Weerlose meganika. Anton Roodt

Weerlose meganika - Anton Roodt


Скачать книгу
’n groot donner en ideaal vir die rol van Dingaan in die toneelstuk, het Piet terstond gedink. ’n Glimmende staalblou snyerspak het oor sy gespierde lyf gespan, maar daar het genoeg van ’n wit T-hemp uitgesteek dat Piet kon sien daar staan Living in Harmony. Sy bruin cowboy-stewels is met ’n patroon van klein gaatjies afgerond.

      “Ons soek ’n sek-k-kuriteitshoof, mister Ndlovu,” het Piet gesê. “Iemand wat die be-beveiliging van die Kulturama se eiendom strat-t-t-tegies kan bestuur, maar is dit wat jy wil d-d-doen? Jy is ’n bietjie formeel aangetrek, of hoe?”

      “Jy meen ’n nagwag, kolonel? Die tipiese werk vir swart mense, nè? Maar … ek sal dit doen, want ek kan.”

      Die pak se moue het intimiderend oor sy boarms gespan en Piet het die gevoel gekry dat Ndlovu besig was met die uitdeel van ’n guns eerder as dat dit ’n werksonderhoud is.

      “Hou jy van to-to-toneelspeel?” wou hy weet toe hulle aanstap na die opskamer waar die sekuriteitskameras gemonitor word.

      Ndlovu het gegrinnik, maar hom nie dadelik geantwoord nie. “Daar is iets wat jy van my moet weet, kolonel,” het hy uiteindelik gesê. “Ek slaap sleg en kan net begin werk so teen elf- of twaalfuur in die oggende.”

      “Nou wat’s jou storie?” Rooipiet het hom oombliklik vervies. “Hoe dink jy sal dit lyk as ek almal toelaat om te kom werk wanneer hulle wil? En dit net omdat hulle aan slapeloosheid ly.” Hy het gewonder of hy nie ’n fout met hierdie jafel gemaak het nie.

      “Ek ly aan wat bekend staan as DSPD.” Ndlovu se baritonstem het by sy figuur gepas. “Delayed sleep phase disorder. Dis nie insomnia nie. Dokter by die ou mynhospitaal het my gesê. My slaaptyd het aangeskuif. My sirkadiese ritme het iewers gefok geraak. Ek moet ook heelwat in die donker bly, anders kan ek nie slaap nie. Maar ek sal werk tot laat in die aand. Dis hoekom ek onder in die myn bly, kolonel”. Hy het na die Living in Harmony beduie en Piet moes glimlag oor die woordspeling. Harmony was die maatskappynaam van die myn se vorige eienaars. “En,” het hy uitgeslape bygevoeg, “Dingaan was my ukhokho, my grootoupa.”

      Vir die eerste keer het Piet gehou van wat hy hoor. Selfs die koning van die Zoeloes, of dan minstens van die zamas, se blyplek was in geheimsinnigheid gehul.

      Hy kon aan duisend redes dink hoekom hy Ndlovu nie moes aanstel nie, maar dan het die gedagte weer gekom: Waar sou hy weer so ’n Dingaan kry? Plus die man lyk net so gevaarlik soos hy hom die Zoeloekoning voorstel. Sy grootte alleen is genoeg om die meeste mense af te skrik, en hy sou baie indrukwekkend op ’n verhoog lyk.

      Hoewel Doc Ndlovu goed ingeburger geraak het by die Kulturama, het hulle verhouding aanvanklik stram en formeel gebly. Dit het oornag verander toe Doc aan die einde van die eerste jaar gevra het of hy nie beter Zoeloes vir sy Versoeningsfees wou hê nie. Tot in daardie stadium het Piet graadtwaalf-leerlinge van twee plaaslike hoërskole, Welkom High en Goudveld, gebruik.

      “Nou waar kry jy hierdie manne?” wou Piet agterdogtig weet.

      “They are my people, colonel.” Hy het oorgeleun en naby sy oor gesê: “Hulle is … boetiekprospekteerders, jy weet … ‘artisinal miners’, soos hulle sê. The police call them zama-zamas.”

      “Nee, Jirre, Doc, ek soe-soe-soek ’ie kak nie.”

      “En as ek jou ’n raadslid maak, kolonel? Met winsdeling?”

      Piet het niks gesê nie, maar slapelose nagte gehad totdat hy finaal tot die gevolgtrekking gekom het dat sy planne by die Kulturama op niks gaan uitloop tensy hy ’n derde inkomstestroom kan bewerkstellig nie.

      Doc se skema was heel eenvoudig.

      “Ons sal julle van die rou produk voorsien. Julle het die plek, die tools en die bodies, kolonel, om die goud te smelt en dit in stawe te giet. Ons kan dit nie onder in die myn effektief doen nie en die volume is te klein om goeie geld mee te maak. Ons verkoop die produk aan die myn se Chinese eienaars. Hulle betaal en versprei die goud, veral na Indië wat baie daarvan soek. Ons baklei te veel met mekaar in die myn om nog besigheid ook te doen. Julle kry fifty persent. Hoe klink dit?”

      Daar was ’n lang pouse. Piet het met sy hande agter sy rug op en af geloop en met sy pa se klatergoud-briewemes op sy lessenaar getok-tok. “Sewentig persent,” het hy gesê.

      “Wat? Sêvêntie!” Doc was uiters verontwaardig. “Ek sal nie toelaat dat jy, ’n wit mokkel, kos uit my mense se monde vat nie. Weet jy hoe gevaarlik hierdie werk is? Kolonel, hulle bly soms weke lank ondergronds. Daar is geen lig of lug nie, geen dag of nag nie. Die kos wat hulle saamneem, is gewoonlik te min om van te leef. Vlieg in jou moer in, kolonel!” Doc het sy rug op Piet gedraai en swetsend ’n ent weggeloop.

      “Versigtig, Ndlovu. Dis fokken onwettig, be-broer!”

      Doc het omgedraai en terug na hom toe geloop, sy arms oor sy bors gevou.

      “Sixty.”

      “Vyf-en-sestig.”

      “Sixty is my beste offer, kolonel.”

      Piet het op sy hand gespoeg en met sy nuutste en gevaarlikste vennoot blad geskud. Ndlovu was duidelik bekaf, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie.

      Dit lê nou ver agter hulle. Doc vertolk vir die soveelste maal die rol van Dingaan op die Versoeningsfees. Vanaand se kleedrepetisie kan hy amper toe-oë aanpak. Piet sou dink die jaarlikse nederlaag by Bloedrivier kon die groot Zoeloe swaarmoedig laat, maar moet telkens glimlag as hy hom daaraan herinner dat Doc wraak neem op die Boere op maniere waarvan hulle nie eens weet nie.

      Om Doc se skouers is ’n vollengte-kamerjapon wat oop hang en met ’n luiperdvelmotief bedruk is. Daaronder dra hy ’n lendekleed van rooi, blou en wit krale. Sy gespierde lyf is blinkgevryf. Vermoedelik met Johnson’s-babaolie, want Piet kan dit ruik. Agter hom loop ’n helper met sy stoeltjie, assegaai en skild. Hy dra reeds sy tradisionele kopring en veer. Nes Piet het hy ’n Oakley-sonbril op, maar dié se lense is spieëlgoud.

      “Kolonel Piet, of sal ek sê Andries!” roep Doc gul oor die teerblad soos hy nader kom. Piet sug na binne. Dis elke jaar se grappie. “Ek het weer produk wat binnekort na julle kant toe kom,” en hy knipoog.

      “Nie hier nie, vir fuck’s sake, D-Doc,” sis Piet en kyk oor sy skouer. “Jy moet versigtig wees. D-Die polisiehoof is ook hier vanaand. Hy’t my gesê hulle gaan die zamas looi.”

      Doc skuif sy sonbril op oor sy voorkop. Sy oë vernou en glim aggressief in die skemerlig. “Daai vetsak sal nie naby ons kom nie, kolonel. Waar dink jy kry hy daardie vintage Hummer met die mags? Anyway, ek’s vanaand hier om my cherry te kyk en ek het ’n ringside seat!”

      “Wie’s d-dit?” Piet is nou die ene ore.

      “Wie dink jy? Daai engelgesig – kolonel weet mos, Lympi!” Toe stap hy statig af na die amfiteater.

      “Ndlovu, jy los my g-g-girls uit, hoor jy!” roep Rooipiet agter hom aan.

      Die groot man kyk nie om nie en stryk aan verhoog se kant toe.

      “En haal daai naelpo-po-politoer van jou t-toonnaels af. Jy’s nie fokken Mondrian nie!”

      Doc wys vir hom ’n middelvinger en sê oor sy skouer: “Sy’s staatseiendom, kolonel!”

      Ons sal sien, my maat, ons sal sien, dink Rooipiet.

      12

      Daar was ’n lang tyd dat Piet depressief was oor die Kulturama en sy werk hier. Ná die suiwelplaas waar hy so lekker gebak en gebrou het, kon hy hom nie uitleef in ’n stagnante myndorp nie. Soms het hy agter sy lessenaar gesit en huil en na sy oupa verlang.

      Maar alles het verander en hy voel soos ’n nuwe mens. Sy libido is ewe skielik terug. En wanneer het dit gebeur? Toe Lympi haar opwagting maak. Daar kan geen ander verklaring wees nie. Hulle verhouding het in die bestek van enkele weke só ontwikkel dat Saar ’n paar keer ernstig met Piet moes praat en Vlindra haar misnoeë openlik te kenne gegee het deur haar bene styf toe te hou wanneer hy, opgewerk na sy daaglikse


Скачать книгу