Papierblomme. Helena Hugo

Papierblomme - Helena Hugo


Скачать книгу
volgende week. Ons gee jou kans om by die skool in te skakel, dan kom jy Maandagmiddag drieuur vir jou eerste les. Reg so?”

      Die musiekjuffrou staan op en loop na die hoekkas. Daar is baie prente teen die mure van allerhande musiekinstrumente en kinders wat koor sing of konsert hou. Teen die agterste muur hang ’n ry prente van ooms en tannies, party in outydse klere.

      “Komponiste en sangers,” sê die juffrou. “Jy sal mettertyd met almal kennis maak. Dies is van die skool se operette en ons koor wat al die pryse wen.”

      Sy haal ’n dun boekie uit die kas. Op die voorblad sit ’n outydse seuntjie voor ’n kort klaviertjie. “Dis jou eerste boekie. Middel-C en sy maatjies, nommer een. Het jy al van Mozart gehoor?”

      “Ek … dink nie so nie.”

      “Hy het van kleins af soos ’n grootmens gespeel, maar hy het baie hard gewerk. So, reël nommer een: Tannie Lenie, sy moet gereeld oefen.”

      “Ek sal vir dominee vra of sy op die kerk se klavier kan oefen.”

      “Dis nie so maklik nie. Hier is ses klaviere in die dorp en sestig kinders wat musiek neem. Baie van my leerlinge oefen in die kerksaal. Kry toestemming by dominee en dan sit ek haar naam op die rooster, anders moet ons die Engelse vra of hulle nog plek het. Hoe dit ook al sy, musiek is ons lewe. Ons sing elke oggendgodsdiens uit die Jeugsangbundel, elke middag uit die FAK. Ek begelei die samesang, rig die koor af en gee musiekwaardering. Daarvoor betaal die skool my ’n salaris. Vir privaat lesse vra ek iets ekstra.”

      Ouma klou haar handsak op haar skoot vas. “Dit verstaan ek volkome.”

      Die musiekjuffrou trek ’n laai oop en haal ’n geel papier uit. “Hier is die faktuur. Besluit hoe Tannie wil betaal. Ek is nie te duur nie, maar my tyd is kosbaar.”

      Ouma vat die faktuur en kyk daarna. Haar oë rek, maar dan vou sy dit toe sonder om iets te sê.

      Die juffrou glimlag vir Janine. “My naam is juffrou Ciska. Ek en jy gaan lekker saamwerk. Jy mag die prentjie op die voorblad inkleur en dan trek jy jou boekie oor met plastiek, vra vir Ouma om te help. Tannie Lenie, dankie dat jy haar gebring het.”

      Juffrou Ciska is van die eerste musiekles af Janine se beste juffrou. Sy én juffrou Gerda is haar beste juffrouens. Juffrou Gerda het ’n kas vol storieboeke. Sy lees elke dag vir hulle een storie. Toe almal deurgelees is, begin sy van voor af. Daar is een en dertig kinders in die klas. Elf is in graad een, agt in graad twee en twaalf in graad drie. Janine is die elfde kind in graad een. Sy het nie ’n beste maat nie, en dit maak nie saak nie.

      Party kinders is gaaf, ander nie. Speeltyd staan sy alleen. Sy soek nie geselskap nie, maar as iemand met haar praat, antwoord sy voor hulle dink sy het haar tong ingesluk. Gewoonlik dwaal sy op die speelgrond rond, of sit met haar rug teen die muur en kyk hoe die ander kinders speel.

      Almal het seker mammas en pappas.

      Die kerkskool is ’n Christenskool, daarom leer hulle heeldag van die Bybel en van Jesus. Sy glo niks van sy goedheid nie. Sy leer net sy stories en die regte antwoorde, anders kry sy nie ’n sterretjie nie. As juffrou ’n vraag vra, skiet haar hand eerste op, want sy ken al die Bybelname.

      “Is julle lief vir Jesus?” vra juffrou.

      Almal, sy ook, skree: “Ja!”

      Sy jok, maar niemand mag weet nie, want dis ’n Christenskool. Die skooldag begin met dominee wat vir hulle uit die Bybel lees en bid. Hulle sing saam, dan gaan hy huis toe en loop hulle soet na hul klasse. Elke les begin met ’n gebedjie en elke kind kry ’n beurt. Terwyl hulle bid, is almal tjoepstil. Hulle mag ook nie praat terwyl hulle somme doen nie. Sodra hulle klaar is, moet hulle hul boeke tafel toe vat dat juffrou Gerda dit kan merk. As alles reg is, mag hulle prentjies inkleur tot almal klaar is. Hulle mag nie met mekaar praat nie. Dan raas juffrou Gerda.

      Janine is altyd eerste klaar. Gelukkig is daar niemand met wie sy kan praat nie. Sy kleur in en skryf briefies vir tannie Jessie. Ouma sit die hele week se briefies in een koevert, skryf tannie Jessie se adres op, plak ’n seël op en pos dit.

      Haar eerste klavierstuk met ’n regte, egte wysie is: “Dong-dong-dong”.

      “ ‘Dong-dong-dong,’ sing die klok,” sê die woorde. “ ‘Dong-dong-dong,’ elke uur.”

      Middel-C, middel-C, middel-C, middel-C, D en E.

      Duim, duim, duim, duim, wysvinger én langeraat. Alles met die regterhand.

      Maklik. Sy oefen Middel-C en sy maatjies, nommer een in twee weke dwarsdeur.

      Sy en Ouma besluit saam dat die boekie se klok ’n muurhorlosie is.

      Juffrou Ciska kom kuier een middag, toe sê sy sy hou van groot horlosies met helder stemme. Janine wys vir haar die fotoalbum sodat sy kan sien hoe lyk Mamma en Pappa, en Sokkies, en almal. Juffrou Ciska blaai stadig en vra baie vrae, sy wil seker maak wie is wie. Sy sê sy onthou vir Pappa en ken vir Mamma van die kere dat hulle hier gekuier het, selfs nog voor Janine gebore is. Sy dink Sokkies is ’n mooi groot kat. Toe die muurhorlosie ding-dong-dang slaan, sê sy: “Hoe verlang ek nou na Wene.”

      “Wie is Wene?” vra Janine die aand toe sy en Ouma klaar gelees en gebid het.

      “Wene? Watter Wene?”

      “Die een na wie juffrou Ciska verlang.”

      “O, Wéne! Dis nie ’n mens nie. Dis die stad in Oostenryk waar sy opera gesing het. Toe verruil sy haar drome vir die liefde van ’n man soos Swanie Swanepoel!”

      Janine verstaan van verlang. Baie nagte sukkel sy om aan die slaap te raak. Sy wens sy was by die huis. Mamma en Pappa is mooi aangetrek en kom sê weer vir haar en tannie Jessie: “Ons is nou-nou terug.”

      “Waar is Oos-tenryk?” vra sy later vir juffrou Ciska.

      “Ver oor die see, Janine. Hoekom wil jy weet?”

      “Net so ver soos die hemel?”

      “Dalk verder,” sê juffrou Ciska.

      “Dan sal juffrou eers moet hemel toe gaan voor juffrou weer daar kan uitkom.”

      “Jy’s reg, jy is so reg” sê juffrou Ciska. “In my volgende lewe …” Sy haal Middel-C en sy maatjies, nommer twee uit die kas. “Vandag begin ons met die linkerhand,” sê sy. “Konsentreer.”

      Dit gaan stadiger, want haar linkerhand is dommer as haar regterhand.

      Sy oefen en oefen.

      Toe die lente aanbreek, speel sy “Vader Jakob” met al twee hande.

      Lentedag dra hulle somerklere en bring bloeisels skool toe. Tannie Jessie het vir haar ’n nuwe rok gepos wat sy aantrek. Hulle kry koeldrank en koekies met baie versiersuiker en gaan vroeg huis toe.

      Skoolgaan raak beter vandat niemand haar meer jammer kry nie. Speeltyd sorg juffrou Gerda dat die klas se meisies saam bal speel. Lizel nooi Janine na haar verjaardagpartytjie. Daar is nie seuns by die partytjie nie. Saam met Lizel is hulle sewe meisies. Hulle speel vrotappel en aljander-so-deur-die-bos. Die verjaardagkoek is ’n hansworsgesig met ’n niekerbol vir ’n neus.

      Miekie wou dit heel insluk, toe sit dit in haar keel vas. Lizel se ma klap haar op haar rug totdat dit uitskiet en deur die lug trek. Vlekkie, die hondjie sit dit agterna, grawe dit tussen die los gras uit en kou dit stukkend. Dis die eerste keer in weke dat Janine lag sonder om skuldig te voel. Almal lag, Miekie ook.

      Die dag voor die skool vir die vakansie sluit, word die spookhuis verkoop. Miekie, wat Lizel se beste maat was, trek Strand toe saam met haar ma en pa en boetie en sussie. Niemand weet presies wie Miekie-hulle se huis gekoop het nie.

      “Iemand van die Kaap,” sê Miekie se pa. “Julle


Скачать книгу