Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon
fokus kom. Hy kyk weer na die tekening van die gefolterde man. Selfs hy moet na asem snak. Sy stem slaan deur toe hy praat.
“As Hy die Seun van God was, sou Hy Homself nooit so laat verneder het nie. Geen God sou dit toegelaat het nie. Koning van die Jode! Nooit!”
Bokant hulle in die strate van die Ou Stad galm meteens die stem van die muezzin wat die getroues tot gebed oproep. Ruwth antwoord hom nie. Sy slaan haar arm styf om sy skouers wat van emosie ruk en soen hom in sy donker hare, presies soos dié van die Man wat hy geteken het.
Hy protesteer nie toe sy die boek by hom neem en met bewende vingers daarin begin terugblaai nie. Sy kyk geskok na die sketse van die geseling, want die gesig van die man is duidelik dié van Marc self. Sy kyk vlugtig na hom en besef dat hy nie weet wat hy gedoen het nie. “Baruch HaShem Adonai,” prewel sy.
“Wil jy nie asseblief hierdie twee tekeninge vir my gee nie, Marc?”
Hy voel te moeg en natgesweet om verder te praat. Hy knik net en skeur die twee bladsye uit en gee dit vir haar.
Die geroep van die muezzin weerklink nou ook deur die ondergrondse kerker en sy neem Marc aan die arm. “Kom,” sê sy, “ons moet gaan. Dit is nou-nou donker.”
Sy help hom inpak. Hy is wit in die gesig en sy oë donker sodat sy skrik. “Ons gaan eers gou by Abu Shanab koffie drink.”
Buite merk hulle heelwat soldate in groepies staan. Te midde van die gebulder uit die minaret stap hulle met die keisteenstraatjie langs na die restaurant en gaan dankbaar uit die reën na binne. Eers nadat hy ’n koppie sterk koffie gedrink het, kom daar weer kleur in Marc se gesig. Wyslik verwys Ruwth nie na wat nou net by Gábbata gebeur het nie. Sy stel voor dat hulle na die Olyfberg ry waar ’n mens ’n pragtige uitsig oor die Ou Stad het wanneer die son ondergaan.
“Hiervan moet jy ’n foto neem,” sê sy.
Hy glimlag effens meer ontspanne. “Ek moet weer films koop, myne is amper gedaan.”
“Môre is alles weer oop.”
Toe hulle in die Joodse begraafplaas teen die Olyfberg staan, slaan hulle albei hul krae hoog op teen die snerpende windjie. Maar dit het opgehou reën en die stad lê roospienk voor hulle. Die koepel van die Omar-moskee glim in die laaste lig. Instinktief lig Ruwth haar hande in ’n seëngebed, terwyl haar gesig nat word van die trane. “Adonai, Elohim Tzva’ot, seën u heilige stad, seën die plek waar die voete van HaMashiach sal staan, beskerm Yerushalayim vannag, o Ewige.”
Marc beaam haar gebed in sy hart.
“Dit is Oos-Jerusalem,” sê sy, “die gedeelte waarop die Palestyne hul oog het as hulle sê hulle wil die helfte van die stad hê.” Hy knik, kyk na die ongelooflike kleure. Sy kamera klik en klik. Hy stel die telefotolens versigtig in, want hy wil nooit vergeet wat hy nou sien nie. Die son sak en die stad gloei goud.
“Wonderlik, wonderlik,” fluister hy.
“Marc,” bring Ruwth hom terug na die werklikheid, “ons moet gaan, dit word nou erg gevaarlik. Shabbat is aan die uitloop en dis die tyd wanneer die meeste aanvalle plaasvind. Daarom sien jy oral soldate.”
Hulle moet deur ’n Arabiese gebied terugry. Ruwth ry stadig, behoedsaam tussen die baie jong Arabiese mans deur wat in die nou straatjies saamdrom. Marc is opnuut verbaas oor haar moed. Regoor die vinnig donker wordende Jerusalem kan hulle die blou ligte van polisie- en weermagvoertuie sien blink.
“Troos u volk, o Adonai,” hoor hy Ruwth saggies bid. “Wees by David en by Rivkah en haar broer waar hulle hul ook al op hierdie oomblik mag bevind.”
Baie later die aand, nadat Marc lank in sy kamer met sy sketsboek besig was, gaan soek hy na Ruwth. ’n Verskriklike vrees oor Rivkah se veiligheid het hom skielik beetgepak.
Hy kry haar in die studeerkamer waar sy voor die rekenaar sit. Sy draai om toe sy hom hoor inkom en hou haar hand na hom toe uit. “Jy’s yskoud,” sê sy toe sy sy hand in hare voel. “Kom, ek gaan maak vir ons tee, en daar’s nog Shabbat-koek ook.”
“Wat doen jy?” vra hy sag.
Sy sug effens. “Ek skryf elke dag vir jou ma ’n e-pos. Daar is soveel wat ek vir haar wil sê …”
“Reageer sy?”
Sy skud haar kop. “Nog nie. Maar sewe en veertig jaar is ’n baie lang tyd.”
Toe hulle deur die woonkamer na die kombuis toe loop, skakel Ruwth die televisie aan. Hulle steek onmiddellik in hul spore vas toe hulle die aankondiger se stemtoon hoor.
Dit neem nie lank voordat hulle die besonderhede het nie. Vier en dertig mense is gewond toe ’n mensbom homself om halftien in ’n volgepakte kafee in Tel Aviv opgeblaas het.
“Dis die derde soortgelyke aanval binne vier dae,” merk die leser somber op. “Die al-Aksa-brigade het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Moehanan Ibrahim Salahat, drie en twintig, van Nablus het My Coffee Shop op die hoek van King George- en Allenbystraat binnegestap en die plofstof wat aan hom vasgemaak was, laat ontplof.”
Marc en Ruwth kyk verslae na die beeldmateriaal van die eens gesellige restaurant. Die ontploffing het die vensters en ’n gedeelte van die dak weggeskiet. Oral lê tafels en stoele gestrooi, terwyl die geluid van dansmusiek nog gehoor kan word.
“Een persoon is in ’n kritieke toestand,” gaan die somber stem voort, “en daar word op vier ander op die oomblik in die Inclov-hospitaal in Tel Aviv geopereer.”
’n Geskokte David Tishbi sê hy het soos gewoonlik dié Saterdagaand buite die kafee by ’n tafeltjie gesit. “Skielik was daar ’n geweldige ontploffing. ’n Bol vuur en rook het in die lug gehang, en oral was glasskerwe.”
Tishbi, wat deur die glas lig gewond is, vertel dat sy pa sewe jaar gelede in ’n terroriste-aanval op ’n voorstedelike bus gesterf het. “Ek verlaat die land, ek wil nie meer hier bly nie,” sê hy.
Etti Shabar, sewentien, wat in ’n kafee daar naby werk, sê sy en haar vriendin het dadelik buitentoe gehardloop toe sy die ontploffing hoor. “Ons het die geweldige slag gehoor. Alles om ons was vol rook. Ons het gewonde mense om hulp hoor roep, hulle het op die grond tussen die tafels gelê. Daar was bloed orals. Mense het histeries begin hardloop en gil.”
Shlomo Aharonisky, inspekteur-generaal van polisie, kom in beeld en sê hy verwag nie dat daar ’n einde aan die Palestynse aanvalle gaan kom nie. “Ons verwag nog baie meer bomaanvalle en ons stasioneer ons magte so goed as moontlik.”
Hulle is nog voor die televisiestel toe die telefoon lui. Marc sien hoe Ruwth spierwit word, maar haar stem is kalm toe sy antwoord.
Dit is Shoshana wat laat weet dat Ofer ook opgeroep is.
Jy, Jesus, ek sien hulle noem Jou Sar Shalom, Prins van Vrede – maar ek sien nie ’n spoor van jou vrede nie, hier in die land waarheen ek hoor dat Jy terugkom. Jou lyding … ek verstaan nie jou lyding nie. Waarvoor was dit, watse genesing het dit gebring? Moet mense soos Rivkah en Re’uven en David en Ofer daarvoor geoffer word? Was jou offer nie groot genoeg nie. Rivkah. Rivkah. Rivkah. O, God, waar is Rivkah vanaand? Sal alles wat ek liefkry dan altyd verdwyn? Waar is die God van Israel? Sh’ma Yisra’el!
En my ma? Wil sy Mara bly? Wil sy bitter bly?
Nege
Sondagmôre laai Ruwth hom op sy versoek by die Sionspoort af sodat hy deur die Joodse buurt self sy weg na die Kotel kan vind. Hy is nie gerus oor haar nie, want sy ry alleen Netanya toe vir haar twee vriende se begrafnis. Met Ofer sowel as David opgeroep, het sy nie gedink ’n begrafnis van bomslagoffers was die beste plek om Shoshana en Binyamin heen te neem nie. Hulle hou mekaar styf vas toe hulle by die poort afskeid neem en sy bid saggies die beskerming van Adonai oor hulle albei.
Voordat hy uit die motor klim, raak sy aan die kippah wat hy nou gereeld dra. “My langverlore kleinseun, God seën jou!” sê sy sag.
Dis steeds baie koud en af en toe sak daar swaar buie