Hans gee Herklaas horings. Rudie van Rensburg
s’n toe sy begin praat. “Twee vloerteëls in my kamer én die spieëltjie bo my wasbak is gekraak.”
“Krake, krake, krake,” prewel Hans. “Ons kan jou nie nou ten dienste wees nie. Ons soek tans vloerteëls, maar kry nêrens in die Kaap van die soort wat in ons kamers is nie. En ek sit jou naam op die waglys vir ’n nuwe spieël.”
Hy maak die lessenaar se boonste laai oop en trek ’n vel papier uit, pen Nella se naam neer. “Jy is nommer vier-en-dertig. Ons vervang die spieëls stuk-stuk soos ons begroting dit toelaat. Gewoonlik so drie ’n maand.”
Nella sug.
“Next!” roep Hans.
Voëltjie Trollip kom met sy gebruiklike jakkalsdraffie nader. Die enkele haar op sy kop wieg soos ’n lugdraad heen en weer.
“Ek het al van gister af nie elektrisiteit in my kamer nie.”
Hans trek nog ’n vel papier uit die boonste laai uit, beskou dit aandagtig. “Jy’s net betyds met jou klagte, want ons het nog een lantern in die stoor oor. Ek sal reël dat Breker dit vir jou kom aflewer.”
Voëltjie tuit sy budjie-mondjie verontwaardig. “Maar ek het nie nét lig in die kamer nodig nie!”
Hans rol sy oë. “Jy hoef seker nie ná jy soggens gestort het, daai een haar van jou droog te blaas nie?”
Voëltjie snork vies en stryk die lugdraad plat. “Nee, man, sonder krag kan ek nie kookwater vir koffie maak nie.”
“Gaan kook jou koffiewater by jou buurman. Daar is nie nou geld in die begroting vir elektriese werk nie. Next!”
Klaas Benadie stap nader. Dié se broekspype sit vanoggend weer minstens ’n voet bo sy skoene. Lyk altyd of hy te diep in sy broek gespring het.
Die oud-diamantprospekteerder van Garies vee eers die ontbyt se papkrummels van sy vlesige lippe af. “Die plafon in my kamer lek nou op twee plekke.”
“Hel, maar jy’s gelukkig!” sê Hans.
Klaas trek sy oë op skrefies. “Gelukkig?”
Hans knik. “Volgens ons opname van ’n maand gelede is daar gemiddeld vier lekplekke per kamer.”
Klaas se lippe vibreer liggies. “Nou wát gaan julle daaraan doen?”
“Ons wag op die bankbestuurder se tjap. Dieselfde span bouers wat die krake kom regmaak, sal die gebreekte dakteëls vervang. Dit sal die lekkrisis besweer. Next!”
Careltjie Conradie huiwer ’n oomblik, draai dan om en stap saam met Klaas uit, maar by die deur kyk hy beskuldigend terug na Hans. “My plafon lek soos ’n gieter. Op séwe plekke.”
Hans steun. In die winter gaan die plek toe onder die water wees. Hy het juis gisteraand ’n nagmerrie gehad oor hoe hy skubatoerusting vir die tehuis aankoop nadat die verdrinkings dubbelsyfers geslaan het.
Die laaste beswaarde tree nader.
Hans is verlig om te sien dis Liesbet, een van sy vertrouelinge en ’n gewese kabinetslid wat gehelp het om matrone Van Dussen se diktatuur omver te werp. Haar uitrusting verras Hans nie. Dis ene Liesbet. Haar rok se helder kleurspatsels skree teen mekaar en bots ook gruwelik met die groen en pers tinte in haar kapsel.
Sy trek ’n stoel met een van haar beringde vingers nader terwyl die tallose stringe krale om haar nek saggies klingel, en gaan sit.
Hans glimlag. “Kom jy ook kla?”
Sy skud haar kop. “Nee, Hôns, ek is nie hier om te klô nie,” sê sy in daardie kenmerkende Pretoriaanse aksent. “Ek’s hier om ernstig met jou te kom prôt.”
Hans lig sy wenkbroue. “Oor wat?”
“Oor jou.”
“Oor my?!”
“Jô, Hôns, oor jóú.” Sy sug. “Dis vir my bôie moeilik. Jy was die môn wôt ons uit die drôkoniese kloue van môtrone Vôn Dussen verlos het, wôrvoor ons jou ewig dônkbôr sôl wees. Môr nou … tree jy ôl nét soos Vôn Dussen op.”
“Soos Van Dussen?!”
Sy knik. “Kyk môr net hoe jy vônoggend se klôgtes hônteer het. Sonder enige empôtie vir die inwoners.”
“Mens word moeg om heeldag oor kleinighede gekapittel te word.”
“Dis nie vir hulle kleinighede nie, Hôns. Dit rôk hulle lewenskwôliteit.”
Hans wil instinktief kapsie aanteken, maar die woorde besterf op sy lippe. Liesbet se opmerking dra die stempel van waarheid. Hy sug. “Ek’s net sat vir hierdie voortdurende stroom …”
Liesbet hou haar hand op. “Jy hoef nie te verduidelik nie, wônt ek besef dit. Dôrom wil ek voorstel dôt ek en Môtjie jou soms ôflos sodôt jy jou bôttery kôn herlôi.”
“Maatjie?”
Sy knik. “Jô, hy wôs mos ’n boekhouer op sy dôe. Begrotings is sy kos.”
Dalk nie so ’n slegte idee nie, dink Hans, wat al amper vergeet het Maatjie was sy minister van finansies in die versetkabinet. Hy kom orent uit die stoel.
“Ons kan vanmiddag daaroor praat. Ek het net ’n dringende ding om nou in my kamer te gaan afhandel.”
Op pad kamer toe hang Hans se vlerke. Liesbet se woorde het ’n teer snaar aangeraak, want sy het hom onbewimpeld die waarheid vertel. Hom tot rede gebring, moet hy erken.
Sy groot vriend Vasie wag hom in die gang voor sy kamerdeur in. Hans kyk vlugtig op sy horlosie. Nog tien minute voor RSG se boekvoorlesing begin. Hy hoop nie dis nou lang praatjies nie.
“Hoe gaan dit?” vra Vasie.
“Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad, dankie,” mompel Hans.
Vasie stap ongenooid saam in en vly hom op die gemakstoel neer. Hans gaan sit op die punt van sy bed.
Sy vriend kyk weer so rond en bont soos altyd. Aan die sakke onder daardie skeel oë en die rooi skynsel op sy wange lei Hans af dat hy gisteraand weer tot laat gefuif het.
“Sê ek vir myselwers dat geen druppel jenewer ooit weer oor hierdie lippe van my sal kom nie. Het my gisteraand in daai kroegie in Goodwood raakgedrink,” sug hy. “Ek, Maatjie en Jan Doppies weet mos nie waar die brieke sit as die wingerdwiele eers begin rol nie.”
Hy skep vinnig asem. “Maar ek’s hier om jou oor ’n ander ding te vra. Wil jy nie môre saam met my Hermanus toe kom nie? Sommer vir ’n week of wat. Maatjie sê juis hy en Liesbet sal in jou plek waarneem.”
Die klomp konkel lankal agter sy rug, besef Hans.
Vasie grinnik. “Sê ek vir myselwers dit sal lekker wees om so ’n tydjie weg te kom uit hierdie wankelende toring van Pisa.”
“Sou Baby nie saam met jou gegaan het nie?” vra Hans.
“Sy sou, maar sy lê nou platgetrek met die bromkatjies. Tóé, man, kom saam! Gaan jou die wêreld se goed doen.”
“Hoe kom ons daar?”
“Soos die geluk dit wil hê, ry Kleinboet môre met die tehuis se bussie soontoe. Hy het by ’n teëlplek op Hermanus vloerteëls opgespoor wat soortgelyk aan ons s’n is. Maar hy sal twee keer moet ry, want die bussie gaan nie die volle vrag kan dra nie. Met die tweede keer se gaan haal kan ons saam met hom terugkom.”
Hans is effe vies dat Kleinboet, Breker se jonger broer en gewese veiligheidswag, nou al twee jaar lank Huis Madeliefie se nutsman en busbestuurder, hom nie daaroor ingelig het nie. Maar Liesbet is seker reg, hy kan sy vinger nie op elke pols hou nie.
Hoewel Vasie se uitnodiging besonder aantreklik klink, aarsel hy nog ’n oomblik. “Jong, Hermanus is mos maar ’n duur plek. Waar bly ons?”
Vasie glimlag breed. “Gaan ons nie ’n enkelte sent kos nie. My neef, Herklaas