Hans gee Herklaas horings. Rudie van Rensburg
Dannou se senuwees knaag. Hierdie sal verreweg die grootste projek wees wat sy firma nog onderneem het. Daarom skraap hy sy keel verskeie kere voor hy praat, wat hy vind help om sy stem ewewigtig te hou.
“Net eers oorsigtelik. The Whale sal amptelik die hoogste gebou in Suider-Afrika wees, ’n allemintige tweehonderd-vier-en-dertig meter, wat die Carlton-sentrum in Johannesburg met sowat tien meter ore aansit. En dit sluit natuurlik nie die standbeeld van die walvis op die dak in nie, wat ’n verdere vyftien meter die lug in sal toring. Daar sal vyf-en-vyftig verdiepings met ’n slaapkapasiteit vir eenduisend-vierhonderd gaste wees, en ’n sesverdieping-kelderparkeerarea vir eenduisend-vyfhonderd voertuie. Sestien hysbakke in totaal.”
“Awesome!” sê Grond.
Dannou skraap weer sy keel. Nou vir die deurslaggewende deel. Hy weet dit kan die projek kelder. “Ons het alle opsies oorweeg wat die boustyl betref. En het mevrou Smoelstra-Graaffwater se voorstelle ernstig oorweeg – die Gotiese boustyl, die vroeë Gotiese styl, die neo-Gotiese styl, die Renaissance-styl, die Barok-, Rococo- en die Tudorstyl.”
Bernadette kyk skerp op van haar naels. “En die spitsboogstyl?”
“Dit … dit ook, ja.”
Sy raak weer doenig met haar naels. “En op watter een het julle toe besluit?”
“Nie … nie een nie, mevrou. Ons het gevoel dat net die modernistiese boustyl The Whale in al sy glorie tot sy reg sal laat kom.”
“Hoor-hoor, dis presies wat ek wou hê,” sê Grond tot Dannou se groot verligting. “Ons moet wegbeweeg van die antieke tye, my liefie.”
“Gmf,” snork Bernadette.
Om sake te beredder, speel Dannou sy troefkaart. “Maar ons het u idees geïnkorporeer met die walvisstandbeeld op die dak, mevrou. Dit sal groot ooreenstemmings toon met die Zeus-standbeeld wat omstreeks in die jaar 435 voor Christus deur die Griekse beeldhouer Phidias gemaak is. Dit het in die Tempel van Zeus in Olympia in Griekeland gestaan. Die dertien meter hoë beeld het uit ivoor, goud en hout bestaan. Dit is beskou as een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld voor dit in die vyfde eeu ná Christus vernietig is.”
Daar verskyn ’n effense glimlag op haar witgepoeierde gesig. “Dit klink belowend,” sê sy terwyl sy ’n voorvingernael aandagtig betrag.
“Ons het reeds met Akker Ackerman, ’n wêreldbekende beeldhouer van Bettysbaai, gesels en hy sal binnekort voorlopige sketse aan ons voorlê.”
“Fabulous!” sê Grond.
“Terwyl ons by die standbeeld is, kan ek netsowel oor die dak gesels. Die standbeeld sal in die middel van die dak staan. Aan die westelike kant van die walvis sal ’n swembad wees soos u versoek het, meneer Graaffwater. Weens ruimtebeperkings sal dit ongelukkig nie van Olimpiese standaard wees wat die grootte betref nie, maar tog geskik vir tientalle swemmers. Aan die oostelike kant sal ’n ruim daktuin ingerig word, met ’n paar akker-, olyf-, plataan- en palmbome en afgerond met klimplante soos bougainvillea en bloureën.”
“Fantastic!” sê Grond.
“En dan het ons ook aan mevrou Smoelstra-Graaffwater se ander versoek voldoen. Daar sal op elke hoek van die dak ’n klein uitkyktoring wees, in die tradisie van die Engelse kastele van die veertiende eeu, waar gaste oor die oseaan en die natuurskoon van die groter Overstrand-omgewing kan uittuur.”
“Teleskope?” vra sy.
Dannou knik ywerig. “Natuurlik, mevrou, ons het voorsiening gemaak vir genoeg spasie sodat twee reuseteleskope in elke toring geïnstalleer kan word.”
“Jy happy, my liefie?” vra Grond, maar sy vrou ignoreer hom en blaas haar naels droog.
“Op die onderste sewe verdiepings sal die restaurante, snoepwinkels, boetieks, masseersalonne, haarsalonne, kinderaktiwiteitsvertrekke, apteke, rolprentteaters, casino’s, boekwinkels en gimnasiums gehuisves word. Nie een gas sal ’n voet uit die hotel hoef te sit nie. Alles wat ’n groot stad se sakekern kan bied, sal op hierdie sewe verdiepings beskikbaar wees.”
“Unbelievable!” sê Grond.
Grond se bemoedigende terugvoering gee nuwe momentum aan Dannou se geesdrif. Hy vertel die egpaar van die slaapkamers se imposante uitleg, die weelderige vloerbedekking wat mosaïekpatrone uit die Tudor-Gotiese periode naboots (ook ’n versoek van Bernadette) en die jacuzzi op elke balkon. Hy brei uit oor die soorte boumateriaal, die marmer- en granietinsetsels wat afwisseling sal verskaf vir die aardse kleure van die ingevoerde Marokkaanse siersteen, die een sy van die gebou wat in sy geheel uit reflekterende glaspanele sal bestaan en snags wanneer dit verlig word, tientalle flikkerende walvisafbeeldings ten toon sal stel (’n versoek van Grond).
“Ama-a-a-a-zing,” sê Grond oor laasgenoemde onthulling.
“Kleiner detail sal ons natuurlik later uittrap en aan u en die mevrou voorlê,” sê Dannou en huiwer ’n oomblik. Sy vennote het hom die dood voor oë gesweer as hy dít nie vra nie. “Hoe vorder u gesprek met die stadsraad?”
Grond gee ’n sardoniese laggie en laat flits sy goue voortand. “Daaroor hoef jy nie te worry nie, my tjommie. Grond Graaffwater se influence strek ver en wyd in hierdie dorpie. As ek iets gedoen wil hê, spring al die stadsraadslede én munisipale amptenare tien meter hoog … en dít in gelid. Sodra die bouplanne gefinaliseer is, behoort dit binne enkele dae goedgekeur te word.”
“En het u al ’n ligging in gedagte?”
“O ja, my vriend. Op ’n baie sentrale deel in die ou middedorp. Die onooglike gebou wat nou daar staan, smeek om gesloop te word.”
Dannou glimlag verlig. “Wonderlike nuus! Ons het ook gedink dat The Whale, met die kontras tussen hipermodern en stokoud, net tot sy reg sal kom in die middedorp.”
“Beslis, daar’s géén ander option nie,” sê Grond ferm. “Die afmetings wat ek vir julle gestuur het van die site se grootte is op daardie gebou gebaseer. Die stadsbeplanners het my daarvan voorsien.”
“Ek neem aan u het al dié onooglike gebou bekom?”
“Wel … so te sê.”
“Gmf,” snork Bernadette terwyl sy haar hande op haar skoot oopsprei om ’n geheelblik van haar naels te kry.
Grond vererg hom bloedig en draai sy kop na haar toe. Sy pofwange bewe liggies. “As jy vir een oomblik dink dat daai ou suurstofdief van ’n Herklaas Havenga en sy mal vrou tussen ons en ons droom gaan kom, maak jy ’n blérrie groot fout, my liefie.”
3
Vaaltuin Marais se sketterstem sny deur murg en been.
“Die kraak in my kamermuur is nou al so groot dat ek my arm daardeur kan druk. Dis oor ’n paar maande winter en wat gaan ek dan doen? Soos Racheltjie de Beer verkluim? ’n Arktiese ysdood sterf? Of het julle ’n ander vorm van bevriesing in gedagte vir my?”
Hans sluit die kantoordeur met ’n kreun en steun oop en gaan sit agter die lessenaar. Die vyf ander beswaardes val agter Vaaltuin in.
“ ’n Span bouers staan in die wegspringblokke gereed om al die krake in Huis Madeliefie te kom regmaak. Ons wag net op ’n tjap van die bankbestuurder, dan is die lening vir strukturele verbeterings aan die plek goedgekeur,” sê Hans. As deel van ’n afvaardiging was hy teenwoordig toe die lening aangevra is. Die bestuurder het gesê die kanse vir goedkeuring is gering, die tehuis skuld al te veel. Maar dít hoef Vaaltuin nie nou te weet nie. Anderdag se