Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon
sê ek dit met eerbied: As ek in die B’rit Chadashah, die Nuwe Testament, lees – en ek doen dit – dan lyk die dood van Yeshua vir my baie na die beskrywing in Jesaja. Maar ek weet nie, ek weet nie. In die IDF is ook ’n hele klomp Messiane van die tweede geslag en ek luister na hulle en ek wonder of ons Ortodokses nie dalk HaMashiach misgekyk het nie.”
Hy kyk haar woordeloos verwonderd aan en sy glimlag flou. “Ek weet dit klink seker vir jou vreemd. En dit sal my vader bitterlik seermaak as hy moet hoor wat ek nou net vir jou gesê het.”
“Daar is soveel wat ek nie verstaan nie, Rivkah. Ek dink dis hoekom ek hier is.”
Sy frons. “Ek vind dit eienaardig dat ek met jou, ’n vreemdeling eintlik, hieroor kan praat. Maar …”
“Maar wat?”
“Toe ek daardie eerste dag by die Kotel jou tekeninge van die Jode gesien het, het dit vir my gevoel jy is anders.”
Hy wil haar sê in watter sin sy vir hom ook “anders” is, maar hy is bang vir die implikasies van die woorde wat by hom opkom en hy swyg liewer.
Hulle dwaal deur die Ou Stad, waar daar selfs in die Arabiese buurt min lewe is. Maak ’n draai by die Kotel, wat ná die skok van die vorige aand se seder-bomaanval feitlik verlate is. Dit reën weer swaar en dit het donker geword. Dus draai hulle terug na die Ou Stad.
“Ek het gedink aan ’n plek waar ons lekker kan eet,” sê sy. “Ek en Re’uven gaan dikwels daarheen.”
“Waar is dit?”
“Naby die Jaffa-poort in die Ou Stad. Dis ’n Arabiese restaurant.”
“Arabies?” vra hy verbaas. “Is dit oukei?”
“O ja, ons families en hulle s’n is al geslagte lank vriende. Nie alle Jode en Arabiere is vyande nie, hoor. Absoluut nie. Jood en Arabier het geslagte lank in Jerusalem langs mekaar gewoon.”
Sy bring hom tot by die restaurant en hulle buk dankbaar uit die koue, nat stegie na binne. Dis duidelik dat sy daar goed bekend is. Die hoflike Arabiese eienaar maak seker dat hulle ’n goeie tafel kry en Rivkah beduie vir Marc wat die geregte beteken. “Die Arabiere maak soms lekkerder kos as die Jode, hoor. Kruie en speserye. Heerlik!” Hulle bestel.
Sy vryf haar hande koulik en kyk in die feitlik verlate eetplek rond. “Die plek se naam is Abu Shanab, dit beteken ‘My oupa se snor’. Dit is baie bekend in Jerusalem.”
Solank hulle vir die kos wag, blaai sy tydsaam deur sy sketsboek. Hy hou haar gesig in die lig van die flikkerende kerse op die tafel dop. Hy verwonder hom hoe gemaklik sy omgaan met die tekeninge wat hy van haar gemaak het. Toe sy opkyk en sy oë op haar betrap, vra sy: “Jy is so verskriklik gevoelig, Marc, het jy al werklik liefgehad?”
Hulle kyk mekaar ’n rukkie stil aan voordat hy sê. “Een maal.”
“En?”
“Ek het geleer dat wat soos liefde lyk, nie vertrou moet word nie.”
“Kan ’n mens dit uit één ervaring leer?”
“Ek dink so.”
“Wil jy my vertel?”
Hy sug.
“Jy hoef nie.”
Hy dink daaroor. “Miskien moet ek. Dis so: Ek het in my laaste skooljaar privaat les gekry. Oor die gewone kunsklasse nie juis ’n uitdaging was nie en die onderwyser my verder wou help, het hy my by sy huis onderrig gegee. Vir my en nog een ander student. Sy was twee of drie jaar ouer as ek. Ek het haar liefgekry omdat …”
Dis ’n rukkie stil tussen hulle.
“’n Mens weet nie altyd hoekom jy iemand liefkry nie,” sê Rivkah.
“Ek het geweet. Sy het my geleer praat. Oor myself. Want ek het in my eie wêreld geleef en ek kon nie praat nie.”
Die aanhaling uit Daniël Hugo se “Pêrelvisser”, wat Nicola altyd vir hom gelees het, flits deur sy gedagtes:
jy gaan so oestermaklik toe
as ek met my woorde aan jou raak
net ’n oomblik sien ek soms hoe
blink die pêrel waaroor jy so pynlik waak
Dit is so ’n pynlike aanslag dat hy sy oë instinktief toeknyp, maar toe maak hy sy keel skoon en praat verder.
“Sy het my gehelp met my verwarde seksualiteit toe ek hoor my pa is gay, die rede waarom hy van my ma weg is toe ek sewe was. Sy het my getroos toe een van die mans, wat vir ons ekstra les gegee het en my vriend geword het, in ’n ongeluk dood is. Sy was daar vir my toe my ma in daardie selfde tyd weer getroud is. Sy was die hele tyd vir my daar. Toe al hierdie dinge gelyktydig met my gebeur het. En ek het geglo dat sy my ook liefhet …”
Rivkah sê niks nie, maar toe hy opkyk, is haar oë nog steeds op hom. Rustige, donker oë.
“Dit was juis in die tyd toe ek naakmodelle moes begin teken. Dit was vir my’n skok. Sy het my dit te bowe help kom. Ek weet vandag ek het begin glo dat sy altyd daar sou wees, vir my om aan vas te hou.” Rivkah knik.
“Maar op ’n dag het ek agtergekom dat sy …” hy sluk swaar, “dat sy wat vir my gesê het dat sy nooit vir ’n naakstudie sou poseer nie, al die tyd vir die ander onderwyser geposeer het. Dat sy seksueel by hom betrokke was …”
Rivkah raak met haar voorvinger gerusstellend aan sy gevuisde hand wat op die tafel lê. Maar hy kyk nie na haar nie. Hy worstel met die huil wat warm in sy keel kom sit. Maar hy moet tog later die trane uit sy gesig wegvee en sy neus blaas. En al die tyd sê sy niks nie. Toe eers kyk hy na haar, glimlag bewerig.
“Dankie dat jy my vertel het,” sê sy eenvoudig.
“Ná skool was ek ’n jaar of wat in Suid-Afrika op universiteit, maar ek kon nie koers kry nie. Nicola was ook daar en ek kon dit nie verwerk nie. Ek het opgeskop. Toe al wou ek Israel toe kom om na Baruch se mense te kom soek.”
“Baruch?” vra sy geïnteresseerd.
“Dit was die universiteitdosent en vriend van my wat in ’n motorfietsongeluk gesterf het. Ek het hom kort geken, maar hy het ’n groot leegheid in my agtergelaat. Nou besef ek dat dit die Joodsheid in my was wat na sy Joodsheid uitgereik het.”
“O ja, jy het my nou die aand iets van hom vertel.”
Marc knik. “By hom het ek die eerste keer die naam Yeshua gehoor. Hy het ook vir my die Sh’ma gesing. Ek sal nooit die uitdrukking op sy gesig vergeet nie. Ken jy dit?”
Sy maak haar oë ’n oomblik lank toe en haar mond word wonderlik sag voordat sy sê: “Marc, elke, elke Jood ken die Sh’ma. Dis …”
Haar diepe emosie ontroer hom geweldig. “Sing dit vir my,” vra hy.
Sy aarsel ’n oomblik, maar toe sing sy baie sag: “Sh’ma Yisra’el Adonai Eloheinu, Adonai Echad. Baruch shem kavod malchuto l’olam va’ed.”
Dis vir hom asof hy weer saam met Baruch in die sonverligte ateljee is waar dit na olieverf en klei en terpentyn ruik. Weer saam Nicola onder die bome in die tuin sit. En Simon wat oor die herfsblare na hulle toe aangeloop kom met die doodstyding van Baruch op sy gesig. Hy ril.
Sy raak weer aan sy vingers en hy sluit ’n oomblik hare instinktief in syne toe. Hy sluk sy trane weg en hul oë hou mekaar ’n paar oomblikke vas.
Die geurige kos word voor hulle neergesit en hulle bly ’n rukkie daarmee besig. Sodat albei weer kalmer praat.
“En jy, Rivkah, het jy ook al baie liefgehad?”
Sy skud haar kop. “Miskien nie heeltemal so lief soos jy nie. Ek weet nie seker nie. Maar ek het ’n baie dierbare vriend gehad. Van skooldae af. Daar was tussen ons so ’n stil soort veilige gevoel van weet dit word wel meer as vriendskap en dit sal goed vir ons wees. Maar hy is reg aan die begin van die Intifada in Oktober 2000 in