Brouhaha. Eben Venter

Brouhaha - Eben Venter


Скачать книгу
wat ek wakker geword het op die plaas, die eerste sonstrale oor my kombers en Jan Fiskaal roep in die tuin, nes altyd, maar jy wéét vanoggend is anders.

      Die eerste teken kom uit die badkamer waar my pa skeer met Prep en Minoras en luister na gewyde musiek oor die Afrikaanse sender.

      En tussenin die aanbieder se stem, rond en eerbiedig, die ene dominee al klaar. En die volume harder as weekoggende daar waar ek kop onder die lakens wil wegkruip, wil verdwyn, wens vir pokkies en pampoentjies, enigiets, net om nie op te staan en kerk toe te gaan nie.

      Die hitte was die grootste bekommernis. Sondae in die winter is nooit so by my geheue ingegrif nie, vir my was kerk toe gaan altyd net kokend.

      Van daardie oomblik dat ek my kaal voet op die bedmatjie sit en moet begin aantrek, langmouhemp, langbroek, baadjie en wurgdas – jy’s klaar morsdood.

      Weekdae kon ek my ma se soetsuur appelkooskonfyt net nie dik genoeg op my roosterbrood smeer nie; Sondagoggende het dit my naar gemaak.

      My ma het die langste gevat om uit die kamer te kom, uitgevat met hoed en bypassende handskoene en handsak en die eetkamer skielik vol van haar parfuum.

      Teen daai tyd het my pa die kar uitgetrek gehad en al drie keer op die toeter gelê. Almal, selfs die boerboel op die klaar warm stoep, was Sondagoggende ongeduldig.

      My pa trek weg in sy trots, sy pikswart Merc, ons vier kinders ingestop agter met minder plek vir bene en arms omdat almal so aangetrek is. En oor die hitte. Ek moet sorg dat ek by die deur sit om die drie hekke oop te maak. My klein boetie is nog té klein, my ouer broer is al op hoërskool, hy’s te oud om hekke oop te maak, en my suster is ’n meisie en meisies maak nie hekke oop nie.

      Lank voor elke hek begin my pa al stadiger ry, al weet hy ook dit help niks nie: Sodra hy briek en stop, kom gooi die plaaspad van agter af ’n laag poeierfyn stof oor daardie silwerskoon swart duco van sy Merc. Hy verpes dit soos niks anders op aarde nie.

      Binne, die vensters bottoe teen die stof, word almal nog ’n paar grade rooier. Verder tot op die dorp is dit net my ma se parfuum wat al hoe sterker bedwelm, soet en dik en donkergoud – gewoonlik ’n teken van liefde wat aankom na jou toe, maar op Sondae op daardie sweterige agtersitplek kan dit jou amper uitsit.

      As ons oor die brug die dorp binnery, is dit hoofsaak in my pa se kop of hy daardie skaduwee onder een van die ligusterbome in die systraat gaan kry. Of het oom Koot met sy Pontiac dit nou weer vanoggend gaan staan en steel?

      Beskeie huisies op en af in daardie systraat langs die Gereformeerde kerk, gebouwd deur onze Vaderen 26 November 1860; nagmaalhuisies, gebruik deur boere wat baie diep die distrik in bly en net een keer per kwartaal kon inkom.

      Dat hulle voordeur toe was, was te verstane, maar die ander voordeure was ook almal toe. Seker maar arm mense wat Saterdagaande kwaai gedrink het en nie wil laat sien dat hulle nog lê nie.

      Dit is wat ek opgemaak het terwyl ons so op ’n skewe ry verbystap en met die leikliptrap opklim.

      Ons bank sou niemand vat nie, dis ’n ongeskrewe wet. Voor ons sit die Hennings in hulle bank, agter op ons koppe kyk die Groblers, skuins links voor sit die Van Wyks, regs die Krugers, die Du Plooys, nog Venters, al daardie ou Doppervanne.

      Die Gereformeerde kerk, gebou in die Gotiese styl en ontwerp deur ’n Duitse argitek met drie balkonne en drie diep vleuels, was natuurlik ook groot genoeg dat niemand iemand anders se bank hoef te vat nie. (Vandag kan Burgersdorp se hele wit gemeenskap van om en by 1400 mense in daardie kerk inpas.)

      Moet ek al begin stories opmaak om my deur die diens te kry? Amper.

      Seënbede word uitgespreek met die dominee se arms uitgestrek van oos tot wes, dan volg die voorlesing van die Tien Gebooie.

      Hoekom sal jy nou jou naaste se esel begeer? Sy vrou, miskien, as jy eendag groot is.

      Wanneer die voorlesing uit die Ou Testament begin, weet ek dis tyd om te begin opmaak. Van nou af en regdeur die eerste lang gebed is dit hel, maar dit mag jy nie sê nie, want die hel is ’n duisend maal warmer, en daar is duiwels met harige puntore wat drietandvurke in jou boude druk.

      Al met die gewelwe van daardie spierwit dak stap my oë, al met die paadjies langs tussen die spierwit vierkantige koeke wat daar in rye vasgeplak is.

      Hoe het hulle dit reggekry? Hoe bly dit eeue lank so spierwit?

      Op en af gly ek na die regter- en linkerbalkon wat gemors word, want hy staan leeg en ’n mens sou so diep daar kon wegkruip en indut.

      Dan na die sentrale kandelaar met sy dik maag van perlemoenglas en vier fakkels, almal aan die brand met so ’n milde lig wat jou moet help om jou naaste lief te hê soos jouself.

      En die dik goue ketting wat daardie lamp, die grootste en swaarste wat ek nóg gesien het, vashou tot bo in die spierwit gewelf waar hy reg in die middel van versiersuikerkrulle vasgemaak is en vir seker eendag gaan afval bo-op die diakens.

      Die lang gebed. “Staan op,” fluister my ma sag as ek nog nie op is nie. Nou mag jy nie meer jou oë oopmaak nie. Nou is dit net eenstryk deurdruk.

      Jy begin deur op jou hakke te staan en dan probeer jy op die brug van jou voet staan en dan op jou tone so lank soos jy kan.

      Eenkeer moes ek die bank voor vasgryp en raak toe per ongeluk aan tannie Bets se skouer, plomp en warm.

      Visse begin ek onderskei onder die waters van die aarde en voëls wat vlieg op die golwe van die wind, swewe, swewer, swewendste, sweet tussen my boude en sweetdruppels een, twee, drie uit my kieliebakke en ’n duiseling begin stadig posvat al baklei ek hóé daarteen.

      En die dominee is nou eers by die armes van die aarde, dié wat nie so geseënd is soos ons nie, dan kom die ou mense nog en al die siekes op die dorp en op aarde en dan die wysheid en geduld wat na die regeringsmanne toe moet gaan.

      Ek is klaar met al die swewende en swemmende skepsels en die duiseling begin my vasvat in sy sweterige palms, min of meer soos een van die duiwel se adjudante jou vasvat net voordat jy iets groots wil gaps.

      Nou word dit pure psigedeliese (ek het die woord eers op hoërskool geleer) borrels binnekant borrels en wilde, galopperende strepe.

      Moet nou maar eers my oë oopmaak. Twee deure links en regs agter die preekstoel lei na die konsistorie, elkeen van donker hout met die mooiste goudbruin venstertjies.

      In die middel van elke venstertjie is ’n goue lekkertjie. Tussen die twee rye van vyf venstertjies elk is daar vier klein ronde gaatjies.

      Baie min mense weet van hulle en nog minder dat Brolloks se geel oog wat na Skoonlief geloer het, net mooi daarin sal pas – vanaand gaan my pa dalk vir ons uit Langenhoven lees.

      Amen. ’n Blou golf lig val hoog uit die linkerkantste gepunte venster oor die gemeente, nes die Duitse argitek dit bedoel het. Dankbaar kug die susters, die konsentrasie uiteindelik verby. Dankbaar gaan sit die broeders. Sit is skielik hemel op aarde.

      *

text2.tif image4.tif

      Die ander Auschwitz

      Min mense weet dat Auschwitz ook ’n dorp is, een met skoolkinders en winkels en gewone mense wat in die sitkamer voor die TV sit en ’n ordentlike lewe probeer lei. Teen 1940 het die Duitsers twee konsentrasiekampe, Auschwitz en Birkenau, hier in die suidweste van Pole begin oprig. Die dorpsmense het nie daarvoor gevra nie, maar dit was reeds besette gebied en die Duitsers kon maak wat hulle wil. Die breuk tussen die dorp en die konsentrasiekampe is tot vandag toe daar.

      Eintlik moet die dorp op sy Poolse naam genoem word, naamlik Oświęcim, maar byna sonder uitsondering hoor jy Auschwitz. Oor die jare het die naam Auschwitz ook sinoniem geword met die Volksmoord van die Jode en vir een van die grootste vergrype teen die mensdom.

      Stel jou nou voor om op


Скачать книгу