Hans gee Herklaas horings. Rudie van Rensburg
van ongure manne, shady characters van die onderwêreld, skurke, geldwassers en afpersers wat hy in sý posisie nie kan bekostig om op sy selfoon se kontaklys te hê nie.
Hy kyk vlugtig deur die name. Talle nommers sal verouder wees, want baie van die mense is nou gaste by Korrektiewe Dienste se inwonende facilities. Almal baddies wat hy die afgelope dertig jaar ingespan het om vir hom sekere gunsies te doen.
Spelonk en sy trawante – Boel en Beenmeel – se nommers is ook daar. Grond ril toe hy aan Spelonk dink – die een en enigste mens op aarde vir wie hy lugtig is. Dit nou buiten Bernadette wanneer sy in een van haar onweersbuie is.
Hy bêre die telefoonboekie weer op sy gebruiklike plek.
9
Ná Hans en Vasie pynstillers by die apteek gekry het, het hulle see se kant toe gestap en by die Burgundy-restaurant ’n stewige ete genuttig.
Daar was immers ’n special vir senior burgers wat dadelik hulle aandag getrek het. En met dié dat hulle nie vir hulle verblyf op Hermanus hoef te betaal nie, het hulle genoeg geld om die kusdorp se kulinêre vreugdes met oorgawe te geniet.
Met die wolklose hemel en diepblou see as agtergrond, en ’n ligte seebriesie in hul gesigte, het hulle in so ’n gemoedelike stemming beland dat hulle yskoue biere bestel het, waarna Vasie oorgeslaan het na jenewer en Hans na whiskey.
Hans het dié keer ’n bandelose drinkery in sy geboorte gesmoor. Ná die derde ronde het hy gesê hulle moet briek aandraai. “Ons kan nie soos Bolandse waens ruik as ons by Herklaas aankom nie. Mens wil darem ook nie die indruk skep dat ons suiplappe is nie.”
Vasie het teensinnig kopgegee.
Nou, op pad terug na Herklaas se dakwoonstel toe, kom Grond Graaffwater se naam by Hans op. Dalk sal dit ’n goeie idee wees om met Herklaas se huurders te gaan kennis maak. Hoewel dié drie dit nie sal weet nie, dra Hans as Herklaas se sogenaamde eiendomskonsultant ook hulle belange op die hart wanneer hy môre met die grondvreter swaarde kruis.
Hy lig Vasie in oor sy voorneme.
“Sê ek vir myselwers dit is vir jou ’n slim idee!”
Die vis-en-tjipswinkel is redelik bedrywig, maar hulle identifiseer die eienaar maklik. Die man met die weglêsnor en vuil voorskoot skree heeltyd bevele uit aan sy drie personeellede, wat met swetende gesigte en koorsige haas die klomp klante bedien.
Die man gluur hulle met geligte wenkbroue aan toe hulle om die toonbank na hom aangestap kom.
“Julle moet soos die ander in die ry inval,” blaf hy.
Toe Vasie hom vriendelik inlig dat hy Herklaas se neef is en hulle eintlik net hier is om kennis te maak, verander sy houding soos ’n verkeerslig. Hy skud hartlik blad met hulle en stel hom voor as Sakkie Schietekat.
“Ja, ’n mens kan nie vir ’n beter landlord as oom Herklasie vra nie,” besing hy hulle gasheer se lof terwyl hy die sweet van sy voorkop met die voorskoot afvee.
Hy lig hulle in dat hy darem hier ’n paar rand huis toe kan vat “om die vrou en sewe kindertjies te voed”. En dit alles net oor die billike huurgeld wat hy betaal. “Oom Herklasie is ’n engel,” sê hy met oë wat skielik nat word van aandoening. “Was dit nie vir hom nie, sou my besigheidjie ’n vinnige dood gesterf het en sou ek en my gesinnetjie lankal op straat moes sit.”
Toe hulle groet en uitstap, voel Hans hoe sy nuwe verantwoordelikheid as eiendomskonsultant swaar op sy skouers rus. Hy gaan nie net namens Herklaas moet veg nie, maar ook die Schietekat-gesinnetjie.
Die tattoo parlour, soos Vasie daarna verwys, het ook ’n paar klante, wat op stoele sit en wag vir hulle beurt om gepynig te word. Hans keer ’n dametjie met ringe aan haar ore, neus en onderlip voor om uit te vind wie die eienaar is. Sy glimlag breed en wys na ’n man in die hoek. “Gaan gesels gerus met Barnie. Dis min dat ons outoppies kry wat van ons dienste gebruik wil maak.”
Die man in die hoek het ’n help-my-sterk-lyk-hempie aan. Sy arms lyk vir Hans soos ’n kaart in ’n skoolatlas. By nadere inspeksie sien hy dis dosyne voëls wat op Barnie se vel nes gemaak het. Hy herken onder meer die boomvalk, jagarend, naguil, koekoek en reier. Die man moet ’n groot liefde vir die geveerdes van die lug hê om dit so op sy arms in te brand, dink Hans. ’n Natuurmens in die ware sin van die woord.
Barnie is besig om die bikini-top van ’n welbedeelde blondine op ’n klant se rug in te kleur. Vasie fluit saggies deur sy tande toe hy die skandelike afbeelding van nader betrag.
“Hoe kan ons help?” vra Barnie. “Het julle ’n spesifieke ontwerp in gedagte?”
“Nee, nee,” gooi Vasie vinnig wal. Hy verduidelik dat hulle net hier is om kennis te maak vanweë hulle verbintenis met Herklaas.
By die noem van Herklaas se naam kry die voëlman ’n teer uitdrukking op sy gesig. “Dis nou ’n sakeman met integriteit daai!” Hy borduur voort oor Herklaas se goeie eienskappe; amper ’n replika van die Schietekat-kêrel se lofsange.
“Dis duidelik Herklaas geniet groot aansien onder sy huurders,” sê Hans toe hulle die tatoesalon verlaat.
“Sê ek vir myselwers dis nie almiskie nie.”
Die Onthullings-Alliansie se kantoor is verlate toe hulle instap. Die skraal kêreltjie agter die lessenaar lê agteroor in ’n gemakstoel en slaap. Daar ontsnap skerp fluitgeluide deur sy neus.
’n Groot plakkaat met ’n slagspreuk in rooi is die enigste versiering teen die muur. Ons onthul, want jy word gekul. Sluit nou by die OA aan vir die nare waarheid.
Hans kug hard.
Die kêreltjie se ooglede fladder oop. In een soomlose beweging is hy uit sy stoel. Hy druk sy diklensbril hoër op sy neusbrug en stryk sy hare plat.
“Welkom, welkom! My naam is Mannetjies Lourens. Ek is die Wes-Kaapse sekretaris van die Onthullings-Alliansie. Net driehonderd rand elk gee julle OA-lidmaatskap vir ’n jaar. En pensioenarisse kry boonop tien persent afslag,” sê hy alles in een asemteug.
“Ons is eintlik hier …” begin Vasie, maar die kêreltjie gee hom nie kans om sy sin te voltooi nie.
“My ooms, luister my net eers uit. Ons by die OA onthul.” Hy swaai sy vinger na Hans en Vasie. “Want júlle, my ooms, word gekul!”
Sy oë staan stokstyf agter die brillense. “Weet my ooms byvoorbeeld wat kunsmatige intelligensie is?”
“Jy bedoel seker kunsmatige inseminasie?” sê Hans.
Hy gee ’n laggie. “Nee, my oom, intelligensie. Dis gevorderde robots wat die mens se plek ingeneem het. Hulle is hier tussen ons.” Hy leun oor en praat in ’n fluisterstem: “Die OA het reeds sewe van ons land se kabinetsministers as robots geïdentifiseer. Let maar op as julle weer TV kyk. Dis daai ministers wat so stokkerig loop. As hulle praat, is hulle lip-sync ook nie lekker nie. Die lippe beweeg, maar die woorde kom eers agterna.”
“Ek het dit maar altyd toegeskryf aan traagheid van begrip,” sê Hans.
Mannetjies glimlag breed. “Nou weet oom van beter.”
“Ons wil eintlik net …” probeer Vasie weer, maar Mannetjies is vasbeslote om sy sê te sê.
Hy hou sy hand op. “Luister my net uit, my ooms. Weet julle dat Cyril weekliks ’n sangoma besoek? Já, glo my wel, ons land se toekoms word bepaal deur hoe sy sangoma se dolosse val.”
Daar staan nou skuimbolle in sy mondhoeke en sy lyf bewe onbedaarlik van die emosie wat ook op sy bleek gesig sigbaar is. “En een van Jacob Zuma se vroue is ’n Russiese spioen wat ons staatsveiligheidsagentskap geïnfiltreer het. Sy en Poetin het glo ’n skelm verhouding.”
Hy beduie wild na die plakkaat teen die muur. “En hierdie dinge is maar net die seekoei se oortjies, my ooms! As julle by die OA aansluit, kry julle die vólle nare waarheid.”
Hans kry Vasie aan die arm beet en beduie