe kom sy terug en trou met ou Swanie. Kan jy hom sien?”
Dit moet hý wees, die oom wat die naaste aan die orrel sit. Hy sing nie, hy kyk heeltyd net vir sy vrou.
Die dominee is al grys. Hy preek oor Simson.
Janine maak haar reg om lank te sit, maar dis gou verby.
“Kort en kragtig,” fluister Ouma. “Haal uit jou kollekte.”
Janine gooi twintig sent in die sakkie wat Bakkies vir hulle hou. Die mense stap uit, groet en sê hulle is jammer. Janine maak haar klein, maar hulle sien haar en kyk na haar met hartseeroë. Die tannie voor die orrel bêre haar boeke en loop saam met die oom by die sydeur uit.
Ouma Leen bly sit. “Ons wag vir jou oupa.”
Nadat almal uit is en Oupa met ’n lang stok nog vensters toemaak, kom die dominee na hulle. “Dag, suster, bly om te sien julle het veilig aangekom. Is dit die dogtertjie?”
“Dis Janine.”
“Hallo, Janine. Hoe gaan dit met jou?”
“Goed dankie, dominee.” Hy praat so mooi met haar, sy kan nie stilbly nie.
Hy glimlag en sit sy hand op haar kop. Gelukkig vat hy dit gou weer weg.
“Alles afgehandel?” vra hy vir Ouma.
“Die boedel sal maande neem, maar haar kleertjies en speelgoed is hier. Daar is ’n trust in haar naam. Met die Heer se genade sal ons deurkom.”
“Gaan julle die huis verkoop?”
“Hulle het gehuur met ’n opsie om te koop. Dit val alles deur die mat. Hoe gaan dit met mevrou?”
“Nie goed nie. Dokter wil opereer, maar dis ’n groot operasie.”
“Sê vir haar ek stuur groete.”
“Dankie, suster, sy sal dit waardeer.”
Ouma Leen maak haar Bybel en gesangboek bymekaar.
“Mevrou Swanepoel is ’n aanwins vir ons dorp,” sê sy. “Sy speel nie net orrel nie, sy is die kerkskool se musiekjuffrou, smiddae en saans gee sy klavier, orrel en sang.”
“En ballet?”
“Nie ballet nie. Hulle doen volkspele in die skoolsaal, maar jy is nog te jonk daarvoor.”
Dit klink asof Ouma nie van volkspele hou nie.
5
Die middag ná ete moet sy weer slaap. Sy en Pink Panther lê wakker tot Ouma haar kom haal. “Ons gaan stap, dan wys ek jou die dorp.”
Janine trek haar pienk tekkies aan. Ouma se stapskoene lyk asof sy dit by Oupa geleen het. Die dorpsmense slaap seker almal, want daar is niemand op straat nie, behalwe ’n maer hond met ribbebene.
“Arme dier,” sê Ouma, “hy’t seker verdwaal. Sien jy daar oorkant onder die berg tussen die bome die mure en dakke nes ’n Kaapse kasteel? Dis die ryk Bezuidenhouts se huis. Die hele dorp werk vir hom, selfs dominee. Dis sy dorp dié, oumeneer Bezuidenhout. Hy ly aan sy hart, maar sy seun gaan by hom oorneem. Herman, tipiese rykmanskind, altyd oorsee. As hy hier is, ry hy die paaie vol slote.”
Ouma Leen, besluit Janine, hou nie van ryk mense nie. Sy hou ook nie van arm mense wat lui is nie.
Op pad deur die dorp wys sy die huise uit waar lui mense woon. Die verf dop af, die tuine is oorgroei van onkruid, of anders is daar niks behalwe stukkende karre nie. Die kerk se grasperk is perfek, want Oupa sorg daarvoor. Die kerkskool het ’n heining om, die helfte van die speelgrond is onder sement toegegooi. Die skool het atletiekbane en ’n pawiljoen, maar kleiner as Gustav Preller s’n.
“Hier is dit belangrik om vinnig te kan hardloop,” sê Ouma. “Jy kan mos?”
“Ek wen op die groot sport.”
“Jou pa het ook altyd.”
Hulle loop verby ’n ry huise wat lyk of hulle aan mekaar vasgeplak is. ’n Te Koop-bordjie staan geplant op die sypaadjie.
Ouma loop vinniger: “Mense bly nie lank in dié huise nie, hulle sê dit spook. Seker dié dat die Geyers verkoop.” Sy wys na die huis aan die oorkant. “Die Van der Merwes. Hulle het ses kinders. Vyf seuns en een dogter.”
Daar hardloop twee meisies op die grasperk, seker net so oud soos Janine, agter ’n hondjie aan. Spoke kan oor die straat sweef, maar hulle lyk nie soos spoke nie.
“Dis Lizel van der Merwe en Miekie Geyer,” sê Ouma. “Jy kan met hulle maats maak. Pas net op vir Lizel se broers.”
Janine wil nog vra wat verkeerd is met Lizel se broers, maar daar kom ’n raserige kar in die pad af, baie stadig. “Waar loop julle so ver van die huis?” wil die oom weet wat by die venster uithang.
“Ek wys die dorp vir my kleindogter. Janine, dis oom Kallie Calitz en Herkie.”