Rooiborslaksman. Marinda van Zyl
uit te kry.”
Dit voel vir Liesbet soos ure wat sy met die skreeuende meisietjie in haar arms by die kombuistafel sit voor Pennina met ’n toegedraaide bondeltjie uit die kamer kom en dit in die houtkas sit. “Kom vat die baba, my arms word moeg,” soebat Liesbet.
“Vat haar vir haar ma. Sy moet eers drink. Dan moet jy haar was.”
Bang sy sal die baba laat val, skuifel Liesbet voetjie vir voetjie kamer toe. “Jy’t ’n meisiekind vir Kersfees gekry.”
Die kleintjie suig gretig toe Catharina haar aan die bors sit. “Waar’s die ander een?”
Die skokbesef dring stadig tot Liesbet deur. Dit was die toegedraaide bondeltjie wat Pennina in die houtkas gesit het. Sy hardloop uit die kamer sonder om te antwoord. “Catharina wil die ander baba hê.”
Pennina se oë blink van die trane. “Hy was klaar dood toe hy uitgekom het.”
“Gaan sê haar, asseblief. Ek kan nie,” pleit Liesbet, maar Pennina skud haar kop en trek die voordeur agter haar toe.
Liesbet kyk radeloos rond vir hulp. As hulle ma tog net hier was. Sy sou geweet het wat om te doen. Dis of haar ma van iewers af met haar praat. Dit oorweldig haar, die onthou van hoe moeilik sy haar ouers se dood aanvaar het omdat sy nie vir oulaas kon groet nie. Catharina moet kans kry om totsiens te sê. Liesbet haal die bondeltjie uit die houtkas en vou die flennie-
doek oop. Sy neusie is plat soos Andries s’n, maar hy het Catharina se geel hare en hy is amper die helfte kleiner as die meisietjie.
Die meisietjie suig nog lustig aan die bors.
Catharina se gesig straal toe Liesbet sê dit is ’n seuntjie. “Lyk my hy is stil en rustig soos sy pappa. Katrien kan haar magie vol drink solank hy nog slaap.”
“Hy slaap nie … hy’s dood,” pers Liesbet die woorde uit. “Ek het gedink jy sal wil sien hoe hy lyk en afskeid neem.”
Dit lyk nie of Catharina begryp wat sy sê nie, want sy klap op die bed. “Kom sit hom hier langs my neer. Hy sal wel wakker word as sy magie eers vol is.”
Andries en Eduard se stemme buite klink vir Liesbet soos ’n engelekoor. Sy sit die baba op die bed neer en hardloop uit.
Aan Andries se gesig kan sy sien hy weet reeds. Pennina moes hom laat haal het. Sy omhels hom. “Werk sag met my ousus. Sy dink die seuntjie leef nog.”
Die kerk is die enigste plek waar sy nou alleen kan wees. In die voorste bank het sy altyd langs Ou Pappa gesit. Sy verbeel haar sy ruik nog sy pyprook. Haar keel trek toe van jammerte vir Catharina, maar die trane wil nie kom om die seer minder te maak nie. Terug huis toe wil sy nie, want sy is self te stukkend om die regte trooswoorde te vind.
Eduard kry haar. “Catharina soek jou.”
“Verstaan sy al die seuntjie is dood?” vra Liesbet sonder om na hom te kyk terwyl hy langs haar kom sit.
“Ja, tant Berta het hom kom haal. Dis beter as hy vandag nog begrawe word.”
Toe Eduard haar styf teen hom aantrek en oor haar hare streel, soos Ou Pappa altyd gemaak het, kom die huil uiteindelik vry. Hy sus haar soos ’n baba tot daar net af en toe ’n droë snik ontsnap. Sy wens sy kon nog ’n rukkie by hom skuil, maar plig roep.
“Ek moet vir Andries gaan help om ’n kissie aanmekaar te timmer en Catharina het jou nodig.”
Sy kry Catharina aan die slaap. Haar natgeswete hare klou aan haar slape en voorkop. Daar is traanstrepe op haar wange. Wat het haar arme ousus gesondig om soveel swaar te moet verduur? Die meisietjie kriewel en knies langs haar. Versigtig tel Liesbet haar op.
Catharina se oë vlieg oop. “Los my kind.”
“Ek moet haar was en kleertjies aantrek.”
“Ek sal self.” Maar Catharina se been gee mee toe sy probeer opstaan en sy sak terug op die bed.
“Ek sal mooi versigtig werk met haar,” beloof Liesbet. “Jy moet slaap en sterk word. Mamma sou wou gehad het ek moet jou help.”
“Ek gaan haar na Mamma vernoem. Sy is Katrien.”
Weke later kan Liesbet haarself skop oor haar spontane belofte. Kort-kort roep Catharina haar om die baba te kom vat. Sy verstaan Catharina kan nie die baba en die kruk gelyktydig vashou nie, of heeldag in die bed bly lê nie, maar sy word mos ook moeg. En sy brand om ’n slag tuin toe te gaan om met Timo te gesels.
Die dag toe Andries die skommelstoel wat hy en Eduard gemaak het in die voorkamer neersit, vergewe Liesbet hom alles wat hy voorheen verkeerd gedoen het. Hy help vir Catharina tot by die stoel. Sy wieg ’n paar keer heen en weer daarop voor sy haar arms uithou vir die baba. “Katrien sal baie hiervan hou.”
9
Mei 1866
Frederik sien Koekoes nie betyds aankom dat hy kan spore maak nie. Sy is duidelik in ’n bakleibui.
Sonder om te groet trek sy los: “Pa moet planmaak vir koffie en suiker. Ek is moeg vir die seuns se gekerm oor daar net bitter witgatkoffie is om te drink.”
Frederik bepaal sy aandag by die velskoen wat hy aan die versool was. As hy haar lank genoeg ignoreer, sal sy wel loop. Maar vandag werk dit nie. “Dan moet hulle maar skoon water drink. Robert Duncan sal nie voor die winter terug wees uit die Kaap nie.”
“Ek hoor die Engelsman kom nie terug nie. Hy het Eendoorn vir sy rooikophandlanger gegee.”
“Bliksem!” Frederik slaan sy duim raak en laat die hamer val. “Waar kom jy aan dié twak? Of het jy dit nou kamstig weer gesien?”
Koekoes ignoreer die bespotting: “Ek het ore ook. Die rooikop suip en kuier hier by die vrouens wanneer die mans op Gobabis is.”
“Verdomp!” vloek Frederik binnemonds. Hy het nooit gedink Duncan sou hom in die steek laat nie. Maar voor die handelaar se vertrek Kaap toe was hy so behep daarmee om Andries uit sy kapteinskap te werk, hy het skoon van Duncan vergeet. Nou het hy inderdaad probleme. Sy kruitvoorraad sal hoogstens tot ná die winter hou. Danksy die goeie reënval wat al vroeg in Januarie begin het, is die panne in die veld rondom Gobabis vol. Nou is handelaars op pad na Ngami nie meer van Gobabis se fonteine afhanklik nie. Kaptein Apollo sweer hy het nog nie weer ’n wa in die omgewing gewaar sedert die sendeling vort is nie. Hy moet dadelik Eendoorn toe. Duncan sou waarskynlik sy voorraad aan sy handlanger verkoop het.
Eendoorn vind hy bykans verlate.
“Die baas is Hoachanas toe,” sê die veewagter wat ’n troppie bees oppas.
Frederik ruk sy perd om. Op Eendoorn sit hy nie weer sy voete nie. Met ’n wit man wat “baas” genoem wil word, wil hy niks te doen hê nie.
Koekoes kom met Drieka aan die hand aangedraf. “Kon Pa darem iets kry?”
“Nee, maar ek sal ’n plan maak,” antwoord hy vriendeliker as gewoonlik. Drieka wat aan sy been klou, maak hom week. Hy sit sy hoed op haar kop en dit val oor haar oë.
“Ek kan nie sien nie,” speel sy hulle speletjie.
Frederik vermy Koekoes se afkeurende kyk en vra: “Wie’t die son gesteel?”
“Die wit mense.”
Hy lig die hoed. “Wie’t hom vir jou teruggegee?”
“My pappa,” kraai sy.
Frederik keer haastig toe Koekoes omdraai en met wippende boude wegstap. “Het jy vir my iets gaar om saam te vat? Ek sal ’n dag of twee weg wees.”
“Drieka, gaan loer in die pot of daar nog ietsie is.” Sy wag tot Drieka by die kookskerm is. “Pa gaan gestraf word oor Pa ’n onskuldige kind leer haat.” Koekoes se oë blits terwyl sy hom roskam.
Wie de hel is sy om hom te katkiseer? Frederik moet hom inhou om Koekoes nie iets toe te snou nie, want sonder haar gaan Drieka verlore