Weerlose meganika. Anton Roodt
stokoud, sommige nog swart-en-wit, maar kry dit juis daarom reg om die gehore te laat skater, vry of tjank, alles met oorgawe in die privaatheid van hulle motors.
G’n fokken wonder die publiek is mal oor sy feesvertonings nie. Piet het hom lank sit en verwonder oor hoe so iets ná so ’n lang geskiedenis van tweedrag en haat moontlik is. Sy gevolgtrekking was dat mense uiteindelik besef het hulle het omtrent alles om hulle opgedonder – die grond, die water, die lug, om nie eens van mekaar te praat nie. Die reuseskerm het ’n uitsig op ’n ruimte gebied waar, ondanks die ongeregtighede van daardie verlede, oerdeugde, morele waardes en liefde nog op die voorgrond was. Dit is nie asof enigiemand werklik glo dat so ’n plek nog kan bestaan nie. Nee, dit is eerder ’n goedvoel-ervaring, ’n terugflits wat daarop fokus sonder dat sosiale wroegings, politieke korrektheid en verantwoordelikheid in ag geneem hoef te word. ’n Gedeelde mite wat sonder debat kollektief begryp en aanvaar word.
“Die sk-sk-erm is ’n virtuele ve-venster wat oopmaak na die heelal daaragter.” Hy beklemtoon dit met ’n swaai van sy regterarm in die rigting van die laaste sonstrale. Hy draai na Boytjie, wie se Ray-Bans met die spieëllense op sy voorkop rus terwyl hy met ’n ligte frons op sy iPad rondblaai. Die flou sonlig verleen ’n oranje gloed aan sy fyn gelaat. Hy lyk nie spesifiek geroer deur die nuwe insig nie.
Ná ’n kort pouse gaan Piet voort: “Dis hoekom hulle k-k-kom. Honderde van hulle. Die armes en die armes van gees.” En as ’n nagedagte: “Geseënd is hulle.” Piet sluk aan die knop in sy keel.
“Ja, kol’nel, net so,” glimlag sy administrasiehoof vir hom met sy volrooi mond en perfekte tande.
Jirre, dink Piet, hy is net so verveeld met my stories soos die Israeliete by die Bergpredikasie. Maar as Justus Range nou net nie die nuwe dramateks opfok nie, wag daar vir die afgestomptes soos Boytjie Dames ’n moerse verrassing.
3
Piet sit die dramateks wat Justus – met sy insette – herskryf het op die Land Rover se instrumentpaneel neer. Sy oë is mistig en hy gee ’n snuif. Wat ’n bakgat storie, dink hy en vee met sy hand oor sy oë. Nee, nie bakgat nie, veel eerder … epies! En as hy eerlik moet wees, is die meeste van die belangrikste idees syne. Justus het ander woorde ingespan, maar dit bly sy idees. Hy is wel teleurgesteld – en as hy nog ’n keer eerlik moet wees, die moer in – dat Justus van sy pikantste bydraes tot die teks geïgnoreer het, maar met alles wat hy moes reël en bestuur, het hy nie tyd gehad om hom daaroor te roskam nie.
Ten minste is hulle al so ver, en hy is bly die kleedrepetisie is vanaand.
Maar wat ’n poging was dit nie. Laatnag in Justus se woonstel, terwyl Piet op die divan lê en hom hier en daar voorsê, het die navorsingshoof in ’n stuwing van kreatiwiteit die toneelstuk se teks herskryf. En miskien selfs die land se geskiedenis, het Piet gedink toe hy teen dagbreek terugloop na sy huis teenaan die grens van die Kulturama-terrein. Die kil oggendlug het teen sy blaaie opgekruip en sy tepels laat saamtrek. Hy het opgewonde gesidder. Dít, het hy gedink, is hoe Andries Pretorius by Bloedrivier moes gevoel het: tegelyk skytbang en jags.
En vanaand is dit ’n perfekte Saterdagaand, ten spyte van die hitte wat elke jaar vir hom erger voel. Onder die tamaai digitale skerm word die laer met blinkswart Fortuner Megas om die verhoog getrek, net soos hy dit gevisualiseer het. Dis darem een van sy idees wat Justus aanvaar het.
Die idee om die kleedrepetisie op video op te neem is die een waarvoor hy nie openlik krediet gaan of wil neem nie. Dit is ook nie ter sake nie, want behalwe vir Lympi en Klein-Petrus het hy vir niemand hiervan gesê nie. Hulle twee gaan hom help, maar hulle dink die videos is maar net vir rekorddoeleindes. Agterna sal hy die materiaal aanmekaarsit en alleen in sy binnekamer hom oor en oor verlustig aan sy engel en die sukses van sy fees. Piet sluit sy oë en hoor hoe die gehoor vir hom handeklap en hom weer en weer na die verhoog toe roep: Maestro! Maestro!
Sy gemoed word al hoe ligter. Dis moerse indrukwekkend, al moet hy dit self sê. En, wat meer is, hy doen dit vir sy land en natuurlik vir sy dorp. Hy trek weer diep asem in. “Dis fokken m-m-m-manjifiek!” roep hy uit met sy hande op sy heupe en kyk na die ontvouende skouspel.
Van die siele wat om die verhoog werskaf, kyk gesteurd op.
Meteens kry die skerm lewe en die blou elektriese gloed laat hom ril van lekkerte. Die spigtige Boytjie kom oor na hom toe. Die inryteater is nog leeg en hulle loop saam op teen die teerboggel voor die projektorkamer. Piet trek sy skouers op. “So, w-w-wat het ek jou gesê, B-B-Boytjie?”
Dié glimlag in sy rigting en veeg sy hare oor sy skouers. “Dis beautiful, oom Piet!” Die blou skerm reflekteer in die spieëls van sy sonbril.
Vir Piet is die jong man se blonde pruik nie heeltemal in die kol nie, maar nou ja, dit is ’n oorgang na ’n nuwe bedeling. Boytjie se voorgenome operasie is wel nog ’n “onbefondsde item” op die jaarlikse begroting en hy sal na die derdestroominkomste moet kyk. Om nou ’n oudit te kry, sal ’n gatslag wees. Boytjie weet in ieder geval hy kan nie staatmaak op die museum se finansiële steun vir sy borsvergroting nie.
Piet sug saggies. Vlindra sit baie druk op hom oor die operasie. Dis sommer kak. Sy is buitendien net ’n assistent. Net omdat sy soms by hom slaap, gee dit haar geen inspraak in bestuursaangeleenthede nie. Hy sal weer ’n slag die sweep moet klap.
Sy is mal oor Boytjie, maar aan die ander kant is sy mal oor almal. Dis hoe sy is. Piet moet toegee dat Boytjie baie aantreklik is en soms skrik hy vir sy eie gedagtes – soos nou. Sy halfmas-ereksie laat hom ongemaklik sy houding verander. Hy is nie presies seker wat dit is wat hom so prikkel nie.
Boytjie draai na hom toe. “Kol’nel, Klein-Petrus het gebel. Hy doen diens by die ingangshek. Die BBP’s is besig om aan te kom. Hy sê party het nie hulle uitnodigings nie en hy weet nie of hy hulle by die hek moet inlaat nie.” Boytjie se stem is effens hees en diep, amper asof hy te veel rook.
“Dis oukei. St-stuur vir hom die gaste-te-telys na sy f-f-foon toe.”
Die deernis jeens Boytjie wat Piet vanaand in hom voel opwel, is sterker as gewoonlik. Miskien omdat hy self so emosioneel is. Hy was nog altyd erg oor hom, soos oor ’n seun … of dan ’n dogter. Whatever. Sy oë word vogtig, sodat hy sy sonbril moet afhaal en daaroor vee. Hy wat Piet is, is die saligmaker van die gebrokenes, die vertraptes en die vervloektes. So sê sy aanhangers glo. Dit is daardie buitengewoon goed ontwikkelde sin vir sosiale geregtigheid wat hom die bynaam Rooipiet besorg het.
Dit kom al van skooltyd af, toe hy boelies laat les opsê het. Piet is amper geskors toe hy die stut van die eerste span se neus gebreek het omdat hy en sy gatlekkers Geween Bobbert se kunsbeen se hidroulika ontkoppel het en hulself kak gelag het toe Geween slingerend geloop en val het oor goed.
Die ander rede vir sy bynaam is die feit dat sy gesig so rooi word as hy hom vererg, wat nogal vinnig gebeur. Hy weet van sy bynaam, maar dit pla hom fokkol. Die res weet: Niemand lol sommer met Piet Moolman nie.
Die kolonel kyk na die silhoeëtte van Sint Helena se skagte. Die verlate strukture lyk byna sinister in die aandskemer. Net buite hierdie kulturele enklawe, weet hy, is die nagdiere besig om hulle lippe rooi te maak, gespes vas te trek en dwelms af te meet. Flakka, krokodil, whoonga en sulke shit.
Daar is ’n krieweling in sy nek. Welkom is op die oog af maar ’n kak plek, maar hy is tuis hier. Hy is die mense gewoond. Hy het dit nou die dag behoorlik besef toe hy hom bloedig vir sy susterskind Ultra-Violetta vererg het. Dié weet te vertelle dat Welkom in die prehistoriese tyd toe onder die water was, en toe dit eindelik wegtrek, het net die skuim agtergebly. Dit mag so wees, maar dit is hoofsaaklik dié wat geen opsies het nie wat oorgebly het. Hy het juis vir hulle hierdie skouspel aanmekaargesit. Dis húlle wat hoop die nodigste het. Sy mense. Hy vee weer die trane onder sy Oakleys af.
Buitendien, dink hy, stede word progressief mooier teen skemer, wanneer die ligte aangaan – byna soos ’n vreemdeling wat in die rooknewels van ’n kroeg eensklaps aanvallig voorkom. ’n Myndorp se liggies kan selfs die mees afgestompte sinikus betower en dan kan ’n mens die stad haar sweterige oksels en stink gate vergewe. Jirre weet, hierdie plek het heelwat van albei. Piet versink momenteel in introspeksie