Papierblomme. Helena Hugo
Oupa Koen is eindelik klaar met Janine se pophuis. Sy vra vir Lizel om by haar te kom speel. Van toe af is hulle beste maats.
7
Wat is geluk? Geluk is om ’n maat te hê saam met wie jy ure lank op die bed kan lê en giggel. Julle stry en maak vrede, julle loer vir seuns, soms vir dieselfde outjie. Maak nie saak wie hy kies nie, julle bly maats. Julle help mekaar met huiswerk, leer saam vir toetse en eksamens, leen mekaar se klere en juwele, sny mekaar se hare en verf mekaar se toonnaels. Julle het geen geheime vir mekaar nie.
Lizel is die enigste mens op aarde wat weet dat Janine kwaad is vir Jesus, nie dat dit ’n onderwerp is wat hulle dikwels bespreek nie. Hulle doen hul Bybelhuiswerk saam, maar bid nooit saam nie.
Jare kom en gaan en Janine en Lizel bly beste maats.
Meneer Swanepoel gee tot vir hulle ’n bynaam: Tweeling. Almal val daarby in en dit pas hulle uitstekend.
Janine verjaar die sestiende Junie. In 1997 word sy veertien. Dit is ’n mylpaal wat gevier moet word, ouma Leen sê ook so. Lizel verjaar die sestiende Julie, presies ’n maand later en word natuurlik ook veertien. Hulle kies ’n tweelingpartytjie en hou dit by Lizel-hulle, want hulle het ’n patio en haar broers sal help met die braaivleis.
Ouma is in haar skik met die plan. Janine vermoed dis omdat sy nie nodig het om haar huis oop te gooi nie. Sy skryf dit in haar dagboek en teken ’n smiley face langsaan. Vandat Janine en Lizel beste maats is, kuier ouma Leen en tannie Elsa graag oor en weer. Ouma het lankal vrede gemaak met Lizel se broers. Daar is buitendien nog net twee in die huis, Gerhard wat by meneer Bezuidenhout werk en verloof is aan Sonja Jonker, sy is mevrou Visser se kleindogter, en Boetie wat vanjaar matriek skryf en vir predikant wil leer.
Die partytjie word beplan vir Saterdag, die een-en-twintigste, een week voordat die skool vir die wintervakansie sluit. Ouma en Oupa is ook genooi solank hulle nie kla oor die musiek nie. Tannie Elsa en oom Freek bly in elk geval tuis om toesig te hou.
Janine en Lizel sit in Janine se slaapkamer en skryf neer wie nog uitgenooi moet word. Teen dié tyd weet die hele klas. Hulle sal regverdig moet wees, dit nie sommer in die bondel aankondig nie, maar kaartjies uitdeel.
Lizel is kunstig, sy sorg vir die kaartjies.
“Die tema,” sê Janine. “Ons moet vandag besluit.”
“Spice Girls? Spookaand? 101 Dalmations?”
“Laaste, maar nie die minste nie. Almal het die fliek gesien én ons kan opdress.”
“Soos honde?”
“Soos mense met kolle. Alles kolle. Wit en swart kolle.”
“Sherbet, ek het net klein kolletjies in my kas, en dis wit op blou.”
“Miskien is daar iets in my ouma se lappekas.”
“Let’s hope. Die invites is easy, ’n wit kring op ’n swart agtergrond of andersom.”
“Great! Nes jy wil.”
“Oukei. Next.”
“Musiek.”
“Spice Girls, Roxette, Jon Bon Jovi. Koos Kombuis.”
“Right! Munchies?”
“Niekerbols!” Hulle lê agteroor soos hulle lag. “Vlieënde niekerbols … Miekie en die niekerbol …”
“Haai, ons moenie lag nie, sy’t amper gecroak.”
Hulle lag dat die trane loop en Ouma aan die deur klop. “Wat gaan hier aan?”
“Niks! Ons … ons lag.”
Ouma stoot die deur oop, loer om die kosyn asof sy bang is sy sien iets wat sy nie mag sien nie. “Niks? En julle lag? Vir wat?”
Dis Lizel wat haar pose terugkry. “Onthou Tannie toe Miekie die niekerbol ingesluk het?”
“Ek was nie by nie, maar jou ma het my vertel. Miekie was amper dood.”
“Sure, tannie Leen, dit was genuine scary tot daai niekerbol uitgeskiet het en Vlekkie dag Miekie gooi vir hom ’n balletjie.”
Janine moet haar hand in haar mond druk om die giggels te keer.
Ouma frons. “Nou toe, lag klaar, die kos is op die tafel.” Sy los die deur oop en hulle kyk vir mekaar met trane in die oë.
Janine deel tissues uit. Hulle vee af. Hulle kan wraggies nie ophou giggel nie!
Maandagaand die drie-en-twintigste skryf Janine in haar dagboek:
Ons Dalmation-verjaardag was die paartie van die jaar! Kolle waar jy kyk. Selfs die seuns het opgedress, swart hemde met wit kolle, wit hemde met swart kolle. Ouma Leen het die perfekte lap in haar lappekas ontdek. Toe maak sy vir my en Lizel swart wyepypbroeke, kollehemde en strikke vir ons hare, én soom sommer die meters wat oorgebly het, om vir tafeldoeke!
Iemand moes opdress soos Cruella de Vil. Tannie Elsa, wat game is vir alles, het een van haar pruike wat sy in die sixties gedra het, opgeoffer. Die een kant spierwit gekleur, die ander kant pikswart, woes opgetease en haar gemake-up nes ou Cruella.
Ouma het ’n tjoklitkoek gebak wat sy met wit icing-blommetjies en agt en twintig kersies versier het – die helfte vir my, helfte vir Lizel. Tannie Visser het haar porselein-Dalmations geleen vir die tafel en wit koekies met swart lekkertjies saamgebring.
Sy is ook genooi saam met Gerhard en Sonja wat eenderse swart truie met wit kolle aangehad het, lang serpe om die nek en musse op die kop, ’n verliefde tweeling. Boetie het spesiaal huis toe gekom vir die naweek. Lizel se oudste broer, sy vrou en vier kinders het van die Paarl af gery en oorgeslaap.
Die kids was te klein vir die paartie, maar Lizel kon nie help dat haar familie graag haar verjaardag wou bywoon nie. Ek sou dit waardeer het as tannie Jessie kon afvlieg. Amper voel ek weer uit omdat ek net vir Ouma en Oupa het. Die Van der Merwes het oorgeneem, maar dis ook oukei.
Ek en Lizel het die coolste geskenke gekry. Ouma en Oupa het vir my ’n silwerarmband met charms gegee, net vier, sodat ek nog kan bymekaarmaak. Tannie Jessie het baggy corduroys en ’n bont gebreide onderbaadjie gepos, nice winkelgoed. Tannie Elsa-hulle het vir my en Lizel mussies en handskoene gegee, dieselfde styl, verskillende kleure. Lizel het ’n Roxette-CD gekry. Die kinders het vir ons goodies soos hangertjies, blomhaarknippies en mooi skryfpapier gegee.
Bennie, vir elkeen ’n sak vol lekkers met liefdesboodskappies op! Herkie het vir my ’n kettinkie met ’n silwerpienk blommetjie gegee, my op my wang geklapsoen, nie vir Lizel nie. Hy is actually nogal nice, al is hy lui om te leer en sy vingernaels vol olie. Almal se tande was naderhand swart van die niekerbols, ’n hele skottel vol wat Sonja op Somerset-Wes opgespoor het. Niemand het verstik nie. Roxette het gesing tot ons moeg gedans was. Def Leppard het ons weer opgecharge. Almal het mal gegaan met Pour some sugar on me.
Pour some sugar on me
Ooh, in the name of love.
Pour some sugar on me,
C’mon fire me up …
Herkie het hele aand met my gedans en tot heel laaste gebly. Het saam met hom tuinhekkie toe gestap. Toe soen hy my op my mond. Ek het nie geweet wat tref my nie.
Watch this space!
Dinsdag, 24 Junie:
Juffrou Ciska wil ’n operette van Aspoestertjie se storie maak. Sy skryf die musiek en die liedjies, en juffrou Gerda help haar. Ons het vandag oudisies gedoen. Ek en Lizel het Aspoestertjie se liedjies gesing, maar ons weet nog nie wie gaan wen nie. Die operette is vroeg in November voor ons vir die eindeksamen moet leer. Die skool sluit die tweede week in Desember. Mevrou Dominee sal seker die kategese se Kersspel ook wil inpas. Maklik om Maria te wees. Sy sit net en kyk vir die Kind in die krip en Josef staan langs