Hans gee Herklaas horings. Rudie van Rensburg
lag. “Nee, dit het ons al drie seker vanoggend onder lede, maar daar’s ’n ánder sakie wat Herklaas se maagseer teister.”
Hans gaan sit op die bank, sak so diep daarin weg dat hy nie oor sy kniekoppe kan kyk nie. “Nou laat ek hoor.”
“Toe, vertel hom, Herklaas,” por Vasie.
“Die saak staan so.” Die skril intensiteit van die ketel se gefluit is terug, hoor Hans. “Ek en Wilhelmina is gelukkig hier in ons dakwoonstelletjie. En ek is geseënd met huurders wat getrou betaal. Meer van die lewe vra ek nie. Maar nou neuk iemand aan my om die plek aan hom te verkoop.”
“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Stuur hom net in sy maai,” sê Hans.
“Dis nie so maklik nie,” sê Vasie.
“Inderdaad, neef,” sê Herklaas. “Niks is maklik as Grond Graaffwater die voornemende koper is nie.”
Vasie en Herklaas kyk vol afwagting na Hans.
“Behoort ek hom te ken?”
“Het jy nog nie van Grónd Grááffwater gehoor nie?” roep Vasie uit.
“Ken hom van g’n adamskant nie.”
“Vertel hom, Herklaas.”
“Hy’s ’n man van groot aansien in hierdie geweste. Hy en sy vrou is klipsteenhard van die geld. Besit meer eiendomme as enige ander mens hier. Maar dis alles ou geld. Grond se pa het glo sy pitte met karre verdien, maar die gerugte wil dit hê dat hy sy miljoene eintlik met blink klippies gemaak het, wat hy uit Namibië en Angola ingesmokkel het. En Grond se skoonpa, Petrus Smoelstra, het in die ou dae elke enkele visfabriek aan die Suid- en Wes-Kaapse kuslyn besit. Die mense het hom later Vis Oppenheimer gedoop, oor sy skatte geen einde ken nie.”
Herklaas sug voor hy voortgaan. “En met al daai ou geld in die bank, is Grond nie die soort man vir wie mens nee sê nie. Hy’s gou op sy agterpote as hy nie sy sin kry nie.”
“Hmm,” sê Hans. “Hy’t seker die naam Grond gekry omdat hy so baie eiendomme besit?”
’n Effense glimlag skemer deur op Herklaas se gepynigde gesig. “Nee, die mense vertel hy het as jong kind grond gevreet soos ander van sy ouderdom ProNutro. Glo ’n tekort aan yster gehad.”
“Gmf. En nou hou hy hom ’n yster hier.”
“Dit kan mens seker sê,” gee Herklaas toe.
“Sê ek vir myselwers ek stem saam met my neef, want dit bly maar ’n dilemma. Ek het al stories gehoor van mense wat sleg tweede gekom het as hulle nie met Grond se idees saamdans nie,” sê Vasie.
“Nou vir wat wil hy jou gebou hê?” vra Hans.
“Wil ’n hotel hier oprig.”
“En wat is hy bereid om te betaal?”
Herklaas trek sy skouers op. “Dié sal ek seker môre hoor.”
“Môre?”
“Ja,” sê Vasie, “Grond kom môre hierheen om glo ‘amptelik besigheid te praat’. En Herklaas sien eintlik nie vir so ’n ontmoeting kans nie.”
“Hoe oud is Grond?” vra Hans.
“Laat vyftigs.”
Hans snork. “Bogsnuiter! Ek en Vasie sal saam met jou hier sit as hy kom. Dan wys ons hom waar Dawid die wortels gegrawe het.”
Herklaas se gesig helder op.
Vasie wys ook tande. “Jou ou biesiepol!” roep hy uit. “Sê ek vir myselwers daar’s geen beter man om hierdie ding te hanteer as Hans van Kraaienburg nie.”
Hy draai na Herklaas. “Hy’t die vloer gevee met ons vorige matrone by die ouetehuis, ’n diktator wat Hitler na ’n lammetjie sou laat lyk het. Maar Hans het behoorlik kerrie van haar gemaak. Grond gaan gou uitvind hy boks hier teen iemand wat in dieselfde gewigsklas as hy is.”
Ná ’n halfuur se rype beraad besluit hulle dat Hans môre as Herklaas se “eiendomskonsultant” voorgestel sal word en dat hy namens Herklaas die praatwerk en onderhandelinge sal doen. Herklaas straal oor dié besluit.
Maar Hans bly vanoggend sukkel om te konsentreer. “Jou vrou het nie dalk ’n poeier of ’n pil uit haar Handelshuis-dae wat ’n kloppende hoofpyn sal stuit nie?”
“Dis nie almiskie nie,” sê Vasie en vat ook aan sy voorhoof.
Herklaas skud sy kop. “Ongelukkig bestaan dit net in haar gedagtes. Maar julle kan hier om die draai in Hoofstraat opstap. Julle sal by Brenda se apteek regkom.”
Hans bedank Herklaas en beduie vir Vasie dat hulle op hulle apostelperde die reis moet aanpak.
Grond Graaffwater is vinnig uit sy gedagtes. Hy’t mos gekom om vakansie te hou, en dit is waarop hy hom nou gaan toespits.
8
Toe Grond terugkom by die huis nadat sy Ferrari se battery behoorlik gelaai is, het hy na sy studeerkamer gekom. Bernadette was besig om Clément sy Afrikaanse klas vir die dag te gee en hy wou dus nie in daardie deel van die huis rondhang nie. Hy was bang sy betrek hom daarby.
Hy kan nou seker doen wat hy al so lank uitstel – om sy studeerkamer op te ruim. Nie een van die vier skoonmakers word hier toegelaat wanneer hy nie by is nie. Selfs dan laat hy hulle net toe om die mat te stofsuig en die meubels af te stof. Niémand krap in sy laaie en kabinette nie.
Grond trek die boonste lessenaarlaai oop en haal die vel papier uit wat hy tot nou toe nie oor sy hart kon kry om weg te gooi nie. Toe die idee van ’n hotel destyds by hom posgevat het, het hy ’n local kunstenaar gevra om vir hom dié logo te ontwerp.
Hy hou die vel papier ’n entjie weg en beskou dit weer bewonderend. Die goue letterwerk was die perfekte kleur, die paar krulle en kartels op net die regte plekke aangebring. Hy was in die wolke oor die ontwerp. Graaffwater Tower, staan daar.
Kopskuddend skeur hy dit op en gooi dit in die snippermandjie. Toe hy die naam aan Bernadette voorlê, het sy haar top geblaas. “As dit nie Smoelstra-Graaffwater Tower genoem word nie, kan jy daarvan vergeet! Dis ook mý oorlede pa se geld wat daai projek gaan help finansier.”
Ná talle onsmaaklike vloermoere en verskeie beledigings wat heen en weer geslinger is, het hulle oplaas die strydbyl begrawe en saamgestem dat die naam, met wátter familievan ook al vooraan, te lank en lomp vir ’n hotel sou wees. Toe is The Whale gebore.
Grond skeur ook brommend ’n klomp regsdokumente op wat hy opgestel het toe hy nog die droom van Graaffwater Tower nagejaag het.
Agter uit die laai krap hy die wit koevert nader. Hy vou dit oop en haal die foto uit. Haar gesiggie laat altyd sy hart bokspring. Fienie Filmalter. Sy eerste en enigste ware liefde, wat op ’n haar soos Sonja Herholdt gelyk het. Sy sou sy trouvrou geword het, maar sy pa het ’n stokkie daarvoor gesteek: “Die spul Filmalters het agter die bossies grootgeword. Jy sal die Graaffwater-bloedlyn net besoedel met hulle gene.”
As Grond tóé geweet het dat hy twee windballe het, en die Graaffwater-bloedlyn dus deur niemand besoedel kon word nie, het hy sy kop gevolg en met Fienie getrou.
Maar sy pa en Vis Oppenheimer het ander planne gehad. Die troue met Bernadette was een wat lankal gereël was. “Die kinders van adellike families is natuurlike pasmaats,” het sy pa verklaar en geen teëspraak van Grond se kant geduld nie.
Met ’n sug skeur hy die foto op en gooi dit in die snippermandjie. Nie die moeite werd om dit te hou nie. As Bernadette dit nou moet ontdek, sal sy uit wraak sommer haar deel van die geld uit die The Whale-projek onttrek.
Want as dit by Fienie kom, is sy tot enigiets in staat. Toe sy Grond ’n paar jaar gelede betrap dat hy kwylend na ’n kykNET-program oor Sonja Herholdt kyk, het sy in ’n onbeheerste woedebui die TV-skerm met ’n blompot stukkend gegooi en ’n maand lank nie met hom gepraat nie.