Skepsel. Willem Anker
Willem Anker
Skepsel
Queillerie
Vir my ma en vir my pa
Great holes secretly are digged where earth’s pores ought to suffice, and things have learned to walk that ought to crawl.
– HP Lovecraft, “The Festival” (1925)
Sirius is eight-point-six light years away
Arcturus is thirty-seven
The past is the past
and it’s here to stay
Wikipedia is heaven
– Nick Cave and the Bad Seeds, “We Real Cool”, Push the Sky Away (2013)
KRAKEN 1
Daar is ’n video op die internet van ’n cyborg wat met ’n olietenker trou.
Jou nuutste film se voorprent ontsteek in die kuberruim. Die virale twee minute word binne die eerste 24 uur 1.3 miljoen keer gekyk.
In die eerste skoot vlieg die drone laag oor helder water teen 160 km/h. Aanvanklik is daar geen klank nie, maar ná vyf sekondes begin die meedoënlose slae van die komponis L∞p se musiek.
Wanneer die land naderkom, styg die tuig hoër en wys ’n reusehawestad. Agter die stad die duine, die olievelde met hul vuurtonge en die knikkende oliebore; ’n dynserigheid waar die horison moes wees, die son wat wegsink in ’n massiewe mirage.
Die kamera pyl af op ’n olietenker wat buite die hawe lê. Die naam van die tenkskip, Kraken, is ’n oomblik teen die bakboord sigbaar voordat die kamera skiet oor die tenker se roesbruin dek, oor die kilometers vervlegte pypwerk, die hyskrane, radio- en radarmaste, lere en loopweë, tot by die wit mure van die brug.
Jy sien jouself staan op die dak van die brug, rug na die kamera in ’n moulose wit PVC-uitrusting en blou veertien-vetergat Dr. Martens. Jou wit-en-chroom mioëlektriese linkerarm weerkaats die laaste sonstrale in die lens. Die kamera draai om jou en die twee mans by jou. Dit neem jou altyd ’n oomblik om jouself te herken: die benerige lyf, die bioniese arm. Die sykante van die kop gladgeskeer, die wit hare styf na agter, die bakore albei vol metaalornamente. In jou regteroog die neonblou kontaklens, in die linkeroogkas die blou LED langs die ingeboude kameralens.
Jy staan by Darren Abbott – hoofpriester van die Kerk van Kunsmatige Intelligensie, in ’n rooi tuxedo – wat jou in die eg verbind. Langs jou staan Doktor Sleepless, jou strooijonker en persoonlike snydokter/mechanic, soos altyd vermom in sy wit doktersjas, pruik, sweisbril en chirurgiese masker: vir hierdie geleentheid ’n gele met ’n swart Smiley-glimlag.
Op maat van die musiek volg vinnige skote deur die drone-kamera, deur Gunnar se skouerkamera en deur jou oogkamera. Die voorlees van die formulier; jy, besig met jou troubeloftes; die enjinkamer vanwaar Kraken dreunend antwoord; flitse van Sleepless wat die goue ring aan jou metaalvinger soldeer; die matroos wat laat sak word en die groter ring teen die boeg sweis.
Die kamera trek terug en swaai oor die dek. Die son is onder; in die bewegende spreiligte lyk die pype en hyskrane lewend. Op die agtergrond brand die haweligte en daaragter die olievure. Die laaste skoot deur jou oogkamera fokus op die enjin. Jy hoor jou stem in ’n maalkolk wat vinniger draai soos die musiek die woorde sluk: “To plug me into you,” in jou harde aksent. Jy hoor jou stem saam met die tromslae – “your Mitsubishi-UE 7UEC85LSII engine” – tot dit net nog ’n instrument word. Die beeld doof uit terwyl jou ooglid in vertraagde aksie oor die kamera knip, oopgaan, en dan weer sluit, die vel wat styf oor die lens span. Wanneer die skerm swart word, die titel: UNTIL RUST US DO SCRAP.
Die titelteks verdwyn, dan:
Starring SULLA ČAPEK & VLCC KRAKEN
Swart.
A Film by GUNNAR ARNARSON
Swart.
Music by L∞P
COMING SOON
SLIMHUIS 1
Laatmiddag neem Rebecca Maas die verkyker, koplamp en pepersproei wat bo-op die rak met die veertien regterkunsbene lê en stap in die rigting van haar pa se huis.
Sy lê op die duin en loer deur die verkyker, maak seker sy gewaar niemand nie. Sy jaag die Jack Russell terug huis toe. Dit is nog nie skemer nie, maar sy is versigtig. Die afgelope week is daar nuwe mense in die rondte. Sy kom maak elke tweede of derde dag ’n draai: Die proses gaan vinniger as wat haar pa gesê het. Oor ’n maand of wat sal alles verby wees. Toe sy oom Petrus ’n week gelede vertel het dat sy mense by die huis sien rondsnuffel, het hy aangedring om saam te kom, maar sy het geweier. Ek moet alleen gaan, het sy gesê. Al weet hy nie wat sy daar doen nie, het dit gelyk of hy verstaan.
Sy hou tussen die lae bosse wat ’n bietjie beskutting bied en stap al hoe stadiger hoe nader sy kom, bang dat sy iets of iemand gemis het. Toe sy by die huis kom, loop sy met harde treë om haarself aan te kondig; sy wil niemand laat skrik nie. ’n Vaalmuishond hardloop verby haar by die deurlose ingang uit. Sy klim stadig by ’n groot stukkende ruit in om nie die huis wakker te maak nie. Vanmiddag is sy nie versigtig genoeg nie.
“Goeiemiddag,” sê die huis oorverdowend. “Is dit jy, Rebecca?”
“Pris! Sjt, jy raas.”
“Jammer, Rebecca, ek het nie meer beheer oor my volume nie. Sal ek die koffiemasjien aktiveer?”
“Pris, nee. Bly net stil.”
“Ek maak so, Rebecca.”
Sy stap vinnig met die gang af. Enigiemand in die rondte sou nou hoor hier is iemand in die huis. Sy gaan nie lank welkom wees nie. Sy maak die deur oop, sit die koplamp aan, en stap met die trap af. By die deur aan die onderkant van die steil trap gaan staan sy om die sleutel te soek. Dit verbaas haar elke keer dat die deur nog nie afgebreek is nie. Miskien is dit die ryp reuk, reeds sterk aan hierdie kant van die deur, wat hulle weghou.
Terug by oom Petrus, gaan sit sy op haar matras onder die rak met die vier-en-vyftig snow globes. Wanneer sy weer haarself is, maak hulle saam kos. Haar pa is byna drie weke dood en sy bly al twee weke by oom Petrus in sy wrakmuseum.
Sy prop haar foon by die charger uit. In China is 1 500 mense al dood aan die virus, 66 500 geïnfekteer.
Oom Petrus skraap die rooiboontjies uit die pan. Sy skep die rys op terwyl sy hom vertel van die duikers langs die lagoon. Hy vra nooit uit oor haar besoeke aan die huis nie.
* * *
Haar pa sou vir Rebecca Maas vertel dat sy twee maande voor die lansering van Voyager 2 gebore is. Later sou die ensiklopedie en die internet haar vertel dat die Pioneer 10 en 11, die Voyager 1 en 2 en die New Horizons klein onbemande ruimtetuie is wat Homo sapiens uitgestuur het om hul sonnestelsel te verken. Hulle sal ligjare ver van die son reis, elkeen op ’n verskillende ontsnappingsbaan. Indien hulle in niks vasvlieg nie, sal hulle deur kosmiese bestraling en botsings met reuse- molekulêre wolke op atomiese vlak verswak word tot hulle oor vyfmiljard jaar, meer as ’n miljard jaar ná die son uitgebrand het, volkome sal disintegreer. Die laaste oorblywende artefakte van die menslike spesie sal vyf dooie robotte wees wat deur die interstellêre ruimte dryf.
Op Vrydag 29 November 2019 eet Rebecca haar middagete van gevulde pannekoek, heritage tamaties en broccolini in die kafeteria van die NCA, die Nederlandse Comitee voor Armoedebestrijding, se hoofkantoor in Den Haag.
Sy is pas klaar met ’n multimedia-aanbieding oor hoe Eerstewêreldse kapitaal inwoners van Suid-Afrikaanse informele nedersettings kan help om van hulle ekskresie ontslae te raak. Die gehoor is beeldmateriaal gewys van ’n vrou in ’n plakkerskamp se besoek aan ’n puttoilet, meer as tweehonderd meter van haar eenvertrek-sinkplaathuis. ’n Belegger in die tweede ry het opgespring en na die naaste hipermoderne spoeltoilet gehardloop.
Soos al die ander alleeneters in die kafeteria, fokus sy op haar foonskerm om enige oogkontak met mense by ander tafels te vermy. Sy sien sy het vier oproepe van ’n Suid-Afrikaanse nommer gemis. Ná ’n paar minute op die internet