Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon
die eerste beker – die Beker van Heiligmaking. Nou word daar ’n silwerbak met water omgestuur waarin almal hul hande was. Jou tafelmaat hou die bak vir jou vas en droog daarna jou hande met ’n wit servet af. Dit raak aan ’n mens. Ek wou dit so graag alles teken! Het maar ’n paar foto’s geneem.
Dan word pietersielie, wat in soutwater gedoop word, geëet (groen vir nuwe lewe in Jesus en soutwater vir die trane van swaarkry in Egipte). Dan kom die ding van die afikoman. Hulle sit drie stukke matzah (Vader, Seun, Heilige Gees) opmekaar. Die middelste een word uitgehaal en in ’n wit doek toegedraai en weggesteek. Ek verstaan dat dit vir die Messiane die simbool is van die Messias wat in grafklere toegedraai en begrawe word. Hulle lees ook uit Jesaja 53, wat dan wonderlik mooi klink. Daarna sing hulle weer en dank God vir die Seun wat Hy gegee het.
Nou kom die tweede beker, die Beker van Danksegging. Ofer skink elke keer die beker vol. Dis baie interessant, want dan vra die jongste kinders vrae oor waarom hierdie aand anders is as ander aande: waarom nie gewone brood nie, waarom bitterkruie, waarom word die kruie ingedoop, waarom sit hulle anders? Binyamin, hy is byna dertien en gaan volgende week sy Bar Mitzvah hê, het die vrae gevra. En ek was verbaas dat hy nie ’n grap daarvan gemaak het nie. Dit het alles in die grootste erns geskied. Hierna was Ofer weer aan die woord en hy het verduidelik dat ons nou die dinge wat in die verre verlede gebeur het, in gedagte gaan roep en naboots. Daar word dan gelees hoe ons almal slawe in ons eie Egipteland was en dat God ons met sy magtige hand daar uitgelei het. Hierna begin Ofer die Eksodus-verhaal vertel en vir elke plaag wat hy noem, drup almal ’n druppel rooiwyn in hul borde. Weer ’n seëngebed en almal drink die tweede beker. (Dis gelukkig ligte, heerlik gekruide wyn, anders sou ons stomdronk geword het. In die begin het ek te vinnig gedrink!)
Dan verduidelik Ofer die seder-bord: Daar is die skenkelbeen van die Pesach, of die offerlam (wat Ruwth die oggend gaargemaak het) as teken van Jesus. Daar is die matzot wat ongesuur is omdat suurdeeg ’n teken van sonde is. Die Israeliete het die suurdeeg in Egipte agtergelaat. Ofer breek vir elkeen ’n stukkie af en ons eet dit. Dan is daar die maror, wat bitterkruie is, en herinner aan die Israeliete se bitter bestaan, die soutwater aan hul trane, die charoset aan die klei waarmee hulle stene gemaak het, die eier aan die sonde en rebellie van God se volk wat die afbreek van die Tweede Tempel tot gevolg gehad het. Die pietersielie-en-komkommermengsel is simbool van groei en vernuwing. Ons maak ’n toebroodjie van die matzot met bitterkruie en charoset daarop, en eet dit. Ons doop die eier in soutwater en eet dit. (Laat jou dink!) Dan word daar weer ’n loflied gesing om God vir die bevryding te loof.
Nou eers kom die Pasgamaal! ’n Voorgereg van kruieslaai en pitabrood. (Mam, jy sou jou oogtand gegee het!) Die hoofgereg is heerlike lamsvleis en groente van alle soorte. ’n Mens eet jou oor ’n mik en dis alles so vrolik. Hulle bly tussendeur sing en David is regtig ’n kunstenaar met die kitaar. Saggies. Dan moet die jongste (Bibi) die afikoman soek. Groot pret en hy kry ’n geldjie daarvoor.
Hierna lees Ofer die gedeelte waar Jesus die brood breek en sê dat dit sy liggaam is. Hy breek die afikoman in stukkies en almal eet daarvan. Hy skink dan die derde beker; die Beker van Verlossing; en lees waar Jesus sê dat dit sy bloed is wat vir hulle gestort is. En almal drink die beker. Amper soos ons eie nagmaal. Dan sing hulle die Ons Vader – pragtig. Die meeste van die singery is in Hebreeus, maar dié was in Engels.
Hierna word nog ’n beker geskink. Die Beker van Aanvaarding en Lof. God het ons deur Yeshua as sy eie aanvaar, sê hulle vir mekaar. En dan sing hulle die pragtige Hodu l’Adonai – loof die Here, want Hy is goed … en drink die vierde beker.
Dan volg die nagereg, wat vrugteslaai is (ons trek toe al by tienuur en dit van halfsewe af!). Maar ’n mens word nie moeg nie. Hierna sing hulle allerlei liedere oor die feit dat Jesus weer sal kom.
Dan skink hulle ’n beker vir Elia. Volgens Ofer doen die Jode dit omdat hulle weet Elia moet eers kom om die weg vir die Messias voor te berei. Hulle hoop om hom aan die deur te hoor klop. Maar die Messiane drink dit met die bede dat as die Jode dit nog vanaand doen, hulle die klop aan die deur van hul harte sal hoor en sal uitroep: Baruch haba B’Shem Adonai – geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.
Daarna sing hulle in aanbidding: Baruch haba B’Shem Adonai, halleluyah. Dit is een van die mooiste goed wat ek nog ooit gehoor het. Dit bly in ’n mens se hart.
Ter afsluiting roep almal vir mekaar: Volgende jaar in Jerusalem! In Hebreeus natuurlik.
Dit was ’n aand wat ek nooit sal vergeet nie.
Liewe Mamma en Hannes, ek word hier so ’n Jood dat julle my dalk nie meer sal herken as ek terugkom nie. Ek dra al ’n kippah, maar darem nog nie tzitzit of peyot voor my ore nie. Maar wie weet! Die God van Israel verwonder my, sy skoonheid is nog groter as wat ek dit in sy werke kan sien. Vrydagaand (Erev Shabbat!) gaan ek saam met my vriende wat modern-Ortodoks is Shabbat vier by hul huis en miskien sal dit my nog dieper ontroer, want hulle sal nie die bykomstigheid van Yeshua hê nie. En wondermooi soos sy naam ook al is, verwar sy teenwoordigheid my net. Dit is die God van die Skepping, van skoonheid, die God van Israel wat ek wil ken en dien.
Dis bitterlik koud en stormagtig hier in Israel en ek is bly oor die baadjie wat jy my laat inpak het, Ma!
Lief julle en later meer.
M
Jerusalem
27 Maart 2002
01:20
Hoe verskriklik het dit nie vanaand tydens die seder gestorm nie! Die geweldige donderslae, die weerlig wat onophoudelik oor die verlate stad dans, ons kon mekaar aan tafel skaars hoor. “Dit moet sekerlik die een of ander teken wees,” het Ofer op ’n slag gesê, en ek het Ruwth sien ril en oor haar boarms vrywe asof sy koud kry. “Dis waar,” het sy gesê, “ek kan nie ’n enkele Pesach met sulke donker, onstuimige dae onthou soos hierdie een nie. Een of twee miskien so aan die begin van die somer is normaal, maar so donker en stormagtig soos hierdie dat ’n mens ligte moet aanskakel, dis vreemd.” Hulle het almal half ongemaklik gelyk. Dit moet al die verskriklike dinge wees wat die laaste dae gebeur het wat ’n mens onrustig maak. Maar toe het Ofer weer voortgegaan en die warmte het na ons teruggekom – die warmte van Adonai, ons Elohim.
Sewe
Marc word die volgende oggend wakker van ’n gepraat. Hy kyk op sy polshorlosie en sien dat dit net ná halfagt is; dus draai hy summier om om verder te slaap. Maar toe hoor hy dat dit Ruwth se stem is en dat sy huil. Sonder om ’n oomblik te huiwer, klim hy uit die bed, trek vinnig ’n sweetpak aan en gaan woonkamer toe.
Dis Ofer wat by Ruwth in die woonkamer is. Hy het sy ma in sy arms en hy wieg haar liggies heen en weer. Sy huil snikkend soos ’n kind teen sy bors. Marc sien dat sy nog haar kamerjas aanhet. Hy bly onseker in die ingang tot die woonkamer staan. Ná ’n paar oomblikke sê Ofer, wat hom opgemerk het, sag: “Kom maar in, Marc.”
Marc gaan stadig binne en Ruwth draai om na hom toe. Sy hou die een hand oor haar mond en neus, haar oë is rooi gehuil.
“Kom, Mamma, gaan sit nou eers.” Ofer help haar versigtig tot by die rusbank. Hy gaan langs haar sit, sy arm om haar skouers, voordat hy hom tot Marc wend.
“Marc,” sê hy, “daar was gisteraand weer ’n selfmoordbomaanval. By ’n Pesach-seder in Netanya. Dieselfde tyd wat ons dit gevier het. Ruwth se twee beste vriende, bejaarde mense, het albei omgekom. Ek het haar kom sê voordat sy dit dalk oor die nuus hoor.”
“In ’n privaat huis?” vra Marc geskok, terwyl hy die vorige aand se byeenkoms voor hom sien afspeel.
“Nee. In die Park Hotel in Netanya. Daar was meer as twee honderd mense bymekaar, familie en vriende om die seder te vier. Heelwat ouer mense, maar ook kinders en babas.” Hy kyk na sy ma en sy bly haar kop skud. “Altesaam een en twintig mense is op die plek dood en meer as honderd en sewentig beseer. Party is kritiek. Hulle verwag ’n hele paar sal dit nie oorleef nie.”
“Sou dit gebeur het toe daardie verskriklike storm oor die stad getrek het?”
Ofer dink ’n oomblik na. “Ek dink so.”
Marc