Brouhaha. Eben Venter

Brouhaha - Eben Venter


Скачать книгу
jy grootword met kosse en smake en meestal daarby hou.

      Sodra die karkas opgehys is met katrol en ketting, die vloer van die garage silwerskoon uitgevee, kry die res van die mense brekfistyd. Die vars beeslewer net so op die kole; iemand het reeds die vuurtjie met besemboshoutjies en ’n Volksblad-bladsy aan die knetter. My pa eet vinniger as gewoonlik, stoot sy stoel driftig agtertoe en laat val sy gebruikte servet net so op die leë papbord. Die telefoon lui: Dis oor tannie Bets, hulle plaas is net daar onderkant Spioenkop. Nee, dit gaan nie goed met haar nie. “Ons sal vir hulle ’n stukkie van ons wors stuur,” sê my ma. Sy eet net ’n dun snytjie anchovy toast met koffie.

      Die garagedeure is oop na die noordekant toe, en teen die tyd dat die vleis uitgeslag word, hou die son jou rug warm. Die vleis is ook nog warm, die aartjies kan jy oor die vleis verspreid sien lê, die vet aan die vleis warm en sag. Teen môre, die tweede dag van beesslag, sal die vleis koud wees en makliker om mee te werk. Koue vleis maak ook die messe nie so vinnig stomp nie.

      My pa het meestal net een slagmes gebruik, so ’n lang platte met ’n breë, ovaal punt en stewige houthef. In sy wit jassie was hy die hoofslagter, hy’t net geweet waar lê die verskillende biltonge en die T-bone steaks – ons het nooit die Afrikaans daarvoor gebruik nie. “Mense, hierdie bees is omtrent sag vanjaar,” sou my pa trots sê. Dis die eindproduk van die arbeid, ’n jong Bonsmara-ossie vetgemaak op jou eie plaas. Ek was nooit eintlik ’n man vir steak nie, maar ek onthou daardie T-bones maande later op die rooster: Dit was die sagste en smaaklikste beesvleis wat ek nóg geproe het. Sondag met ’n bottel opgespaarde Nederburg Shiraz op draadstoele onder die Amerikaanse esseboom.

      Ek het nooit al daardie vernuftige snitte by my pa geleer nie.

      Tussendeur het Arnols sy mes skerp gehou. Een vir een is die biltonge uitgesny, die heel grotes vir nat biltong, byna soos die Italiaanse prosciutto, en die kleintjies wat ná ’n week al winddroog sal wees. Die groot emaljeskottels, gekeep van gebruik, het ek aangedra en die biltonge in die oopgespreide vel van die bees uitgekeer, later so ’n bergie vleis. Teen laatmiddag het my ma gekom met growwe gryswit sout. “Jong, jy moet nou vandag daai biltong te sout maak,” het my pa gemaan. My ma kon haar net daar opruk.

      Draadhakies in die vorm van ’n groot S het ek deur die voorkop van die biltonge gedruk en dan moes ek op ’n leer staan en begin ophang. Onder die oorhang van die dak aan die noordekant van die huis. Winterson en wind, maar veral ryp het daardie repe sommer gou gedroog. My broer het aangegee en teen die einde van so ’n skottel vol was die onderstes sopnat. Bloed het by my hempsmou ingeloop. Ek het dit verpes.

      Oor so ’n drie dae van beesslagtery was daar baie om te onthou. Maar dis maklik om dit te herroep omdat alles volgens ’n vasgelegde orde verloop het. Dit was ’n ritueel, en daarin het die respek gelê: vir die vleis, die waarde daarvan, die heerlike dinge wat dit sou word; vir die dier wat moes lewe net om so ten einde te kom.

      Die resep vir die boerewors was ’n oorgelewerde ene. My ma het hier en daar geweeg, maar meestal sommer met die hand geskat: sout, peper, asyn, pangeroosterde koljander, al daardie geurige speserye.

      Die beesvet is saam met seepsoda opgekook en het pragtige blokke boerseep geword; die vel is gedroog en later verkoop; die murg uit die murgbene het marrowbone on toast geword; vir haar steak-en-niertjiepastei het my ma die deegkorsresep van Ouma-Groot gehad, die een wat jy met suurroom maak.

      Dit was alles so duidelik en suiwer en mooi, amper onskuldig.

      Twee weke ná beesslag is die eerste dun biltong reg. Met sy knipmes sny my pa vir ons blaadjies biltong wat op die rugkant aanmekaar gelaat is, soos ’n boekie, voor die kaggelvuur, lank gelede op ons plaas in die Oos-Kaap.

      *

      Die nuwe rentmeesters

      My pa sal in sy graf omdraai as hy moet weet dat sy eens geliefde plaas nou aan ’n bruin man behoort. Of sal hy?

      Ek ry na Burgersdorp in die Noordoos-Kaap om die nuwe eienaar, Frank Uitlander, te gaan ontmoet. Die plaas se naam is Rietfontein, en dis waar my pa begrawe is. Die beskeie begraafplaas is aan die noordekant van die opstal geleë. Behalwe my pa s’n is daar slegs twee ander grafte: dié van Jotham Joubert, die vorige eienaar, en ’n graf met ’n sandsteenblad sonder naam.

      Ná my pa se dood is Rietfontein aan ’n ryk wit man verkoop. Die laaste keer dat ek hom gesien het, was op my niggie se troue. Hy het ’n ligpers hemp gedra met ’n groot wegvliekraag en ’n goue ketting om sy nek en linkerpols. ’n Joviale soort ou; jy kon sien geld is nie ’n probleem nie. Mense wat sy sake ken, het my gewaarsku: Hy koop nie jou pa se plaas oor sy mooi naam of oor die bergveld met die ruiggras of oor die sekretarisvoël wat daar op ’n bloubos nesmaak nie. Daardie man is ’n spekulant, hy’s g’n boer nie.

      Hulle was toe reg. Dit was nie lank nie, toe het die ryk man gehaal uit die grond wat hy kon en die plaas opnuut in die mark gesit. En nou behoort dit aan ’n bruin man. Oor die telefoon maak ek ’n afspraak met mnr. Uitlander. Ons ken mekaar van g’n kant af nie en daar is nie rede vir oorvriendelikheid nie. Hy weet ek wil kom oor daardie stukkie grond waarin my pa se kis lê.

      Die reis deur die Oos-Kaap is emosioneel. Tussen Aberdeen en GraaffReinet is daar blouapies langs die pad, soms óp die pad, dis nou net om oor hulle sterte te ry. Anderkant GraaffReinet klim jy twee passe totdat jy in die hoërliggende Noordoos-Kaap met sy vlaktes en spitskoppies kom. Daar’s Renosterberg net buite Middelburg wat glad nie na ’n renoster lyk nie – al die bakens ken ek, ek het saam met hulle grootgeword. Ek ry ín my verlede in.

      My pa is die hoofrede vir my besoek aan die familieplaas. Ek is bang sy graf gaan geskend word. Die gedagte dat iemand die graf gaan oopgrawe en sy geraamte uit die kis haal en eenkant wegsmyt sodat die kis afgestof en herverkoop kan word, kom reguit uit die hel. Maar dis nie verregaande nie: In ’n berig in Die Burger het ek eenkeer gelees dat grafte in Victoria-Wes se begraafplaas oopgegrawe word. Ek het ook gehoor – maar dit nog nooit bevestig nie – dat swart mense die einste vrees besweer deur ’n betonblad bo-op die kis te laat gooi kort nadat hy gebêre is.

      Om eerlik te wees, terwyl die ryk wit man nog die eienaar van Rietfontein was, was ek gerus oor die graf. My pa se eertydse bestuurder het toe ook nog ’n ruk lank in die opstal aangebly en gesorg dat die begraafplaas geskoffel word. Maar noudat ’n vreemde man aan die roer van sake staan, het ek die vrees. Dis ’n kras vooroordeel, die soort ding wat jy teenoor vriende aan ’n etenstafel erken, maar nie in die openbaar nie. Dit getuig van diepliggende wantroue en ek is skaam daaroor. In stilte hoop ek mnr. Uitlander sal my daarvoor vergewe.

      Soos ek die plaas nader, raak die ou bakens al hoe meer. Op daardie plaas was die tennisbaan waar my pa-hulle Saterdag-middae gaan tennis speel het met ’n klomp bure, almal in wit tennisdrag met ’n boeretan. Om die tennisbaan het ons met Dinky Toykarretjies op ons eie plaaspaadjies rondgery, heeltemal sorgeloos. Hier is die plaas Addon van oom Martin Henning – sy netheid kon my pa nie ewenaar nie. Oom Martin het elke skeerseisoen self sy merino’s se wol geklas; ek kan die olierigheid van die klastafel in sy waenhuis ruik as ek wil. Dié wêreld en sy mense, almal nou dood of weg, het my gemaak en gevorm in my vroegste lewensjare, tot so by elf, twaalf jaar oud.

      Net ná halfelf kom ek op Rietfontein se werf aan. Die son het so ’n nawinterse loomheid – ’n ideale dag op ’n plaas in die Oos-Kaap, ’n ideale dag vir die lewe. Ek parkeer onder een van die dennebome. Alles lyk nog dieselfde. Die werf is skoongevee, agter die hoë dak van die opstal steek die eerste wit bloeisels van die peerbome uit. Daar staan ’n bakkie geparkeer, maar verder is dit stil. So onthou ek dit ook: Tensy kuiergaste van die stad af aankom, of by spesiale geleenthede soos wanneer die winteros geslag word of wanneer die mans regmaak vir bokjag, is so ’n plaaswerf maar altyd stil. Honde of kapokhoendertjies of ’n pou as jy bietjie ghrender is, maar andersins roer daar niks nie.

      ’n Man kom aangestap oor die grasperk, wat nog geelwit is van die ryp. Ons gee hand. Name is onnodig, elkeen weet wie die ander is. Ons kyk in mekaar se oë en op daardie oomblik weet ek dit was die regte ding om te doen. Op my eie is ek nie in staat om my vrese en vooroordele te oorkom nie; dié man gaan dit vir my doen. Die oumense het gepraat van ’n man met ’n


Скачать книгу