Papierblomme. Helena Hugo
Sy loop agter Ouma aan. Die gang is koud en donker. Ouma maak die tweede deur wyd oop, en skielik is daar sonskyn. “Dit was my naaldwerkkamer, maar ek is geholpe. Jou oupa het vir my ’n gedeelte van die agterstoep afgeskort. Die vrykamer hou ons oop vir kuiergaste.”
Mamma en Pappa, as hulle my kom soek, wil Janine sê en keer haarself betyds.
Haar nuwe kamer se mure is wit, nie geel soos haar ou kamer nie. Die rosiesgordyne hang en haar bed is opgemaak. Die gestreepte matjie voor die bed is grys, blou en rooi. Haar balletprent pryk hoog teen die muur. Onder die prent staan haar eie lessenaar en stoel.
“Tevrede?”
“Ja, Ouma. Dankie, Ouma.”
Janine doen alles wat haar ouma sê. Sy hang haar rokke in die klerekas en bêre die res in die laaie. Haar Pink Panther en hartjiekussings kom op haar bed, die Barbies op die boekrak. Haar Bybel, skoolboeke en storieboeke op die middelste rak. Die silwerbeker wat sy vir vinnig hardloop gewen het, sit sy langs die portret van haar en Mamma en Pappa by die dieretuin. Agter hulle steek ’n kameelperd se nek uit, sy kop is afgesny.
Met die fotoalbum wat Mamma vir haar gemaak het, gaan sit sy op die bed en blaai dit deur. Sy was ’n vet babatjie. Mamma en Pappa lag, hulle weet nog nie hulle is dood nie.
Janine lê op die bed met die album in haar arms tot Oupa aan die deur klop.
“Kom eet,” sê hy.
Dis kool, wortels, aartappels, rys en vleis wat Ouma stowevleis noem. “Alles opeet,” sê sy.
Oupa bid en sê dankie vir die hande wat die kos voorberei het.
Janine verbeel haar sy sien Ouma se hande in die lug hang sonder arms. Sy knyp haar mond toe om nie te lag nie.
“Het jy alles mooi uitgepak?”
“Ja, Ouma.”
“Ek sal kom kyk hoe mooi.”
“Ek weet nie wat om met die leë tas en al die bokse te maak nie.”
“Oupa sal dit in die stoorkamer bêre, eet jou wortels.”
Janine hou nie van wortels nie, sy wurg dit in.
“Môre is Sondag, dan gaan ons kerk toe.”
“Moet ek saamgaan?”
“Natuurlik moet jy. Van nou af is jy Ouma se groot dogter, en Ouma gaan jou ordentlik opvoed. Letta kom twee keer ’n maand om vensters te was en vloere te polish, die res van die tyd werk ons self. Jy moet self jou bed opmaak en jou kamer afstof en uitvee, niks rondgooi nie, alles netjies hou. As jy klaar gebad het, was jy die bad uit en hang jou handdoek op. Die skool begin oor twee weke, Oupa sal jou die eerste dag vat. Daarna moet jy loop, skool toe en terug. As jy maatjies kry, kan hulle Saterdag kom speel, nie in die week nie. Goed so?”
Janine trek haar skouers op. Sy het nie maatjies op die dorp nie, so dit maak nie saak nie.
“Genoeg geëet?”
Sy knik.
“Koen, jy kan dank.”
“Ons dank U vir u milde seën, amen.”
“Help vir Ouma met die skottelgoed, dan gaan rus jy tot drieuur.”
Janine dra die borde af. Ouma was en sy droog af. Ouma pak weg, want Janine kan nie bo in die kaste bykom nie.
“Een van die dae is jy groot genoeg,” troos Ouma. “Ons rus altyd in die middag ná ete. Toe, gaan slaap ’n bietjie, in jou kamer.”
Janine gaan lê op haar bed en kyk na die plafon. Dink ouma Leen sy is Aspoestertjie soos sy vir haar werk uitdeel? Ouma is nie haar mamma nie, sy is definitief nie.
Sy wil nie slaap nie, maar sluimer tog in en word wakker geklop.
“Liefieding, is jy wakker?”
“Ja, Ouma.”
“Nou toe, gaan was jou gesiggie en kom groet die tannie.”
Die tannie? Watter tannie? Sy is nie lus nie, maar ouma Leen het gepraat.
In die badkamer maak sy haar hande nat en vryf oor haar gesig en hare.
Buite hoor sy iemand kap, seker Oupa.
Dit is ’n belangrike tannie wat by Ouma kuier, want sy hoor hulle in die sitkamer. Die deur staan oop. Die tannie sit met haar rug na die deur, die hele stoel vol.
Ouma sit haar teekoppie neer. Sy glimlag. “Hier is sy nou.”
Toe draai die tannie om. Sy het vet wange en baie kenne. “Ag, foeitog,” sê sy, “nog so jonk. Hoe oud is jy, kindjie?”
“Sewe,” antwoord Ouma.
“Nee, Lenie, sy lyk vir my jonger. Is jy seker?”
“Sy het die sestiende Junie verjaar, ’n week voor die ongeluk,” sê Ouma.
“Hoe rampsalig tog om albei ouers so vroeg te verloor, en in een nag. Kom staan hier by antie Agnes, dan vertel jy vir antie hoe gaan dit vandag met jou.”
Janine roer nie.
“Beter, nè? Sê vir antie Agnes: Waar was jy toe die ongeluk gebeur het?”
“Sy was nie in die kar nie,” sê Ouma.
“Ja, maar waar?”
“Tuis,” sê Ouma. “Hulle vat haar nooit saam as hulle saans uitgaan nie.”
“Los hulle haar alleen by die huis?”
“Jessie het oorgeslaap.”
“Wat ’n bestiering!” Die tannie slaan haar hande voor haar mond en frons tot haar ogies in die vetplooie verdwyn. Dan klap sy met haar hande op haar skoot. “Kom hierso, kom sit op antie Agnes se skoot.”
Janine skud haar kop, byt haar lip vas en vlug, by haar kamer verby en agter uit waar Oupa paaltjies in die grond kap. Hy kom orent, sy hand op sy rug. “Kom jy vir Oupa help? En nou, hoekom huil Oupa se kind?”
“Sommer.”
Hy sit sy hamer neer en wink haar nader. “Kyk wat maak Oupa vir jou. Sien jy dié plank? Ek gaan dit in vier stukke saag, dan kap ek dit rondom vas, en dan vat ek hierdie plat planke en sit hulle bo-op. Dis jou vloer. Raai wat bou Oupa vir jou?”
“Pophuis?”
“Reg geraai, slim kind. Nes die een wat ons moes agterlaat. Rooi dak, geel mure, groen voordeur. As jy wil, kan Oupa vir jou ’n tafeltjie ook maak, en stoeltjies, dan kom kuier Oupa en jy maak vir my tee. Sal lekker wees, nè?” Hy vryf met sy groot hand oor haar kop. “Jy moenie huil nie, onse Vader in die Hemel weet beste.”
Wat is beste? Om ’n dogtertjie se mamma en pappa weg te vat, en haar pophuis en haar Sokkies-kat? Sy wil dit skree, maar is nie kwaad vir Oupa nie en los dit liewer.
“Ek hou nie van die tannie wat by Ouma kuier nie.”
“Ou Agnes! Ek hou ook nie van haar nie.” Oupa stoot Janine liggies in die rigting van die huis se muur. “Staan jy eers hier, dan gaan haal ek nog ’n plank en ons meet hoe hoog jou pophuis se mure moet wees.”
Janine staan, en hy meet. Sy help hom, hou planke vas, gee spykers aan. Hulle bou aan haar nuwe pophuis tot ouma Leen by die agterdeur uitkom. Sy roep hulle om in te kom, want dit word laat.
“Is Agnes nog hier?” vra Oupa. “As sy hier is, gee ons nie een tree nader nie.”
“Ontspan. Sy is huis toe.”
“Nuuskierige ou dierasie.”
Ouma se oë rek. “Koen, nie voor die kind nie.”
“Kom, Ninatjie,” sê Oupa, “dis veilig.”
“Almal is nuuskierig,” sê Ouma. “Sy is die enigste een wat die moed het om te kom uitvind.”