Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon
gelowige Chassidiese Jood, maar ek het nie eens meer sinagoge toe gegaan nie. Ek het in niks meer geglo nie. Toe Ofer agtien was, kom hy een aand doodstil by die huis aan. Ek onthou hoe hy daar gesit het asof hy iets wil sê en tog ook nie weet hoe nie. Maar meteens het hy uitgebars: ‘Ek het Jesus aangeneem. Hy is die Messias.’”
Sy skud haar kop. “Ek moet ’n lang storie kort maak. Ofer se oortuigings het die huis aan die brand gesteek. Ook sy broer het Jesus aangeneem. My man het mettertyd tot die insig gekom dat dié Jesus wel die miskende Messias van die Jode sou kon wees. Ek het nie. Maar ek kon ook nie onaangeraak bly nie. Op ’n dag het ek Ofer se Bybel gegryp en die Nuwe Testament begin lees. Ek het dae lank verwoed bly lees. Ek het na die rabbi gegaan en hom met feite gekonfronteer. Hy kon nie vir my bevredigende antwoorde gee nie. Ofer, wat my al die tyd dopgehou het, het hom nooit ingemeng nie. Hy het gebid. Op ’n dag het ek my vrae tot hom gewend en al wat hy gedoen het, was om vir my Jesus se regte naam in Hebreeus te wys. Yeshua. In die naam Jesus gaan die betekenis verlore, want dis nie ’n naam soos Joe of Robert of Jack nie. Matteus 1:21 sou beter só gelees kan word …”
Sy neem ’n velletjie papier van die tafel langs haar en skryf twee Hebreeuse woorde daarop neer terwyl sy praat. “‘Sy sal ’n Seun in die wêreld bring en jy moet Hom Verlossing (Yeshua) noem, want dit is Hy wat sy volk sal verlos (Hoshua) van hulle sonde.’ Toe wys Ofer my ook die vers in Handelinge 4:12: ‘Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.’ Al wat Ofer daardie aand nog gesê het, was: ‘Yeshua het die naam Verlossing op Homself geneem. Vir jou ook, Mamma.’ Dié nag kon ek nie slaap nie. Ek het uit die bed opgestaan om Shimon nie te steur nie en voor die groot venster van die woonkamer gaan staan. Buite het dit sag gesneeu, dit was onwêrelds mooi. Ek het begin huil en my gesig teen die koue venster gedruk. Ek het gefluister: ‘Is dit Jy, is dit Jy, Yeshua?’ En toe het Hy my geantwoord, Marc. Ek het sy stem gehoor. Hy het gesê: ‘Dit is Ek!’ Ek het nooit weer getwyfel nie. En daar sal nooit weer vir my ’n wonderliker naam wees as syne nie. Yeshua, Verlosser!”
Marc dink daaraan hoe die naam hom ook aangeraak het toe hy dit by Baruch gehoor het. Maar hy het dit nooit met ’n persoonlike verlosser verbind nie. Of selfs met God nie. Dit was bloot ’n wondermooie woord vir hom.
“Hoe lank gelede was dit?”
“Dit was in 1978. Dieselfde jaar dat Ofer Israel toe gekom het. Eers net om in die IDF te dien, en toe het hy aangebly. Shimon is in 1980 dood aan ’n hartaanval en kort daarna het ek hierheen verhuis. Ofer het nou self twee seuns: David, wat in die regte studeer, en Binyamin wat nog op skool is. Ons noem hom Bibi. Ons vier volgende week sy Bar Mitzvah.”
Sy staan op om vir hulle tee te gaan haal. Heerlike kersietee in glasbekers sonder melk en suiker. Hy drink dorstig, en sy skink nog uit die glasteepot.
“My pa se ma was ook ’n Jodin.”
Sy kyk verras op. “Dit het ek nie geweet nie.”
“Ek ook nie.” Hy vertel haar hoe hy onlangs eers op een slag van sy Joodse afkoms gehoor het.
“Maar, Marc, jy ís absoluut Joods. Jy is ’n Jood. Ons regering het uiteindelik besluit dat ’n Jood iemand is wie se ma ’n Jodin is. En as ek ’n bloedegte Jodin is, was jou ma ook een. En jou pa se ma ook ’n Jodin! Wonderlik. Mag die seën van die Ewige van Israel op jou rus.”
“Dankie,” sê hy bewoë. “Ek het gister by die Klaagmuur besef dat ek één wil wees met … my mense.”
Sy trek haar asem opgewonde in. “Wag!”
Sy gaan vinnig haar kamer binne en kom oomblikke later met ’n pragtige koningsblou fluweel-kippah te voorskyn. “Ek het dit gekoop toe Lucas my laat weet het jy kom Israel toe en ek het gebid dat jy ’n Jood wíl wees. Dat jy na my toe sal kom en dat jy ’n Jood wíl wees. Loof die Ewige. Baruch HaShem Adonai!”
Sy sit die kippah versigtig op sy swart hare en druk hom toe styf teen haar vas. “Elohim het my gebede verhoor.”
Toe Marc in sy kamer terugkom, sien hy op sy selfoon dat hy ’n oproep gemis het. Dis sy ma se nommer. Hy staan ’n oomblik onseker. Hy glo nie sy sal bel as dit nie dringend is nie. In Suid-Afrika het hulle besluit dat hy haar van ’n openbare telefoon af sal bel en die selfoon net vir plaaslike oproepe sal gebruik omdat dit so duur is. Dis byna twaalfuur. Maar hy ken sy ma; daarom maak hy die kamerdeur sag toe om Ruwth nie te pla nie en skakel haar nommer.
“Marc!” Aan haar stem kan hy hoor dat sy vir sy oproep gewag het.
“Wat is dit, Mamma?”
“Ek het jou op jou selfoon gebel, toe antwoord jy nie. Toe het ek jou by die hotel gebel, maar hulle het gesê jy is gister al daar weg. Waar is jy?”
“Wat is dit? Wat het gebeur dat jy my bel?”
“Oor ons nuus vanaand het hulle gewys dat twee selfmoordbomplanters voorgekeer is op pad na een van die groot winkelsentrums in Jerusalem. Hulle het hulself daar opgeblaas.”
Hy besef dat hy en Ruwth nie eens nuus gekyk of geluister het nie. Dit moet gewees het waar die polisiemotors so in aller yl heen op pad was toe hulle by die shuk shawarmas geëet het.
“Ag tog, Mamma, ons weet nie eens hier dat dit gebeur het nie. Asseblief, moenie dat alles jou die skrik op die lyf jaag nie. Ons het mos besluit voordat ek weg is dat ek jou twee keer per week sal bel!”
“Maar waar is jy dan nou?”
“Ek is by Ruwth.”
Dis ’n oomblik stil.
“O.”
“Sy het my genooi om by haar te bly in plaas van in die hotel.”
“Ek sien.”
“Ek sou jou in elk geval môre die een of ander tyd gebel het.”
“Ek het net geskrik toe ek van die aanval in die middestad hoor.”
Sy hart versag. “Dis oukei, Mamma, ek is oukei. Hou nou op om jou te bekommer.”
“Geniet jy dit darem?”
Hy haal diep asem. “Mamma, Ruwth is baie goed vir my, jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek sal jou alles later vertel, maar ek kan nie nou lank praat nie, dis te duur.”
“Ek weet.”
“Ek sal later in die week weer bel.”
“Oukei,” haar stem raak byna heeltemal weg.
Toe hy die verbinding afsny, bly hy ’n oomblik daarmee in sy hand staan. Toe sug hy en lê dit voor sy bed neer.
Hy gaan sit op sy bed, rug teen die muur en trek die sketsboek uit sy sak. Tot laat in die nag sit hy en teken. Joodse gesigte. In elke vorm wat hy hulle die dag gesien het. Hy haal die kippah van sy kop af en kyk lank daarna. Toe teken hy weer die grootvader en die seuntjie. En toe hy klaar is, sien hy die kind het hyself geword. Die seuntjie, Marc, wie se pa weggegaan het toe hy sewe jaar oud was.
Jerusalem
26 Maart 2002
22:30
Yeshua. Baruch se Yeshua. Sy ken duidelik Baruch se Yeshua. Nie my Jesus wat soos ’n verdroogde matriekafskeidroos in my Bybel lê nie. Yeshua was ’n Jood. ’n Ortodokse rabbi. Is nog ’n Jood? Ek is ’n Jood. Die kippah ruik na boekrolle en ou klippe. Dit verbeel ek my natuurlik. Maar wat ek my nie verbeel nie is die gevoel wat by my opgekom het toe ek daar by die Muur … by die Kotel besef het ek is een van hulle.
Maar waarom sou ek eintlik vir Yeshua nodig hê om by God uit te kom? Hoekom deur Hóm gaan? Ek voel God aan in hierdie plek. Yerushalayim. Ek sien Hom in die mense. My mense! – by die Kotel, in hul oë en neuse en baarde. Ja, selfs in hul hoede en manelle. Ja, selfs in Mea Shearim. Ja, daar! Ek sien Hom in die skoonheid van die versierde Tora-rolle. In die wonderskone ou klippe van die Muur. Ek hoor Hom in die stemme waar hulle saggies wieg wanneer hulle bid. Die ruising van die stemme. En ek sien Hom in die rooi papawer wat op die wind bewe, in die blou wolke oor Jerusalem. Ek hoor sy