Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck
in my mond.
Op die strand plooi ek my neusie terwyl ek my ma en haar sussie in die see dophou. Ek’s bang my ma raak weg. My ma swem diep. Ek soek benoud op die blink weerkaatsing van die water tot haar donker kop weer te voorskyn kom.
My tannie en my ma kom uitasem op die strand aangedraf en plons neer op die handdoeke langs ons. Eers van naderby sien mens die verskil tussen hulle. My tannie, wat langer is, het los hare, nog langer as my ma s’n. Sy klik haar tong geïrriteerd. Iemand het weer agter hulle aan gefluit. Dan lag sy.
Ek’s kwaad. Ek sien hoe ooms hulle agternakyk en tannies aan die arms van hul oopbek mans pluk. As Pa hier was, sou sy lont ook gerook het. Teen dié tyd het ek ’n gat met my hak in die sand geskop. Ek voel vies vir my ma as mense haar so beloer.
My tannie sê sy kan hoor ons kom van die plaas af, want ons praat plat.
Ek wil hê my ma moet vir my tannie sê ons woon mos nie op ’n plaas in Suidwes nie, maar op ’n plot tussen klipkoppies. En ons het perde.
“Koevoet het vir Pa gegooi,” vertel ek vir my tannie.
Sy en my ma lê op hul rûe en sonbrand. Hulle gesels met mekaar onder die hoede oor hul gesigte. Soms praat hulle so sag dat ek en Meidemeidjie nie kan hoor nie en dan giggel hulle oor goed wat ons nie verstaan nie.
“Toe sing my pa,” sê ek.
“Sing?” vra my tannie verbaas. Sy haal haar hoed van haar gesig af.
“Ja, want daar was bloed aan Pa se kop – hier agter,” beduie ek. “En Ma het gegril vir die bloed en toe galop sy weg en toe bly lê my pa daar op die grond in die veld.”
“Toema’, ek’s seker jou pappa kon goed na homself kyk. Kom Tannie smeer sonbrandmiddel aan jou skouertjies.”
“Hy’t gesing ‘Die donkie is ’n wonderlike ding’. As ek my hand in sy hare sit, kan ek die sny nog voel.”
My ma en my tannie se hare lyk amper so blinkswart en steil soos Koevoet se stert en maanhare wanneer dit mooi gewas en uitgekam is. Ma maak haar hare met groot knypers op haar kop vas wanneer hulle sonbrandmiddel aan mekaar smeer waar hulle self nie kan bykom nie. Hulle ruik na Coppertone. Ek spartel sodra hulle probeer om daai taai goed aan my te smeer.
Voor ons vanoggend strand toe gestap het, het die twee sussies beurte gemaak voor ’n lang slaapkamerspieël om oor die skouer na hul sitvlakke en bene te kyk.
“Sjoe, maar ek’s vet!” vat ek aan my bobeen en aap hulle na. Ek’s vyf of ses jaar oud.
Hulle skaterlag. “Sê weer?”
“Ek is só vet!” herhaal ek my vertoninkie.
Ma se swart bikini het goue ringe wat die agter- en voorpante op haar heupe en tussen haar borste bymekaar hou. Ek’s oortuig dat sy die allerpragtigste fee is en al het ander feetjies dalk vlerke, is my ma steeds die heel mooiste. Sy kan wel nie vlieg nie, maar sy kan op ’n sterk perd ry sodat my ouma sommer van ontsteltenis op Ou Vicks skree om whiskey stoep toe te bring. Glas in die een hand, haal my ouma dan gewoonlik haar rugkrapper uit haar groot handsak en sit daarmee en piets-piets tot my ma weer met die perd terugkom.
“Ek’t al gedink daai ouvrou sy gat daai krapstok van haar byt en opeet so kwaad sy is,” het Ou Vicks later vir Ma vertel wat sy deur die stoepvensters kon sien. Hulle het lekker gelag vir dié prentjie.
Maar daar’s goed wat my ma se lag laat opdroog. Soos die Selluliete. Ek weet nie of hulle familie van die Israeliete is nie, maar hulle kan my ma omkrap. Hulle kan haar binne minute laat huil en haar haar klere uit haar kas laat pluk en rondgooi. Ek lei af hulle is vinnige etters, want teen die tyd dat ek kom kyk hoekom my ma so aangaan, is hulle al skoonveld.
Hoe hulle vir Ma boodskappe stuur, kan ek nie agterkom nie, maar hulle slaan graag toe nes ons êrens heen wil gaan. Veral strand toe. Dis hoekom ek Ma se Bybel met tou vasgebind het, net ingeval hulle dalk saam met die Israeliete in die Woord woon. Oupa vertel die Woord is lewend, maar hoe suutjies ek dit ook al bekruip en blitsig oopslaan, ek kan niemand betrap nie.
Pleks Pa die verdomde goed voorlê en skiet.
Ma skrik nie maklik nie, maar die Selluliete jaag haar duidelik op hol.
“Wil jy en Meidemeidjie in die water gaan speel?” vra my ma.
Ek bly met my tannie oor my skouer gesels terwyl Ma my aan die hand water toe lei: “Gister het my pa ’n oom met ’n snor geklap. Toe val daai man hard. Van die tweede verdieping af. Want hy het ook vir Ma gefluit.”
“Genade!” My tannie kyk ons vraend agterna.
Die vorige dag het my ma ook haar swart bikini saam met ’n lang strandhemp aangehad toe my pa bedônnerd geraak het.
Ma en ek het aangekom na waar Pa in die kar gewag het. Oorkant die pad was ’n bouperseel waar mense aan die werk was. Teen die tyd dat ons die fluite hoor, het Pa reeds in die oop sementgebou gestaan. Ons kon nie glo hoe vinnig Pa alleen tot daarbo gekom het nie.
“Moenie!” het my ma gegil, maar dit was te laat.
Ná ’n enkele swaai van my pa se vuis het iemand gevloek, toe sien ons net arms en bene soos ’n bouer in die lug inslinger en die grond tref. Doef! Dit het gelyk of hy eers in die lug bly hang. Pa was lief om floaters te gee.
“Mamma het hard geskree en haar hande oor haar gesig gesit,” wys ek vir my tannie.
Die ander bouers op die tweede verdieping het eers net daar bly staan en afkyk voordat hulle verwoed begin skree het.
Ma ruk toe die kardeur oop en tel my haastig in.
“Pappa! Kom ons ry!” het ek angstig teen die ruit gekerm vir hom om dit betyds terug tot by die kar te maak.
In die kar was my ouers stil. My ma het oorgeklim agtertoe en my vasgehou. Sy het net gesnuif.
“Is jy lus vir ’n Fanta float?” vra Pa. Hy kyk in die spieëltjie.
“Ek is, ja.”
Pa kon alles altyd beter maak.
My tannie sê niks nie. “Vandag is ons lekker hier by die see,” maak my ma my stil. “Ons moet dit geniet, want môre ry ons weer terug Windhoek toe waar ons baie warm kry en na die koel water gaan verlang.”
Ek kyk na ’n hardlywige hond wat geboë sy draai bo-op ’n stuk bamboes loop. Soms voel ek spyt nadat ek oor iets gepraat het. Pleks ek net stilbly.
As jou mond vol is, kan jy nie so maklik praat nie.
Al die pad terug Suidwes toe dink ek nog aan wat gebeur het, al sê ek niks meer nie. Maar as ek my oupa en ouma weer sien, gaan ek vir hulle álles vertel. Ook van die see. Dat ek liewers nooit weer saam met my ma en pa soontoe wil gaan nie, net saam met húlle. Oupa en Ouma. Meidemeidjie kan ook weer saamkom. Ma het vir ons eenderse swembroeke gekoop, al is Meidemeidjie heelwat ouer as ek. Sy is fyntjies gebou. Ma hou daarvan om haar te druk. Sy is ook nie bang vir hottentotsgotte of sprinkane soos ek nie. Net vir Ondier en vir verkleurmannetjies.
Dwar!
Dit is hul teken om op te hou werk. Die man vlieg op en kyk by die beskutte venster van sy opslaankantoor uit.
“Bring hom hier!” roep hy. Die sekondes wat die deur oop is, is dit asof hy sy kop by ’n venstertjie van die hel ingedruk het. Hy voel hoe sy hare inmekaar krul asof hulle van ’n blaasvlam wegskram.
Die arbeidswet van dié Arabiese land vereis dat werk gestaak moet word wanneer die temperatuur 45 grade bereik, maar omdat die kontrakteurs en arbeiders hier manies gedrewe is, ignoreer almal die werklike temperatuur. Vroeër, toe hy nog nie die ongesproke reëls van die bedryf hier geken het nie, het hy sy werkers probeer keer, maar dit het amper ’n opstand veroorsaak. Intussen het hy geleer dat alvorens hy ’n kontrak in ’n onbekende land aanvaar, hy hom deeglik van daardie kultuur se denke oor outoriteit, werk en geld moet vergewis. Kom jy met jou eie vooropgestelde idees