Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck
kyk ek weg. Sonder uitsondering gebeur dit wanneer daar Russe in die geselskap is. Ek kan klasgee in kômmin, hoe verskillende kulture dit uitleef. Dit vat min of ’n Rus trek sy wapen, terwyl Arabiere weer mekaar sommer oor die tafel klap, nes vroue in ’n katgeveg. Die Franse, sommige Suid-Amerikaanse nasies en die mafia van Mongolië pluk mes, terwyl die Italianers klein pistooltjies en groot sakdoeke dra. Die sakdoeke kom te pas wanneer hulle aan die huil raak of bloedspatsels van hul gesig moet afvee, sê Pa.
Russe sal ook sonder skroom aan tafel in hul tande grou, terwyl daar altyd iemand is wat sy oor met ’n sleutel skoonmaak en eers fronsend die vonds besigtig voor hy die sleutel aan die tafeldoek afvee.
“Mense dink altyd die Franse Legioen is die wreedste weens hul voorliefde om hul vyand van naby dood te maak eerder as om van ’n afstand af te skiet,” het Pa dikwels vertel. “Maar die gevaarlikste en onvoorspelbaarste vegters is die vroue in die guerrillamagte van Suid-Amerika. Hulle kan reeds die ene koeëls wees, maar aanhou storm.
“My nasie,” sukkel Pa weer om sy kop in posisie te bring, “is nie bloedlustig nie, maar as jy hulle lank genoeg treiter, beter jy reg wees vir wat kom. Lafaards is hulle nie! Saluut!”
Niemand verstaan ’n woord wat Pa sê nie, maar as hy sy glas lig, lig die hele tafel luidkeels ook hulle s’n.
Afrikaners, het ek as kind al opgelet, raak aan die sing en maak dan kopdoeke van servette en lieg dat hulle recces was. Hul redding is natuurlik dat hulle lekker kan lag, en ek het al gesien hoe Pa se uitbundige gelag opgewerkte manne hul oorgehaalde wapens laat sak.
Pa is wel bang vir oogdruppels, dat sy tone raak geknip gaan word wanneer mens sy naels sny en dat iemand dalk op sy voete sal trap. Pa se voete is klompe ongevormde vleis met toontjies waarvan die naels regop staan en moeilik is om te knip. Nadat gevoel in sy lyf begin terugkom het as tiener en die verlamming soos ’n vloek van hom gelig het, het dieselfde vel waarin sy klasmaats voorheen naalde kon druk, nou uiters sensitief geword. Weens sy polio het hy waarskynlik perineuritis in veral sy voete ondervind. Vermoedelik het hy die kiem by kuiergaste opgetel.
Pa het sy voete weggesteek en probeer beskerm met kort opgeboude steweltjies of tekkies wat spesiaal vir hom gemaak is. Tog het sy gesig dikwels van pyn vertrek wanneer hy hom per ongeluk teen ’n tafelpoot gestamp of ’n opgewonde hond se poot op sy skoen beland het. Net óns wat sy voete help versorg het, het geweet hoe gou hy pyn voel en op watter klein oppervlak hy moes balanseer.
Daardie koue aand vryf hande oor my kop en kry ek klapsoene op die wang. Ek kyk af, bang Pa laat my weer ’n gat in die spyskaart skiet. Daar kom altyd een of ander wapen onder ’n jas te voorskyn.
“Okahandja!” skree Pa nog ’n heildronk.
En die Russe sluk.
Die meisie hou my hangertjie met die goue koeël na my toe uit. Nou sien ek eers die lang, growwe letsel wat oor haar gorrel loop. En sy sien ék sien. Vir die res van die aand bly ek die gil hoor van iemand wat in haar lag stilgemaak is.
Intussen het Mister Thompson se wit Skotse gesig rooi kolle uitgeslat soos een van Parow se tuindwergies wat pas oorgeverf is.
“Eintlik was Mister Thompson die Rango van die groep,” vertel ek. “Die verkleurmannetjie wat met ’n versameling aksente in verskeie tale vrede of verwarring kon saai.”
“Hy’t vir my partykeer stories voorgelees in Palm Springs wanneer ek die grootmense nie wou uitlos nie,” onthou my suster.
Mister Thompson was ’n enigma. Die ene kontradiksies. Hy kon sulke klein messies gooi soos ander mense veerpyltjies gespeel het, en het ’n voorliefde vir ’n vars blommetjie in sy lapel gehad. Dikwels het hy op spesifieke blomme in Pa-hulle se hotelkamers aangedring en soms vir my en die stomme Adriaanus van die korrekte blomname probeer leer.
“Sal jy die tulpe en die kind nou los dat ons hierdie deal aanmekaar kan sit,” het ek Pa meer as een keer gefrustreerd hoor roep.
Weer pluk ek aan Pa se baadjiemou omdat ek wil teruggaan hotel toe, maar hy ignoreer my net.
“Sarie Marais!” lig hy sy glas nog ’n keer.
“Saleemalee!”
“Rageltjie de Beer!” kap Pa met sy glas op die tafel. “Ragel … and more beer!” koor almal. As dit eers op dié trant gaan, kan ek my maar regmaak om tot sonopkoms onder die tafel te slaap.
Die doeanebeampte kyk verskeie kere van die paspoort na die fors man voor hom. In die weerkaatsing van al die monitors gee die dik veiligheidsglas die amptenaar se vel ’n lewelose kleur en vertoon sy pupille vierkantig. “U is oorspronklik waarvandaan?”
“Suid-Afrika.”
“Maar u is elders gebore?”
“Korrek. Namibië. Is daar fout?” frons die man, steeds vriendelik. Hy kan nie bekostig om die vlug te mis nie. Om te ontspan, plant hy sy voete wyd.
“Tog het u tans ook ’n woonadres in die Verenigde State van Amerika?”
“Ja, ek beskik oor ’n langtermyn-sakevisum.”
Die beampte wink ’n meer senior kollega nader. Geluide van ongeduld uit die ry agter hom: “This is insane!” sê ’n Amerikaner aspris hard.
Die senior beampte kyk uitdrukkingloos na die rekenaarskerm terwyl sy met lang naels deur sy paspoort bly blaai.
Die man loer na sy polshorlosie en let daarop om sy asemhaling egalig te hou. Die oomblik wat hy dit regkry om sy perspektief na ’n groter geheel te verskuif, is dit asof gemoedelikheid van hom na die amptenare uitkring. Die senior beampte se gesig verhelder in ’n glimlag, terwyl die junior lyk of hy uit ’n katatoniese waas gewek is.
“O,” knik die senior beampte. Haar hele liggaamshouding verander sigbaar. “O, ek sien. U is ’n gereelde reisiger.” Sy maak ’n geïrriteerde gebaar na haar kollega, vou die Suid-Afrikaner se dokumente netjies op ’n stapeltjie en laat gly dit deur die gleuflaai na hom toe terug. “Dankie vir u geduld, Meneer. Ons moes net baie noukeurig wees, want twee vrouepassasiers met ’n soortgelyke paspoort het onlangs aandag getrek. Geniet u reis en kom veilig terug!”
Junior knik instemmend en lig twee vingers in ’n byna-wuif.
4
Wat eet jou?
“Wat wil jy my vra? Vra dan!”
Ons is nog ’n hele ent voor Klawer se One Stop. My kleinsus se bruin hare hang oor haar skouer. Dit is weer lank soos toe sy klein was en sy en Ma na die kind- en volwasse weergawe van dieselfde mens gelyk het. “Ek’s bly jy het jou hare weer laat groei. Daai borselkop-look van Demi Moore was ook net so lank sexy en daarna het jy net hard en verbitterd gelyk.”
“H’m,” sê sy, maar vat nie die aas nie. “Presies die look waarna ek gemik het.”
Vantevore kon my suster oor niks anders as die weermag praat nie, maar nou is sy in die gesondheidsbedryf. Wel, soort van. “Cutting-edge stuff,” lag sy wanneer ek haar uitvra. Hulle vervaardig medisinale dagga.
Jare lank was sy ’n militaris en toe sy eers by die weermag aangesluit het, was Pa liries.
Daar was meer foto’s van haar in aksie as gekoopte grade teen Pa se kantoormure. “Die beste PhD wat ek ooit gedoen het,” sou Pa altyd op die een naaste aan hom tik wanneer Fabula die dag bietjie bekaf was. Dit was Pa se gunstelinggraad van dié wat sekretaresses namens hom verwerf het.
“Uitmuntende navorsing!” het Pa gereeld vir Fabula gelukgewens wanneer sy hul werk vir hom moes voorlees. In Amerika het Pa meer as een huis gehuur. Een rede was sodat Fabula in vrede kon swot – onmoontlik wanneer Pa naby is – of wanneer hy genoeg gehad het van die geroesemoes om hom. Hy het graag met dié huis gespog,