Weerlose meganika. Anton Roodt
plaas vinnig die gehoorstuk terug, vee oor sy hare en steek sy hemp by sy broek in. Hy gebruik sy das om iets swarts onder sy vingernael uit te vee. Hy is net gedeeltelik suksesvol daarmee. Dan druk hy die interkomknoppie met sy wysvinger. “Sy kan maar ink-k-kom, mevrou.”
* * *
En nou sit die buitengewoon mooi vrou met haar bene gekruis voor sy lessenaar, haar hande op haar skoot gevou. Haar rok beklemtoon haar aanvallige figuur. Sy kyk vol afwagting na Piet.
Hy steek sy hand uit oor die lessenaar. “Jy het vir my jou CV s-s-saamgebring?” Hy wil, soos ooreengekom met mevrou Kaltwasser, vir Lympi die geleentheid gee om haarself bekend te stel.
Toe sy afbuk na haar handsak, sien Piet dat sy ’n eenvoudige ketting om haar nek dra waaraan ’n gevleuelde silwerfiguur hang. Die embleem op die gesigkant van die koevert wat sy na hom uithou, kan hy egter nie eien nie.
“Dit is van my mentor af, kolonel. En nou is u my nuwe mentor.” Sy sê dit met oortuiging, asof dit ’n feit is wat nie verdere bespreking verg nie.
Haar stem is soel en melodieus. Of is dit strelend en betowerend? Hy is nie seker waar die gewaarwording vandaan kom nie, maar vandag het hy dit nodig.
Hy sny die koevert oop met ’n briewemes wat hy by sy pa geërf het. ’n Vergulde, swaar affêre met ’n tierooginlegsel. Lelik, maar dis omtrent al wat hy van hom oor het. Dalk het sy pa hom raak opgesom: bo blink, maar onder ongepoets. Sy pa het altyd die regte antwoord gehad, behalwe op die vrae wat vir Piet die meeste saak gemaak het.
“Jou n-n-aam is …” en hy kyk na die eerste bladsy van die gebinde dokument wat hy uit die rooi koevert getrek het.
“… Lympi, Lympi Lilia, maar jy spreek dit Lidia uit,” voltooi sy sy sin en lag gemaklik, asof sy gewoond is daaraan dat mense haar van verkeerd uitspreek.
Kolonel Rooipiet blaai deur die lêer se inhoud en lees hier en daar iets. Hy loer onderlangs na haar. Jirre, maar sy is mooi.
“Jy is ’n navorser … en stel veral be-be-lang in geskiedenis?” Piet het so iets laat blyk toe hy vir Yssel die e-pos met hulle behoeftes opgestel het.
“Dis korrek, kolonel. Dis immers wat die pos by u vereis, nie waar nie?”
Piet kyk vinnig op om te sien of sy iets vermoed, maar haar oë glimlag en haar gesig is nog net so oop toe sy voortgaan.
“My spesialisterrein is historiese landskapopname. Dit behels, soos u dalk weet, die sistematiese interpretasie van ’n landskap se kenmerke, om te sien hoe dit oor tyd verander. Ek gebruik argeologiese terreine, GIS-kaarte, foto’s, Google Earth …”
“Na-t-tuurlik. Baie nuttig vir ons. Eerst-t-teklas. Eersteklas.”
Piet het geen benul waarvan sy praat nie. Dit is seker ’n borduursel wat Boytjie in die e-pos bygewerk het. Hy maak ’n geheuenota om net weer ’n slag te kyk waarmee almal by die Kulturama hulself besig hou. Almal maak mos hier nes hulle fokkenwil wil.
“Vertel my iets oor jouself wat nie hier staan nie, Lympi. Wie’s jou ouers en waar kom jy vand-d-daan?” Piet is nie seker of dit gepas is nie, maar hy onthou mevrou Kaltwasser se aanbeveling oor die koeitjies en kalfies.
Toe sy antwoord, kan hy nie glo dat sy ’n sintetiese wese is nie – en dit sal gewoon makliker wees om op te hou om só oor haar te dink. Piet laat rus sy ken op sy hand. Hy kan heeldag na haar luister.
“My moeder is van Mauritius. Sy het in Cascavelle grootgeword, maar later na Port Louis verhuis, waar sy gewerk het. Sy het my pa ontmoet terwyl sy klasgegee het. Hy was ’n Hollandse ingenieur wat werk vir die regering gedoen het. Elektrisiteit is ’n groot probleem daar. Sy van was Hoenderdos.”
Piet onderdruk ’n grinnik. “Jy weet … juffrou … die loodgiet-t-ter wat die koperde-de-dak van die ou burgersent-t-trum in Welkom opgesit het, se van was Hoender-d-d-dos … Was hy dalk familie?” Hy weet sy het dié van seker iewers in ’n geskiedenisboek oor Welkom raakgelees terwyl sy haar ouers “uitgedink” het.
Sy glimlag, maar antwoord nie.
“Is d-dit waar jou Frans vandaan kom? Van jou ma af?”
“Nee, kolonel, ek het net ’n aanvoeling vir tale. Ek is vlot in al twaalf ons landstale.”
“Wat! M-Mandaryns ook?”
Lympi knik. “My ouers is dood toe ek vier jaar oud was. Ek het daarna in Lesotho by pleegouers gewoon.”
“Jy het in Bloemfontein stu-stu-deer?”
“By CANU, die Combined African National University, ja, kolonel.”
“My alma m-m-mater, maar toe was die n-naam … iets anders. Voor die de-de-dekolonialisasie-ontsond-d-diging.”
Hy glimlag toe hy verder lees. Niks wat Lympi hom so pas vertel het, is in die lêer nie. Dit is niks meer as ’n beknopte handleiding nie. ’n Gebruikersgids vir die Olympia Sewe Series, die mees gevorderde slimbotte wat in enige mark beskikbaar is, nes mevrou Kaltwasser oor die foon gesê het. So na aan mens-identies as wat moontlik is, staan daar.
Piet begin besef hulle kan hulle gelukkig ag dat Lympi hier in Welkom by die Kulturama beland het. Yssel het meer gedoen as waarvoor hy kon hoop of hom wou krediet gee. Maar, onthou Piet, hy moes deur sy nek betaal om haar te kry. Die minister gaan homself waarskynlik toekak wanneer hy dié uitgawe sien, maar hy het Piet mos carte blanche gegee om toe te sien dat die Versoeningsfees die kroonjuweel in die departement se tiara bly.
“Sê my, juffrou Lympi …”
“Noem my sommer Lympi, kolonel,” en sy vee haar kuif weg van haar voorkop.
“Reg s-so. Sê my, Lympi, ly jy aan hoog-t-t-tevrees?”
7
“Oom Piet,” sê Klein-Petrus een Saterdagaand ná ’n vertoning by die inryteater, “dis kieflekker hier bo, ’n mens sien weer kans vir die wêreld se kak as jy ná die fliek moet terug ondertoe.”
Piet het lank reeds vrede gemaak met Klein-Petrus se teenwoordigheid en so ook sy ongekunstelde taalgebruik. Boytjie het al oor laasgenoemde by mevrou Kaltwasser navraag gedoen. Haar verklaring was dat Klein-Petrus ook ’n Olympia Sewe Series is, maar uit komponente van ander slimbotreekse opgebou is. Hy is ook gelaai met ’n hele reeks halfvoltooide stelle sagteware. Dit verklaar onder meer sy liggaamsbou, taalgebruik, sy voorliefde vir sang en wat mevrou Kaltwasser eufemisties “sy idiosinkratiese geaardheid” noem.
“B-b-bly om t-te hoor, Klein-Petrus,” sê Piet, en toe aan die meisie wat aan die jong man se hand hang: “Moenie te laat uitbly nie, my skat.”
Die meisie staar met groot, bloupers irisse en botsellippe na hom en klem Klein-Petrus se hand so vas dat dit lyk asof sy die eerste keer iemand het om aan vas te hou. Sy is Ultra-Violetta, Piet se susterskind wat by hom tuisgaan terwyl sy matriek skryf. Sy spreek haar naam uit soos wanneer jy “viool” sê. Die fyn puisies al langs die haarlyn op haar voorkop is omtrent die enigste (tydelike) fisieke tekortkoming wat hy by die kind kan bespeur. Sy is wat hom betref gestraf met ’n nuttelose skoonheid en hoë intellek wat almal net gaan hartseer maak, insluitende haarself.
Oor hoe Klein-Petrus daarop gaan reageer, is Piet onrustig. Hy is alte danig met sy susterskind … of is dit andersom? Klein-Petrus lyk nie asof hy Piet se status as direkteur ernstig opneem nie. Hy is die ene spiere en Piet sidder om aan sy ander toerusting te dink, veral gegewe mevrou Kaltwasser se stelling dat hy vir opleidingsdoeleindes aangewend is. Sy suster is aartskonserwatief en sal nie toelaat dat haar dogter oor die kleurgrens vry nie, wat nog te sê die bloedgrens. Sy kak is geboek as sy suster van hierdie … vriendskap te hore kom.
Klein-Petrus se oë is dieselfde kleur as die inryteater se digitale skerm, soms blou en soms swart, maar vir die oomblik is hy is bloot ’n ornament aan Violetta se arm. Violetta en Klein-Petrus is ’n toonbeeld van alles wat die wêreld nie meer is nie: oop, onskuldig en vol verwondering. Nie dat dit lank so gaan bly nie, dink Piet sinies.