Brouhaha. Eben Venter
n>
Brouhaha
Eben Venter
Tafelberg
Om te huil oor jou lewe
Die begrafnis het die dorp tot stilstand gebring – dis ’n oordrewe ding om te sê, maar tot ’n mate was dit waar: die begrafnis van Clive van Hassel, angoraboer, eggenoot, vader en liefhebber van die Karoo by uitstek, het Prins Albert oor die middaguur stiller laat word. By die 700 mense in die kerk and not a dry eye in the house, soos hulle in Ierland sê. Ek het lank ná die begrafnis nog daaraan gedink: Waarom het hierdie begrafnis mense so laat huil, want nie die dorp nie, maar die lewe van mense is vir ’n oomblik tot stilstand gebring?
Die laaste keer toe ek vir Clive gesien het, was onder ’n klomp bloekoms in die Langkloof. My pa was destyds ernstig siek en ek het soos ’n vaal duiwel oor die hobbelrige kronkelpad deur die kloof gejaag om by hom uit te kom. Op my hakke het ’n wit kar gelê soos ’n irriterende kleinboetie. Toe ek by die piekniekplek aftrek, trek die wit kar ook af. Toe blyk dit Clive van Hassel te wees; op pad na die lughawe om ’n angorakongres in Texas te gaan bywoon. Clive het my oor die kole gehaal oor my jaery, en daar in die koue wind dink ek toe: Die man ken my skaars, waar kom hy vandaan om vir my te kom voorsê hoe ek moet ry! Ons groet en toe ek omdraai, sien ek teen een van die bloekoms se stam is uitgekerf: Tonie loves Tanja.
Clive se vaderlike sorgsaamheid en die stukkie liefde daar op die boom het ek onthou, en dit het betekenis gekry daar in die groot ruimte van die NG kerk, eenvoudig en formeel, maar nie onvriendelik nie. Die liturgie waarvolgens die begrafnisseremonie gereël is, was onkonvensioneel. Daar was ’n voorlesing uit die Bybel sonder dat dit deur ’n preek gevolg is. Of so het ek aanvanklik gedink. Een ná die ander het die naaste familielede en vriende opgestaan en agter die kansel – U woord is ’n lamp vir my voet op die fluweelkleed uitgeborduur – laaste woorde oor hom gesê. Al die woorde was merkwaardig en wel om verskillende redes. Hy was ’n fors, gedrewe man; buite die kerk het minstens twee mense vir my gesê hy was ’n tawwe man, maar ook menslik, volkome menslik. Oukei, hy het soms dronk geword, het sy broer gesê, maar hy’t sy vriendskappe nooit verwaarloos of laat staan nie. En wat outoriteit betref, het hy ’n gesonde disrespek gehad. Sulke eerlike goed.
Dit was een van die redes waarom mense ontroer was – en oor hulle eie lewe stil geword het. Want hoeveel van ons kan of gaan by ons pa se begrafnis sê: Goed, dié pa van my was soms onredelik, bot, suinig en eensaam, maar hy was ook ’n vader vir my, ’n man wat sy liefde op sý manier betoon het: Ek het my pa lief. Meestal kry ons dit nie reg nie, nie op die begrafnis nie. Meestal kry ons dit ook nie reg om by sy negatiewe punte verby te kyk en uit te kom by die kwesbare mens nie. Ek dink hierdie onvermoë én die deurbreking daarvan op daardie Aprildag in die NG kerk op Prins Albert het baie laat huil.
Daar was nog redes vir ontroering en selfbesinning.
Een van die opvallendste dinge van die twee Van Hasselkinders, Frances en Jordi, was hulle gepoleerde aksente, gemaak en geslyp op Diocesan School for Girls en St. Andrews College op Grahamstad. Al twee wou op hulle vader se begrafnis praat, al twee kon dit vlot doen. Hierdie kinders het ’n besondere krag getoon – miskien is dit die kosbaarste nalatenskap van hulle vader aan hulle.
Toe staan ’n swart meisie in die gesinsbank op en stap ook na die kansel toe. Haar naam is Ntombe Vabaza, vorige hoofmeisie van Diocesan en boesemvriendin van Clive se dogter, en trek los met ’n pryslied. Baie van haar frases begin met “tata”, al Xhosa-woord wat vir die begrafnisgangers begrypbaar is: pappa. Maar dit maak nie saak nie, want haar woorde styg en daal en swiep en golf; haar woorde klink op, dit klink na ’n uitnodiging tot die lewe van hierdie tata, hierdie man wat die einde van sy lewe so vinnig en dapper en woordeloos tegemoetgegaan het. Die krag van Ntombe se pryslied lê in die liriese aard daarvan, die besondere gawe wat sy het om deur haar lewering gevoel oor te dra: nie sentimentaliteit of oordrewe rou nie, maar eerder blydskap en dankbaarheid oor die lewe. Lank nadat sy weer by die voorste gesinsbank ingeskuif het, vul die eggo van haar pryslied nog my ore.
Stadigaan kom daar ’n beeld van hierdie man en sy gesin na vore: een van heelheid. Uit die aard van ’n familiegeskiedenis is daar verskille, argumente, verwyte – dikwels haat – maar soos jy daar op die houtbank sit, kry jy die indruk dat daar genoeg verdraagsaamheid en genoeg van ’n inklusiewe moraliteit en lewensbenadering aanwesig was in die familie om hulle verskille, soos ’n mens sê, by te lê.
’n Derde Van Hasselkind, Eugene, stap nou na die kansel om sy laaste woorde te spreek. Eugene is ’n aangenome seun, ’n bruin seun van die distrik, en ook sy aksent is dié van St. Andrews. Ook hy sê iets kort en kragtigs oor sy gestorwe vader. Nogeens word die merkwaardigheid van die familie binne die konteks van Suid-Afrika beklemtoon, dié keer vanweë sy nie-rassigheid. Daar is in hulle huistaal, Engels, gepraat, maar Eugene het nou ook Afrikaans gepraat, Ntombe Xhosa. Agter die bank waar die hooflede van die gesin sit, sit twintig bruinmense, werkers op die Van Hassel-plase. Dit was glo hulle keuse om reg agter die gesinsbank hulle plek in te neem. Ná die begrafnis is daar vir hulle, soos Clive dit in sy laaste dae versoek het, ’n bok geslag en kerrie en rys gemaak en hulle sou dit geniet op ’n plek wat aan hulle bekend is, naamlik die grasperk voor die Van Hassel-plaasopstal.
Naby my sit ’n vrou, noem haar Franciska, wat regdeur die verrigtinge nie kon ophou huil nie. Franciska het drie dogters en sy is dapper en selfstandig, ’n bittereinder, omdat sy geen ander keuse het nie. Sy is sonder haar man en haar dogters sonder hulle vader. Die “sonder” slaan op die man se skisofrenie: Hy was net soms teenwoordig, meestal nie. Franciska se drie dogters het eintlik sonder ’n pa grootgeword.
Die nie-gebrokenheid van die Van Hassel-gesin en die harmonie wat hulle in hulle huis en op hulle plaas bewerkstellig het, is byna konfronterend. Daar sit die begrafnisgangers in die intieme teenwoordigheid van hierdie besondere gesin en dit maak hulle baie treurig; van die galery af kan ek hulle sien, ek kan my eie treur raaksien. En daar is Franciska wat huil oor die gebrokenheid van haar eie gesin.
Om nogmaals die (potensiële) heelheid van die lewe te herdenk staan die koortjie van die VGK van Noordeinde nou op en sing met ’n verhoogde melancholie. Dit raak byna te veel, en uit haar handsak stuur Franciska pepermente na ’n paar mense om haar.
Een van die laaste mense wat praat, is Dampie Jonas, ’n ouerige man met net een been, netjies met ’n das en swart baadjie. En toe kom die preek wat jy gewoonlik by begrafnisse kry, en dít van ’n man wat nie kan lees of skryf nie.
“Die dak het van die huis afgekom,” sê Dampie oor die gaping wat Clive se heengaan laat. Baie ander dinge sê hy sonder om ooit op te kyk na die mense. Miskien is dit oor sy beskeidenheid, maar dit kan ook sy manier wees om aan sy ongeskrewe woorde vas te hou. Eindelik, om by die misterie van die hiernamaals uit te kom, vertel hy: Daardie laaste keer toe hy by sy bed gaan sit het, het die “seur” – sý woordkeuse – nie meer gepraat oor die lewe wat agter hom lê nie, maar net oor dít wat voor hom lê. Dis al.
Dampie bly toe nog praat asof hy met sy woorde vir oulaas die “seur” wil vashou. Dan laat hy tog los en loop op sy krukke terug na die gesinsbank.
Die seremonie is verby. Die Van Hassel-gesin stap eerste uit, daarna die werkers. Buite is die son skerp en helder – herfs hier teen die Swartberge maak so: Jy kan net-net die verskil met somer aanvoel. Voor Pep Stores het ’n klein skare vergader om na die begrafnisgangers te staar.
“Het hulle hom toe gebêre?” vra Freddie vir my toe ek gaan petrol ingooi. “Seker maar,” sê ek.
*
Klein dood in die Dopperkerk
Die Dopperkerk was my redding op al daardie bloedig warm Sondae. Ek praat van die binnekant van die Gereformeerde kerk op Burgersdorp, wat vir my soos die fynste versiersuikerwerk gelyk het, alles spierwit.
Al daardie Sondae wat ek deur die lang preke moes sit en deur die nóg langer gebede staan, al daardie jare totdat ek weg is kosskool toe.
Van toe af het ek verander oor die kerk. Die dominees en hulle preke, alles wat net effens na hiet-en-gebied ruik, het ek verwerp.
Maar ek