Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon
wondernaam. Dit ontroer my soos geen ander nie. Maar ek kan my nie deur wondername laat verlei nie. Dis God wat ek wil ken, nie sy profeet nie. Waarom sou dit vir God nodig wees om soos ’n man hier rond te loop en so ’n vernederende dood te sterf?
“Abba”, het Jesus hom genoem. Pappa.
O, God!
Waarom kan my ma nie aanvaar dat sy twee ma’s het nie? Waarom is Mara bang om van Ruwth te weet?
Ses
Jerusalem
Woensdag 27 Maart 2002
Palestinian ambulance driver caught transporting bomb
A Palestinian Red Crescent ambulance driver was caught transporting an explosive belt containing ten kilograms of explosives of a type detonated by suicide bombers, Israel radio reported. The ambulance was stopped and searched between Nablus and Ramallah, and the soldiers found the explosive belt under the stretcher upon which a Palestinian boy was lying. The boy’s family was with him in the ambulance.
The ambulance driver told interrogators he received the belt from a senior Tanzim activist working for the Palestinian Authority West Bank Security Chief, Marwan Barghouti.
The International Committee of the Red Cross (ICRC) said it was “shocked and dismayed” and “condemns” such abuse of an ambulance and of the Red Crescent emblem.
Die hele dag is Ruwth besig om voorbereidings vir die seder-maal te tref. Buite reën dit feitlik onophoudelik. Een of twee keer trek ’n kragtige haelbui oor die stad. Marc staan in sy kamer en kyk hoe die haelstene met soveel geweld op die balkonnetjie neerkom dat dit terug oor die gietysterreling pad toe spring. Hy het geen behoefte om die stad in te gaan nie, al het Ruwth aangebied om hom te neem. ’n Ruk lank sit hy met sy sketsboek. Blaai deur vorige sketse, verbeter, skeur uit en frommel op. Maar meesal is hy self verwonderd oor wat hy voor hom sien. Hy kyk ook na die tekeninge wat hy van Rivkah gemaak het. Daar is iets wat hom so diep ontroer dat hy die trane in sy oë voel brand. En dit ontstel hom nie soos in die tyd ná Nicola nie. Hy kry weer die gevoel dat hy sy Vader se stem in die huis gehoor het. Die stem van Abba.
Later dwaal hy kombuis toe waar Ruwth kos maak. Ten spyte van die koue buite, stoom die kombuis warm en geurig. Sy vee die string grys hare wat natgesweet oor haar voorkop val, agtertoe en lag met hom.
“Kan ek nie met iets help nie?” vra hy.
“Nie regtig nie. Sit hier by my. Ek het vanaand tien mense vir die seder. Ek het hulle almal vanjaar na my toe genooi nadat ek gehoor het dat jy Jerusalem toe kom en sonder dat ek veel hoop gehad het dat jy wel hier by ons sou uitkom. Maar Adonai het jou gestuur. Baruch HaShem!”
Hy gaan sit en leun sy elmboë op die tafel waar sy besig is. “Waarom is die Paasmaal hier op ’n Woensdagaand, dis dan eers oormôre Goeie Vrydag?”
Sy kyk hom ’n oomblik takserend aan. “Jy sien,” sê sy toe, en hy hoor sy kies haar woorde versigtig. “Yeshua is myns insiens nie op ‘Goeie Vrydag’ gekruisig nie. Daar is verskillende standpunte oor dié saak. Pase is vir die Messiane en vir Christene die herdenking van die kruisdood van Messias Yeshua, die Lam van Elohim, ons Paaslam. Maar vir die Jode is dit die herdenking van die Paaslam wat geslag is toe hulle uit Egipte bevry is. Adonai, wat van die begin af die einde weet, het toe ook geweet dat daardie lammetjie die heenwysing na sy Seun se versoeningsdood sou wees. Die Paaslam is op die veertiende dag van Nissan, die eerste maand van die Joodse maankalender, geslag. HaShem het daardie dag vir altyd bepaal. Op die veertiende Nissan. Hoe kan dit nou elke jaar op ’n Vrydag val? En hoe kan jy in elk geval iets so verskrikliks soos die dood van HaShem, God, ’n ‘goeie’ dag wil noem? En hoe kon Hy in elk geval op Vrydag gesterf het en Sondagoggend opgestaan het, as Hy duidelik gesê het dat Hy drie dae en drie nagte in die graf sou wees?”
Marc knik. “Ek het ook nogal daaroor gewonder.”
Sy spoel die kruie waarmee sy gewerk het onder die kraan af en die geur daarvan vul die kombuisie. “Jy moet ook dít verstaan: ’n Joodse dag begin wanneer die son ondergaan en die eerste ster verskyn. Donderdag begin dus streng gesproke Woensdagaand sononder. Vanaand dus.”
“Ek sien.”
“Nou, Yeshua was Donderdag tussen nege-uur die oggend en drie-uur die middag aan die kruis. Dis interessant om te weet dat die Paaslammetjie vroeër in die tabernakel en later in die tempel ook tussen nege-uur en drie-uur aan die altaar vasgemaak was voordat hy geslag is. Yeshua het om drie-uur gesterf. Toe het Hy uitgeroep: ‘Dit is volbring.’ Dit was op die presiese oomblik dat die lam in die tempel geslag is en die hoëpriester uitgeroep het: ‘Dit is volbring.’ Kan jy sien hoe volmaak die Ewige se Plan is?”
“Dit het ek nooit geweet nie.”
“Donderdag is dus dag een, Vrydag dag twee, Saterdag dag drie, en Sondagoggend het Hy opgestaan soos Hy gesê het Hy sal. Drie dae en drie nagte.”
Marc bly sy kop in verwondering skud.
“Nou wat doen die meeste Christene? Hulle vier Paasfees met sjokolade-eiers en -hasies.”
“Waar kom dit dan vandaan?”
“Konstantyn, die veelgeroemde kerkvader wat in werklikheid ’n sonaanbidder was. Tussen hakies, daarvandaan kom ook die Sondag wat die Shabbat vervang het wat HaShem ingestel het …”
“Maar ons vier tog Sondag omdat dit die opstanding herdenk.”
“Waar lees jy in die Bybel dat God gesê het ons kan ophou om sy Shabbat te vier? Yeshua het gesê Hy het nie gekom om die Tora ongeldig te maak nie, maar om dit te vervul. Ons vier nie die Shabbat soos die ultra-Ortodokses wat swaar gebuk gaan onder alles wat hulle nie mag doen nie, maar ons vier dit as ’n dag waarop ons van ons gewone werk rus en ons in HaShem verryk. Ons staak ons ander bedrywighede en ons vier die fees van ons liefde vir Hom. Dit is wat Hy kom vervul het, daardie rus in Hom toe Hy die Tora namens ons vervul het. Maar dis op die sewende dag van die week, wat Vrydagaand begin, nie Sondagoggend nie.”
Marc maak ’n vae beweging met sy hande.
“Yeshua het inderdaad op Sondagmôre opgestaan, maar dit was ook om die instelling van God, naamlik die Dag van Eerstelinge, te bevestig, die sewentiende van Nissan, drie dae en drie nagte ná die veertiende van Nissan. Hy was immers eersteling uit die dood.”
“Interessant,” is al wat Marc kan dink om te sê. “Maar waar kom die paaseiers en -hasies dan vandaan?”
“Ook van vader Konstantyn. Hy het al sy heidense feeste met die Christelike godsdiens vermeng. Isjtar is die Griekse godin van vrugbaarheid, koningin van die hemel, sogenaamd. Vandaar die eiers en die vinnig telende hasies.”
“Daarvan het ek eerlik nog nooit gehoor nie.”
“Ek neem jou nie kwalik nie. Tallose Christen-ouers gee met Pase vir hul kinders sjokolade-paashasies present, steek vir hulle paaseiers weg wat hulle moet soek, en dink dis baie oulik.”
“Inderdaad.” Marc skud sy kop.
“Maar nog baie, ook in die kerk, dink hulle gedenk die kruis deur oor Pase sagte, taai hot cross buns te eet. Lekker opgepofte suurdeegbolletjies. En dit terwyl die Bybel vir ons sê dat ons oor die sewe dae van Ongesuurde Brode absoluut geen gis in ons huise moet hê nie omdat suurdeeg sonde simboliseer. Die Israeliete moes hul suurdeeg in Egipte agterlaat.”
“Maar Christene is tog nie Jode nie.”
“Nee, maar hulle is nes die Israeliete uit Egipte van hul verlorenheid verlos. En hulle het Yeshua as hul Here, en Hy het die Joodse feeste gehou. Elkeen van hulle.”
“Het die hot cross buns dan nie ’n kruis op nie?”
“Ja, vir seker is daar ’n kruis op, maar as jy goed gekyk het, sou jy gesien het daar is ’n sirkel om die kruis. In plaas daarvan dat dit die kruis van Yeshua simboliseer, is dit ’n bekende simbool van aanbidding vir die Babiloniese songod Tammuz. Hulle het hierdie koekies met die vorm van die maan geëet om die vrugbaarheidsgodin Astarte, ’n ander