Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck
op bystand wees, ingeval …”
Pa het dit gehaat om magteloos te voel. Om iemand vir eens in sy lewe nie te kon opspoor nie.
“Ingeval wat?”
Hy het nie geantwoord nie, net die staanlampie langs hom wat van ’n gegote rewolwer gemaak was, afgeskakel. ’n Ou truuk as hy nie wou hê mens moes emosie op sy gesig sien nie. Of as hy eenvoudig nie verder met jou wou gesels nie. Vir ’n oomblik was ons twee bekende vreemdelinge wat ongemaklik in dieselfde donker vertrek asemgehaal het.
Voor Pa die lamp afgeskakel het, het ek ’n glas op die tafel by hom gemerk. Hy was nie maklik ’n alleendrinker nie. Wel Coke Zero. By die kratte, ja. As Mister Thompson by was, was dit wyn. En met Fred Enjin aan huis het die manne ge-Chivas Regal. Brandy en Coke is net in Pa se kroeg toegelaat as die besoekers Suid-Afrikaanse regeringsamptenare, spioene of eks-spesmagte was. Selfs Adriaanus moes vir hom ’n ander drankie aanleer.
Lank, lank gelede, toe ek nog jonger was en Pa vir my nog goed vertel het, het ek hom gevra hoekom hy nie daarvan hou as mense onder ons dak brandy en Coke drink nie.
“Is dit te kômmin, hè, Pa?”
“Dit is omdat dit my aan mense herinner wat die grootste lafaards is wat ek al ooit ontmoet het. Mense wat nie skroom om iemand in ’n rolstoel te martel nie.”
Knip-knip my oë en ek staan in die donker voor Pa, met ’n weemoedig kaal gevoel, asof my enigste bedekking ’n ongemaklike en harde stortgordyn is.
Ek het Pa genuine jammer gekry omdat hy kon wonder waar sy een dogter haar geografies bevind, terwyl sy ander dogter, reg voor hom, lankal vermis word.
“Dalk het hy nie eens besef hy het jou verloor nie,” sê my suster sag.
Ek skrik. Ek’t nie besef ek het hardop gepraat nie.
Sy draai skuins op haar sitplek: “Ek was die maklike dogter omdat ek minder getraak het, maar jy was die sensitiewe een. En jy was kleintyd groot genoeg om al die drama te onthou, ek nie. Sorrie.” Sy vat aan my arm.
Onwillekeurig verwissel ek my arm se posisie.
“Nou is jy nes Ma! Wat is dit met julle twee wanneer mens aan julle raak?”
’n Bus slapende passasiers, koppe ongemaklik teen die ruite, ry by ons verby. Heimlik is ek bly oor die onderbreking, want intimiteit met familielede maak my ongemaklik.
As kind het ek gereeld met die Mainliner-bus tussen Namibië en Suid-Afrika gery en dikwels in die onderarmwalms van mans gesit wanneer die lugverkoeling op die koffie was. Daai tyd was die drankies op die bus nog gratis, onthou ek.
“Ek was nooit jaloers omdat jy Pa se oogappel was nie,” sê ek ná ’n rukkie. “Dit het my eerder getroos dat daar iemand is met wie Pa opreg kon wees sonder om ’n show op te sit. Daar was ’n band tussen julle wat dalk vir ’n rukkie tussen my en hom bestaan het, maar ná die dag van die egskeiding in die prokureur se kantoor het dit nooit herstel nie. Ma en Pa het vriende gebly, maar ék en Pa het geskei.”
’n Hoesie los ’n spoegdruppel op die stuurwiel, wat ek afvee.
“En dit was net ’n refleks. Ek het nie bewustelik my arm weggetrek nie. Seriaas.”
’n Paar kilometer verder herinner ek my suster aan ’n toneel toe sy so sestien jaar oud was. “Soek maar die foto,” beduie ek. “Dit moet daar êrens wees, want nadat jy beskonke uitgepass het, het ek jou as bewysstuk afgeneem.”
Sy steek haar tong uit. “Not a scene I want to recall.”
Precious Cargo, ek en Pa was een aand alleen aan tafel. Mister Thompson, Behrouz of Adriaanus was dalk ook daar, maar hulle tel nie. Pa se “alleen” het byna altyd van die manskappe ingesluit. Pa se idee van “ander mense” was sy vrou of skoonfamilie.
“Ek het gedink ek’s baie hardcore en gaan Pa onder die tafel in drink,” onthou sy.
Die einde was ’n lang nag in die badkamer en toe sy uiteindelik haar bed haal, het ek haar afgeneem met ’n stuk papier waarop staan: “So lyk hardcore!”
“En dwing Pa my die volgende oggend om self die badkamermatjie te was,” sê my suster en skud haar kop.
Ons het Adriaanus eers ná brunch in die tuin ontdek waar hy tussen die varings gelê en snork het. Niemand het agtergekom hy het nooit sy slaapkamer gehaal nie.
By Klawer se garage klim ons uit om bene te rek. My suster verdwyn kleedkamers toe en ’n ou wat van die Wimpy af kom, kyk haar agterna. Hy glimlag onderlangs en suig hard aan sy strooitjie. My oë volg hom toe hy na die einste droogtehulptrok van netnou loop. Met ons afdraai by Kardoesie het sy trok ons ingehaal. Gaan hy sy seil aspris stadig na sodat hy ’n tweede kykie van Precious Cargo kan kry?
Vreemd dat twee susters wat feitlik daagliks met mekaar in verbinding is, steeds so min van mekaar weet. Ons gesels die meeste dae, maak nie saak op watter kontinente ons ons bevind nie. Dikwels begin ons saans – my tyd – oor iets stry, en hervat ons die argument wanneer ek die volgende oggend wakker word en dit aand is by haar.
Ná sy terug is, staan Precious Cargo langs die Subaru en hou ’n botteltjie water na my toe uit.
Ek beduie na die polka-dot bra straps wat by haar T-hemp uitsteek. “Ek sien jy het vir jou gaan onderklere aantrek. Gaaf. Ek is innig dankbaar.”
My suster gooi haar kop agteroor terwyl sy water drink. Flink lig sy haar top om haar bra vir my te flash. ’n Ent weg verstik die jong trokbestuurder in sy koeldrank.
Sy’s deeglik bewus van haar toeskouer. Laggend gaan Precious Cargo op haar jis voor die kar onder die skadunet sit. ’n Tevrede glimlaggie op haar bakkies.
“Besef jy dat Pa ’n wêreldkaart teen een hele lang muur van die sitkamer in Palm Springs laat bou het om vir almal te kan wys waar sy dogter gestasioneer is?”
“Ek wéét!” kruip my suster agter haar hande weg.
Pa het ’n teëlkunstenaar vir die taak gehuur. Om haar Indiaanse oorsprong te bewys, het sy haarself Two Elk Running genoem en ’n voorpant van gerygde bene, stokkies en kristalle gedra. Pa het voet by stuk gehou sy het regte Hopi-bloed, maar haar hare, met vere ingeryg, was peroksiedblond.
“Ek kan die sproete op haar tiete sien!” Adriaanus het in verwondering die kombuis ingestrompel. “Dis soos kleinvee wat op ’n heuwel wei.”
Ek het aan ’n selderystingel met maaskaas geknibbel. “Dalk is dit bosluise? Met al daai stokkies sal mens nooit weet nie. Jy moet nog net skuim om die mond, dan sê ek Pa moet jou doer agter by die palm in die tuin weens dolheid lat uitvat.”
Die hele tyd dat Two Elk Running met haar muur besig was, het Adriaanus ewe ’n kristal begin dra. Ook ’n ronde borsspeld waarop staan “Ride the Snake”. Dit het nie goed by sy pak gelyk nie.
“Haal af daai blêrrie ding,” het Pa streng gesê. “Hier word nie ge-snake ride nie! Hier word gewerk.”
“Dit verwys na The Doors, Pa. Ken Pa nie hul musiek nie? Ek moet bietjie vir Pa ‘Riders of the storm’ speel.”
Fabula het ’n geluidjie gemaak wat my laat dink het die vrou het dalk gelag, maar sy het gou weggedraai. Die verliefde Adriaanus het die borsspeld in ’n gekleurde servet toegedraai en plegtig aan die kunstenaar gaan oorhandig.
Daarna het Pa daagliks ’n rede gesoek om Adriaanus met een van die karre uit te stuur sodat die vrou met die halfkaal bolyf gewerk kon kry. “Gaan kry net vir Adriaanus weg daar by die herkouende bokooie!” sou hy skel.
Die wêreldkaart is in bruin teëltjies uitgelê, driedimensioneel met donkerblou-en-wit geglasuurde oseane. Pa se vrou was nie beïndruk deur die gewerskaf op haar dik sjampanjekleurige tapyt nie, maar uiteindelik was ons almal in verwondering. Die talentvolle Two Elk Running het, in opdrag, die plekke waar Pa al oral gewoon het, in reliëf laat uitstaan en gaatjies in die teëltjies geboor waaragter