Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck
weet wanneer sy kinders verjaar of heeltemal seker wees van die korrekte spelling van ons name nie.
Maar die tronk was vir Pa ellendig, maak nie saak saam met hoeveel ander mense hy opgesluit was nie. Die gevangenis het ’n eie verlatenheid gewek. Hoe Pa dit reggekry het om altyd toegang tot ’n foon te hê, weet nugter. In die Amerikaners se slinksheid teenoor die wit ou uit die land van apartheid – en verby die balke in hul eie oë – het hulle Pa aspris saam met swart en Latino-gevangenes opgesluit. Seker gemeen dat hy, sodra hulle agterkom waarvandaan hy kom, hol teen die muur sal wees.
Maar hulle het hulle misgis, want Pa kon onreg nie verdra het nie. Of hy wel insig gehad het in die vulkaniese pad wat hy dikwels in ander mense se lewens agtergelaat het, kon ek nooit bepaal nie.
“Die gereg is altyd aan die kant van die ou met die diepste sakke,” het Pa dikwels verbitterd gesê. Op sy lessenaar was ’n standbeeld van ’n koningsarend met die onderskrif: How much justice can you afford? Hoeveel mense wat hom in die publiek sou sleg maak en ontken dat hulle hom ooit al ontmoet het, sou snags pleitend by Pa opdaag en smeek dat hy hulle uit een of ander finansiële skandaal moes red. Dan parkeer hulle sonder ligte hul voertuie ’n paar strate weg sodat niemand tog sal sien by wié hulle in die nagure kom aanklop nie.
En as Pa nie kon help nie, was hy dikwels later die skelm wat hulle sou ingeloop het, terwyl hulle inderwaarheid in eie gierigheid verstrengel geraak het.
“Goets. Ek het baie foute gemaak,” sou Pa in later jare oor ’n glasie erken. “Naïef en arrogant gewees. En sommer onnosel ook. Maar ek verseker jou daar’s nie ’n magnaat vandag wat nie kortpaaie gevat het nie. Maar as jy eers gevang is, is jy uit die klub. Ek is al vroeg uitgeskop, maar was te idealisties om dit te besef tot eers later.” Dan het hy die ys in sy glas bekyk. “My gespot met die Vrymesselaars en ou Broederbonders het my baie duur te staan gekom.”
Maar toe ontdek Pa in die tronk dat baie van sy medegevangenes heeltemal onregverdig opgesluit is. En dat hulle met belaglike swak verteenwoordiging in die Amerikaanse howe onverdiend gevonnis is. Dit is, glo ek, waar Chana haar groot deernis vir haar dollarboer agter tralies ontwikkel het.
Pa se sel het Da Boss se kantoor geraak. Dit het sy besete missie geword om hierdie mense uit te kry.
En hy het. Heelwat ook.
Meer as een van dié manne het later na ons huis in Palm Springs gekom en als kom vertel. Soms het hulle ’n kar vol goed vir Chana as dankbetuiging gebring terwyl Pa nog vir sy vrylatingsdatum gewag het. “If it wasn’t for that boor I wouldn’t be standing here today,” sou hulle dikwels met trane in die oë getuig. Al het Pa elke liewe dag uit sy sel huis toe gebel terwyl hy nog in die tronk was, het hy nooit hiervan gepraat nie.
Een keer het ek Pa gevra hoe hy dit reggekry het om te oorleef, ondanks die feit dat hy nie eens alleen in ’n oop stort kon regkom nie. Fisiek sou hy ’n sagte teiken gewees het.
“Die meeste mense soek iemand wat hulle sê wat om te doen,” het hy verduidelik. “Iemand wat die verantwoordelikheid neem. Hulle wil hoor wat die plan van aksie is en hoe hulle moet voel en dink. Dit blyk ’n algemeen menslike behoefte te wees. As mens daai rol vertolk, is dit verstommend hoeveel mense amper outomaties om jou laer sal trek. Kyk maar na die politiek in enige land en jy sal sien hoe waar dit is. Dit help natuurlik om geld ook te hê. Al is dit net die illusie daarvan.”
Die langste wat Pa aaneen opgesluit is, was twee jaar. Vrydae het die Amerikaanse owerhede graag toegeslaan, want dan kon jy eers Maandag regsverteenwoordiging kry. ’n Gemene taktiek. Elke keer dat Pa dan op ’n Maandag uitkom, vlug ons almal. Hy was ’n gekweste buffel en gevaarlik.
Die aand van my afskeidseremonie vir my matriek het hulle toegeslaan. Nadat ons die verrigtinge bygewoon het, het ons gaan uiteet. Adriaanus het bestuur, met Pa voor langs hom; ek en Chana het agter gesit. Nog skaars het ons by die motorhuis se oprit stilgehou of drie ongemerkte karre trek om ons in. Deure gaan oop en mans met gewere lê aan.
Die aanklag was posbedrog, maar hulle het gemaak of hulle op ’n reeksmoordenaar toeslaan, dieselfde FBI-agente wat gereeld verder af in die straat geparkeer het en vir wie Pa soms eet- en drinkgoed uitgestuur het.
“Sit weg!” keer Pa vir Adriaanus toe hy sy wapen wou uittrek. Dringend.
“Ek kan reverse, Boss, en hulle moer toe stamp,” soebat Adriaanus.
Ons deure word oopgepluk en bevele geskree. Dikbek sit ek en Adriaanus ons hande op die kar se dak.
“Be quiet, ma’am!” skree hulle vir Pa se arme vrou. Daarna klink dit asof sy begin hik. Nie een van ons het al van ’n paniekaanval gehoor nie. Eers toe die mans Pa se hande agter sy rug boei, wil ek huil.
“Get in!” stamp hulle Pa hardhandig om in die naaste kar te klim.
Die afrit is ongelyk en Pa sukkel. “Hy kan nie só loop nie!” pleit ek woedend. “Kan julle nie sien hy kan nie sy balans hou met sy hande agter sy rug nie?” Die oomblik nadat ek my mond oopgemaak het, besef ek ek moes niks gesê het nie, want hulle probeer juis om hom in die verleentheid te stel.
Pa waggel, moet konsentreer om nie te val nie. Ek draai my kop weg. Genadiglik kry een van hulle hom langs die kar aan die elmboog beet en kan hy op die agterste sitplek insak sonder om op sy gesig te lande te kom.
Warm haat teen die Amerikaners bruis in my op. My kake is geklem en sou ’n dag later nog seer wees.
Pa moes hulle gevra het om die venster oop te maak, want net voor hulle met skreeuende bande wegtrek, kan hy darem nog op Afrikaans sê: “Goed jou ouma is nie hier nie, anders was hierdie karre vol gate geskiet!”
Adriaanus kap hakke en salueer. Ek gee ’n skewe glimlag. Pa gaan oukei wees.
Die konvooi jaag daar weg asof ’n duiwelse poskoets agter hulle aan is. Blêrrie spul Chuck Norris wannabes.
Dís waaraan ek dink toe ’n kar met ’n boot op sleeptou manies vir my toet. Iemand beduie verwoed. My suster wat op die agterste sitplek haar vlugvoosheid afslaap, kom vloekend orent. “Waddefok?”
Ons is op die N7 noordwaarts in Suid-Afrika.
Ek pluk die kar terug en trek ’n entjie verder van die pad af. Shit, ek het wraggies aan die verkeerde kant van die pad gery! Ons is albei nog gedisoriënteerd.
“Jy oukei?” My suster klouter vorentoe. “Moet ek bietjie met jou kom sit en gesels?”
Ek slat ’n gloed van verleentheid: “Sorrie.”
Soms dryf ek weg in my eie gedagtes. Ons ouma van Okahandja, my pa se ma, het altyd gesê dit is nie dat ek nie geanker is nie, my tou is net lank. My kop is so tussen lewens dat alles vaag en onwerklik voel. Oomblikke het ek nie eens onthou my suster is hier by my nie. Nes my pa soms vergeet het ek was as kind in die kar.
“My foon wys nog al Pa se nommers,” beduie ek na my foonskerm om my verleentheid te verdoesel.
Pa.Cardiff
Pa.Luxom
Pa.NY
Pa.CA1
Pa.CA2
Pa.SanFran
Pa.PalmSprings
Pa.Kaap
Pa.Nam
Wat ek nie vir my suster sê nie, is dat dit eintlik mý reis saam met Pa is. Al kom sy saam, is sy net die getuie, want dit was ek en Pa wat altyd saamgereis het. Dit was egter haar idee om Pa se opgeboude skoene hier oor Koringberg se afritbord net oorkant die Desert Rose-padstal te kom hang.
’n Paar skape in die naaste kamp hou ons met dowwe belangstelling dop.
My suster plooi haar neus en neem die bord met die skoene vanuit verskillende hoeke af. “Wat ruik so?” Sy ken nie plaasdiere nie.
“Óf die skoene, óf die skaap.”
My suster het opinies oor als.