Weerlose meganika. Anton Roodt
nie, dink Piet, eerder die sinchronisasie van die kosmiese ratwerk.
Die probleem is egter, sê Justus, dat die teks die werklikheid eerder verdoesel as verhelder. Dit maak dit vir die nageslag moeilik om te ontsyfer wat presies gebeur het en hoe dit moes gelyk het. Dit is maar die aard van die optekening van geskiedkundige gebeure, voeg hy half verskonend by.
Ja! dink Piet en kom orent.
Aan die ander kant, voeg Justus by, sal hulle by die Kulturama versigtig moet wees dat die Snyman-foto nie die teks verplaas nie.
“Ja!” roep Piet uit en beweeg om die lessenaar.
Justus deins terug in sy stoel en skuif sy bril op. “Die foto kan,” en hier dink hy vir ’n oomblik mooi, “een van die Afrikaner se kulturele hoekstene laat verkrummel. Maar,” prewel hy, “die eintlike merker in hierdie hele episode is die kamera, oftewel die toerusting. Toerusting of tegnologie het nie ten doel om die wêreld te verander nie, kolonel – bloot die betekenis daarvan.”
* * *
En nou het Piet pas Justus se skouers vasgegryp en dit uitgekreet: “Jirre, Justus, b-b-besef jy die implikasie van Snyman se f-f-foto?”
Hy bestudeer die koperplaat verder en nadat hy dit heen en weer gekantel het, kyk hy na die man met die swetende, verinneweerde liggaam vol knoppe en bulte en sê: “K-kom, my s-s-s-skerpsinnige vriend, ons het werk om te d-d-oen.”
Justus leun effens terug in sy stoel. “What do you mean, colonel?” steun hy.
“Die teks van die V-V-Versoeningsfees,” sê Piet naby sy oor. “Ons g-g-gaan dit oorskryf. Ek en jy.”
2
Met die son in sy oë ry Rooipiet teen die kant van die mynhoop op. Die pad is nou en steil, en hy kap met sy vuis teen die Land Rover se raakskerm om die kameras weer aan die gang te kry. Hy wil nie vandag hier afmoer nie.
Langs hom, verder as wat hy kan sien, strek die gruisklip boontoe, maar toe hy in die truspieël kyk, lê die Kulturama doer onder uitgestrek. Hy moet sê hy is deesdae trots op byna elke duim van die vyf-punt-nul-twee hektaar wat die kompleks beslaan. Dit is net die klompie vervalle baksteenstore en werkswinkels om die skagtoring wat nog aan sy gat krap. Niemand kan glo dat dié plek eens Sint Helena was nie, een van die oudste en diepste myne in Welkom. ’n Entjie van die eertydse Skag 7 lê die nuwe administratiewe kantore en uitstallokale wat die hart van die kompleks vorm. Daaromheen is verskeie diensruimtes soos laboratoriums, store en loodse en een of twee ouer mynhuise. Heelwat van die geboue was vroeër slaapsale vir mynwerkers, wat hy laat omskep het toe die Kulturama hier gevestig is.
As direkteur het Piet met sy dramatiese en verreikende transformasie-agenda die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur dermate beïndruk dat hy ’n klompie jare gelede vyfhonderdmiljoen rand by die direkteur-generaal gekry het vir die vestiging en opknapping van die sentrum.
Agter die voertuig glip die stad se porieë en littekens stil-stil onder die skadu’s van die laatmiddaglig in. Links van hom, in die verte, kruip die skemer vaalgrys nader oor die bar landskap. Dis naweek en hulle is byna daar.
Bo-op hierdie mynhoop het hy uit niks ’n plek gemaak wat so na aan die hiernamaals is as wat ’n mens seker ooit in Welkom sal kom. Boytjie Dames, sy administrasiehoof wat langs hom in die voertuig sit, het die sentrum se naam uitgedink seker so drie maande nadat hulle met die opknapping begin het. Hulle het nog in Piet se ou kantoor gesit en name rondgooi. Piet onthou dit met ’n genoeglike glimlaggie. Boytjie is, soos hy dit graag wil sien, sy strategiese regterhand. Donners slim en op sy plek. Piet sal dit nooit hardop sê nie, maar daar is iets sensueels omtrent Boytjie. Hy is van middelmatige bou en lengte, skraal maar tog gespierd. Dit is egter sy gesig met die hoë wangbene en gladde vel wat veral by die vroulike geslag byval vind, of dis wat Vlindra sê. Sy oë is die kleur van Oreos, met swaar ooglede, en sy lippe is vol en rooi.
“Wat van Nirvana, kol’nel, of Die Paradys?” was Boytjie se eerste probeerslag vir ’n naam vir die inry. Hy het sy donker kuif met ’n fyn regterhand teruggevee. Sy slape is altyd skoongeskeer.
“Nee, nee, B-b-boytjie. Een klink soos ’n p-p-p-popgroep en die ander een soos ’n gastehuis in Reitzpark.”
“Wat dan van Empireum? Dit beteken …”
“Ek weet wat dit be-be-beteken, dankie.” Piet het nie regtig geweet nie, maar dit het hom geïrriteer dat Boytjie klink soos iemand wat deur die kinderensiklopedie blaai en sommer goed alfabeties aflees. Piet het eerder aan Eden gedink. Maar dit is seker nou weer te “prosaïes”. Boytjie gee hom soms só ’n pyn in daardie prins van alle spiere.
“… die hoogste hemel,” het Boytjie nietemin voortgegaan.
Piet het so ’n rukkie gedink en toe oor sy lessenaar geleun en hom aan sy wang geknyp. “Ek hou d-d-daarvan. Dis die per-per-perfekte naam vir ’n inryteater. Eerste-fokken-klas, B-Boytjie.”
“Dankie, kol’nel.”
Vir Piet was die betekenis een ding, maar dis nog nostalgies daarby. Die naam Empireum laat hom dink aan die ou bioskope soos die Colosseum en die Empire in plekke soos Johannesburg en Bloemfontein, voordat die TV destyds gekom het. Dit was selfs voor sý tyd, maar die jongeling sou hiervan niks verstaan nie.
En nou is die naam gevestig. Dit is ook al die sewende jaar dat hulle die Versoeningsfees hier sal opvoer.
“Magtig, B-B-Boytjie, kyk net hoe fantasties lyk dit vanaand hier bo!” beduie hy toe hulle op die plato stop. Hy gee ’n lang fluit.
Rooipiet het al amper vergeet wat hy alles hier gedoen het. Honderde kubieke meter bogrond laat aanry. Vaderlandswilge, trassiebosse en ander inheemse bome geplant. Grasse en grondbedekkers wat min water vra. Die amfiteater vir motors word omsoom deur ’n lushof van plantegroei wat aansluit by die golwe teer waarteen die motors parkeer. Dwerg-verbleikblomme is spesiaal vir die fees al langs die teerblad ingeplant en hulle soet geur luier in die vroeë aandlug. Boytjie Dames se hand is duidelik te bespeur in dié delikate maar effektiewe stukkie detail.
Op die agterste gedeelte van die teerblad is ’n groepie zama-zamas wat te oud is om ondergronds te werk, lusteloos besig om met besems die laaste mynsand van die teer af te vee. Die besproeiing suis kalmerend in die skemerlug en vlae watersproei word swewende misdampe waar dit op die warm teerblad te lande kom. Piet trek diep asem in.
Sy wange gloei en sy nek is natgesweet, al is die lugversorger in die vier-by-vier koel genoeg gestel. Sy sakdoek is klam van al die afvee. Hier op die mynhoop is die lug darem ’n aks skoner en koeler.
Die sonsondergang, in skakerings van rooi en geel, kontrasteer manjifiek met die swart reghoek van die reuse- digitale skerm wat op drie staalpilone gemonteer is. Die rye paaltjies met die Bluetooth-klankkoppelvlakke glim silwer en ritmies in die skemerte.
“B-B-Boytjie, weet jy hoekom ek die inryteater hier bo laat oprig het?”
“Ja, kol’nel. Kol’nel het my al vertel.”
Rooipiet ignoreer die laaste sin.
Hoe moes hy nie sukkel om by die departement die nodige geld te kry nie. Daar was ook die teenkanting van sy personeel wat hy verwag het. Die meeste van hulle is in ieder geval fokken useless. Einde ten laaste was hy verplig om Justus Range se gat te lek om navorsing te doen oor hoekom inryteaters wêreldwyd weer gewild geword het, met die gepaardgaande statistiek, besigheidsplanne en bla-bla. Hy was ook reg.
Die inryteater is nie baie groot nie, maar mense geniet dit. Hulle kom hiernatoe om ’n ruk lank weer ’n wêreld te beleef wat ’n heeltemal ander – en vir sommige ’n beter – plek was. Miskien, wie weet, het hierdie hunkering iets te doen met die nadraai van die viruspandemie van ’n dekade of wat gelede. Die rolprente waarvan hulle die meeste hou, het Piet gevind, is soetsappige liefdesverhale sonder seks, oor die natuurskoon, deernis, meelewing en vergifnis. Flieks waarin mense in oënskynlike harmonie saamwoon. Onbewus van die veranderinge wat sou kom, weet almal in hierdie kamma-wêreld waar hulle staan. Die betroubare plaashulp, Jonas, antwoord “Ounooi!” wanneer hy by die agterdeur