Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck
se geskiedenis word.
“Dit was ’n verskriklike ontnugtering vir ouma Okahandja-hulle. Daai oupa van jou het nog gelewe. Jy sou gaande oor hom gewees het. Die tipe man wat soveel respek afgedwing het dat hy altyd ‘Meneer’ genoem is. ’n Sagte, maar besliste man. Ek dink jou pa het na hom geaard, maar het vinnig geleer mens moet ’n sagte hart wegsteek as jy wil oorleef.”
Ek sukkel om my s0 ’n oupa as die man van my ouma voor te stel. Oupa Koos met pinkiering, hoed, baard en blou oë wat iemand sy leuens so regop staan laat sluk het. ’n Man wat een stel spore getrap het, het ouma Okahandja altyd gesê.
“Ek’s spyt jy en sussie het nooit daardie oupa geken nie, maar terselfdertyd ook bly hy’s vroeg oorlede. Dat hy nie hoef te gesien het wat als later gebeur het nie.”
My ma draai aan haar hare. Dis jare gelede al kort geknip.
“As jou oupa nog gelewe het, sou jou pa se lewe anders uitgedraai het. Dit kan ek jou sê. Van die goed wat jou pa aangevang het, was uit pure smart en frustrasie.”
Ná die skorsing het my pa sy eie restaurant op Stellenbosch oopgemaak. “Jou pa het so uitbundig gelewe dat dit aansteeklik was. Dit het seker te doen gehad met daai ysters wat van sy bene en lyf af was. Al was hy gestremd, was hy toe uiteindelik vry om te beweeg soos hy wil. Hy het net só ’n charismatiese persoonlikheid gehad. En slim. Skerpslim, en natuurlik het hy mense laat lag. En weer op ander se tone getrap. Waar hy was, het ’n vrolike groep altyd om hom saamgedrom. Daardie tyd het die meeste studente glad nie gedrink nie en alles wat hulle aangevang het, was nugter kattekwaad. Nie soos dit later gegaan het nie.”
Ek het my ma se gesig fronsend bestudeer. Nie een van my ouers maak dan kos nie? “Ma het my nooit vertel julle het ’n restaurant gehad nie. Hoe kon Ma studeer én ’n besigheid behartig met ’n baba?”
Wolke het op die horison begin saampof en het donker op die see weerkaats. Ek en Ma hou albei van onstuimige water, maar nie wanneer dit rooigety is nie.
“Ek het jou saamgevat klas toe. In een van daai outydse stootkarretjies met die groot wiele en oorslaankappies. Navy-blou-en-wit. Pragtig. Ek moes dit nooit weggegee het nie, maar nou ja …”
Haar stem raak weg. Net toe ek dink ek moet gaan koffie maak dat my ma nie weer in hartseer verval nie, vertel sy verder: “Jy was stroopsoet. Dankie tog, want toe jou sussie kom, moes ek my storie ken, hoor!” lag sy. “Jy het byna nooit gehuil nie en het net alles om jou dopgehou terwyl jy jou duim suig. Partykeer het my een lektor jou op sy heup gehou sodat ek kon notas maak. Omdat jy so maklik was, kon amper enigeen jou vashou. Jy het jou nooit teëgesit nie. As ek van my skryfwerk af opkyk, is die stootkarretjie langs my leeg en sit een van my klasmaats jou en wieg. Jy het net altyd tjoepstil gewag tot ek jou weer kon vat.”
Gewag.
Dié woord slaan soos ’n Tibettaanse ghong iewers in my.
Ma vertel hoe my pa sy vriende ontvang het by die restaurant, wat ’n populêre kuierplek geword het. “In De Akker was daar altyd een of ander debat, maar hulle het ook graag spontaan musiek gemaak.” My pa het glo die naam gekies omdat ’n akker ’n simbool is van groei en onbeperkte potensiaal. “Ons het niks geld gemaak nie, want jou pa het al sy vriende verniet laat eet. Ek weet nie hoeveel mixed grills ek gemaak het nie. Dit het gevoel of my hare nooit nié na ou olie ruik nie.”
My ma lig een van die woordeboeke waarvoor sy so lief is van die stapel langs haar op. “Dié een kom nog uit my studentedae. Oupa-hulle het net sóveel geld gehad vir my om te studeer en toe ek my oë uitvee, het jou pa vir hom ’n perd daarmee gekoop. Nou ja, toe kom ons maar terug Windhoek toe.”
My wenkbroue skiet op: “’n Perd! Was dit Koevoet?”
Ma blaai deur die woordeboek. “Nee, daai perd is lankal oorlede. Jou pa moes hom in elk geval weer verkoop het om ander skuld te dek. Als was chaoties. Ek kan nie onthou nie.”
Sy help ’n by na die oop venster. Soggens vroeg gaan my ma eers na die voëlbak in haar tuin kyk of daar dalk bye ingeval het wat gered moet word.
Die vensters is nou nat van die seesproei. Die lug is donkerder en die water lyk soos ’n diep streep net voor die afgrond waar ’n tektoniese plaat eindig.
“Ná die perdkopery het Oupa jou kom haal. Hy was so ontsteld oor ek my studies moes opskop en dat sy spaargeldjies vir ’n perd gebruik is dat hy nie self wou bestuur nie. Ben Dekker het hom en Ouma gebring om jou te kom vat totdat ek en jou pa weer op die been was.”
Die ghong in my slaan weer. My ore suis. Dit lui en lui.
Ek kan nie glo wat ek hoor nie. “Sê Ma dat Gaitsigubib my as baba kom haal het?” Ben Dekker het dié rol van Gaitsigubib in Die vlakte duskant Hebron gespeel toe ek nog op skool was. “Oom Ben” het glo daai tyd by een van ma se susters vlerk gesleep. Dis bisar.
“Hoe was dit vir Ma?”
Ma trap van die tafel tot op die vensterbank en trek haarself orent. Sy staan vollengte in die lang venster en klim uit na buite. “Gee sommer gou daardie handdoek oor die stoel aan, asseblief? Dat ek net bietjie hier kan afvee. Die see is so grou en lieflik. Mens wil dit darem sien.”
Ma kyk van buite af deur die ruit se souterige waas. Ek gaan haal koerantpapier en Windolene. Verlatenheid oorval my. My vel kriewel. Ek hoor goed omtrent my kinderlewe wat ek nie geweet het nie. Miskien moet ek nie meer vrae vra nie.
“Ek was ontroosbaar,” vertel my ma. “Ek kon net nie sonder jou regkom nie. Toe gaan haal ons jou weer ná ’n paar maande.” Sy klim terug en maak die venster agter haar toe. Die wind het gedraai en is koud.
“Het ek nie daarna wéér by Oupa-hulle gebly nie?” onthou ek skielik. “Toe Ma deur ’n Harley Davidson omgery is nie?”
“O ja,” sug sy. “Dít ook nog. Ek was haastig en het in Windhoek se middestad by ’n verkeerslig tussen die karre deurgeloop. Oorkant waar die Mainliner-bus vandag parkeer. Ek was seker ingedagte omdat als so deurmekaar was. Wel, toe kom ’n man op ’n motorfiets tussen die karre deurgevleg en stamp my om. Hy is bo-oor my bobene. Albei.”
Ek fluit. “Siestog, Ma! En toe?”
“Ouma-hulle moes jou toe wéér kom haal, omdat ek in die hospitaal was. Maar ek wil nie meer daaraan dink nie.”
“My heart goes boom-boom-boom,” roep ek die stem van Eric Burdon van The Animals op. My binneste probeer al hoe harder sing en van karakter tot karakter spring. Ek wil liewers na Rango oorslaan. Of na die gawe Tintin wat alles kan vat. Wie sal my red dat ek nie hier voor my ma staan en daar ’n woedende tornado in my vorm aanneem vir die gerondmors van my kindertyd nie? Heng! En dié mense verwag van my om normaal uit te draai en ’n konstante gewig te behou? Dit stoei om die gesig van die blonde dogter na buite op my gesig te kry. Die verbode blondine. My suster se kodewoord vir my fasade.
“Ek blameer jou nie, Ma. Dis maar net die lewe. Dit gebeur. En ek is oukei,” sê Rango, maar sy een oog trek.
Al bibber ek binne en wens ek iemand wil net my naaktheid wegneem, voel ek tog die ruit tussen my en Ma is skoner as voorheen.
Ek onthou dit nie, maar van foto’s af weet ek dat my ma-hulle my eens op Calvinia kom haal en saam na Bloubergstrand in die Kaap gevat het. Op die foto’s sit ek en Meidemeidjie saam op die sand. Ons frons albei, asof daar ’n verblindende lig op ons skyn. Op die agtergrond kan jy Tafelberg sien en van die ander foto’s wys weer die Blue Peter Hotel.
Ek en Meidemeidjie het nog nooit vantevore die see gesien nie. Sy lyk of iemand die son met ’n blikbord in haar gesig weerkaats. Meidemeidjie is verwonderd oor soveel water op een slag. Elke nou en dan klik sy haar tong. Dan vryf sy ingedagte oor my rug en drup water uit ’n strandemmertjie, maar seeluise kan my wegdra en sy sal dit nie agterkom nie. Wat sy voor haar sien, is meer as wat ons rooigrondbreine kan verwerk.
Haar ouma, Ou Vicks, het gevra sy moet ’n bottel seewater en een met sand saam terugbring Suidwes toe.
Meidemeidjie