Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon
buurt in bloupers halfduister en dan in goudbruin lig. Haar hande bewe liggies en eindelik kyk sy op. “Dis … so mooi, Marc. Wat het daar gebeur?” vra sy.
“Ek het gesit en teken,” hy knik na die boek in haar hande, “en toe was daar meteens die man langs my. Ek het hom nooit hoor kom nie. Hy’t … net daar gestaan. ’n Ortodokse Jood, swart broek en baadjie, effense baard,” hy beduie na sy ken, “kippah, swart krulhare. Toe praat hy oor die stad. Wonderlike, poëtiese woorde. Dit was asof hulle direk uit die Bybel kom, al het ek hulle nie geken nie. Dit het daaroor gegaan dat Jerusalem God se stad is, sy ewige woonplek … Dat daar groot seën op die stad wag, op die hele land, Israel. Hy het gesê dat God sy volk se sonde sal vergewe en dat Hy vir ewig op Sion sal woon. Daar was so ’n … lig in sy gesig soos ek nog nooit gesien het nie. Ek kan nie alles onthou wat hy gesê het nie, maar dis asof die woorde en die klank van sy stem in my agtergebly het.”
“Is dit al wat hy gesê het?” vra sy, asof sy weet daar was meer.
Eintlik wou hy nie meer sê nie, maar hy kan ook nie stilbly oor die man nie. “Ek … het hom oor Jesus gevra. Ek weet self nie hoekom ek ’n duidelik Ortodokse man oor Jesus gevra het nie, dit het net gebeur. Sy woorde het my so diep geraak … Dit was so onwerklik.”
“Wat het hy oor Jesus gesê?”
“Oor Hóm het die man ’n teks aangehaal wat ek al baie gehoor het. Met Kersfees altyd. ’n Seun is vir ons gebore. ’n Seun is aan ons gegee. Hy sal Vredevors genoem word, Ewige Vader … of so iets. Hy het Hebreeuse woorde gebruik vir dié name, maar omdat ek die teks nogal ken, het ek dit verstaan.”
“Ja?” vra sy gretig.
“Hy het Hom ook Yeshua genoem. Meer na Yáshua geklink.” Sy knik. “Seun van Dawid … na Ben Dawied het dit geklink. Hy het Hom ook Sar Shalom genoem …?”
Sy knik weer bevestigend. “Sar Shalom. Prins van Vrede.” Haar oë blink van trane.
“Dat daar aan sy koninkryk geen einde sal wees nie, het hy gesê.”
“Dan was dit ’n Messiaanse Jood.”
“Hy was soos ’n Ortodokse aangetrek, baard en al. En …”
“Wat?”
“Om die een of ander rede het hy my naam geken.”
“Hy het jou náám geken?”
Marc knik. “Ek het eers ná die tyd besef dat hy my op my naam genoem het. En nog iets baie eienaardigs …”
Sy wag met ingehoue asem.
“Hy het net eenvoudig verdwyn. Een oomblik was hy daar en toe ek weer kyk, was hy weg.”
Sy steek haar arms uit en hy kom na haar toe en sy vou hom styf daarin toe.
Hulle sit vir ’n ruk so voordat hy skaamweg fluister: “Was dit ’n engel?”
“Ek dink so. As jy luister na wat hy gesê het, Marc,” sê sy dringend.
Sy laat hom nie gaan nie en hy voel die sagte klop van haar hart teen sy bors. Soos Rivkah die aand onder die sambreel.
“Ruwth …” sê hy byna onhoorbaar sag.
“Wat, my lief?”
“Ek het Rivkah liefgekry.”
Haar arms sluit stywer om hom. “Mi Kamocha Adonai!”
“Wat?” vra hy onseker.
“Mi Kamocha Adonai, Here, wie is soos U?”
Teen die aand ry Marc en Ruwth na Shoshana se huis in Gilo om saam met hulle te eet. Die atmosfeer is droef. Niemand weet wat presies om te verwag ná Sharon se verklaring nie. Hulle hoor dat twintig duisend reserviste opgeroep is en verstaan Ofer en David en Rivkah se skielike verdwynings beter.
“Ons leër van pa’s en seuns,” sug Ruwth. “My buurman vertel my vanoggend dat hy in die 1967-oorlog geveg het. Hy het Yerushalayim onder Ariel Sharon en Moshe Dayan help bevry. Sy seun het in die Yom Kippurgevegte op die Golanhoogland gesterf en nou is drie van sy kleinseuns in hierdie Pesach-oorlog betrokke.”
Shoshana is onseker oor wat omtrent Binyamin se voorgenome Bar Mitzvah op Donderdag gedoen moet word.
Toe hulle laataand terugry huis toe, sien hulle die rye tenks en ander militêre voertuie wat wag om Betlehem binne te gaan. Dis asof die hele nag van die geluid van hulle motore vibreer. Dit reën sonder ophou. Marc word yskoud toe hy drie ambulanse sien staan. Sou Rivkah daar wees? Hoe kan hy ooit weet? Hy voel magteloos na sy selfoon, al weet hy dis onmoontlik om met haar kontak te maak.
Heelnag deur hoor hy vliegtuie oor die stad dreun. ’n Geluid wat hy nog nooit tevore gehoor het nie. Dit vervul hom opnuut met vrees vir Rivkah se veiligheid.
“Wees met haar, wees met haar!” bly hy pleit. Hy sien haar tenger figuurtjie in die groen uniform en koeëlvaste jekker, die baadjie met die pelskraag teen haar gesig opgeslaan, die donker oë onder die baret, die geweer teen haar rug.
“O, God,” kreun hy. “Moet háár nie ook neem nie.”
Hy vergeet om vir sy ma te skryf, vergeet van sy dagboek. Hy teken verwoed in sy sketsboek. Al sy vrese en al sy hoop. Hy teken die jong rabbi op die muur. Weer en weer. Die lig in sy gesig. Hy huil terwyl hy teken.
Dinsdag hoor hy niks van Rivkah nie. Dit reën onafgebroke. Iemand sê dat dit die eerste keer sedert die 1967-oorlog is dat dit in April met Pesach reën en hael. Die aand sien hulle op televisie dat Palestynse terroriste die Geboortekerk in Betlehem beset het. Altesame twee honderd en vyftig gewapende Palestyne het die uitgestrekte kompleks binnegeval en hou twee honderd mense as gyselaars aan.
“Duiwelse slim set van Hamas.” Ruwth skud haar kop. “Nou kan die hele wêreld, ook die Christelike kerk, Israel verantwoordelik hou as daar bloed vergiet word op wat hulle as een van die heiligste plekke beskou.”
Woensdag daag Ofer onverwags daar op. Deels om sy vrou en sy ma te probeer gerusstel en deels om te sê dat hulle wel Donderdag met Bibi se Bar Mitzvah sal voortgaan. Hy sal die paar uur kan vry kry. Dit kan nie uitgestel word nie. Alles is reeds gereël.
Vir Marc is dit ’n welkome verligting om weer ’n man in die huis te hê, al is dit net vir ’n kort rukkie. Ofer, in sy uniform met die offisierskentekens, stel hom op ’n vreemde manier gerus.
“Kyk,” sê hy, en sug, “julle gaan baie verskillende menings hoor oor wat Israel se leër in dié dae doen. Miskien selfs in ons eie media, maar veral oor CNN en SKY. Probeer rasioneel dink. Sharon het Arafat tot vyand verklaar en gesê ons gaan die terroristeneste, veral dié in en om Jerusalem, uitwis. Ons opdrag is om die terroristenetwerk in die Arabiese stede en dorpe te vernietig. Die teikens is duidelik aan ons gestel: dié wat gewapen is en dié wat óns probeer doodmaak. Ons moet niemand seermaak wat nie by terreur betrokke is nie. Ons moet ons Tzelem Enosh respekteer. Dis ons respek vir onskuldige menselewens,” verduidelik hy vir Marc. “Daar is niks onduidelik omtrent die opdragte nie.”
Hy huiwer ’n oomblik, meet sy ma se krag, kyk vlugtig na Marc, want hy weet nou van Rivkah, en gaan toe voort: “Dit is gevaarlike werk. Lewensgevaarlik. Dit moet julle verstaan. In plaas daarvan om vanuit helikopters en bewapende skepe op bewoonde gebiede te skiet soos Amerika in Afghanistan gemaak het, het die generaals en bevelvoerders opdrag gegee dat die soldate te voet ingaan. Julle kan dink hoe kwesbaar dit hulle maak in nou straatjies waar motors geparkeer staan en waar baie van die huise met fopmyne toegerus is. Waar selfmoordbomplanters in huise skuil en hulself laat ontplof sodra die soldate inkom. Ja? Waar skerpskutters op die platdakke van huise wegkruip en ’n uitstekende uitsig op die manne het as hulle in die strate afkom en nie skuilplek het nie …”
Hy sien sy ma verbleek en hy staan op en lê sy hand vertroostend op haar skouer. “Ek is jammer, Mamma, maar jy was nog altyd een wat die waarheid wil weet. Ek kan dit nie vir jou sagter maak as wat dit is nie.”
Sy vee moeg oor haar oë. “Het Adonai ons dan teruggebring sodat ons hier