Rooiborslaksman. Marinda van Zyl
paar pakperde sal hulle die broodnodige voorraad kan laai. “Vat genoeg kos vir drie dae. As ons vir die pot skiet, trek ons dalk ongewenste aandag. Môre met eerste lig ry ons.”
Hy is verplig om ’n draai by Koekoes se huis te maak. “Ek het die kos eers môre nodig. Dis te laat om nou in die pad te val.”
“Dis goed so,” sê Koekoes sonder om uit te vra.
“Wat kan ek vir jou saambring as ek ’n handelaar kry?” soek hy witvoetjie.
Koekoes se gesig bly ’n donderwolk. “Rokgoed om vir Drieka klere te maak. Pa sien mos self hoe gelap sy al is.”
Hoe kry Koekoes dit reg om hom pal soos ’n stout seun te laat voel? Frederik skop na ’n denkbeeldige klip terwyl hy wegloop. Dis tyd om weer te trou sodat Drieka by haar kan wegkom.
Kort duskant Witvlei ry hulle ’n waspoor raak. Dis net een wa. Volgelaai, want waar dit sanderig is, het die spore diep weggesak. Een ruiter en een handperd, lees Frederik die spore. Waarskynlik net een wit man met handlangers wat te voet die wa dryf.
“Hulle is so min of meer ’n dag gelede hier verby,” skat hy. “Ons kan hulle môre inhaal as ons vroeg roer. Geen vure vanaand of vroegmôre nie.”
Die waspore verlaat die ou roete voor hulle nog halfpad Gobabis toe is. Apollo het nie vir hom gelieg nie. Die handelaars kom nie meer naby Gobabis nie. Krapohl en Weber het natuurlik so ver hulle getrek het strontstories oor Gobabis se mense versprei. En dit terwyl hy wat Frederik is, gekeer het dat die handelaar se winkel leeggedra word. “Ondank is wêreldsloon,” was nie verniet grootjie Piet se geliefkoosde sêding nie.
Toe hulle die eerste vars beesmis teenkom, laat Frederik sy groepie uitsprei. “Wanneer hulle ons gewaar, moet hulle reeds omsingel wees. As ek ’n skoot skiet, moet elkeen ’n sarsie afvuur en vinnig inbeweeg. Voor hulle van die skok kan herstel, moet ons op hulle wees. ’n Bang man stry nie oor pryse nie.”
Die geluk is aan hulle kant, besef Frederik kort daarna, want in ’n plaat haakbosse spiraal ’n rokie die lug in. Hulle het waarskynlik by ’n pan gestop vir koffie sodat die osse terselfdertyd kan suip. Met die toom in die hand, sluip hy nader. Hy sien net een wit man. Dié sit op die wakis en boeklees. Frederik sien nie ’n geweer nie, maar dit kan by die man se voete lê. Hy eien nie een van die Namas wat by die vuur doenig is nie. Hulle is beslis nie gewapen nie.
Eers mooipraat probeer. “Goeiemiddag, Meneer,” groet Frederik toe hy agter die bosse uitkom.
Die man klap sy boek toe en kyk verskrik op. “Wie’s jy en wat soek jy hier?”
Dit klink of hy, soos Robert Duncan, ’n Engelsman kan wees en Frederik skep moed. “Ek is kaptein Frederik Vlermuis. Ek kom kyk wie sonder toestemming deur my land reis en wil sommer terselfdertyd negosiegoed koop.”
“’n Kaptein sonder ’n gevolg? Dink jy ek is ’n fool?”
“Ek roep my manskappe dadelik.” Sy geweerskoot word beantwoord deur ses sarsies uit alle windrigtings.
Die Namas by die pan vlug die bosse in, maar die handelaar merk dit skynbaar nie en vra neerhalend: “En waarmee betaal jy nogal? Ek sien nie enige ruilmiddels nie.”
“Met pond sterling.”
Die handelaar trek sy neus op asof hy iets slegs ruik. “Wel, ek aanvaar net olifanttande en volstruisvere. En my vrag is bedoel vir die handelaar by Ngami.”
Sy spotlag laat Frederik se ore suis, maar hy sê kalm: “Dan sal ek ’n boete moet hef. Twintig pond kruit, ’n sak koffiebone, asook suiker en meel.” Hy wink sy mense uit die bosse. “Manne, julle het gehoor. Laai af die wa.”
Toe Frederik terugdraai, het die handelaar die ossweep in sy hand. “Vuilgoed! Vandag wys ek jou wie’s baas.”
Die voorpunt van die sweep kloof Frederik se wang oop. Hy sien die tweede hou betyds kom, gryp die sweeppunt vas en pluk die handelaar van balans af. Voor hy kan herstel, is Frederik op die wa en kry hom aan die keel beet. Die handelaar probeer iets op die wakis bykom.
Frederik sien die mes langs ’n stuk biltong lê. “Vandag slag ek jou soos ’n blerrie skaap.”
Terwyl die man roggelend sy keel vashou, skop Frederik hom van die wa af. “Vrek daar onder, jou hond.” Hy draai na sy mense. “Toe, toe, laai af. Eers die kruit, dan alles wat ons op die perde kan kry. Maak ’n rol rokgoed agter my saal vas. En vat genoeg koffie en suiker.”
“Ons moet seker die man begrawe,” stel sy broer voor toe hulle klaar gelaai het.
“Nee,” keer Frederik. “Hy verdien om jakkalskos te word. Ons moet by die huis kom.”
Hulle hou suid tot hulle ’n paar myl verby Frederik se werf is voor hulle die Swart-Nossob oorsteek en noord draai om die indruk te skep dat hulle Eendoorn toe was. Dis reeds sterk skemer toe hulle by sy werf kom. Frederik ry direk na Koekoes se matjieshuis waar sy by die kookskerm werskaf. “Ek het die goed gebring waaroor jy so sanik.”
Sy staar na sy borskas asof sy ’n spook sien.
“Sê jy nie dankie nie?” wil hy afgehaal weet.
“Die bloed op Pa se hemp. Waar kom dit vandaan?”
Frederik wys na sy wang. “In die pad gekom van ’n droë tak. Het jy iets om aan te smeer? Dit brand soos vuur.”
“’n Droë tak se sny kan nie soveel bloei nie.”
Die afkeer op Koekoes se gesig sny dieper as die sweeppunt. Frederik voel die woede van vroeër vandag weer in hom oplaai. “Hou jou neus uit my sake. Wees liewer dankbaar ek sorg vir julle terwyl my lamsakseun wie weet waar rondloop.”
“Kaptein Andries het hom laat roep. Daar het berig gekom van ’n moord op ’n handelaar.”
Frederik staan magteloos voor die oë wat dwarsdeur hom kyk.
“Trek uit Pa se hemp. Dit moet in die vuur kom voor Jonas by die huis is. En dankie vir die goed wat Pa by Eendoorn gaan koop het.”
In ’n waas gehoorsaam Frederik en dra daarna die negosiegoed na die matjieshuis waar Drieka rustig slaap.
“Ek het gedink die rooiborslaksman is agter Pa aan,” sê Koekoes toe hy gaan nagsê by die kookskerm, “maar nou weet ek Pa ís die rooiborslaksman. Die Here behoede ons.”
10
Augustus 1868
Klouend aan haar rok worstel Liesbet teen die wind wat stofduiwels opjaag. Dit het twee jaar laas op Gobabis gereën en die gras is lankal tot stof vertrap. Die leë emmer kap-kap teen haar been. Sy moes net uit die huis kom. Katrien skree soos net ’n kleintjie van drie jaar oud kan. Dit en Catharina en Andries se happery na mekaar kon sy nie langer verduur nie.
Timo se tuin is hopelik nie te erg verwaai nie. Sy het lanklaas kans gehad om fontein toe te gaan.
Van Timo is daar egter niks te sien nie. Dit lyk tog of hy watergelei het, maar die grond het klaar kors gevorm soos die wind dit uitdroog. Sy trek wortels uit en tel pampoentjies tussen die droë ranke op. Timo verwaarloos die tuin, want die akker doodgerypte tamatieplante staan nog net so. Ná drie jaar glo selfs hy nie meer meneer Weber gaan terugkom nie.
Die wind suis deur die riete wat die fontein nou erg oorgroei. Hoe laf was sy nie destyds om ’n matjieshuis te wou bou nie. En hoe onnodig bang was sy vir oom Frederik wat toe nooit sy mes teruggevra het nie.
Verbeel sy haar of hoor sy iets tussen die riete? Haar eerste instink is om weg te hardloop, want die watergate in die rivier is opgedroog en wilde diere sal nou hier kom drink. Nee, dis sagte stemme. Nuuskierigheid dwing haar met ’n wye draai tussen doringbosse deur om te sien wat agter die rietbos is.
Op die klipplaat waaruit die fontein borrel, lê Timo en ’n meisie. Albei is kaal.
Liesbet is halfpad bultop toe sy onthou van die emmer groente. Sy moet terug. Timo mag nooit weet sy was daar nie. Dit sal